(Om hierdie lesing beter te verstaan, sal dit baie help om hierdie skematiese voorstelling byderhand te hou.) Daar is ‘n opvallende “7 en 1” patroon wat ingeweef is in die jaarlikse fees siklus van 26 weke (en enkele dae), soos dit in die Skrif uiteengesit word. Die jaarlikse feeste begin met een dag, wat ‘n dag van voorbereiding is (Pesag, wat streng gesproke nie ‘n fees op sigself is nie), gevolg deur die 7 dae van Ongesuurde Brode – dus ‘n duidelike “7 en 1” of, in hierdie geval, ‘n “1 en 7” patroon. Die jaarlikse feeste eindig met die 7 dae van Sukkot, gevolg deur 1 ekstra dag wat bekend staan as Yom Hashemini of Shemini Atzeret – weer eens ‘n duidelike “7 en 1” patroon.
In die eerste deel van die jaar is daar ‘n betekenisvolle 50 dae periode wat begin op die Dag van die Eersteling Beweegoffer en eindig op die Dag van Shavuot. Dit staan ook bekend as die Periode van die aftelling van die Omer en die normale manier waarop daar na hierdie periode verwys word is dat dit uit sewe weke plus een dag bestaan – dus weer ‘n “7 en 1” patroon. Let daarop dat hierdie 50 dae periode begin binne die sewe dae fees van Ongesuurde Brode aan die begin van die jaarlikse fees siklus. Daar is egter ook ‘n (minder bekende) 50 dae periode in die laaste deel van die fees siklus. Hierdie 50 dae periode is ‘n spieëlbeeld van die eerste 50 dae periode en eindig, op sy beurt, binne die sewe dae fees van Sukkot, aan die einde van die siklus. Wanneer begin hierdie tweede 50 dae periode? Dit begin op die eerste dag van Elul, oftewel die sesde maand, wat in baie kringe verstaan word as ‘n maand van addisionele voorbereiding vir die reeks feeste van die sewende maand, en in besonder die Dag van Yom Kippur. As ‘n mens op 1 Elul sou begin tel, sal die 40 ste dag min of meer saamval met Yom Kippur en die 50ste dag sal altyd binne die 7 dae van Sukkot val! En 50 dae is sewe weke plus 1 dag – dus weer eens ‘n “7 en 1” patroon!
Die interessante is verder dat elkeen van die sewe feeste op een of ander manier aansluit by die “7 en 1” patroon van die siklus in sy geheel. Die eerste fees, Ongesuurde Brode is sewe dae lank en volg op een dag van voorbereiding (Pesag). Die twee fees, die Eersteling Beweegoffer, is die fees waarop die aftelling van sewe weke en een dag begin. Die derde fees, Shavuot, is die fees waarop die aftelling van sewe weke en een dag eindig. Die vierde fees, Trompette, val op die eerste dag van die sewende maand (dus ook ‘n tipe “7 en 1” patroon). Die vyfde fees, Yom Kippur, is ‘n heenwysing na die eindtyd “Dag van Yahweh”, wat volgens alle aanduidings op ‘n jubeljaar sal plaasvind (sien Levitikus 25). ‘n Jubeljaar vind elke 50 jaar plaas en word bereken as sewe Sabbatsjare, plus een jaar. Die sesde fees, Huttefees of Sukkot, is sewe dae lank en word gevolg deur een dag van afsluiting. En die sewende fees, Yom Hashemini, is hierdie een dag (vandag) wat voorafgegaan word deur die sewe dae van die Huttefees.
Is daar dalk ‘n verborge betekenis in die “7 en 1” patroon van die feeste? Die mees vanselfsprekende betekenis is geleë in die eenvoudige sommetjie, 7 + 1 = 8, en die feit dat die getal 8 met ewigheid en oneindigheid te make het. Hierdie betekenis is alreeds opgesluit in die naam van die fees van vandag, Yom Hashemini (wat letterlik beteken, “Die Agste Dag”) of Shemini Atzeret (wat letterlik beteken “Die samekoms van die Agste Dag”). Dis nie net die Agste Dag wat vir ons ‘n herinnering aan die eindtyd en die ewigheid is nie. Elkeen van die sewe feeste is ‘n heenwysing en ‘n voorbereiding vir die Agste Dag. Dis interessant dat die Skrif dikwels, nie net na hierdie fees nie, maar ook na die ander feeste, as ‘n “Atzeret” verwys. ‘n Fees is per definisie ‘n SAMEKOMS. Streng gesproke kan ‘n mens nie ‘n fees oor SKYPE of oor ZOOM bywoon nie. Die Vyand het werklik ‘n groot slag geslaan met hierdie virus waardeur mense letterlik verhinder is om fees te vier soos die Skrif dit van die begin af bedoel het. En hy het nog ‘n groter slag geslaan deur duisende gelowiges te laat glo dat dit nie vandag meer nodig is om die feeste te hou nie. Ek hoop werklik met my hele hart dat ons binnekort weer die volle herstel van ons “onderlinge byeenkomste” kan beleef – nie net met die feeste nie, maar ook met ons weeklikse byeenkomste. Elke enkele samekoms van die gelowiges is ‘n kleedrepetisie van daardie dag wanneer daar ‘n groot menigte, wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, in lewende lywe voor die troon van Yahweh en in die teenwoordigheid van Y’shua sal bymekaarkom, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande en met ‘n groot stem sal uitroep: Die verlossing behoort aan ons Elohiem wat op die troon sit, en aan die Lam! (Opb 7:9-10).
Dis interessant dat daar in die Skrif minstens tien keer na ‘n fees as ‘n “Atzeret” verwys word. Soos reeds hierbo aangedui, beteken hierdie woord iets soos samekoms of byeenkoms. Daar is egter ‘n dieper betekenis wat aan hierdie woord gekoppel word. Die oorspronklike woord “atzar” beteken onder meer “to assemble”, maar die eintlike betekenis van hierdie woord is “to keep oneself close, to maintain, to hold back, to stay, to remain, to restrain”. Die idee is duidelik: Dit gaan nie net oor ‘n gewone byeenkoms nie. Dit gaan oor die keuse wat ‘n mens maak om byeen te kom met ander feesgangers en daar te bly – vir altyd, as dit moontlik is. Om jouself daarvan te weerhou om van die byeenkoms af weg te gaan. Om die nabyheid van ander feesgangers op te soek en dit aan te gryp soos een wat so lank as moontlik daar wil bly – nie soos een wat so gou as moontlik daar wil wegkom nie. Een van die ou rabbis het die verhouding tussen Sukkot en die Agste dag vergelyk met ‘n koning wat sy seuns nooi om vir ‘n paar dae (dalk 7 dae?) by hom te kom bly en toe die 7 dae verby is het hy hulle gevra om asseblief nog een dag te bly omdat hy nie graag van hulle wil afskeid neem nie. Dis nie net die koning wat so behoort te voel nie. Die seuns (en die dogters) wat daar gekuier het en wat die geselsies met die koning ingedrink het, wat sy goedheid en sy vriendelikheid en sy liefde en sy wysheid beleef het, behoort net so oor ‘n fees te voel. Jy wil nie graag hê dit moet tot ‘n einde kom nie. En die Agste Dag is juis dít: Dit is ‘n voorsmakie van daardie “DAG” wat gaan aanbreek, maar nooit tot ‘n einde gaan kom nie.
Die fees siklus beslaan ongeveer 6 maande van die jaar – dit wil sê die helfte van die totale jaar. Dis werklik ‘n periode om na uit te sien. Al is daar onderbrekings tussen-in, is daar ‘n goue draad wat dwarsdeur loop en wat selfs die eerste helfte van die siklus verbind aan die tweede helfte van die siklus. ‘n Mens is geneig om te dink dat daar ‘n groot gaping tussen Shavuot (in die derde maand) en die feeste van die sewende maand is. Maar Johannes 4 beskryf hoedat Y’shua op ‘n keer, ná ‘n fees, vir die mense rondom Hom gesê het, “Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.” Die fees wat plaasgevind het voordat Y’shua hierdie woorde uitgespreek het, was heel moontlik die fees van Shavuot. En die vier maande is ongeveer die periode tot en met die aanbreek van die groot vrugte-oes van die sewende maand. Hulle wat dink dat daar ‘n groot gaping tussen die eerste deel van die fees-siklus en die tweede deel van die fees-siklus bestaan, of tussen die laaste fees van die jaar en die eerste fees van die volgende jaar, is geneig om te sê: Sjoe, dis nog ‘n volle vier maande of ses maande – en eers dán kom die oes of eers dán kom die fees weer! Maar hulle wat weet dat die hele fees-siklus een, groot geheel vorm, en dat dit bedoel is om ons voor te berei vir die eindtyd, is reg om vir mekaar te sê: Die lande is alreeds gereed vir die oes. Daar is nie tyd om soos ‘n bergslang in ‘n winterslaap in te gaan nie. Dit is NOU die tyd om weer saad in die grond te sit. Dis NOU die tyd om die motivering en die vreugde en die geestelike kos waarmee ons in die feestyd gevoed is, te gebruik om die beginsels van die koninkryk uit te leef – daar waar ons werk, daar waar die mense rondom ons die Skrif-vreemde patrone van hierdie wêreld in almal se kele probeer afdruk, dáár waar dit al hoe meer die patroon word dat mense hulleself afsonder en op ‘n selfsugtige en indiwidualistiese manier die boodskap uitbasuin: Ek het nie vir Yahweh of ander mense rondom my nodig nie! Die fees het ons almal geïnspireer. Maar ons leier, Y’shua, kom sê opnuut vir ons vandag: Die lande is wit van die oes! Noudat die fees verby is: Gaan jy jou gemakstoel uittrek of gaan jy jou moue oprol en feesvrugte dra?