Die “dae” van Romeine 14

DJ, Noordkaap

Ons is tans besig om Romeine deur te werk juis omdat daardie boek so baie buite konteks aangehaal word en ook verkeerd verstaan word. Ons het verlede week hoofstuk 14 hanteer met veral klem op eet en watter dag hoog geag kan word en die leiding wat Paulus aan daai gemeente gegee het.

Ons het die bespreking gebou rondom Eseg 20:12-20 en Jesaja 56:1-7 met betrekking tot die Shabatte. Ons het die kwessie van eet ook binne die konteks van Genesis 9:1-3 bespreek waar die mensdom toegelaat was om (rein) vleis te eet. Ek is van mening dat Paulus nie Vader se instruksies met betrekking tot rein kosse “override” nie maar dat sy brief gegrond was binne die raamwerk van wat rein is en mag geeet word met die verskil dat sommige steeds net groente verkies het nieteenstaande Genesis 9 waar rein vleis toegelaat word.

Die kwessie dat vers 6 egter voorsiening maak vir wie ook al watter dag hoog ag, ag dit hoog vir sy Meester, was nogal moeilik om te verduidelik. Ek glo onomwonde aan die Vader se instruksies en dat Sy Shabbatte onderhou moet word.

Wat mis ek met betrekking tot Rom 14:6? Ek hoop regtig u kan lig werp oor die onderwerp.

En baie dankie dat ek kan vra waar ek vasdraai. Ek waardeer dit baie.

KOMMENTAAR

Dit is my siening dat ‘n mens nie Rom 14 reg kan verstaan as jy die moontlikheid ooplaat dat Paulus vir homself (en vir sy lesers) die vryheid gegun het om dinge te leer (en te doen) wat direk teen die Torah indruis nie. Ek dink nie vir een oomblik dat dit die geval is nie. ‘n Belangrike vertrekpunt in hierdie verband, is vir my sy uitspraak in 1 Kor 11:1 “Wees my navolgers, soos ek dit ook van die Messias is.” Daar is genoeg aanduiding in die res van Romeine en ook in Handelinge (en in sommige van sy ander briewe) dat Paulus, aan die een kant die Torah eerbiedig en gehou het soos Y’shua gedoen en geleer het (bv in Mat 5:17-19), maar aan die ander kant stelling ingeneem het teen sommige van die Yehudiem wat met allerlei bykomende (en soms onbenullige) wette en regulasies, ‘n byna ondraaglike las op die skouers van nie-Joodse gelowiges gelaai het.

Daar is ‘n voetnota in Woord en Getuienis wat lig werp op die regte verstaan van Rom 14. Dit blyk dat die hele hoofstuk basies oor kos en eetgewoontes gaan. Die kwessie van “reeds verklaarde” rein en onrein kosse (soos vark, ensovoorts) is myns insiens glad nie hier ter sprake nie. Beslis ook nie die vraag of die Shabbat nog steeds geldig was nie. Nêrens in hierdie hele hoofstuk word daar ‘n woord oor Shabbat gerep nie en nêrens in die res van die Skrif vind ons enige grond om die Shabbat af te water of in te ruil vir ‘n ander dag nie. Die “sommiges” wat van mekaar verskil het oor watter dae “belangriker” as ander was, was heel waarskynlik die bekende dispuut onder die Jode van daardie tyd oor watter dae van die week as vasdae ingeruim moes word. (Die gebruik was Maandae en Donderdae, maar sommiges het dae bygevoeg, wat tot ontevredenheid en selfs rusie aanleiding gegee het). Die eet van onrein kosse was ‘n duidelike “no-no” volgens die Torah en niemand in die destydse geloofsgemeenskappe het die duidelike uitsprake van die Torah in twyfel getrek nie. In Rom 14 het dit uitsluitlik gegaan oor “nuwe” kwessies (binne ‘n “nuwe” situasie waar Jode en nie-Jode sáám aanbid) waaroor daar NIE klinkklare antwoorde in die Torah was nie – soos die eet en die koop van vleis wat moontlik aan afgode verbind kon word – ‘n kwessie wat gereeld in Paulus se briewe aangeraak word (bv 1 Kor 8 en 1 Kor 10). Dus, wanneer Paulus van sekere “dae” praat in ‘n hoofstuk wat meestal oor eetgewoontes gaan, is dit eintlik nog steeds dieselfde tema, want vasdae het duidelik ook met eetgewoontes te make. En die beginsel wat Paulus hier leer, wanneer dit kom by sake waaroor die Torah nie ‘n duidelike JA of ‘n NEE het nie, is vir ons vandag nog net so belangrik: Daar is dalk nie ‘n duidelike “reg” of ‘n “verkeerd” nie, maar onthou altyd: Moenie iets doen wat vir die “swakker broers” (d.w.s. die wat maar onlangs tot geloof gekom het) kan laat struikel nie.