
Een van die titels wat ná sy dood aan Y’shua van Nasaret toegeken is, is DIE EERSTELING of die EERSGEBORENE. Johannes, wat vir ons een evangelie, of een geskrewe getuienis, en drie briewe nagelaat het, het soms na Y’shua as die “ENIGGEBORE” Seun van Elohiem verwys. Maar dit is ‘n totaal ander begrip as die “eersgeborene”. “Eniggeborene” (Grieks “monogenes”) probeer in werklikheid NIE om vir ons iets te sê oor Y’shua se GEBOORTE nie, maar oor sy uniekheid. Hy is die enigste een wat aan die mense hier op aarde, deur Yahweh self, bekend gestel is as die unieke Seun van Elohiem. Daar is nie nog iemand van wie dit gesê kan word nie. Selfs nie eens Adam wat soms ook die seun van Elohiem genoem word nie. Ook nie ek en jy wat, deur ons geloof in Y’shua, onsself as seuns en dogters van Yahweh kan beskou nie. Maar hulle wat later nagedink het en geskryf het oor hierdie Y’shua, soos die vroeë apostels en die latere apostel, Paulus of Shaúl, het van Y’shua gepraat as die “eersteling” of die “eersgeborene”. Daarmee het hulle bedoel dat Hy, vanuit verskillende hoeke gesien, die “eerste” was – nie die eerste, in terme van sy bestaan of sy wese, of wie of wat Hy was vóór sy geboorte, in die Griekse sin van die woord nie. Maar die EERSTE, in terme van wat Hy gedoen het en wat Yahweh deur Hom gedoen het, vanuit ‘n Hebreeuse oogpunt gesien. Hebreeuse denke het altyd met konkrete dade en gebeure en begrippe te make, en nie met filosofiese begrippe soos die oorsprong en wese en die sogenaamde pre-eksistensie (of: “vooraf-bestaan”) van ‘n mens nie.
So het Y’shua soms in sy gesprekke met sy volgelinge oor EERSTES EN LAASTES gepraat. Hy het op ‘n keer vir hulle gesê dat dit in Yahweh se koninkryk dikwels só werk dat die wat eerste is, laaste sal wees, en dat die wat laaste is, eerste sal wees. Om hierdie beginsel te verduidelik, het Hy minstens DRIE VOORBEELDE gebruik. Die eerste voorbeeld was toe Hy die gelowiges uitgesonder het wat bereid was om Hom eerste te stel in hulle lewens – ten koste van hulleself en ten koste van dinge en mense wat vir hulle kosbaar is – selfs ten koste van hulle eie familie. Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe, het Hy in Matteus 19:29 gesê. En toe bygevoeg: Baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste. Omdat Y’shua Yahweh se eersteling Gawe aan hierdie wêreld was – die Beste wat Hy vir ons kon gee – is dit net reg dat ons hierdie Eerste en Beste, ook die Eerste en Beste van ons eie lewe sal maak.
Die tweede voorbeeld wat Y’shua vir ons nagelaat het, van die laastes wat soms eerste is, het Hy in Matteus 20 geïllustreer met die GELYKENIS van die man wat op VERSKILLENDE TYE van die dag ARBEIDERS gehuur het om in sy wingerd te kom werk, en toe aan die einde van die dag aan almal dieselfde loon betaal het, selfs aan hulle wat net ‘n paar uur gewerk het. Die tradisionele verklaring van hierdie gelykenis is dat ‘n mens se redding alleen deur Yahweh se groot guns en goedheid is en nie deur die hoeveelheid werk wat elke mens in sy Wingerd ingeploeg het nie. Alhoewel dit waar is dat elke reddingsdaad van die Allerhoogste met guns en goedheid deurweek is, en nie op grond van ons verdienstelikheid gebeur nie, is dit NIE AL wat hierdie gelykenis vir ons wil sê nie. Die gesprek in Matteus 19 en 20 het begin net ‘n verwysing na die 12 stamme van ISRAEL en dit lyk of Y’shua wil sê dat hulle wat nie deel van hierdie 12 stamme is, of was nie, die “laastes” is, wat eers op ‘n laat stadium van die dag by die werk in die Wingerd betrokke geraak het, maar dat hulle, deur hulle verbintenis met die Eersteling, Y’shua, deur Yahweh, die Een aan wie die Wingerd behoort, saam met die “eerstes” gereken sal word.
Die derde voorbeeld van laastes wat soms eerste is, het Y’shua in Matteus 21 geïllustreer met die GELYKENIS van die man wat sy TWEE KINDERS uitgestuur het om in die wingerd te gaan werk. Die een kind het gesê hy sal dit doen, maar uiteindelik het hy dit nie gedoen nie. Die ander kind het eers gesê hy wil dit nie doen nie, maar later het hy berou gehad en dit tog gedoen. Die eerste kind staan vir hulle wat in die openbaar godsdienstig en geestelik, maar nie werklik gehoorsaam nie. Hulle is die “eerstes” wat laaste sal wees. Die tweede kind staan vir hulle wat sondaars was, maar waarlik tot inkeer gekom het. Hulle is die “laastes” wat eerste sal wees. In Yahweh se oë is BEROU EN INKEER EN GEHOORSAAMHEID, altyd méér werd as om ‘n VERTONING van jou geloof te maak, maar nie die opdragte van die Vader te eerbiedig nie.
Dit is nie net Y’shua wat na Jode as die “eerstes” verwys het en na nie-Jode as die “laastes” nie. Die LATERE APOSTELS het dit ook gedoen. Een voorbeeld hiervan is Romeine 1:16: “Ek skaam my nie oor die goeie nuus van die Messias nie, want dit is ‘n krag van Elohiem tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Yehudi en ook vir die Griek.” Die woord “Griek” hier moes eintlik “nasies” gewees het, want dit verwys na alle mense wat NIE Jode is nie. In Romeine 11 word Israel die EERSTELINGE genoem: As die eerstelinge afgesonder is, dan is daar geen rede waarom die deeg, wat later kom, nie ook afgesonder is nie. Of anders gestel: As die wortel (Israel) afgesonder is, dan is daar geen rede waarom die takke uit die nasies wat later ingeënt is, nie ook afgesonder is nie. Die Yehudiem of Jode was nie net “eerstes” in die sin dat Yahweh, voor die geboorte van Y’shua, hierdie nasie, uit al die nasies van die aarde as sy “eiendomsvolk” uitverkies het nie. Hulle was ook “eerstes” in die sin dat, ná die geboorte van Y’shua, die goeie nuus “eerste” aan die Yehudiem gebring is. Die NASIES, ons, het LAASTE in die ry gestaan. Maar met die verrassende rekenkunde van die Skepper van hemel en aarde, kan hierdie “laastes” eerste kom.
Daar is altyd ‘n element van ONVERWAGSHEID en kontras opgesluit in die manier waarop die Skrif van “eersteling” en “eerste” praat. Die mees algemene Hebreeuse woord vir “eersteling” is “RESHIET” wat van “rosh” afgelei is en wat “eerste, beste en vernaamste” beteken. Maar Y’shua, wat ná sy hemelvaart as “Eersteling” bekend gestaan het, en vandag nog wêreldwyd deur gelowiges as “Eersteling” vereer word, het Homself nooit voorgedoen as die “eerste, beste en vernaamste” nie. Hy het die gestalte van ‘n DIENSKNEG aangeneem. Hy het Homself as Yahweh se dienskneg hier op aarde beskou – presies dit wat profete soos Jesaja oor Hom voorspel het. Hy met mense bedien met sy woorde en dade en vir hulle geleer dat elkeen onder hulle wat graag die “eerste” wil word, eers bereid moet wees om ‘n dienskneg te wees, soos wat Hy ‘n dienskneg was. Hy het sy eie volgelinge se voete gewas. Hy het nie teruggedeins daarvoor om ter wille van ander doodgemaak te word nie. In die oë van die vernames van sy dag is Hy nie as die “eerste, beste en vernaamste” gereken nie. Inteendeel, hulle het Hom eenvoudig verwerp. Maar Yahweh het die steen wat deur die bouers verwerp is, tot die belangrikste Steen verhef. Yahweh het hierdie Seun van Hom, wat op soveel maniere die “laaste” was, tot “Eersteling” verhef.
En as “Eersteling” het Hy die lewe vir ons as “VOLGELINGE”, van ons eerste oomblik in hierdie wêreld, tot ons laaste asemteug, op soveel maniere betekenisvol gemaak. Veral deurdat Hy gesterf het en op die eerste dag van die volgende week, uit die dood opgewek is. Reeds in Handelinge 26:23 word dit uitgespel: Hy is die EERSTE wat, op hierdie eerste dag van die week, uit die dood uit opgestaan het. Met die implikasie: As gevolg hiervan, sal baie ander ook, op die eerste dag van ‘n “nuwe week” op Yahweh se kalender, uit die dood opstaan. Deur Y’shua se opstanding het ons al reeds deel gekry van die “eerstelinge van die Gees” waarvan daar in Romeine 8 gepraat word. Wat is hierdie eerstelinge van die Gees? Dit gaan onder meer oor die seëninge waarvan daar onder meer in Efesiërs 1 gepraat word: Yahweh het ons, deur sy Seun Y’shua, geseën met talle geestelike seëninge wat Hy in die hemel vir ons voorberei het. Die feit dat ons ontdek het dat Hy ons ook UITVERKIES het, al was ons nie onder die eerstes, sy eie volk nie. Die feit dat Hy ons as buitestanders tot sy KINDERS aangeneem het – dat ons ‘n naam gekry het wat beter is as seuns en dogters. Die feit dat ons uitnemende guns en VERGIFNIS en verlossing deur die bloed van sy Seun ontvang het. Die feit dat die Eersteling se opstanding die WAARBORG van ons eie opstanding uit die dood is. Volgens 1 Korintiërs 15:23 is daar ‘n belangrike VOLGORDE wat ons totale uitkyk op die dood verander het: “As eersteling die Messias, daarna die wat aan die Messias behoort by sy koms.” En op die dag van die koms van Y’shua, word die ROLLE van die “eerstes” en die “laastes” eens en vir altyd OMGEDRAAI, volgens 1 Korintiërs 2:14-17: Die “eerstes” is nou hulle wat gered word en die “laastes” is hulle wat verlore gaan. Want vir die “eerstes” was die boodskap van Y’shua nog altyd ‘n “reuk van die lewe tot die lewe”. Maar vir die “laastes” was dieselfde boodskap ‘n “reuk van die dood tot die dood”. Aan Yahweh alleen al die lof en dank, Hy wat ons laat triomfeer in die Messias!
Views: 39