DIE TYD OM SKAPE BYMEKAAR TE MAAK

alternate textYaákov is een van die mees kleurryke figure uit die tydperk van die aartsvaders. Sy ma het hom voorgetrek; sy broer het hom gehaat; sy oom het hom bedrieg; sy twee vroue was susters en sy twaalf seuns word uiteindelik die stamvaders van die 12 stamme van Israel. In die Parashah van hierdie week hoor ons onder meer van een van die mees merkwaardige ontmoetings wat enige mens nog met die Allerhoogste gehad het. Yaákov is op pad na Garan en hy oornag by ʼn plek waar hy droom (of ʼn gesig sien) van ʼn leer met boodskapper wat op en af teen die leer beweeg en Yahweh wat aan die bokant van die leer staan en vir hom sê: Ek is Yahweh, die Elohiem van jou vader Avraham en die Elohiem van Yietsgak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het (Gen 28:13-15). Yaákov is op die kruin van die golf ná hierdie ongelooflike ontmoeting. Hy besef dat hy ʼn ware ontmoeting met die lewende Elohiem gehad het, rig ʼn gedenksteen op, noem die plek Bet-El (“Huis van Elohiem”) en doen ʼn gelofte dat as Yahweh hom sal bewaar op die pad na Garan, en terug, hy altyd vir Yahweh as sy Elohiem sal erken.

Dit was natuurlik nie die eerste keer dat Yahweh só ʼn belofte aan een van die aartsvaders gemaak het nie. Dieselfde belofte is alreeds oor en oor aan Yaákov se oupa, Avraham en aan sy pa, Yietsgak gemaak. En wat meer is, dis ʼn belofte wat vir ons hier, vandag, van ontsettende groot belang is, veral omdat dit die aspek insluit van: “In jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.” Ek dink ook daar lê méér in die belofte opgesluit as wat mens met die eerste oogopslag raaksien. Dis opvallend hoeveel klem daar in hierdie belofte gelê word op die aspek van verspreid wees oor die aarde (“uitbrei na die weste en die ooste, en na die noorde en die suide”) en die noodsaaklikheid dat almal wat deel het aan hierdie belofte uiteindelik bymekaar gemaak sal moet word en sal moet terugkeer na die land van die belofte (“Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het”). Natuurlik is die uitbreiding na al die uithoeke van die aarde déél van Yahweh se seën en die feit dat Hy die nageslag van Abraham, Yietsgak en Yaákov uitermate sou vermeerder. Maar daar is ten minste nog een rede waarom die ontvangers van hierdie belofte in die laaste dae verspreid oor die hele aarde sal wees en eers teruggebring sal moet word, voordat hulle die VOLLE voordeel van hierdie onbeskryflike belofte kan ontvang. En dit is die feit dat die daar, van die dag af toe hierdie belofte vir die eerste keer aan Yaákov se oupa gegee is, stryd en hardkoppigheid en ongehoorsaamheid en onenigheid en selfsug en wedywering ingetree het, wat gemaak het dat die kudde meer en meer uitmekaar uit gedryf het en nie bymekaar gebly het, soos wat mens miskien sou verwag het nie.

Daar is ʼn interessante leidraad in hierdie Parashah wat daarop dui dat dit moontlik die tendens tot reg aan die einde sou wees. Mens vind dit in Gen 29:7-8: “En hy sê: Kyk, die dag is nog lank; dit is nie tyd om die vee bymekaar te maak nie. Laat die vee drink, en gaan heen, laat hulle wei. Toe antwoord hulle: Ons kan nie voordat al die troppe bymekaar is nie; dan rol hulle die klip weg van die opening van die put, en ons laat die vee drink.” Dit gaan hier oor die vraag oor wanneer dit die regte tyd is om die vee bymekaar te maak en die stelling dat die vee nie kan drink voordat die troppe nie bymekaar is nie. In die konteks van hierdie gedeelte is dit net ʼn doodgewone gesprek tussen Yaákov en die herders wat die vee opgepas het, naby die plek waar sy toekomstige vrou Ragel gebly het. Maar in die groter konteks van die Skrif, het ons hier moontlik ʼn profetiese woord wat daarop dui dat die vee of die skape wat deel is van die kudde van Yahweh, verspreid en uitmekaar gedryf sal word en eers op die bestemde tyd, reg aan die einde, bymekaar gemaak sal word.

Die ou rabbi’s het lank gelede daarop gewys dat die woord “Kyk” (Heb: “hen”) aan die begin van Gen 29:7 eintlik oorbodig is. Yaákov kon bloot gesê het: “Die dag is nog lank; dit is nie tyd om die vee bymekaar te maak nie.” Dit was nie nodig om die woord “kyk” vooraan by te voeg nie. Maar hierdie woord is daar vir ʼn spesifieke rede, sê hulle. Die woord “hen” bestaan uit twee baie besonderse letters van die Hebreeuse alfabet wat in die tabel hieronder gesien kan word:
Die eerste kolom van nege letters (van regs af beskou) het elkeen ʼn syfer waarde van 1 tot 9 en die tweede kolom van nege letters het elkeen ʼn syfer waarde van 10 tot 90. Die besonderse van hierdie tabel is dat mens die letters in pare kan plaas en bymekaar kan tel en elke keer by 10 of by 100 uitkom. Die eerste en die negende letter (in die eerste kolom) se syfer waardes bymekaargetel, is 10. So ook die tweede en die agste letters, en so aan. Die enigste letter wat nie inpas by hierdie skema nie, is die omsirkelde (Hebreeuse) “h” in die middel van die eerste kolom. Dieselfde patroon kan ook in die tweede kolom gesien word. Die eerste en die negende letter (in die tweede kolom) se syfer waardes bymekaargetel, is 100. So ook die tweede en die agste letters, en so aan. In hierdie geval is die enigste letter wat nie inpas nie, die omsirkelde Hebreeuse “n”. Hierdie twee letters bymekaar gevoeg, vorm die Hebreeuse woord “hen” of Afrikaanse “kyk” en die rabbi’s se verklaring is dat hierdie woord “hen” aan die begin van Gen 29:7 ingevoeg is, omdat dit aansluit by die profetiese tema van daardie vers, naamlik dat daar in die Vader se kudde sommiges is wat bymekaar gevoeg kan word en saam getel kan word, maar ook andere is wat eenkant is – nog nie deel van die geheel nie en nog nie hart en siel deel van die kudde nie. En die rede? In die meeste gevalle: tweespalt, eiewysheid, fyngevoeligheid, beterweterigheid, weerbarstigheid, eiesinnigheid en ʼn hele klomp soortgelyke redes wat dit onmoontlik maak vir ʼn groep mense om soos ʼn kudde onder een herder te funksioneer. Voordat dit nie gebeur nie, sê die rabbi’s, is die tyd nog nie reg vir die Messias om te kom nie.

ʼn Mens sien talle van hierdie “wegstotende kragte” in aksie in die leesstuk van hierdie week. Lavan wat vir Yaákov bedrieg met sy eie dogter en dan nog die vermetelheid het om vir hom te sê: “Waarlik, jy is my been en my vlees”! Leáh wat die aversie van haar man Yaákov duidelik kan aanvoel en haarself as die “nie-geliefde” beskryf. Ragel wat jaloers op haar suster Leáh word en vir Yaákov sê: “Gee vir my kinders of anders sterf ek!” Yaákov wat vir Ragel kwaad word en vir haar vra of sy dink hy is Elohiem (30:2). Ragel wat verklaar dat sy bomenslike worstelinge met haar suster gehad het en daarom aan haar een seun die naam “Naftali” gee (30:8). Leáh wat vir Ragel daarvan beskuldig dat sy haar man afgevat het en dan boonop nog van haar liefdesappels wil eet! (30:15) Yaákov en Lavan se verhouding met mekaar wat sodanig versleg het dat hulle mekaar nie meer in die oë kon kyk nie (31:2). Ragel en Leáh wat verklaar dat hulle deur hulle eie pa as vreemdelinge beskou word (31:15) en Ragel wat die familie-afgode van haar pa steel (31:19). So kan mens aangaan. En dit is maar net in die bestek van drie of vier hoofstukke van die Torah. Die voorbeelde is legio en die hoofstukke van Torah en die res van die Skrif wemel van allerlei redes waarom die einste groep mense wat so ʼn wonderlike belofte van Yahweh ontvang het, letterlik uitmekaar uit gespat het en van mekaar af weggedryf het. Geen wonder dat daar soveel profesieë in die Skrif gegee word wat daarop dui dat die skape wat versprei is, in die laaste dae weer bymekaar gemaak sal word en dat hulle wat verdryf is tot aan die uithoeke van die aarde, weer sal terugkeer na die plek wat Yahweh gereed gemaak het sodat sy volk as ʼn kudde en as ʼn eenheid kan saamwoon en Yahweh uit een mond en uit een hart kan saam dien.

Moet ons wag tot in die laaste dae, voordat ons erns maak met die oproep om een kudde te wees, onder een Herder en met een doel en een verwagting voor oë? Hoe weet ons of dit nie al reeds die tyd van die laaste dae is nie? En as ons hierdie oproep nie nóú ter harte neem nie, om watter rede sal ons dit op ʼn later stadium ter harte neem? Dit is nóú die tyd vir die skape om bymekaar te kom. Dit is nóú die tyd om ons eiesinnighede en ons kleinlikhede opsy te skuif en die belange van die kudde en van die Herder en van die Belofte bó ons eie belange te stel. Ons kan nie die gebed van Openbaring (“Kom gou Meester Y’shua”) bid as ons nie die belange van die kudde en die gebed van die Messias dat sy kudde tog één sal wees, ter harte neem nie. In Yaákov se dae was dit miskien nog nie die tyd om die skape bymekaar te maak nie. Maar enige iemand wat sy oë op die Woord hou en die beloftes van die Woord ernstig opneem, sal weet dat daardie tyd nou aangebreek het en dat elkeen van ons ʼn baie sterk rol het om hierin te speel.