JOTAS EN TITTELS MÁÁK SAAK

alternate textVerlede week het ons saam gekyk na die vreemde opdrag wat Avram gekry het toe hy nog in Haran gewoon het. Yahweh het vir hom met die twee woorde “Lech Lecha” (“Gaan vir jouself!”) uit Haran laat trek, in plaas van die gewone “Lech” (“Gaan!”). In Hebreeus is die tweede woord “lecha”, net twee letters, maar dit maak ‘n hemelsbreë verskil. Twee letters, of selfs net een letter, maak saak as dit by die Woord kom. Y’shua het gesê nie ‘n jota of ‘n tittel sal van die Torah weggeneem word, voordat ALLES vervul is nie. ‘n Jota is die tiende letter van die Hebreeuse alfabet – letterlik die kleinste letter wat daar is. Maar dis die eerste letter van Yahweh se Naam, en hierdie Naam word by die 7000 keer in die Skrif gebruik. En as ons die Jota sou uitlaat – selfs net uit een van die 7000 kere dat daar יהוה in die Skrif staan, dan sou dit הוה wees, en sou ons ‘n onpersoonlike Elohiem aanbid het, en Hom aangespreek het met ‘n abstrakte woord wat iets soos “Bestaan” of “Wees” beteken. Dis ‘n eenvoudige voorbeeld, maar vir my bevestig dit die duidelike beginsel in die Skrif, wat talle kere herhaal word, dan ons nie mag wegneem, of byvoeg, of links of regs afwyk van wat in die Skrif staan nie. En nie één keer lees ons “BEHALWE AS DIT IN DIE OU TESTAMENT STAAN” nie! Y’shua het die Torah vervul, of onderhou – nie opgehef of opsy geskuif nie. Die een wat die boodskap versprei dat Y’shua die Torah afgesluit het, het 1000 maal méér as net jotas en tittels van die Torah en van die hele Skrif weggeneem. En as ons dink dat dit in die haak is om jotas en tittels weg te neem, handel ons direk in stryd met die Messias se woorde in die Bergrede wat daarop neerkom dat elke deeltjie van die Torah tot die einde sal bly staan. Dis interessant hoe sterk “wegneem” of “byvoeg” op die voorgrond tree wanneer dit gaan oor ‘n tradisie of ‘n oortuiging of ‘n doktrine wat nie duidelik in die Skrif geleer word nie. Ek kan nie help om in hierdie verband aan die konsep van “Drie-eenheid” te dink nie. Ons is bewus daarvan dat die skrywers van die Skrif, insluitend die profete, die Messias en die apostels, nie iets soos ‘n “Drie-eenheid” geken het nie en ook nie daaroor gepraat of geskryf het nie. Daar is ‘n redelike konsensus onder vakkundiges vandag dat “Drie-eenheid” ‘n Rooms Katolieke uitvindsel en ‘n filosofies belaaide teorie is en nie pertinent vanuit die Skrif bewys kan word nie. Soms voel ek dat dit net “bewys” kan word as jy jotas en tittels, en die verbod op wegneem en byvoeg in die Skrif, totaal ignoreer. Ek weet ek trap op baie tone as ek dit sê, maar van tyd tot tyd is dit nodig om ons eie oortuigings onder die vergrootglas van die Woord te plaas. Die leesgedeelte van hierdie week begin met Yahweh wat in die gestalte van drie boodskappers aan Avraham verskyn. Die woord vir “verskyn” is “vayeira”. Die woord “vayeira” hou egter ook verband met begrippe soos “perceive, discern and appear to be” en kan beskrywend wees van ‘n toneel of ‘n voorstelling wat totaal verkeerd geïnterpreteer word. En as dit oor ‘n teks of ‘n hoofstuk in die Skrif gaan, is “vayeira” ‘n woord wat ons aan die moontlikheid herinner dat ons dinge by ‘n teks kan “inlees” wat aan daardie teks ‘n totaal verdraaide gestalte gee. Dit is wat oor die geskiedenis heen met Genesis 18 gebeur het. Die drie boodskappers het in baie gelowiges se oë die drie sogenaamde persone van die Drie-eenheid geword, of minstens twee van die drie, met Y’shua wat lank voor sy geboorte ewe doodluiters roosterkoeke en kalfsvleis saam met Avraham en Sarah voor hulle tent eet. Terwyl Avraham self onwrikbaar glo dat daar net een ware Elohiem is, en net so onwrikbaar na die koms van die Messias uitgesien het en terwyl die teks (en die hele res van die Skrif) nie vir ons ‘n enkele leidraad oor die moontlike betrokkenheid van Y’shua in ‘n hoofstuk soos Genesis 18 gee nie. En terwyl ‘n teks soos Hebreërs 1:1 duidelik verklaar dat Yahweh “in die ou tyd” op BAIE MANIERE met die volk gepraat het (soms in die vorm van een boodskapper, soms drie, en soms met ‘n hele leër van boodskappers soos in 2 Konings 7), maar dat Hy eers in die LAASTE DAE (ná die geboorte van Y’shua van Nasaret) met hulle gepraat het deur sy Seun. Weer eens sien ons die duidelike verwarring – die jotas en tittels wat weggeneem word en die menslike idees wat bygevoeg word. Kom ons bly nog ‘n bietjie langer by die tema van hoe duidelik en eenvoudig die Skrif met ons praat oor die verhouding tussen Yahweh en Y’shua, en hoe gekompliseerd ons dit gemaak het deur allerlei jotas en tittels daarby te voeg. Oor en oor word die boodskap in kerke en geloofsgroepe verkondig dat Yahweh, die Skepper van hemel en aarde, in vleeslike of menslike gestalte, op die aarde verskyn het (“vayeira”), toe Y’shua 2000 jaar gelede in Betlehem gebore is. En tog sê die Skrif vir ons, minstens 8 keer, dat Y’SHUA in die vlees gekom het, nie YAHWEH nie, en dat DIT die sleutel aspek van jou en my geloof is. As daar binne die Hebreeuse denke gesê word dat iemand in die vlees gekom het, of dat iets in die vlees gebeur het, beteken dit dat die profesie en die verwagting rondom daardie persoon of daardie gebeurtenis, ‘n WERKLIKHEID geword het! Maar die Grieks-geïnspireerde model van die Drie-eenheid vereis dat Yahweh en Y’shua dieselfde “essensie” (Grieks: “ousia”) moet hê, en so word die Skrif dikwels verdraai om te sê dat Yahweh in die vlees gekom het – totaal téén die bedoeling van beide die profesieë oor die Messias in die eerste deel van die Skrif EN die vervulling van daardie profesieë in die laaste deel van die Skrif. Een voorbeeld hiervan was die misplaaste byvoeging van hierdie woorde in sommige vertalings van 1 Johannes 5:7: “Daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader en die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.” Die konsensus vandag is dat hierdie woorde ‘n blatante vervalsing is en dit word nie meer in moderne vertalings ingesluit nie. Nog iemand het probeer om met ‘n subtiele strepie (of: tittel) die betekenis van 1 Timoteus 3:16 só te verander: Y’shua wat (verander na: “Theos wat” oftewel “God wat”) geopenbaar is in die vlees, is geregverdig in die Gees, gesien deur boodskappers, verkondig onder die heidene, geglo in die wêreld, opgeneem in voortreflikheid.” Die verandering aan die teks was verstommend maklik: Die oudste en mees betroubare Griekse manuskripte het só gelees: “(OC) ̅ is geopenbaar in die vlees” en die vertaling is glashelder: Y’shua is geopenbaar in die vlees. Maar sommige van die latere manuskripte het só gelyk: “(ΘC) ̅ is geopenbaar in die vlees”, en daarmee verander die teks op ‘n drastiese manier. Met die byvoeging van ‘n onbenullige strepie, staan daar nou: Yahweh is geopenbaar (of het verskyn) in die vlees. Daar is nie tyd om in diepte op ander aspekte van hierdie debat in te gaan nie. Maar ‘n mens kan sien hoe die onbenullige strepie van 1 Timoteus 3:16 sommer ook die verstaan van Johannes 3:16 in die verstaan van talle gelowiges kom verander het. Daar staan nou wel: So lief het Elohiem die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun getuur het … maar meeste gelowiges vat sommer die kortpad van: So lief het Elohiem die wêreld gehad dat Hy self na hierdie wêreld toe neergedaal het … En só het die gebruik begin en met rasse skrede toegeneem om Y’shua in die plek van Yahweh te aanbid en te vereer, terwyl Y’shua self alleen vir Yahweh aanbid en vereer het – tot Hom gebid het en diegene berispe het wat Hom op dieselfde vlak as Yahweh probeer plaas het. En terwyl Hy self uitdruklik verklaar het dat Yahweh SY ELOHIEM en ook ONS ELOHIEM is. En dat ons die wil van sy Vader moet volbring, net soos wat Hy die wil van sy Vader volbring het. Daar is geen twyfel oor die grootheid van Y’shua nie. En die Skrif laat ons nie in die duister oor waar daardie grootheid vandaan kom nie. Dis ‘n grootheid wat Yahweh aan Hom gegee het. Yahweh het Hom uit die dood uit opgewek. Yahweh het Hom verhef tot ‘n posisie aan sy regterhand. Yahweh het alles aan sy voete onderwerp, sê 1 Korintiërs 15:27. En reg aan die einde, wanneer alles aan Y’shua onderwerp is (sê vers 28), dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat Elohiem alles in almal kan wees. Deur sy Gees, wat nie, soos in die Drie-eenheid voorgestel word, ‘n afsonderlike persoon is nie, is Yahweh alreeds in almal van ons, in lyn met hierdie vers. Die vraag is of Hy vir ons ook ALLES is, soos hierdie vers dit stel. Of het ons dalk toegelaat dat die mensgemaakte weglatings en byvoegings van jotas en tittels ons visie vertroebel het, sodat ons Yahweh op die agtergrond geplaas het, maar niks daarvan gedink het nie, omdat Y’shua vir ons eenvoudig gelyk aan Yahweh was? Die Woord sê uitdruklik: Dit is Yahweh wat alles en in almal behoort te wees – nie Y’shua, wat Homself ook volledig aan Yahweh onderwerp nie.  

Views: 6

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *