
Views: 264
Die saak waaroor dit hier gaan is die onsekerheid oor die presiese periode waarin “spesiale” dae soos die Sabbat en die Skriftuurlike feesdae gevier behoort te word. Moet die Sabbat van die aand van die sesde dag tot die aand van die sewende dag gevier word, of van die oggend van die sewende dag tot die oggend van die eerste dag van die week? Of moet dit dalk net van die oggend van die sewende dag tot die aand van die sewende dag gevier word? Wat van die jaarlikse feesdae? Moet hierdie dae van aand tot aand gevier word of van oggend tot oggend of van oggend tot aand? Of is daar net sekere feesdae wat (by wyse van uitsondering) van aand tot aand gevier moet word, terwyl die ander op die “normale” manier (oggend tot oggend of oggend tot aand) gevier moet word? Diegene wat meen dat hierdie soort vrae onnodige verwarring skep en nie ‘n getroue weergawe is van vrae wat werklik gevra word nie, kan gerus maar kennis neem: Daar is in die laaste tyd ‘n wydverspreide debat oor hierdie saak aan die gang wat elkeen van hierdie drie opsies insluit en wat besig is om opregte en soekende gelowiges soos in ‘n vloedgolf mee te sleur.
Meeste mense wat ‘n saak probeer uitmaak vir een van die drie moontlike opsies wat hierbo genoem is, neem gewoonlik die volgende vraag as vertrekpunt: “Wanneer is die amptelike begin van ‘n normale dag volgens die verstaan en die openbaring van die Skrif?” Ek glo dat dit juis hierdie vraag is wat tot meeste van die verwarring rondom die onderwerp aanleiding gee. Die vraag waarop ons ‘n antwoord moet vind is nie “Wanneer begin ‘n dag nou eintlik?” nie, maar “Van wanneer tot wanneer bepaal die Skrif moet Yahweh se Sabbatte onderhou word?” (Die Skrif leer dat daar weeklikse, sowel as jaarlikse Sabbatte is wat deur diegene onderhou moet word wat Yahweh as hulle Elohim erken). Daar is aanduidings in die Skrif dat hierdie twee vrae dalk nie noodwendig dieselfde antwoord gaan hê nie. Ons eerste verantwoordelikheid as volgelinge van die Messias is om die opdragte van Yahweh so Skrifgetrou en nougeset as moontlik uit te voer, nie om debatte te voer oor die wetenskaplike beginsels wat moontlik ten grondslag van hierdie opdragte mag lê nie. Ons moet aanvaar dat die Skrif nie soos ‘n wetenskap handboek hanteer mag word nie. Dit is nooit die bedoeling van die Skrif om ‘n dag op presies dieselfde (wetenskaplik-tegniese) manier te definieer as wat byvoorbeeld in ons Romeins-Gregoriaanse verstaan van ure, dae, maande en jare gebeur nie.
Die mees algemene Hebreeuse woord vir dag, yom, is waarskynlik afgelei van ‘n woord wat eenvoudig beteken “to be hot” en in die meerderheid van gevalle dui die woord yom gewoon op daardie deel van ‘n 24 uur dag wanneer dit warm (en lig) is, vanweë die feit dat die son in daardie gedeelte van die dag skyn. Hierdie betekenis van yom kom duidelik na vore in die laaste gedeelte van Bereshit / Genesis 1:4 en die eerste gedeelte van Bereshit / Genesis 1:5: “En Elohim het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en Elohim het die lig dag (yom) genoem, en die duisternis het Hy nag (lailah = “nag, donkerte, skaduwee”) genoem.” Daar is talle voorbeelde in die Skrif waar yom sonder enige twyfel verwys na daardie gedeelte van ‘n 24 uur dag wanneer dit nie “donker” of “nag” is nie.
Hierdie gebruik van yom is egter nie die enigste manier waarop hierdie woordjie in die Skrif aangewend word nie. Net soos in die meeste tale vandag, waar ‘n woord soos “dag” op twee verskillende maniere gebruik kan word, kan die Hebreeuse woord yom ook op twee verskillende maniere gebruik word – soms om te verwys na ‘n periode van ongeveer 12 uur wanneer dit lig en warm is, en soms om te verwys na ‘n periode van 24 uur, soos byvoorbeeld in die volgende sin: “Hulle het ses dae lank in die veld deurgebring”. Die woord “dag” of “dae” in hierdie sin verwys duidelik na ‘n tydperk van 24 uur, wat ook die “nag” insluit. Hierdie gebruik van yom as ‘n periode van 24 uur kan gesien word in gedeeltes soos Bereshit / Genesis 2:17 (“maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” – die waarskuwing geld sekerlik vir beide die dag en die nag); Bereshit / Genesis 3:17 (“vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe” – die vloek wat hier uitgespreek word, dek die ganse lewensduur van die mens, nie net wanneer die son skyn nie); Bereshit / Genesis 4:3 (“en ná baie dae het Kain van die vrugte van die land aan Yahweh ‘n offer gebring”); Bereshit / Genesis 5:4 (“en die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agt honderd jaar”). Daar is letterlike honderde sulke voorbeelde in die Skrif.
Die groot vraag wat telkens na vore kom, is wat presies bedoel word met die woorde wat aan die einde van elke skeppingsdag uitgespreek is en wat in die Ou Afrikaanse Vertaling as volg weergegee word: “En dit was aand en dit was môre, die eerste (of tweede, …) dag”. Party vertalings vertaal hierdie vers effens anders: “En daar was aand en daar was oggend/môre, die eerste dag” (Literal Translation of the Holy Bible; World English Bible; American Standard Version). Dan is daar ‘n aantal vertalings wat dit min of meer so vertaal: “En die aand en die oggend/môre was die eerste dag” (King James Version; Webster Bible; Douay-Rheims Bible). “The Scriptures” vertaal dit as volg: “And there came to be evening and there came to be morning, the first day”. Ek meen dat elkeen van hierdie vertalings min of meer reg laat geskied aan die Hebreeuse teks en dat dit baie moeilik sou wees om die “beste” vertaling uit te sonder.
Oor hoe ‘n mens hierdie frase moet interpreteer, is daar egter soveel verskil van mening en soveel uiteenlopende standpunte (waarvan die meeste baie oortuigend en baie geloofwaardig klink), dat dit myns insiens geen doel gaan dien om hier maar net nog ‘n standpunt in te neem (wat later weer deur ‘n volgende skrywer weerlê gaan word) nie. Daar is goeie argumente ten gunste van die siening dat hierdie “skeppingsdag-formule” daarop dui dat ‘n dag eintlik in die aand begin. Daar is egter net sulke goeie argumente ten gunste van die siening dat hierdie formule juis daarop dui dat ‘n dag eintlik in die oggend begin. Laat ons ons liewer tot die res van die Skrif wend om vas te stel hoe die volk van Yahweh, met leiers en al, die riglyne van die Almagtige oor die onderhouding van spesiale dae verstaan het – nie net die riglyne van Bereshit 1 nie, maar ook die riglyne wat op later stadiums aan die volk gegee is.
Voordat ‘n mens egter heeltemal wegbeweeg van die skeppingsperiode, is daar tog iets wat belangrik is om raak te sien en wat lig mag werp op die wyse waarop latere geslagte van gelowiges oor die Sabbat en die feesdae gedink het en hoe hulle dit gevier het. Dit is duidelik uit die res van die Skrif dat skeppingsbegrippe soos “duisternis”, “lig” en “Sabbat” (wat letterlik “rus” beteken) en selfs “dag” elkeen ook ‘n dieper, profetiese betekenis het. Wat die profetiese betekenis van “duisternis” en “lig” betref, is die voorbeelde in die res van die Skrif so volop en welbekend, dat dit nie nodig is om hierop uit te brei nie. In ‘n hoofstuk soos Ivrim (Hebreërs) 4 word die weeklikse Sabbat uitgesonder as ‘n profetiese heenwysing na die periode van rus wat vir die gelowiges wag na die tweede koms van die Messias. En in Skrifgedeeltes soos Yeshayahu / Jesaja 13:6-9; Yegezkel / Esegiël 30:3; Yoël 1:15; Amos 5:18; Obadyah 1:15; Tsephanyah / Sefanja 1:7-14; Handelinge 2:20; Romeine 2:5; 1 Korintiërs 5:5; 2 Korintiërs 1:14; 1 Tessalonisense 5:2 en 2 Kepha / Petrus 3:10 is dit duidelik dat die begrip “dag” – meer spesifiek
“Dag van Yahweh” – ook ‘n profetiese betekenis het.
Hierdie begrip (“Dag van Yahweh”) word kennelik gebruik as aanduiding van die tydperk wat met die koms van die Messias ‘n aanvang sal neem – ‘n tydperk wat eers deur ‘n “donker” periode van toorn, oordeel en benoudheid ingelui sal word (volgens Amos 5:18 sal dit op hierdie stadium duisternis wees en geen lig nie) en daarna deur ‘n periode van “lig” (verlossing, saligheid, nuwe hemel en nuwe aarde) gevolg sal word. Kan dit wees dat Yahweh in sy wysheid van die begin af sy “dae” so laat vier het dat dit profeties heenwys na die grootste en belangrikste “dag” van alle tye, wat met (tydelike) “donkerte” begin en met (ewige) “lig” eindig? Die interessante is dat die Skrif dikwels die tema van “duisternis” en “lig” gebruik om mense aan te spoor om hulleself voor te berei vir die “Dag van Yahweh”. Dit word nêrens duideliker geïllustreer as in 1 Tessalonisense 5:2,4 en 5 nie:
“Want julle weet self baie goed dat die dag van Yahweh kom net soos ‘n dief in die nag. Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie”
‘n Vraag wat dikwels gevra word (en wat moontlik een van die redes is waarom sommiges ‘n oggend-tot-oggend dagindeling verkies), is hoe ons dit moet verstaan as die Skrif praat van “op die ….de dag, teen die aand” (Shemot / Exodus 12:18) of “op die ….de dag, tussen die aande” (Shemot / Exodus 12:6). Watter aand of aandgedeelte is hier ter sprake – die aand waarmee die betrokke dag begin of die aand teen die einde of selfs na afloop van die betrokke dag? Hierdie vraag is ‘n splinternuwe debat op sy eie en ons sal nie hier in detail daarop kan ingaan nie. Dit blyk egter dat Wayyiqra / Levitikus 23:32 die sleutel hou vir die korrekte antwoord op hierdie vraag: “‘n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat hou.”
Die dag waarvan daar hier gepraat word, is die Versoendag wat volgens vers 27 (en ander gedeeltes in die Skrif) op die tiende dag van die sewende maand gehou moet word. Hoe hou ‘n mens nou ‘n fees wat op die tiende dag van die maand val? Onderhou jy die dag vanaf die oggend van die tiende dag, of moet jy vroeër reeds begin? Wayyiqra / Levitikus 23:32 gee vir ons die antwoord: Jy begin reeds in die aand van die negende dag van die maand en hou die dag tot die aand van die tiende dag van die maand. Dit is duidelik dat die aand van die negende dag dus aan die einde van die negende dag lê, maar dat hierdie selfde aand in werklikheid ook as die begin van die tiende 24-uur periode van die sewende maand gereken word. Die eerste 24-uur periode van hierdie maand het immers in die aand begin – net nadat die eerste skrefie van die nuwe maan sigbaar geword het, kort na sonsondergang. Die woord wat normaalweg met “maand” vertaal word, is “chodesh” wat eenvoudig “nuwe maan” beteken en die implikasie is dat elke nuwe maand met ‘n nuwe maan begin. Dit sou taamlik verwarrend wees as ‘n nuwe maand en die eerste dag van ‘n nuwe maand nie op presies dieselfde tydstip begin nie!
Wanneer die Skrif dus praat van die ….de dag van die maand, teen (of in) die aand, dan is dit duidelik (volgens Wayyiqra 23) dat dit verwys na die aand teen die einde van daardie dag. Daar is ook geen rede om te dink dat die bepaling “van aand tot aand” ‘n uitsondering was wat net vir Yom Kippur gegeld het nie. As dit ‘n uitsondering was, waarom staan daar in al die ander tekste wat oor Yom Kippur handel (soos Wayyiqra / Lev 16:29; Wayyiqra / Lev 25:9 en Bemidbar / Num 29:7) bloot dat hierdie dag op die tiende van die sewende maand gehou word en word geen melding van ‘n “uitsondering” gemaak nie? Nee, die bepaling om ‘n dag wat op ‘n sekere dag van die week of van die maand val, alreeds teen die aand van die vorige dag te “vier” of te “hou” was duidelik op hierdie stadium alreeds alombekend en geld boonop vir elkeen van Yahweh se vasgestelde dae of “mo’adim”, insluitende die Sabbat. Dit is hoe Yahweh se mense dit van die vroegste tye af verstaan het en dit is waarom daar nie elke keer ‘n verduideliking gegee word van presies van watter uur tot watter uur elke afsonderlike feesdag gehou moet word nie.
Dat Yom Kippur (wat vanaf die aand van die negende dag tot die aand van die tiende dag van die maand gehou moet word) nie ‘n uitsondering op die normale reël is nie, blyk daaruit dat die Skrif spesifiek aandui dat die Fees van Ongesuurde Brode op presies dieselfde manier gehou moet word. Shemot / Exodus 12:18: “In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een en twintigste dag van die maand, in die aand.” Die Skrif dui aan dat die Fees van Ongesuurde Brode 7 dae lank moet duur (Shemot / Exodus 12:15,19; 13:6,7; 23:15; 34:18; ens). Wanneer begin hierdie periode en wanneer eindig dit? Volgens Shemot 12:18 begin dit in die aand (aan die einde) van die 14 de dag van die maand en duur dit tot die aand (aan die einde) van die 21 ste dag van die maand. Daar is geen onduidelikheid nie. Trouens, dit was eintlik so bekend en so voordiehandliggend dat Wayyiqra / Levitikus 23:6 bloot aandui (sonder enige verdere verduideliking) dat hierdie fees op die 15 de dag van die maand gehou moet word. Diegene wat in Wayyiqra 23:6 gelees het dat Ongesuurde Brode op die 15 de dag van Aviv gehou moes word, het in die lig van hulle verstaan van die Torah dadelik geweet dat dit vanaf die voorafgaande aand gevier moes word.
Was Ongesuurde Brode nie dalk (ook) ‘n uitsondering op die reël nie? Dit is baie moeilik om te aanvaar en, in die lig van die getuienis van die res van die Skrif, hoogs onwaarskynlik. As Ongesuurde Brode, ‘n fees van sewe dae, op ‘n sekere manier bereken word, waarom sou die Loofhuttefees, ook ‘n fees van sewe dae (uitgesonderd die Laaste Groot Dag) nie ook op dieselfde manier bereken word nie? Wat meer is, waarom sou Yom Kippur wat in Wayyiqra 23:32 ‘n “shabbat shabbatoon” (letterlik: “a sabbath of sabbatic observance”) genoem word, van die aand tot die aand gehou word, terwyl die normale, weeklikse Sabbat, wat in Shemot 31:15 ook ‘n “shabbat shabbatoon” genoem word, slegs van die oggend tot die aand of van die oggend tot die volgende oggend gehou word? Die verwarring wat geskep word deur die aandrang dat Yom Kippur en Ongesuurde Brode as “uitsonderings” beskou moet word, is strydig met die gees en die inhoud van die Skrif en behoort verwerp te word deur almal wat die waarheid liefhet.
Die argument dat die Skrif voor die ballingskap konsekwent van “oggend en aand” praat en dat daar tydens die ballingskap ‘n verandering sou gekom het, sodat daar ná die ballingskap merendeels na “aand en oggend” verwys word, is nie in alle opsigte korrek nie. Ons het reeds daarop gewys dat ‘n mens in gedagte moet hou dat die Skrif op talle plekke met “dag” bloot bedoel: die periode van ongeveer 12 uur wanneer dit lig is, wat begin met die oggend en eindig met die aand. Wanneer ‘n persoon na so ‘n “ligdag” verwys, is dit te verwagte dat hy eers die oggend en daarna die aand sal vermeld. Boonop is daar ‘n hele aantal bewysplase dat daar in die periode voor die ballingskap gereeld na “aand en oggend” of “nag en dag” (spesifiek in hierdie volgorde) verwys is (vgl. Shemot / Exod 27:21; Wayyiqra / Lev 24:3; Bemidbar / Num 9:21; Debarim / Deut 28:66; 1 Shemuel / Sam 25:16; 1 Melakim / Konings 8:29; Tehillim / Ps 55:17; 91:5; Yeshayahu / Jes 27:3). Die waarheid is: ons kan nie veel aflei oor wanneer ‘n feesdag of ‘n sabbat gehou moet word deur na die volgorde te kyk waarin dag en nag geplaas word nie. Die rede hiervoor is waarskynlik dat dit binne die Hebreeuse denke eenvoudig nie so belangrik was om uit te klaar presies wanneer dit die beginpunt van elke 24 uur periode is nie.
Dit staan egter vas dat daar binne die Hebreeuse denke op geen stadium enige twyfel bestaan het oor hoe om ‘n Sabbat of ‘n feesdag te vier nie. In die tyd van Ester en Negemyah /Nehemia (wat albei uit hulle pad gegaan het om die volk wat pas uit ballingskap teruggekeer het, weer in die weë van Yahweh te laat wandel) is daar ‘n insiggewende verwysing na die onderhouding van die Sabbat. Ons lees daarvan in Negemyah / Neh 13:19: “En sodra dit in die poorte van Jerusalem voor die sabbat donker was, het ek (Negemyah) gesê dat die deure gesluit moes word; en ek het gesê dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die sabbat nie, en van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbatdag mag inkom nie.” Daar is geen twyfel dat Negemyah hiermee aangedui het dat die Sabbat vanaf die aand van die voorafgaande dag gehou behoort te word nie. Diegene wat beweer dat Negemyah in hierdie geval die Sabbat twaalf ure “te vroeg” begin onderhou het en dus die wet oortree het, sal ‘n baie goeie verduideliking moet gee vir so ‘n growwe aanklag teen iemand wat kort tevore namens die volk belydenis gedoen het vir die “vermetelheid” van die volk toe hulle nie na Yahweh se verordeninge en gebooie gehandel het en daarna geluister het nie (Negemyah 9:29) – onder andere ook die insettinge rakende die Sabbat (vgl. Negemyah 9:14; 10:31-33; 13:15-22).
Is daar enige verdere bewyse in die geskrifte van die Ou Verbond dat spesiale dae van aand tot aand “gevier” is? Soos reeds aangedui, gaan dit vir ons nie primêr om die vraag wanneer ‘n dag (in die algemeen) volgens die Skrif begin en eindig nie, maar daar is tog enkele interessante verwysings wat kan lig werp op die manier waarop feesdae gehou is. In Shophetim / Rigters 14 vind ons die beskrywing van Simson wat vir die Filistyne ‘n raaisel gegee het wat hulle binne sewe dae moes oplos. Die betrokke sewe dae was ‘n tipe feesgeleentheid, want dit word “die sewe dae van die maaltyd” genoem. Die Filistynse vrou op wie hy ‘n oog gehad het, het so by hom aangehou dat hy die oplossing van die raaisel aan haar moes bekendmaak, dat hy dit uiteindelik op die sewende dag vir haar uitgelê het. Sy het toe die uitleg aan die Filistynse mans bekendgemaak waarna hulle dit “op die sewende dag voor sonsondergang” aan Simson oorgedra het. Dit blyk dat hulle gewag het tot op die laaste oomblik, kort voor die verstryking van die sewe dae periode, om vir Simson die oplossing van die raaisel te gee.
In die boek Ester, hoofstuk 4:16, vind ons die volgende woorde van Ester: “Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie, en as ek omkom, dan kom ek om.” Dit is duidelik dat die vas drie volle dae moes duur. Wanneer het die vas begin en wanneer het dit geëindig? Die antwoord lê opgesluit in die woorde “nag en dag”. As die vas in die oggend begin het en twee dae later in die aand geëindig het, het dit beslis nie drie volle dae geduur nie. Ook nie as dit met ‘n aand begin het en met ‘n oggend opgehou het nie. Net soos die Messias ook nie drie volle dae in “die hart van die aarde” (vgl. Matteus 12:40) kon gewees het as Hy (soos talle vandag glo) op ‘n Vrydagaand tereggestel is en op ‘n Sondagoggend uit die dood opgestaan het nie.
In Daniel 8:13 hoor die profeet ‘n stem wat vra: “Hoe lank sal die gesig duur–van die voortdurende offer en die ontsettende afvalligheid–sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping oorgegee word?” En dan kom die antwoord in vers 14: “Twee duisend drie honderd aande en môres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.” In vers 26 van dieselfde hoofstuk word daar weer van hierdie gesig gepraat: “En die gesig van die aande en môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op ‘n verre toekoms.” Wat ook al die presiese betekenis van hierdie gesig mag wees, vir ons is dit belangrik dat ‘n dag (in hierdie geval: ‘n profetiese dag) twee maal in hierdie hoofstuk met die beskrywing “aande en môres” aangedui word. Om te beweer dat die profeet (of erger nog: die engel wat met die profeet gepraat het) se woordkeuse “verkeerd” was (of verkeerd aangehaal is), en voortspruit uit veranderinge wat tydens die Babiloniese ballingskap plaasgevind het, is ‘n gevaarlike stelling om te maak en berus grootliks op blote bespiegeling.
Wat van die tyd van die Messias? Is daar in die Skrif enige aanduidings hoedat die Sabbat op hierdie stadium verstaan en gehou is? Daar is min twyfel dat die Sabbat in die periode rondom die bediening van Y’shua die Messias van die aand tot die volgende aand gehou is. Dit kan onder meer gesien word in gedeeltes soos Mat 8:16; Mark 1:32 en Luk 4:40. In hierdie drie gedeeltes is dit duidelik dat die Jode op die Sabbat tot sonsondergang gewag het voordat hulle die siekes na Y’shua gebring het. Hulle het immers (verkeerdelik) geglo dat dit nie geoorloof was om siekes op die Sabbat gesond te maak nie. Die interessante is dat dit juis op hierdie punt is dat die Fariseërs dikwels met Y’shua swaarde gekruis het. Dit het nooit hulle aandag ontglip as Y’shua dit sou “waag” om siekes op die Sabbat gesond te maak nie. Daar was egter nooit enige dispuut tussen Y’shua en die Fariseërs oor wanneer ‘n Sabbat gehou moes word nie. Die feit dat die Fariseërs op geen stadium kritiek uitgespreek het teen die tyd waarop die Messias die Sabbat gehou het nie, maak dit byna ‘n uitgemaakte saak dat Hy die Sabbat, net soos hulle, van die aand tot die aand gehou het. Die metode om ‘n dag van aand tot aand te bereken, kom ook baie duidelik op ander plekke in die Nuwe Verbond geskrifte na vore. In Mat 27:57, Mark 15:42 en Luk 23:54 word beskryf hoedat Yoseph van Arimathea op “die dag voor die Sabbat” (Grieks: prosabbaton) teen die aand gekom het om die lyk van die Messias van die folterpaal af te haal en in ‘n graf te plaas, sodat dit nie op die Sabbat aan die paal sou bly hang nie (Joh 19:31). Die “sabbat” waarvan hier gepraat word is na alle waarskynlikheid die eerste dag van Ongesuurde Brode, maar die wyse waarop dit eenvoudig (ongekwalifiseerd) as ‘n Sabbat bestempel word, is ‘n aanduiding dat vir die Jode van daardie tyd, dieselfde tydsbepaling gegeld het vir weeklikse en jaarlikse Sabbatte.
Die vertaling van die gedeeltes in die Messiaanse Geskrifte wat oor die opstanding van die Messias handel (vgl. Mat 28:1; Mark 16:1; Luk 24:1 en Joh 20:1), bring ons by een van die moeilikste eksegetiese kwessies in die hele Skrif. Dit is veral moeilik om te bepaal presies op watter tydstip die opstanding van die Messias volgens hierdie gedeeltes sou plaasgevind het. Wat egter redelik duidelik is, is dat die twee Maria’s “teen die einde van” of “na afloop van” die Sabbat (letterlik: “toe die Sabbat agter die rug was”) na die graf toe gegaan het, waar hulle ontdek het dat die Messias reeds opgestaan het. Dit blyk dat dit op hierdie stadium vroeg in die oggend was, toe dit nog donker was, heel waarskynlik vóór sonsopkoms. Omdat daar so baie van die woorde in hierdie verse is wat dubbelsinnige betekenisse kan hê, kan ‘n mens bloot (met huiwering) aflei dat dit blyk dat die evangeliste gemeen het dat die Sabbat reeds verby was toe die vroue voor sonsopkoms by Y’shua se graf aangekom het.
In 2 Korintiërs 1:25 lees ons die volgende: “Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring.” Die interessante is dat die uitdrukking “‘n nag en ‘n dag” ‘n vertaling is van ‘n enkele Grieks woord, naamlik “nuchthemeron” wat bloot ‘n kombinasie-woord is waarin die Griekse woorde “nux” (nag) en “hemeron” (dag) aanmekaar gevoeg is. In sy “Exposition of the Entire Bible” gee John Gill die volgende uitleg van hierdie woord: “The word nuchthemeron, “a night day”, signifies a whole natural day, consisting of a night and a day; and is an Hebraism, and answers to erev veboqer, the evening and the morning”, which make a full day (Gen 1:5, Dan 8:14).”
Verreweg die belangrikste getuienis in die Messiaanse Geskrifte is egter dat die Messias self volgens alle aanduidings beide die weeklikse en jaarlikse Sabbatte op die manier gevier het waarop dit vandag nog deur Jode en die meerderheid Messiaanse gelowiges gevier word, naamlik van aand tot aand. Selfs al aanvaar ons die hoogs onwaarskynlike moontlikheid dat Y’shua nie saamgestem het met die tyd waarop die breë publiek die Sabbat gehou het, is dit uiters betekenisvol dat Hy self nie ‘n woord daaroor gerep het nie en nooit ‘n dispuut punt daarvan gemaak het nie. Daar is vandag ‘n tendens onder Messiaanse gelowiges om enige iets wat lyk na “nuwe openbaring” só te “omhels” en soms só op die spits te dryf dat dit onvermydelik tot verdeeldheid, wantroue, agterdog en partyskappe aanleiding gee. Dit weerspieël nie die gesindheid van die Messias nie en strek die liggaam van die Messias nie tot eer nie. My gebed is dat ons almal in hierdie opsig nugterheid, wysheid en eensgesindheid aan die dag sal lê. En mag Yahweh self opnuut die waarheid van sy Woord in ons harte kom bevestig.