VIER MELAATSES BUITEKANT DIE STAD
20 April 2024

alternate textDie hele hoofstuk van Levitikus of Vayikra 14 word in die laaste vers van daardie hoofstuk as die “TORAH VAN MELAATSHEID” beskryf. Nog ‘n bekende hoofstuk in die Skrif, wat ook oor melaatsheid handel, is 2 Konings 7, en dis daarom nie ‘n verrassing dat hierdie twee hoofstukke sáám met mekaar gegroepeer word in hierdie week se Parashah wat as “Metzora” bekend staan nie (“metzora” beteken “melaatse”).

2 Konings 7 het ‘n taamlike lang aanloop. Dit speel af in die periode toe daar al reeds ‘n verdeling tussen die Noordelike en die Suidelike Ryk van Israel plaasgevind het. YORAM was koning van die Noordelike ryk en, uit wat ons van hom weet, het hy nie juis ‘n ander koers ingeslaan as sy berugte ouers en Baäl aanbidders, Agab en Isébel (Jezebel), nie. Dis asof hy net nooit die keuse kon maak om Yahweh met hart en siel te dien nie. Aan die een kant het hy die PILAAR VAN BAÄL, wat sy pa nog opgerig het, afgebreek (2 Konings 3:2), om die indruk te skep dat hy ‘n nuwe koers gaan inslaan, maar in die geheim het hy nog steeds die BAÄL PROFETE aangehang (2 Konings 3:13). En uiteindelik staan daar oor hom geskryf dat hy gedoen het wat “verkeerd” was in Yahweh se oë. En in hierdie geval sou ons met reg kon sê: Soos dit met die koning was, só was dit ook met die mense oor wie hy aangestel was. Daar was maar mín wat Yahweh en sy weë gesoek het. Dit lyk asof die skrywer van 2 Konings só min respek vir Yoram gehad het, dat hy meeste van die tyd nie sy naam gebruik het as hy van hom praat nie, maar bloot na hom verwys het as die “KONING VAN ISRAEL”.

Dit is ook die tyd toe die bekende profeet ELISHA, gelewe het. Israel was in ‘n oorlog gewikkel met Aram. Aram is die hedendaagse SIRIË, en tot vandag toe, lyk dit nie juis of hierdie oorlog ooit bedaar het nie. As jy deesdae van Israel oor die nuus hoor, hoor jy ook van die stryd met Gamas en Libanon en Iran. En as jy van Iran hoor, kan jy maar weet dat Sirië ook êrens in die prentjie is. Die destydse koning van Sirië of Aram was Ben Hadad. Die hoofstad van Israel was Samaria (Shomeron) en Aram het vir Samaria beleër (Eng: “besiege”). Dit beken niemand kon ingaan of uitgaan uit die stad nie. En daar was HONGERSNOOD soos wat Israel nog nooit beleef het nie. ‘n Esel se kop het 80 sikkels silwer gekos (1 Konings 6:25). Teen die huidige prys van omtrent $28 vir ‘n ons silwer, praat ‘n mens van minstens R9000 – vir slegs die kop van ‘n donkie!! Die situasie was so desperaat, dat die inwoners van die stad hulle tot KANNIBALISME gewend het. Een vrou het na die koning toe gekom en by hom gekla dat sy en haar buurvrou ooreengekom het om mekaar se seuns te eet – die een seun die eerste dag, en die ander seun die volgende dag. Hulle het háár seun die eerste dag gekook en geëet, maar toe dit haar buurvrou se beurt was, het sy haar seun weggesteek. Koning Yoram was woedend, nie uit medelye met die vrou of uit berou oor sy eie aandeel vir die ramp wat oor sy mense gekom het nie, maar woedend vir Elisha, omdat hy gemeen het dat dit Elisha se Elohiem is wat die ramp oor hulle gebring het.

Die koning besluit om Elisha dood te maak, maar toe hy by Elisha se huis aankom, sê Elisha vir hom dat die hongersnood die volgende dag, VOLLEDIG tot ‘n einde sal kom. FYNMEEL EN GARS sal dieselfde prys kos, as wat dit voor die hongersnood was. Die koning se woede bedaar so effens. Maar die ADJUDANT wat langs die koning staan, en op wie se hand die koning leuen, sê vir Elisha: “Al maak Yahweh ook vensters in die hemel, sal dit nooit kan gebeur nie!” En so word hierdie adjudant van die koning ‘n SPREEKBUIS van die gees van ongeloof wat soos aansteeklike melaatsheid in daardie jare in die midde van die volk van Israel posgevat het. Elisha se optrede as profeet het altyd hierdie gees van ongeloof teëgestaan, en Elisha sê vir hom: “Jy sal dit met jou eie oë sien (met ander woorde: jy sal Yahweh se voorsiening sien), maar nie daarvan eet nie!”

En net mooi op hierdie punt lees ons van VIER MELAATSES, wat buitekant die stad hulle ellende teenoor mekaar bekla. Sommige Joodse kommentators sê dit was GEHASI en sy drie seuns, wat al vier melaats was. Net twee hoofstukke tevore word beskryf dat Gehasi, die dienskneg van Elisha, in die geheim vir homself ‘n geskenk gaan toeëien het, wat Elisha geweier het. Hy het die geskenk onder valse voorwendsels gaan opeis by Naáman, die Arameër, vir wie Elisha kort tevore van sy melaatsheid genees het. Toe hy terugkom by Elisha, vra Elisha vir hom die vraag wat vandag nog gevra word as daar vermoed word dat iemand weg geglip het om SKELMSTREKE uit te haal: “Vanwaar Gehasi?” Toe Gehasi lieg en sê dat hy nêrens gegaan het nie, gee Elisha vir hom die antwoord wat die Joodse kommentators laat meen dat die vier melaatses dalk Gehasi en sy drie seuns kon gewees het: “Omdat jy dit gedoen het, sal die melaatsheid van Naáman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe” (2 Konings 5:27).

Hoe dit ook al sy – hierdie vier melaatses was op MOED VERLOOR SE VLAKTE. Hulle kan nie in die stad ingaan nie – in die stad is daar net een, groot, verlammende hongersnood. En boonop bepaal die Torah dat geen melaatse in die stad toegelaat word nie. Maar hulle kan ook nie net buite die stad bly sit en dood gaan van honger nie. Die enigste opsie, besluit hulle, is om na die kamp van die vyand te gaan en te kyk of hulle dáár iets kan kry om te eet, en hulle sê vir mekaar: “As hulle ons laat lewe, dan bly ons lewe; en as hulle ons doodmaak, dan sterf ons.” Hulle kom by die kamp van die Arameërs en daar is nie ‘n ENKELE SIEL in die kamp nie – en oorvloed om van te eet. Hulle gaan die tente een vir een binne en vergryp hulle aan die kos, totdat hulle nie meer kan eet nie.

En dan hoor ons wat AGTER DIE SKERMS gebeur het. Yahweh het, in lyn met die profesie van Elisha, ‘n wonderwerk gedoen en die Arameërs ‘n oorlog gedruis laat hoor – net voordat die vier melaatses daar aangekom het. Die gedruis en die geraas was só oorweldigend, dat die Arameërs gemeen het dat daar minstens twee nasies se weermagte op hulle afgestorm het. Hulle het alles net so agtergelaat en soos een man uit hulle eie kamp uit gevlug. Daar is geen beduidenis dat die mense in die stad – wat nie ver van die kamp af kon gewees het nie – selfs net ‘n geluid gehoor het, van die groot geraas wat die Arameërs uit hulle kamp laat vlug het nie. Wat die grootsheid van die wonderwerk, en die bonatuurlike ingryping van Yahweh, net nog méér laat uitstaan!

Die vier melaatses kon nie glo wat met hulle gebeur het nie. Hulle besluit dat dit “nie reg” was om stil te bly nie. Hulle sal na die stad toe gaan en vir die naamlose koning van Israel, sy ongelowige adjudant en sy verhongerde mense daarvan gaan VERTEL. Teen díé tyd was die koning net so vol ONGELOOF as sy adjudant en hy was uiters AGTERDOGTIG oor die boodskap van die vier melaatses. “Die oomblik as ons die stad verlaat, sal hulle ons vang”, het hy gesê. Maar een van die koning se dienaars, in wie daar ‘n ander gees as die koning en sy adjudant was, stel voor dat hulle verkenners uitstuur om te gaan ondersoek instel. Die verkenning gaan uit en rapporteer terug dat daar geen teken van die Arameërs is nie. Die koning en sy manskappe vaar die vyand se kamp binne, plunder so ver as hulle kom en versamel so veel kos as wat hulle kon dra, om terug te neem stad toe – sodat die prys van fynmeel en gars weer terugsak na dieselfde vlak as wat dit voor die hongersnood was. Net soos die profeet voorspel het. Die hand-op-die-arm adjudant, wat op diens was in die poort van die stad, word onkant gevang deur die geharwar van soldate wat by die poort in- en uitgaan en sterf onder die voete van sy eie soldate. Ook net soos die profeet voorspel het.

Behalwe dat hierdie verhaal in 2 Konings 7, en ook die agtergrond van hierdie verhaal, oor melaatsheid gaan, net soos Levitikus 14, sê dit nie veel oor die “Torah van Melaatsheid”, soos wat in Levitikus die geval is nie. Maar dit sê beslis iets oor die TORAH VAN GELOOF en LOJALITEIT aan Yahweh. Dat ‘n mens jou eie geloof saboteer as jy soos Yoram, Baäl pilare in die OPENBAAR afbreek, maar Baäl profete in die GEHEIM aanhang. Dat ‘n mens nie soos Yoram, jou hand op die arm moet plaas, en dus ‘n vertroueling maak, van iemand wat nie oop is daarvoor dat Yahweh vandag nog ‘n wonderwerk kan doen nie. Dat ‘n mens jou eie naam en jou eie reputasie só kan verniel, dat hulle wat oor jou praat, nie eens die vrymoedigheid het om jou naam te noem nie (Yoram, of meer korrek, “Yehoram”, se naam beteken: “Yahweh moet verhoog of opgelig word” – maar Yoram self het nooit die betekenis van sy eie naam uitgeleef het). 2 Konings wys verder dat selfs ‘n bonatuurlike wonderwerk (soos die genesing van Naáman) nie genoeg is om mense soos Gehasi van hulle gierigheid en materialisme en onderduimsheid te genees nie. En dat Yahweh in staat is om eenvoudige, swak, moedelose, “down-and-out” mense (soos die vier melaatses) as instrumente te gebruik om ‘n hele stad se mense te red. En net soos dit vir die vier melaatses “nie reg” was om oorvloed uit Yahweh se hand te ontvang en draers van ‘n goeie boodskap te wees, en dan daaroor stil te bly nie (2 Konings 7:9), net so is dit vir ons nie reg om stil te bly oor dit wat Hy in ons lewens gedoen het nie. Ons het elkeen tevore ons eie GESTALTE VAN MELAATSHEID en verlatenheid geken. Ons het op een of ander manier ook gevoel of ons in ons ellende aan die buitekant van die stad vasgekluister sit. Maar toe ons dit gewaag het om die pad van geloof te betree, het Yahweh ons bó verwagting geseën en ons lewens omgekeer. Gaan ons daaroor stilbly en ons só vergryp aan die oorvloed, dat gemak en gerief ons grootste struikelblok word? Of gaan ons vertel soos die eerste dissipels vertel het, toe hulle Y’shua ontmoet het, of soos die blinde man van Johannes 9 vertel het, toe hy genees is? In Handelinge 4 het die Joodse Raad die apostels verbied om in die Naam van Y’shua te vertel of te leer. Maar die verandering wat geloof in hulle harte gebring het, en die begeerte om dit met ander te deel, het hulle laat antwoord: “Of dit reg is voor Elohiem om julle meer gehoorsaam te wees as Elohiem, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Mag dieselfde gees van onverskrokke geloof ook in ons doen en late weerspieël word!