Waarom, o mens, beroem jy jou in oneer
As Yahweh net goed is, heel dag deur?
Waarom, o mens, beraam jy heeltyd rampspoed
Hou jy meer van kwaad doen as van goed?
Jou woorde saai verwoesting, soos ‘n skeermes is jou mond
Yahweh sal jou omverwerp, jou wegruk van jou grond
Waarom maak jy Hom nie vandag jou toevlug?
Dan kyk jy nooit weer ‘n dag terug!
Sien jy, o mens, die voorreg om te lewe
Gierigheid mag jou nooit omgewe
Sien jy, o mens, dat Yahweh nooit opsy staan
Onthou dit, oral waar jy mag gaan
Die een wat dit verwerp het: by Yahweh voel hy nie tuis
Die een wat Hom gekies het: olyfboom in sy huis
Vir ewig sal ek U loof vir hoe U werk
Op u wag – U Naam noem, U maak sterk!