Ps 38 Vir u groot straf


O Yahweh, vir u groot straf sien ek nie kans
Ek weet sonde sal my wegneem van u glans
Daar’s geen heel plek in my vlees; dis of pyle in my steek
Hierdie drag is gans te swaar vir my gemoed
Voel kompleet of daar ‘n storm hier in my woed

O Yahweh, ek is die hele dag in rou
Hierdie skuldlas maak my krom, my hoop verflou
Ek is kragteloos, verwond, kom maak my tog net gesond
Net U weet hoe dit hier binne-in my brul
Hoe die swaar gesug my hele hart vervul

O Yahweh, U is die Een op wie ek wag
Ek weet dat U hoor en my juk sal versag
Ek is wankelend, benoud, U alleen is my behoud
Ek’s verlore as U daar eenkant bly staan
Ek vra dat U hand aan hand met my sal gaan!

O Yahweh, U weet presies wat ek begeer
U ken al die detail, elke merk en seer
Selfs as vriende van my wyk, sal U altyd na my kyk
Hierdie sug, die kreet van pyn, kom by u oor
Die gebed wat kom uit nood, sal U verhoor!