GROOTHEID HET GRENSE

alternate textIn Dan Brown se boek, The Lost Symbol, word daar ‘n begrip gebruik wat aansluit by die leesstuk van hierdie week en, meer spesifiek, Genesis 11 wat die verhaal beskryf van die mense van Babilon wat besluit het om ‘n toring te bou wat tot aan die hemel reik. Hierdie begrip is die woord “apotheosis” (Afr: “apoteose”) wat normaalweg vertaal word met “deification” of “vergoddeliking”. Die Griekse “apo” beteken “weg van” en impliseer ‘n beweging weg van dit wat jy voorheen was en die woord “theos” beteken “god”. As jy in ‘n staat van apoteose is, het jy op een of ander manier weg beweeg van jou gewone menslike en natuurlike status en ‘n “god” geword – hetsy in jou eie oë of in die oë van andere. In Dan Brown se boek word hierdie woord in die konteks gebruik van die indrukwekkende skildery of fresko wat teen die 433 m2 plafon van die ikoniese Kapitool (Eng: “Capitol”) of Kongresgebou in Washington DC aangebring is. Hierdie fresko staan bekend as “The Apotheosis of Washington” en is ‘n voorstelling van George Washington in ‘n verhewe posisie, as ‘n soort superwese, omring deur ‘n wolk, ondersteun deur ‘n reënboog, en geposisioneer tussen Libertas die Romeinse godin van vryheid, Victoria, die Romeinse godin van oorwinning en 13 ander dansende meisies (met sterre bokant hulle koppe) wat ‘n sirkel saam met Washington, Libertas en Victoria vorm. In ‘n tweede sirkel, rondom die eerste, is daar ‘n voorstelling van die ses groot kategorieë van die Amerikaanse geskiedenis en regering, met ‘n Romeinse god of godin wat elke kategorie verteenwoordig: “War” (met die god Columbia), “Science” (met die god Minerva), “Marine” (met die god Neptune), “Commerce” (met die god Mercury), “Mechanics” (met die god Vulcan) en “Agriculture” (met die god Ceres). Die hele fresko skep die indruk dat Amerika sy hoop en sterkte en inspirasie put uit ‘n poel van krag en wysheid wat deur die gees van George Washington en ‘n hele string Romeinse gode gewaarborg word!

In Gen 11:4 lees ons hierdie woorde: “En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.” By implikasie: Ons is moeg vir die aardsheid van hierdie wêreld. Ons wil ‘n smakie van die hemel hê. Ons wil wegkom hier (“apo”), en by Elohiem uitkom (“teose”) en selfs ‘n bietjie soos Hy word. En op dié manier wil ons vir ons naam maak en onthou word sodat die mense van die wêreld na ons kan opkyk en sê: “Dáár is nou iemand wat iets besonders is!”.

Die woordeboek sê apoteose is “the act of elevating a mortal to the rank of, and placing him among, the gods.” Partykeer pas mense apoteose toe teenoor iemand anders wat hulle beïndruk het, soos wat die Amerikaners dit met George Washington gedoen het. En partykeer doen mense dit sommer aan hulleself, of met hulleself. Hulle verhef en verhoog en vergroot hulleself tot op ‘n vlak bokant die bestemde bestaan van sterflike wesens. En dan dink hulle dat hulle iets besonders bereik het. Soos Adam en Eva (Gawah) wat geswig het voor versoeking omdat hulle gehoop het om soos Elohiem te wees deur goed en kwaad te ken. Soos die koning van Babilon (Bavel) wat in Jesaja 14:13 die obsessie het om op te klim na die hemel en sy troon te verhef tot bokant die sterre en homself met die Allerhoogste gelyk te stel. Soos die heerser van Tirus (Tsor) in Esegiël 28 wat sy hart gemaak het soos die hart van ‘n magtige en homself wysgemaak het dat hy op die troon van Elohiem sit. Soos die dubbelhartiges van Psalm 12 wat gemeen het hulle is so vaardig met hulle woorde dat niemand hulle meester kan wees nie. Soos Nebukadnesar wat in Daniel 4:30 na sy eie handewerk gekyk het en gesê het: “Is dit nie die groot Bavel wat ek opgebou het tot ‘n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot beklemtoning van my majesteit nie? Soos Haman in die verhaal van Ester en Mordegai wat by homself gedink het: “Aan wie sou die koning eer wil bewys meer as aan my?” Soos Assirië (Ashur) in Esegiël 31 wat met ‘n boom vergelyk word wat sy takke in hoogmoed uitstoot bokant die wolke sodat geen boom in die tuin van Elohiem met sy skoonheid en majesteit vergelyk kon word nie. Soos Edom in OvadYah 1 wat in vermetelheid op hoë plekke gebly het en in sy hart gesê het: “Wie sal my op die aarde neerwerp?” Soos die groot stad Babilon (Bavel) in Openbaring 17 en 18 wat vergelyk word met ‘n hoer wat op baie waters en op sewe berge sit en wat in weelde en met ‘n houding van onaantasbaarheid heerskappy gevoer het oor die konings van die aarde.

Die een, groot gemene faktor as mens hierdie voorbeelde uit die Skrif met mekaar vergelyk, is dat al hierdie pogings om apoteose te bereik, tot ondergang en vernietiging gelei het, of in die toekoms tot vernietiging sal lei. Daar is ‘n gees agter al hierdie pogings van mense om hulleself (of ander mense) tot op die vlak van die Allerhoogste te verhef – ‘n gees wat in die Skrif aangedui word as die gees van die Antichris of Antimessias. In 2 Tessalonisense word daar ‘n persoonlike gestalte aan hierdie Antimessias gees gegee en dit word die “mens van sonde” en die “seun van vernietiging” genoem. Hy word in 2 Thes 2:4 beskryf as “die teëstander wat hom verhef bo al wat Elohiem genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van Elohiem sal sit en voorgee dat hy Elohiem is”. Maar sy uiteinde is reeds verseël: “Die Meester sal hom met die asem van sy mond verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet maak” (vers 8).

Daar is nie ‘n tekort aan voorbeelde van apoteose in ons dag nie. So is daar ‘n rede waarom die “Capitol” in Amerika met ‘n “o” gespel word en nie met ‘n “a” soos wat mens sou verwag wanneer jy van Washington, die hoofstad (“Capital”) praat nie. Capitol is Latyns en is afgelei van die naam van die tempel van Jupiter in antieke Rome: “Temple of Jupiter Capitolinus”. Van hierdie tempel sê Wikipedia die volgende: “It had a cathedral-like position in the official religion of Rome, and was surrounded by the Area Capitolina where certain assemblies met, and numerous shrines, altars, statues and victory trophies were displayed.” Rome het ‘n Capitoline Hill, een van die 7 heuwels van hierdie stad en Washington, Amerika het ‘n Capitol Hill waar ‘n mens een van die bekendste landmerke van die Verenigde State, die Kapitool of Kongresgebou, aantref. Die ooreenkoms (en die vermenging!) is verbysterend: Antieke Rome: Capitolinus → Jupiter → “official religion of Rome” en in die Amerika van ons eie dag: Capitol → Victoria, Minerva, Neptunis (plus nog ander) → “In God we trust” (die amptelike leuse van Amerika wat orals in en rondom die Kapitool gebou gesien kan word).

Om hierdie tendens van die vermenging en interaksie tussen mense en gode te verstaan moet ‘n mens iets van die antieke Griekse en Romeinse mitologie verstaan. Een belangrike aspek van al die antieke gode is dat hulle as “antropomorfies” beskou is, met ander woorde hulle het menslike eienskappe gehad en kon soms ‘n menslike vorm aanneem. Op dieselfde manier kon gewone mense ook ‘n goddelike vorm aanneem en goddelike status bereik. In die ANCIENT HISTORY ENCYCLOPEDIA word die volgende stelling gemaak onder die opskrif “Roman Mythology”: “The people of Rome and Greece were able to see themselves in these tales and understand their relationship to the rest of the world as well as their connection to the gods. The lesson often to be learned was that one must meet one’s destiny with strength, determination, and nobility. These myths enabled an individual to stand against the ills and hardships of an unforgiving universe.”

Die geneigdheid om ‘n “konneksie” tussen die mense en die gode te vind, is ‘n inherente deel van mens-wees en het tot dusver seker nog in elke fase van die geskiedenis voorgekom. Dis waarom afgodediens deur al die eeue só ‘n blokkasie in die geloof was. Dis waarom die versoeking so groot is om Y’shua die Messias as ‘n inkarnasie (of menslike gestalte) van die Allerhoogste te beskou en daar tot groot uiterstes gegaan word om te verhoed dat gelowiges ánders oor Hom dink – al is dit nie hoe die Skrif oor Hom praat nie. Dis waarom nie net die Rooms Katolieke pous nie, maar ook ander geestelike en kerklike leiers, so dikwels as ‘n soort god vereer word en selfs met goddelike outoriteit beklee word. Dis waarom bekende akteurs en sportsterre en ander openbare figure so dikwels met goddelike lofprysing besing word en op ‘n super-menslike voetstuk geplaas word.

Wat van ons, vandag? Is selftoegediende (“self-inflicted”) apoteose vir ons ook ‘n gevaar? Baie beslis! Wie van ons wil nie ons eindbestemming met “strength, determination, and nobility” tegemoetgaan, soos daar in die ANCIENT HISTORY ENCYCLOPEDIA beskryf word nie? Wie van ons wil nie graag uitstyg bokant die swaarkry en gesukkel van hierdie wêreld en voel dat ons onoorwinlik en totaal vry is nie? Die antwoord lê egter nie daar waar meeste mense dink dit lê nie. Die antwoord is nie om op prinse en gode en buite-wêreldse tegnieke te vertrou nie. Deesdae is daar soveel klem op “jou droom najaag”, “jou volle potensiaal verwesenlik” en “jou beperkinge uitskakel” dat dit uiteindelik maar net neerkom op ‘n nuwe vorm van apoteose. Die interessante feit is dat, alhoewel die bedoeling met die woord “apoteose” is om te sê dat iemand nader aan Elohiem (“teos”) beweeg, die woord ook so verstaan kan word dat jy eintlik “weg van” (“apo”) Elohiem beweeg, nie nader aan Hom nie. Om werklik naby aan Elohiem te kom, terwyl ons hier op aarde lewe, moet ons nie aspireer om buite die grense te beweeg wat Hy vir ons hier op aarde gestel het nie. Ons moet die dinge hier op aarde vind waarin ons ons kan uitleef en waarin ons ‘n verskil kan maak, maar midde-in dit alles moet ons daaraan vashou dat net Yahweh alleen kan vir ons “strength, determination, and nobility” gee. En wanneer daar tye kom dat die sterkte of die vasberadenheid en die gevoel van self-waarde in ons harte en ons emosies en ons denke en ons motivering ontbreek, dan hou ons in die geloof nog steeds ons oë gerig op Yahweh, en op die Een wat Hy gestuur het om ons uit die kloue van die dood te red, want Yahweh alleen is afgesonder, Hom alleen dien ons, en sy Seun Y’shua, alleen, is die deur wat vir ons dit moontlik maak om nader aan die Vader te kom.