Krisis met Kerke

LG, Nigel

Ek kan geen kerk meer bywoon want vind dit verwarrend om te sit en sif tussen wat ek as waarheid leer ken het die afgelope klompie maande en verdigsels. Geen kerk in my omgewing erken Sy Naam én die Torah nie.

Alhoewel daar baie inligting per tegnologie beskikbaar is het ek nodig om interaksie met ander gelowiges te hê, saam te studeer, menings uit te ruil. Elim Ministries is die enigste groep sover my kennis nou strek wat my kan raad gee. Ek is versigtig vir groepe want daar is baie ekstremiste wat bv glo dat indien jy nie ‘n Jood is nie, jy nie gered kan word nie, al wil jy ook.

Dit is ‘n omvangryke verandering in my lewe en ek beleef waarlik ‘n krisis. Ek vertrou u sal goeie raad hê.

KOMMENTAAR

Ek verstaan heeltemal jou dilemma op die oomblik met kerke. ‘n Mens kan selfs dieselfde soort verwarring ervaar as jy uiteindelik tog ‘n “Torah” groep ontdek, maar later uitvind dat daar na een of ander kant toe van die kern van die Skrif afgewyk word. Ek waardeer jou vertroue in die werk van Elim Bedieninge opreg. Ek wil nie aanspraak maak daarop dat ons “meer” op die regte pad is as ander groepe nie, maar sal probeer om goeie raad te gee, as ons kan. Lees gerus op ons webblad om jouself te vergewis van wat ons standpunt oor verskeie onderwerpe is en vra asseblief as iets vir jou nie sin maak nie. Die Key-word Search funksie (in die kolom aan die regterkant van elke bladsy) is nogal handig as jy artikels of bydraes soek wat spesifieke sleutelwoorde (in Afrikaans of Engels) bevat.

Jy is baie welkom om via epos (of watter manier ook al) van jou te laat hoor – so dikwels as jy wil. Meeste van ons het hierdie pad begin stap met honderde vrae in ons gemoed en al het ons tot vandag toe nie die finale antwoord op elke vraag gevind nie, is dit baie belangrik om ‘n “plek” te hê waarheen jy met jou vrae kan gaan.