OM TE STAAN OF OM NIE TE STAAN NIE

alternate text

Parashah Nitsavim (Deuteronomium 29 en 30) is afgelei van die woord “natsav”, wat beteken: “to stand, to be appointed, to be stable, upright or solid”. In hoofstuk 29 word die leiers eerste genoem (hoofde, oudstes, opsigters) – hulle moes as’t ware heel eerste voor Yahweh kom STAAN. Die woord “natsav” kom 7 keer in 1 Konings voor en al 7 keer het dit met die optrede van LEIERS te make. Yahweh het leiers opgerig. Hy het hulle laat staan. Hulle moet ander help om te kan bly regop staan. Twee keer in Devariem 29 lees ons dat die leiers voor die AANGESIG VAN YAHWEH staan (vers 10, 15). Hulle staan daar as sy verteenwoordigers. “Staan” is ‘n woord wat met vastigheid, sekerheid en stabiliteit te make het. En as jy voor die aangesig van Yahweh staan, het jy die verantwoordelikheid om die stabiliteit van Yahweh op te neem en uit te straal – om nie voor mense op te staan en dinge te sê wat verwarrend is en dit vir húlle moeilik maak om self te bly staan nie.

Danie Botha is bekend vir sy geestelike musiek en sy video boodskappe op Facebook en Patmos Studio – ‘n platform op YouTube wat verklaar: “We are committed to sharing messages of hope”. Hy is dus ook ‘n LEIER wat nie net voor mense staan nie, maar ook voor die aangesig van Yahweh. Oor die afgelope paar weke het Danie begin om die boodskap uit te stuur dat die sogenaamde WEGRAPING op 23 en 24 September, vanjaar, gaan plaasvind, om saam te val met die Trompettefees of die Dag van Yom Teruah. Hy het op 16 September ‘n video vrygelaat waarin hy onomwonde gesê het dat Y’shua op Yom Teruah vanjaar die ware gelowiges gaan kom haal en waarin hy pleit dat hierdie boodskap aan so veel as moontlik mense verkondig moet word. Dis nie onmoontlik dat Y’shua op Yom Teruah vanjaar gaan terugkom nie. Maar die manier waarop Danie hierdie sogenaamde openbaring ontvang en oorgedra het, laat ‘n mens se hare rys. Dit herinner baie sterk aan die talle eindtyd profete in die verlede wat misleidende en valse boodskappe oor die eindtyd oorgedra het en later hulle koppe in skaamte moes laat sak. Danie vertel byvoorbeeld van sy seun se rugbywedstryd wat hy op 13 September bygewoon het en oor hoe “die Here” met hom gepraat het oor die eindtelling van 22-33. Oor tien dae kom die wegraping het “die Here” vir hom gesê. Dit kan in die telling gesien word, want 2+2 is 4, en 3+3 is 6, en 4+6=10! Trouens, dit kan ook in die telling gesien word in die onlangse wedstryd waarin die Springbokke met 43-10 teen die All Blacks gewen het. Die verskil tussen die twee tellings is 33 en volgens Chat GPT is 33 die getal van belofte en afsluiting en daarom gaan die afsluiting van hierdie bedeling oor 10 dae vanaf 13 September plaasvind (die All Blacks se telling was 10). En, sê Danie Botha, die woord “amen” kom 33 keer in die Nuwe Testament voor. Ek gaan kyk toe en sien dat in die Griekse teks van die Nuwe Testament kom die woord “amen” 152 keer voor, nie 33 nie. Dalk kan ‘n mens nog so ‘n telfout oorsien. Maar as ons ‘n belangrike saak soos die koms van die Messias met behulp van die tellings van rugby wedstryde kon bereken, dan kan ons maar net sowel teeblare en horoskope en toordokters raadpleeg, om te weet wanneer enige Bybelse profesie in vervulling sal gaan. Dis eenvoudig NIE die manier waarop die Skrif bedoel is om hanteer te word nie.

Daar is talle ander berekeninge en oorwegings wat Danie Botha inspan om tot die oortuiging te kom dat hy nie eens ‘n “kwart persent onseker” is dat die wegraping op 23/24 September gaan plaasvind en dat hy self, en baie ander, teen 26 September nie meer hier op aarde gaan wees nie. Hy verwys na die getal 16 as die getal van Yahweh se NAAM (wat verwarrend is, want die numeriese waarde van “Yahweh” is 26 en van “Yah” is 15, nie 16 nie). Tussendeur praat hy van “JESUS” en vereer hy “Jesus” op ‘n manier wat 2000 jaar gelede deur Y’shua self afgewys is. Y’shua, wat altyd self op Yahweh as Vader en Skepper en hoogste Outoriteit gefokus het en NOOIT probeer het om die plek van sy Vader in te neem, of in die plek van sy Vader vereer te word nie. Danie sien CHARLIE KIRK se dood – “Charlie” beteken “the free man” – as die “Turning Point” van hierdie wêreld.  The “free man” bring hy in verband met die wegraping. Vry van hierdie wêreld, vry van die komende verdrukking. Hy tel die 1290 dae van DANIEL 12 by die 1260 dae van OPENBARING 11 en kom uit by 2550 dae, wat die tyd van verdrukking is wat ná die wegraping sal begin. Hy sê daar is presies 2550 dae vanaf TERUAH vanjaar tot by 2032 se Yom KIPPUR, dit wil sê oor sewe jaar. Hy sê dit sal presies die SEWENDE KEER in die geskiedenis wees dat daar presies 2550 dae tussen ‘n Yom Teruah en ‘n Yom Kippur inpas, dat dit nog nooit voor 1948 gebeur het nie, en ook nooit weer ná 2032 sal gebeur nie. Chat GPT stel hierdie flater reg en sê dit het al dikwels voor 1948 gebeur en sal ook nog dikwels na 2032 gebeur. Verder sê Danie ons het nog altyd die vers verkeerd verstaan wat sê dat niemand DIE DAG EN DIE UUR van Y’shua se koms ken nie. Hy sê Y’shua het ‘n IDIOOM gebruik en verwys na die alternatiewe naam van Yom Teruah, naamlik Yom Kisseh (of Yom Hakisseh), wat in die volksmond vertaal word as “Die dag en die uur wat niemand ken nie”. Dus het Y’shua NIE probeer om te sê niemand weet wanneer die dag van sy koms gaan plaasvind nie. Nee, wat Hy eintlik wou sê is dat Hy op ‘n Yom Teruah gaan kom, en dat ons dus die dag vooruit kan weet en bereken. Danie STAAN by sy openbaring en voorspelling, ten spyte daarvan dat die Skrif oor en oor sê, sy koms gaan onverwags wees. Dit gaan soos ‘n dief in die nag op die mense van hierdie wêreld neerkom. En niemand nie, nie eens Y’shua self nie, weet wanneer daardie dag is nie.

Maar al ken ons nie die dag nie, kan en moet ons REGOP STAAN, as ‘n simbool van ons gereedheid vir Y’shua se koms. En dit is waaraan Parashah Nitsavim ons herinner. Dit is baie interessant om na sommige van die verse in die Psalms te gaan kyk, waarin die woord “natsav” voorkom. Hier sien ‘n mens dat “natsav” baie méér is as die soort staan wat met leierskap en gereedheid vir die einde te make het. In Psalm 39:5 lees ons: “U het my dae ‘n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie; ja, as pure nietigheid staan (“natsav”) elke mens daar!” Elkeen van ons het ‘n staanplek in hierdie wêreld ontvang. Ons het ‘n plek binne ‘n familie en ‘n plek in die samelewing. Maar soms is dit goed om die GROTER PRENTJIE in gedagte te hou. Ons dae en ons lewe is niks meer as ‘n paar handbreedtes nie. Voor Yahweh is ons ‘n spikkeltjie. En tog het Hy sy hand uitgesteek en ons lewe aangeraak. Méér as dit: Hy ondersteun ons elke dag en hou ons regop en stel (“natsav”) ons voor sy aangesig tot in ewigheid, só sê  Psalm 41:12. “You cause me to stand before you, forever”, sê sommige vertalings. Party dae kom die staan nie vanself nie. Maar dan is dit asof Yahweh méér as net ‘n VASHOUPLEK vir ons gee. Hy wil so graag hê dat ons moet bly staan. Maar wanneer dit voel of ons eenvoudig nie meer kán nie, hou HY ons regop, totdat ons weer besef hoe getrou Hy is – en DIT motiveer ons om nie net te staan nie, maar te beweeg!

Psalm 74:17: “U het al die grense van die aarde vasgestel (“natsav”); somer en winter, U het hulle geformeer.” Natsav het nie net met regop staan en mooi lyk en belangrik klink, te make nie. Ek was al by baie byeenkomste waar sekere individue elke beskikbare kans aangegryp het om op te staan en iets te sê. Of iets te doen. Want as honderde sit en één staan op, dan is alle oë op daardie een. Hy of sy moet dan seker ‘n leier wees, of iemand besonders, om die moed te hê om voor só baie mense op te staan. Maar binne die skepping is daar ‘n STAANPLEK VIR ALLES EN ALMAL, nie net die ekstroverte wat maklik opstaan en die oog vang nie. Binne die skepping het die Skepper sekere grense vasgestel of gevestig (“natsav”) wat duidelik deur almal gesien kan word. Selfs die seisoene – somer en winter – het Hy opvallend genoeg gemaak, en dit opgerig, dat almal daarvan kan kennis neem. Dit is deel van die ORDE wat Hy in sy handewerk ingebou het. Hy het dit opgerig en bevestig en stabiel en konsekwent gemaak, sodat ons lewens nie deur onstabiliteit gekenmerk hoef te wees nie. Dit is MENSE wat onstabiliteit en verwarring hier op aarde teweeg bring, nie Yahweh, die Skepper van hemel en aarde nie. Daarom moet ons ook soms opstaan en die leuens en die misleiding, wat in stryd is met die orde van Sy Woord, blootstel vir wat dit is. Daarom staan daar ook in Psalm 119:89: “Vir ewig, o Yahweh, staan u woord vas (natsav) in die hemel.” Iets wat vasstaan is nie iets wat vandag sús en more só is nie. Dis nie iets wat met menslike tegnieke of indrukwekkende teorieë bevestig hoef te word nie. En dis nooit iets wat verwarring saai nie.

Y’shua is by uitnemendheid die instrument wat Yahweh gebruik om gelowiges te help om regop te staan, veral in tye van swaarkry en verdrukking. Kom ons hou nou eenmaal op om in wegraping en verdrukking en tribulasie modelle en voorspellings oor die eindtyd verstrengel te raak! Toe Y’shua op aarde geleef het, het Hy vir verlamdes, en siekes en beangste dissipels en selfs dooies, beveel om regop te staan en hulle lewens vol-uit te lewe. Selfs na sy hemelvaart het Y’shua aan mense soos Paulus en Ananias verskyn en hulle aangemoedig om OP TE STAAN en by die werk in die koninkryk betrokke te raak. En toe Stefanus sterwend was, nadat hy vir sy geloof in Y’shua gestenig is, het hy vir Y’shua aan die regterhand van die Almagtige sien STAAN – die enigste plek in die Skrif waar ons lees dat Y’shua aan die regterhand van Yahweh GESTAAN het – nie GESIT het nie –  want een van sy volgelinge was in nood en Y’shua het opgestaan en hom bemoedig en versterk in sy donkerste uur. En hulle wat aan Y’shua bly vashou en volkome STAAN in die volle wil van Elohiem (Kol 4:12), so sê die Skrif oor en oor, sal die uitnemende voorreg smaak om eendag, saam met ‘n ontelbare skare uit alle nasies en lande en tale voor die troon en voor die Lam te STAAN, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande, terwyl hulle uitroep: Die eer vir ons verlossing kom toe aan Elohiem wat op die troon sit en aan die Lam wat vir ons gesterf het! (Openbaring 7:9-10).

Views: 10

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *