Daar is deesdae ‘n hernude en uiters venynige poging om gelowiges wat erns maak met die Torah, in diskrediet te bring. Dis eintlik niks nuuts dat lidmate van kerke en selgroepe (van die kansels af en op ander maniere) gewaarsku word om so ver as moontlik weg te bly van die sogenaamde Hebrew Roots Beweging of HRB nie (ek gebruik gerieflikheidshalwe dieselfde term, nie omdat iemand bewustelik só ‘n beweging begin het of daarby aangesluit het nie, maar omdat HRB deesdae redelik universeel as beskrywing gebruik word van individue en groepe wat ‘n geloofspad gekies het waarin die Torah tot sy regmatige plek herstel word). Hierdie soort waarskuwings gebeur al etlike jare lank en ek het ‘n sterk vermoede dat die eindelose gepraat téén die HRB dalk juis daartoe gelei het dat soekende en ontevrede lidmate ondersoek begin instel het, die meriete van die HRB ingesien het en uiteindelik hulle kerk verlaat het en hulle vrywillig by die HRB geskaar het.
Miskien is dit juis die rede waarom die reaksie teen die HRB deesdae so venynig is en so drasties in intensiteit toegeneem het. Daar is ‘n opvallende geskarrel en ‘n gefladder – veral in die geledere van leiers en belangrike rolspelers op kerklike terrein – wat mens ‘n gevoel gee van die spreekwoordelike kat wat in ‘n duiwehok losgelaat is. Verbeel ek my, of bespeur ‘n mens ‘n tikkie desperaatheid onder die leiers wat toenemend besef dat die stroom van opregte gelowiges wat die waarheid by die HRB gaan soek, al hoe sterker word? My boodskap aan diegene wat hulle geroepe voel om hierdie stroom te probeer keer, is eenvoudig: Geen mens gaan dit gekeer kry nie, want dis ‘n vloed en ‘n beweging wat deur die Allerhoogste self van stapel gestuur is en deur Hom gevoed word!
Een van my vriende uit universiteitsdae, Eben Swart, wat bekendheid en geloofwaardigheid reg oor Suid-Afrika verwerf het, veral vanweë sy deeglike kennis van temas soos gebed, selgroepe en Vrymesselary, is een van diegene wat onlangs materiaal bekendgestel het waarin gelowiges BAIE ERNSTIG teen die HRB gewaarsku word. Eben beweer dat wanneer hy na mense in die HRB luister en tyd met hulle deurbring, kom hy tot die volgende gevolgtrekking: “I smell a rat amongst these movements. Not one rat, but several …”. Om sy punt te staaf, wys hy op sommige van die wanopvattings en mistastings wat ek persoonlik ook al in die geledere van HRB aanhangers teëgekom het (en waaroor ek nie altyd trots voel nie), maar hy stel dit voor op ‘n manier wat die indruk skep dat die HELE BOKSEMDAIS, álmal in die HRB, só glo en só dink en só doen. Wanneer Eben byvoorbeeld na die feeste verwys, sê hy:
“But EVERY time in Hebrew Roots and Torah groups, without exception, the practical celebrations of these feasts are taught containing comprehensive, elaborate – but extra-Biblical – JEWISH cultural and traditional content!” (my beklemtoning).
My vraag aan Eben is hoe hy tot so ‘n oortuiging kan kom as hy nie persoonlik dáár is, of was, wanneer hierdie feeste deur die verskillende HRB groepe gehou word nie. My vraag aan hom is verder of hy in sy jarelange ervaring en kontak met verskillende groepe nog nooit besef het dat daar wanklanke (of liewer, “rot-reuk”) in bykans elke beweging onder die son is en dat dit nie ‘n buitestaander se plek is om die slegte reuk wat by sommiges in daardie groep of beweging waargeneem word, tot eienskap van die groep in sy geheel te verhef nie.
Nadat ek ‘n week gelede die voorreg gehad het om ‘n groepie gelowiges in Windhoek te gaan besoek en persoonlik bemoedig is deur wat ek by hulle gesien en gehoor het (kom ons sê dit maar, ter wille daarvan om konsekwent te wees: meeste van hierdie gelowiges sien hulleself as deel van die HRB), vestig iemand my aandag daarop dat nie almal in Namibia positief oor die HRB is nie en dat ‘n sekere dominee van Tsumeb homself ook geroepe gevoel het om die HRB onder verdenking te plaas en spesifiek na my te verwys en wat ek onder meer oor die Drie-eenheid sou gesê het. Ek het toe, baie ordentlik, op die betrokke Blog ingegaan en die ander kant probeer skets van die uiters eensydige prentjie wat daar van die HRB geteken word, maar ná twee kort bydraes van my kant af is die deur toegemaak en my laaste bydrae nie geplaas nie.
Een van die dominee se grootste besware teen die HRB is die gebrekkige kennis en swak Skrifuitleg in HRB geledere – só sterk voel hy daaroor dat hy beweer: “Die HRM leraars is diewe, slawedrywers en misleiers. En ja, soms nog ‘n klomp narre ook!” Toe wonder ek sommer: Het ons nie dalk vandag ‘n paar narre nodig wie se harte op die regte plek sit om die wêreld op ‘n vars manier te herinner aan die tragedie dat die rykdom van die volle Woord verruil is vir ‘n paar populêre slagspreuke soos “die kruis alleen” en “wég met die wet” nie? Maar die eintlike rede waarom ek by die bespreking op daardie Blog betrokke wou raak, was om die stelling te toets dat die HRB hom aan swak Skrifuitleg skuldig maak. Hierdie geleentheid is my toe nie beskore nie, en dit terwyl die dominee self met Skrifuitleg vorendag gekom het wat my hare behoorlik laat rys het: onder meer van gedeeltes soos Markus 7:15 (“Die Messias het alle voedsel rein verklaar”); Gal 4:9 (“Paulus noem die Torah die swakke en armoedige eerste beginsels wat mense weer van voor af aan wil dien”) en Kol 2:16-17 (“Om Sabbatte, feeste en nuwemane aan mense voor te hou, is om ‘n juk op mense te plaas”).
Laat ons nie onkundig wees oor die aanslag wat toenemend geloods word op diegene wat die betekenis van woorde soos “shabbat” en “pesag” en “torah” en “echad” en “shalom” op ‘n nuwe manier leer ken het en hierdie woorde ook self begin gebruik het nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie: Dit gaan nie oor die blote gebruik van Hebreeuse woorde nie – glad nie – dit gaan oor die herontdekking van gediskrediteerde waarhede wat ‘n dimensie in ‘n mens se geloof inbring wat jy daarná vir geen geld ter wêreld sal verruil nie. En hieroor kan ons seker wees: Geen mens of menslike instellings of menslike geskarrel sal die proses kan keer wat alreeds duisende se lewe en perspektief verander het, terug na die eeue-oue ontwerp van die Woord nie.