Ps 141 Laat my gebed

Views: 13


Laat my gebed voor U kom as ‘n kreet uit die hart, as ‘n lieflike geur
Ek hef my hande na U toe, in die aande, oor alles wat om my gebeur
Stel tog ‘n wag voor my mond aan; U is die een wat my lippe bewaak
Laat daar nie bose planne in my hart kom wat my die pad laat byster raak
As iemand my tugtig, of wys waar ek skeef trap
Leer my om dit te ontvang en nie salf uit die hand van ‘n broer weg te klap
Ek wil nie fout vind met ander terwyl ek u pad nie in oorgawe stap!

Laat my gebed voor U kom en laat al my woorde onberispelik wees
Keer tog dat skemas van mense, vol van woede, my seermaak hier diep in my gees
Neem weg die vrees vir die vangnet, mense wat strikke op my pad kom stel
My oog bly op U wat my Meester is, die Een wat my uit die dood kan tel
Geen onreg of boosheid, geen mens met sy lokval,
Geen plan van mens-jagters kan my van U wegruk of my siel pront-uit aanval
Die een wat waag om teen my op te staan, sal in sy eie vangkuil inval!