My eie pad van geloof kan in baie opsigte as ‘n woestynpad beskryf word (op die 22 ste Desember 2012 was dit presies 40 jaar gelede dat ek as dertienjarige seun vir die eerste keer met groot oë hierdie pad betree het) – ‘n pad vol ontberinge en persoonlike aanpassings, maar ook ‘n pad waarin ek kennis gemaak het met wat ek graag sou wou noem: ‘n eietydse variasie van die wolkkolom en die vuurkolom waarmee ‘n jong, onervare en dikwels halsstarrige (maar in Yahweh se oë, kosbare) volk lank gelede ook in ‘n woestyn kennis gemaak het. Dis veral die “vuurkolom” wat vir my persoonlik spesiale betekenis het. Die vuurkolom verteenwoordig vir my onder meer die talle kere oor die afgelope 40 jaar dat ek in die middel van die nag wawyd wakker geword en ‘n ongekende dringendheid in my binneste ervaar het om op te staan en te gaan neerskryf wat Hy deur sy Gees so pas in my hart bekend gemaak of beklemtoon het.
Ek maak nie aanspraak daarop dat ek Yahweh se stem beter en duideliker kan hoor as ander mense nie. Trouens, ek sou totaal oneerlik wees as ek nie hier melding maak van die groot aantal kere dat ek vir weke, en selfs maande (soms in die nag, maar dikwels ook in die dag) geworstel het om te hoor en te verstaan wat Hy nou eintlik in sy Woord vir my persoonlik, en vir ander mense, probeer sê nie. Maar die punt is net: oor 40 jaar het ek stadig maar seker geleer om notisie te neem daarvan as ek in die nag wakker word en agterkom dat ‘n sekere tema of Skrif-waarheid of ingewing my gedagtes só totaal oorheers dat die slaap van my “vlug” soos dit soms ook in die Skrif beskryf word (sien onder meer Gen 31:40 en Dan 6:18).
Een van my onlangse nagtelike voornemens was om ‘n brief aan my seun te skryf. Die inhoud en die redes hiervoor is persoonlik en nie iets wat ek hier wil bespreek nie. Maar dis die idee van ‘n brief wat my laat wakkerlê het. Daar is tye dat dit nodig is om van aangesig tot aangesig met iemand te praat (d.w.s. NIE per brief of per epos of per SMS of via Facebook nie), sodat daar ‘n ontmoeting tussen twee persone, met inagneming van elkeen se eie, unieke persoonlikheid, emosies en voorkeure kan plaasvind . Een van die tragiese neweprodukte van die uiters gevorderde, tegnologiese era van kommunikasie waarin ons vandag woon, is dat mense al hoe minder tyd maak om te gaan sit, sodat daar direk, persoon tot persoon, met mekaar gesels kan word. In my eie gemoed is daar hieroor geen twyfel nie. Maar soms is daar omstandighede waar ‘n BRIEF van onskatbare waarde kan wees. In die Skrif lees ons dat mense soos Dawid, EliYah, GiezkiYah, YermeYahu en Shaúl soms briewe geskryf het om ‘n spesiale boodskap aan ‘n spesifieke geadresseerde of geadresseerdes oor te dra.
So het ek toe my briefie per epos aan my seun gestuur. (Die een, groot voordeel wat die moderne tegnologie vir ons gebring het, is dat briewe in ‘n kits by die geadresseerde kan uitkom en dat daar dus baie gouer aksie geneem kan word in reaksie op die brief!) Die brief aan my seun was egter net die eerste deel van dit wat daardie besondere nag die slaap van my laat vlug het. Die tweede deel het gegaan oor briewe aan ander mense ook. Mense wat ek al ontmoet het en met wie ek van tyd tot tyd oor die afgelope 40 jaar gepraat het. Mense wie se identiteit ek, uit respek vir hulle privaatheid, nie graag wil bekend maak nie en wie se kontakbesonderhede ek, in die meeste gevalle, in elk geval nie eens meer besit nie. Maar mense aan wie ek vandag baie graag dinge wil oordra wat ek dalk nie voorheen aan hulle gesê het nie, eenvoudig omdat ‘n mens nie altyd die regte woorde kan vind tydens daardie kritieke en beslissende oomblik van ‘n gesprek nie.
Ek besef dat meeste van hierdie mense nie die briewe gaan lees wat ek beoog om aan hulle, as anonieme geadresseerdes, te skryf nie. Maar ‘n brief is ‘n wonderlike ding. Die 12 of 13 briewe wat Shaúl byna 2000 jaar gelede vir spesifieke groepe en individue van sy eie tyd geskryf het, het ‘n massiewe impak op die lewens van miljoene ander mense gehad. ‘n Brief wat vir een, spesifieke mens bedoel is, kán ‘n impak hê op die lewe van ‘n ander mens. Daarom wil ek graag hierdie forum gebruik om briewe te plaas, so gereeld as moontlik, gerig aan kosbare mense, individue wat ek al ontmoet het en aan wie ek op hierdie tydstip iets sou wou skryf (sonder enige vermelding van hulle name of ander persoonlike besonderhede), sodat een of twee, of dalk honderd of twee honderd ander mense, mag baat vind by so ‘n brief omdat hulle met die inhoud daarvan kan identifiseer.
My verskoning, by voorbaat, dat meeste van hierdie briewe in my eerste taalvoorkeur, Afrikaans, sal wees. Soms is dit net makliker om jouself in jou moedertaal uit te druk. As jy een of meer van hierdie briewe lees en aanklank vind by iets wat daarin staan, wil ek jou uitnooi om kommentaar te lewer (anoniem as jy wil), in die ruimte wat hieronder gegee word. As jy self so ‘n brief – kom ons hou dit maar anoniem – aan ‘n kosbare persoon in jou eie lewe wil skryf, kan jy gerus van hierdie platform gebruik maak. Soms maak dit nie saak wáár jy iets neerskryf nie, solank jy dit net doen. Jy is ook welkom om persoonlik ‘n epos aan my te stuur, as jy dit so verkies (kontakbesonderhede kan by “Contact us” in die navigasie-gids heel bo, regs gevind word). Ek sal probeer om op elke persoonlike epos te reageer.