DRANKOFFERS WORD NIE GEDRINK NIE!

alternate textMet ‘n groot feesgeleentheid soos die pas afgelope Fees van “Shavuot” kan maklik uit die oog verloor word dat die feeste aanvanklik met offers gepaard gegaan het en dat hierdie offers besondere betekenis gehad het. Hierdie offers word uit die aard van die saak nie vandag meer gebring nie. Dit sou trouens teen die bedoeling van die Skrif indruis as daar aangedring word daarop dat die fisiese bring van offers in ons dag weer in ere herstel moet word. Baie Skrifgedeeltes dui spesifiek aan dat hierdie offers slegs in die land wat Yahweh aan sy volk sou gee, gebring moes word (bv. Bemiedbar / Numeri 15:2) en ook net in die plek wat spesifiek daarvoor geallokeer is, naamlik die tabernakel of die tempel (bv. Devariem / Deuteronomium 12:11). Tog durf ons nie die betekenis van die offers buite rekening laat nie.

Een van die offer-tipes wat dalk minder bekend as meeste van die ander is, is die drankoffer. Die Hebreeuse woord vir ‘n drankoffer is “neseg”, afgelei van die woord “nasag” wat eenvoudig beteken: “om uit te giet” of “to pour out”. Bemiedbar (Numeri) 15:3-5 skryf spesifiek voor dat as daar enige tipe offer aan Yahweh gebring word (soos ‘n brandoffer of ‘n slagoffer of ‘n vrywillige offer), dan moet hierdie offer vergesel word met ‘n voedseloffer (gewoonlik in die vorm van fynmeel gemeng met olie), asook ‘n drankoffer (gewoonlik in die vorm van wyn). Die voedseloffer en die drankoffer was dus nie deel van die primêre offers nie – dit was bykomende of sekondêre offers wat die primêre offers aangevul het. Dit was egter nie minder belangrik as die primêre offers nie en by elke enkele geleentheid waar offers gebring word, moes daar voedseloffers en drankoffers ook gebring word. Die interessante ding is dat die voedseloffers normaalweg geëet is – of deur die priesters en die Leviete, of deur die volk, of deur albei – maar dat die drankoffers nooit gedrink is nie! Met die drankoffer moes gedoen word soos wat die naam daarvan aandui: dit moes op die altaar uitgegooi word – die laaste druppel daarvan!

Met ‘n fees soos Shavuot moes daar sewe jaaroud lammers, plus een jong bul, plus twee ramme as brandoffer aan Yahweh gebring word. Daarby ook een bokram as sondoffer en twee jaaroud lammers as dankoffer. In Wayyiekra (Lev) 23:18 word spesifiek voorgeskryf dat dit “saam met die voedseloffer en die drankoffers wat daarby behoort as vuuroffer van lieflike geur aan Yahweh” gebring moes word. Wat is die drankoffer wat daarby behoort? Die antwoord vind ons in Bemiedbar (Num) 15:1-11: Vir elke lam moes ‘n kwart hien wyn as drankoffer uitgegiet word, vir elke ram ‘n derde hien wyn en vir elke jong bul ‘n halwe hien wyn. ‘n Hien is ongeveer 3.6 liter. Dit wil sê by Shavuot alleen moes daar 13.5 liter of 18 bottels wyn op die altaar uitgegiet word, sonder dat iemand sy lippe daaraan gesit het!

Kom ons kyk na die groter prentjie. Met elke nuwemaan fees moes daar 7 lammers, een ram en een jong bul as offer aan Yahweh gebring word. Dit moes met met die voorgeskrewe voedseloffers en drankoffers vergesel word. Dit beteken 11 liter of 15 bottels wyn wat elke maand op die altaar uitgegiet moes word. Elke dag moes daar 2 lammers as offer aan Yahweh gebring word – een in die oggend en een in die aand, en saam daarmee 1.8 liter of 2.4 bottels wyn en op elke Shabbat moes daar twee addisionele lammers as offer aan Yahweh gebring word, en saam daarmee, weer 1.8 liter of 2.4 bottels wyn – ou wyn, goeie wyn – wat so gereeld soos klokslag op die altaar uitgegiet moes word! Dit is gemiddeld meer as 100 bottels wyn per maand en meer as 1200 bottels wyn per jaar!

Baie mense se eerste reaksie sou wees: Wat ‘n betekenislose, belaglike vermorsing! Maar wag ‘n bietjie. Dis nie so betekenisloos as wat dit lyk nie. Dit het miskien nie waarde in die oë van die wêreld nie, maar in Yahweh se oë het dit besondere waarde. Net soos wat die dinge wat ons soms in sy Naam doen in die oë van die wêreld van weinig nut en betekenis is, en selfs verag en bespot en verkleineer word, maar in Yahweh se oë het dit groot waarde. In die groter plan wat Hy met hierdie wêreld het, aangaande daardie dinge waarvoor ons oë voorheen toe was, maar gaandeweg begin oopgaan het, maak dit sin en het dit waarde.

Shaúl skryf aan die Filippense in Fil 2:17 “Maar al word ek as ‘n drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, ja, verbly ek my saam met julle almal.” Dit is duidelik dat Shaúl hier na die bekende praktyk van die drankoffer verwys. Net soos ‘n drankoffer wat uitgegiet word vir baie mense na ‘n vermorsing mag lyk, was daar in sy tyd mense wat gemeen het dat dit tevergeefs is om die geloof in die Messias na te jaag en dit, meeste van die tyd te midde van vervolging en bespotting, met andere rondom jou te deel. Shaúl het dit egter nie só gesien nie. Hy kon hom te midde van die swaarkry en te midde van beproewing nog steeds verbly en sy kop oplig. Want hy het geweet (en wou hê dat andere soos hy ook moes weet) dat Elohiem “in hulle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (vers 13). As gelowiges is hulle geroep om nie hulle eie belange te soek nie, maar die belange van Y’shua die Messias (vers 21).

By geleentheid het ‘n vrou gekom en ‘n albaste fles met baie kosbare salf oor Y’shua se kop uitgegiet, terwyl Hy saam met sy dissipels aan tafel was. Die dissipels was baie verontwaardig en het gevra: “Waarvoor is hierdie verkwisting?” (Mat 26:8). Y’shua het dit egter nie só gesien nie en onder meer vir die dissipels gesê: “Amein Ek sê vir julle, oral waar hierdie goeie nuus verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gepraat word van wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.” Dis die soort toewyding wat groot waarde het in die oë van Y’shua en ook in die oë van Yahweh. Dié soort wat nie op eie gerief en eie gewin gefokus is nie, maar op die andersoortige waardes van die koninkryk van Yahweh. Dit was nog altyd ‘n kenteken van ware geloof en egte toewyding: As iemand kan afsien van dit wat vir hom kosbaar is ter wille van dit wat nie in wêreldse terme gemeet en geweeg en gewaardeer kan word nie. Daarom het Y’shua by ‘n ander geleentheid ook gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy folterpaal elke dag opneem en My volg” (Luk 9:23). Veral die woorde “… en My volg …” is baie betekenisvol, want die Messias self het gedemonstreer hoe só ‘n leefstyl lyk. In die profeet YeshaYahu se bekende profesie word presies dít oor die komende Messias voorspel: “Hy het sy siel uitgestort in die dood en is saam met die oortreders getel.” Doen ons dit ook só (as sy volgelinge), of het persoonlike gerief en materiële dinge vir ons soveel waarde dat ons beswaarlik kan insien dat daar dinge is wat méér beteken as dit?

Ek dink dat dit in die lig van die Skrif veilig is om te sê dat die Nuwe Yerushalayiem sal bestaan uit ‘n samevoeging van mense wat geleer het wat dit beteken om hulleself (soos hulle Meester, Y’shua) as ‘n drankoffer uit te giet tot eer van Yahweh. Ons lewe in die tyd waarin nuwe koppelteken woorde wat met “self” begin by die dag geskep word. Woorde soos “self-absorption”, “self-actualization”, “self-admiration”, “self-advancement”, “self-advertisement”, “self-applause”, “self-appointed”, “self-asserting”, “self-assured”, “self-belief”, “self-centered”, “self-complacent”, “self-confident”, “self-considering”, “self-consuming”, “self-content”, “self-controlled”, “self-created” en “self-culture” (om net eers, baie selektief, tot by die letter “c” in die woordeboek lysie op te soek, en miskien net nog twee by te voeg: “self-pampering” en “self-indulgence”). Ons word geroep om juis in hierdie tyd onsself van ons beheptheid met onsself te bevry en na die Woord terug te keer. Om op te hou om te gryp en te versamel en te belê en op te hoop en skanse rondom onsself en ons eie dinge en ons eie mense en ons eie tyd te bou. Om te wys dat ons dit bedoel as ons sê ons tyd en ons besittings en ons beursies en ons families en ons toekoms behoort aan Yahweh.

Eph 5:1-2,10-11 Wees dan navolgers van Elohiem soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos die Messias ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan Elohiem tot ‘n lieflike geur … En beproef wat die Meester welbehaaglik is; en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.

Views: 379

One thought on “DRANKOFFERS WORD NIE GEDRINK NIE!”
  1. Het vanoggend 2:45 a.m 01.09.25 wakker geword met die dringende begeerte om meer uit te vind oor die drankoffer, na aanleiding van Paulus se woorde “my lewe word as ń drankoffer uitgegiet ”
    Baie dankie vir die eerste keer verstaan ek dit!

Leave a Reply to Daniel Slinger Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *