Hoor my gebed en laat my hulpgeroep tot by U kom
U aangesig, so suiwer, laat my dit tog net aanskou
My hart is vol ellende, uitgedroog net soos ‘n blom
My beendere, vol kramp en pyn wat geen sekond ophou
Ek kan nie slaap, voel eensaam soos ‘n siek voël op die dak
Wat ek drink is vol van trane, en my brood vermeng met as
Aan u Naam kan ek altyd vashou, selfs al is ek swak
Ek weet dat U sal opstaan, soos dit in u tydsgleuf pas
Die volke sal u Naam vrees, hul oor u grootheid verbly
Soos altyd gee U aandag aan die kreet wat smart ontbloot
U trou sal opgeskryf word, ons kinders sal leer daarby
En weet: Regoor die hele aarde is niemand so groot!
U lof sal uitgespel word in Jerusalem, u stad
Selfs voordat als geskep is, het u planne reeds gestaan
Die mens, hy sal tot niet gaan, maar geen einde aan u pad
Ons nageslag sal ewig voor u aangesig bestaan!