
Ons is pas by SUKKOT verby. Die fees van hutte en tente. Die fees van vreugde. En sommiges sal sê: Die fees van sewes: Die sewedaagse fees in die tweede helfte van die sewende maand – en afhangend van hoe ‘n mens die feeste saam groepeer, is dit ook nog die sewende fees van die jaar. En nou dat ons aan die einde gekom het van die sewe maande van die jaar waarbinne al die feeste val, begin ons van voor af om deur die Torah en ander gedeeltes van die Skrif te lees. Een leesgedeelte uit die Skrif waarna ons vir sewe dae lank kyk en dan gaan ons voort met ‘n volgende gedeelte. Ook vir sewe dae, en so sal ons aanhou met die siklus, totdat ons volgende jaar, weer in die sewende maand, met ‘n nuwe siklus begin.
Binne hierdie groter prentjie is dit gepas dat die naam van die Torah lesing vandag, “Bereshiet” is. IN DIE BEGIN. Jy kan nie by sewe uitkom as jy nie êrens begin het nie. Een fout wat ons seker al almal gemaak het, is dat ons by volmaaktheid probeer uitkom het, nog voordat ons gestoei het deur die begin fases van kruip en tande sny en dummy speen en baba-treetjies loop. Die mees merkwaardige ding is dat dit binne-in hierdie hoofstuk met die naam, IN DIE BEGIN, nog steeds wemel van die sewes. Volmaaktheid is die potensiaal waaraan Yahweh, die Skepper, reg aan die begin, vorm en substansie gegee het. 7 Hebreeuse woorde in die eerste vers. 7 keer dat daar in hoofstuk 1 staan dat Elohiem gesien het dat dit wat Hy gemaak het, goed was. 7 X 5 keer dat die woord “Elohiem” in die eerste hoofstuk gebruik word. Waaroor gaan dit in hoofstuk 1? Oor Elohiem (אלהים) wat die hemel (השׁמים) en die aarde (הארץ) geskape het. As jy die numeriese waardes van hierdie drie woorde bymekaar tel, is die verstommende resultaat: 777! En in hoofstuk 1 word nie net gesê dat Elohiem op die sewende dag GERUS het nie. Daar word ook gesê dat Hy sy werk op die sewende dag VOLTOOI het. Want ‘n werksweek is nooit volledig as jy nie gerus het nie. In die Skrif is daar ‘n opdrag om te werk en ook ‘n opdrag om te rus. En die twee kan nie van mekaar af losgemaak word nie. Dis eers as jy op die sewende dag gerus het, dat jy kan sê: Ek het my werk vir hierdie week voltooi.
Ons kyk vandag na die tema: DIT WAT AGTER DIE TEKS STAAN. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dis die TEKS SELF waarna ons in die eerste plek moet kyk. Die teks en die konteks waarin elke teks staan – die agtergrond, die sentrale tema, die bedoeling van ‘n hele hoofstuk of selfs ‘n hele boek. Sommige mense bou ‘n hele ideologie met bedenklike boustene van dit wat sogenaamd AGTER die teks staan. Dit was ‘n heuglike dag hierdie week toe al die Israeli gyselaars deur Gamas losgelaat is, selfs al was dit in ruil vir die loslating van Palestynse gevangenis, waarvan sommiges deur en deur misdadigers is. Wie van ons kan ons indink in die trauma en die intense emosies en die gevoel van verlies waardeur baie gesinne oor die afgelope 24 maande gegaan het? Mense het op allerlei manier probeer om betekenis te gee aan hierdie hele drama en een van julle het my aandag gevestig op ‘n sekere siening daar buite, van wat ‘n sekere vers in die Skrif te sê het oor Gamas en Israel, vandag.
Die vers is Jesaja 60:18. In Afrikaans klink dit só: “Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie – van geen verwoesting of vernietiging in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Verlossing noem en jou poorte Lof.” Duidelik ‘n profesie oor die TOEKOMS. En dis gerig aan Tsion, oftewel Jerusalem wat êrens in die toekoms nuut gemaak en herstel gaan word. ‘n Fase van die toekoms wat, te oordeel aan dit wat in die res van die hoofstuk staan, en dit wat vandag in Jerusalem aangaan, nog nie aangebreek het nie. In die tyd waarvan hierdie teks praat sal die voortreflikheid van die nasies na Jerusalem toe stroom (vers 6-13) – Jerusalem sal nie as die uitvaagsel van die wêreld gesien word, soos dit vandag is nie. Jerusalem sal nie verlate en gehaat wees nie (vers 15). Absolute vrede en geregtigheid sal in Jerusalem heers (vers 17). Die son sal nie Jerusalem se lig wees nie – Yahweh sal haar Lig wees (vers 19). En die volk wat met Jerusalem verbind word, sal almal regverdiges wees (vers 21).
Duidelik is dit nie die Jerusalem wat ons vandag ken nie. En binne-in hierdie konteks staan Jesaja 60:18: “Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie …” En die woord vir “land” is “ha’arets”, wat deesdae as ‘n noemnaam vir “Israel” gebruik word. En luister ‘n bietjie hier: die woord vir “geweld” is “Gamas” – gespel op presies dieselfde manier as waarop die naam van die befaamde terroriste groep, “Gamas”, gespel word. Al verskil: Die betekenis in Arabies is anders as wat dit in Hebreeus is (nie “geweld” nie, maar “sterkte” en “ywer”). Dit lyk net só aanloklik om na ‘n betekenis AGTER die teks te soek en dit deur te trek na die situasie van vandag. Is Gamas dan nie die verpersoonliking van GEWELD nie? Wil ons nie almal graag hê dat daar nie eens meer van Gamas GEHOOR sal word in “ha’arets” nie? Ek dink ons wil dit graag hê. Maar dan ook weer: Ons behoort nie die Skrif só te hanteer nie. Dit wat hierdie week gebeur het, is nog baie ver verwyder van die vervulling van die profesie van Jesaja 60:18. Die twee woorde “ha’arets” en “gamas” kom 13 keer sáám in dieselfde vers in die Skrif voor. En in nie één van hierdie 13 verse is daar die geringste aanduiding dat “gamas” op die naam van ‘n terroriste groep sinspeel nie. Meeste van die 13 verse spreek kritiek uit oor die geweld BINNE-IN Israel, deur sy eie mense – die soort geweld wat aan Yahweh en sy Woord aangedoen word en die soort geweld waarmee een skepsel van Yahweh, ‘n ander skepsel van Yahweh skade aandoen. En ek wil hier byvoeg: Hoe lief ek ook al is vir Israel as Yahweh se uitverkore volk, kan ek nie help om myself af te vra nie: Wat van al die geweld wat Israel UITGEDEEL het, nie net BELEEF het nie, oor die afgelope twee jaar? Soms oordadig uitgedeel het? Wat van al die onskuldige bloed wat gevloei het en die chaos wat die oorlog in die lewens van duisende mense aangerig het wat niks met 7 Oktober 2023 te make gehad het nie? Die vraag is nie of ‘n land homself en sy mense mag verdedig nie. Enige land en enige weermag behoort dit te doen. Maar ek dink nie die leiers van Israel het in hierdie oorlog die karakter weerspieël van die Een in Wie se Naam hulle die een offensief na die ander op die stad van Gaza geloods het nie.
Ek weet ek sing nie in dieselfde MASSAKOOR as meeste evangeliese en Messiaanse gelowiges in die wêreld vandag nie. Ek waag dit immers om my uit te spreek teen Yahweh se volk – teen hulle leiers en teen hulle weermag, wat as die beste ter wêreld gereken word! Maar glo my, dit breek my hart om dit te doen! Ek deel op geen manier in die Palestynse vlag-waaiers se haat teenoor Israel nie. Vir my staan daar egter ‘n duidelike boodskap AGTER die teks van die hele Skrif – van Genesis tot Openbaring. En hierdie boodskap is nie in kode of in dubbelsinnige taal geskryf nie. Yahweh verwerp onregmatige geweld. Hy verwerp dit as dit by mense en groepe voorkom wat vir hulleself die reputasie van geweldenaars opgebou het. En Hy verwerp dit selfs nog meer as dit onder sy eie volk voorkom. Ons mag onregmatige geweld nie goedpraat nie. Selfs nie as dit by ons geliefde Joodse broers voorkom nie. Verál nie as dit by hulle voorkom nie!
Die leesstuk van Genesis 1:1 tot 6:8 begin met die skepping van hemel en aarde en dan die hoogtepunt, die skepping van die mens, wat Elohiem, volgens vers 26 en 27, NA SY EIE BEELD geskape het. En dit eindig met die stelling dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al sy gedagtes net sleg was. Dat daar smart in Yahweh se hart was oor die mens wat Hy gemaak het en dat net NOAG guns by Hom gevind het omdat daar ‘n ander gesindheid by hom was. Moet daar nie by ons ook ‘n ander gesindheid wees, as die gesindheid van die meerderheid nie? Het Yahweh dan nie aan ons ‘n ander gees gegee sodat ons boosheid en geweld en skynheiligheid kan raaksien en by die naam kan noem nie? In Genesis 4 hoor ons dat Yahweh self intree vir Kayien wat sy broer doodgemaak het: “As enigeen vir Kayien doodmaak, sal dit sewevoudig gewreek word (4:15).” Weer die tema van sewe. En dit gaan oor vergifnis en die afwysing van geweld. Van die kant van niemand minder nie, as die Skepper van hemel en aarde!
Maar die verstommende is dat daar in dieselfde Genesis 4, die sewende geslag van Adam af, iemand na vore kom met die naam, LAMEG, wat die woorde en die bedoeling van die Skepper teenoor Kayien totaal verdraai en ‘n bespotting daarvan maak. “Voorwaar (sê hierdie Lameg), ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n seun wat my kwes. Want Kayien sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig (of: sewe maal sewentig) maal.” En só was dit die gewelddadige gesindheid en die optrede van Lameg, en mense soos hy, wat direk daartoe gelei het dat die Skepper BEROU gehad het oor die mens wat Hy gemaak het en die groot VLOED oor die aarde gestuur het. Ek het min twyfel daaroor dat toe Y’SHUA in Matteus 18 gesê het dat ons nie 7 maal moet vergewe nie, maar sewe maal sewentig maal, Hy vir Lameg in gedagte het en ‘n ETIESE KODE aangedui het wat daar by elkeen van sy volgelinge behoort te wees: Vergifnis sonder grense en sonder om te tel, sodat die sinnelose spiraal van geweld finaal verbreek kan word.
Views: 19
2 Samuel 21
Sinnelose geweld het gevolge en so baie kan uit hierdie hoofstuk en die 2 boeke van Samuel geleer word nl.
Omgee VS geweld beoefen
Yahweh se wil doen VS jou eie wil
Jou sondes bely VS hoogmoed
Rein VS onrein
Onskuld VS skuld
Interessant is die getalle 3 en 7 speel ook ‘n rol in die gedeelte.