
Dis bekend dat die GETAL 10 ‘n groot rol in die Skrif speel. Behalwe die 10 generasies tussen Adam en Noag en die 10 plae in Egipte, en natuurlik ook die 10 melaatses in Y’shua se tyd en die 10 maagde, is daar Tien Gebooie wat in Exodus 20 uitgesonder word, en weer in Deuteronomium 5 herhaal word. Dan vind ons weer dieselfde 10 gebooie, net anders gerangskik, in Parashah Kedoshiem, oftewel Levitikus 19 en 20, wat begin met die woorde “Afgesonder moet julle wees”. Daar is ook ‘n bekende parallel tussen hierdie 10 woorde en die 10 keer in Genesis 1, tydens die skepping, dat ‘n mens lees, “En Elohiem het gesê” (wayomer Elohiem). ‘n Hele aantal jare gelede het ons na die Parashah van Levitikus 21 tot 24 gekyk wat “Emor” genoem word, wat “Spreek” beteken en van dieselfde woord as “wayomer” in Genesis 1 afgelei is. In daardie Parashah, het ons gesien, is daar ook 10 gebooie wat uitgesonder word, maar nie dieselfde 10 as in Exodus 20 nie. Daar vind ‘n mens byvoorbeeld gebooie soos “Jy mag die heidense gebruike van ander nasies nie navolg nie” en “Jy mag jou nie oorgee aan seksuele perversiteit nie”, ensovoorts.
In hierdie week se Parashah, wat “Re’eh” (Sien) genoem word, gaan dit weer oor die saak van reinheid en afgesonderdheid voor Yahweh, en word die twee woorde “gruwel” en “onrein” altesaam TIEN KEER gebruik. Die volk van Yahweh mag nie soos die nasies rondom hulle, dinge doen wat vir Hom ‘n gruwel is nie. Soos om vreemde magtiges te dien en die gebruike van hierdie nasies en hulle afgodediens na te volg nie. Die volk van Yahweh mag nie die vleis van diere eet wat deur Hom as “onrein” geklassifiseer is nie, ensovoorts. En waarom moet die volk hulle distansieer van dinge wat gruwelik en afstootlik en onrein is? Omdat hulle nie sommer net enige ding of enige mens of enige magtige aanbid nie. Hulle aanbid Yahweh, wat Homself op ‘n magtige en duidelike manier aan hulle openbaar het. Hy is Yahweh HULLE Elohiem. Die woorde “Yahweh JOU Elohiem” of “Yahweh JULLE Elohiem” kom 69 keer in hierdie Parashah voor – gemiddeld een keer elke twee verse! Dis asof die volk destyds hierdie waarheid nie kon SIEN nie – nie kon “Re’eh” nie. Hulle het geweet van Yahweh. Hulle het elke dag van Hom gehoor. Hulle het sy magtige werke in Egipte en in die woestyn aanskou. Maar hulle kon nie SIEN dat as Yahweh HULLE Elohiem is, dit noodwendig beteken het dat hulle lewens anders moes lyk – ánders as die lewens van mense wat NIE vir Yahweh as hulle Elohiem het nie.
Die ironie is dat op ‘n sekere vlak, selfs AI dit nie kan sien (Re’eh) nie! Terwyl ek hierdie boodskap voorberei het, het dit my opgeval hoe dikwels die woorde (1) “YAHWEH JOU ELOHIEM” of (2) “YAHWEH JULLE ELOHIEM” in hierdie gedeelte voorkom. Vir my was dit kosbaar, want dit beteken: As ek graag wil sê, Yahweh is MY Elohiem, dan is daar geen twyfel nie: Ek moet dan afstand doen van alles wat onrein en gruwelik in sy oë is – net soos sy volk destyds. Maar ek was nuuskierig om te weet hoeveel keer hierdie twee uitdrukkings in die Parashah voorkom en ek begin dit te tel met die hulp van my E-sword Bybel program. Ek tel dat die eerste uitdrukking 55 keer voorkom en die tweede, 14 keer. En, net om seker te maak oor die eerste uitdrukking, vra ek agterna die vraag vir Google (wat deesdae mos sê: AI, kyk hoe slim is ek!): “How many times does the phrase “יהוה אלהיך” appear between Deuteronomy 11:26 and Deuteronomy 16:17.” En binne sekondes, kom AI in beweging en gee vir my sy antwoord: “Based on a careful review of the Hebrew text of Deuteronomy, the phrase “יהוה אלהיך” appears 14 times between Deuteronomy 11:26 and Deuteronomy 16:17.” Maar wag ‘n bietjie, dink ek. Dit kan nie reg wees nie. My telling van 55 kan miskien een of twee uit wees, maar tog nie 41 nie! En ek besluit om terug te antwoord: “It seems to me the number of times is more than 50. Can you do an exact count?” Maar AI wil nie toegee nie. Binne sekondes kom die antwoord: “My previous count was correct. The discrepancy you perceived likely stems from the high frequency of related phrases in the text, which collectively give the impression of a much larger number.” My enigste gevolgtrekking was dat net soos Israel destyds, en net soos talle gelowiges in ons eie tyd, wat hulle aan Yahweh se kant skaar, maar nie kan SIEN of HOOR wat Hy vir hulle sê nie, NET SO kan AI ook nie sien wat daar in die Woord geskryf staan nie!
Jesaja 54 en 55 wys vir ons dat Yahweh ons kan help om reg te sien. Om te sien wat duidelik in die Skrif opgeteken is en om te sien wat mense sonder geloof dikwels sukkel om te sien. Om nie vas te kyk teen die berg wat hier voor my wankel nie, maar om agter die berg en bo-oor die berg die Een te sien wie se goedertierenheid nooit sal wankel nie. Om nie vas te kyk teen die wapens en die strategieë van die vyand nie, maar vas te hou aan die woord van die Almagtige wat sê dat geen wapen wat op ons gerig word, dit sal regkry om ons kwaad aan te doen nie. Om nie met verlange te kyk na die skynbare voorspoed en rykdom van ander nie, maar na Hom te kyk by Wie ons sonder geld lewende water en goeie wyn en voedsame melk kan koop. Vir ‘n KLEIN oomblik (en vir ‘n GROOT rede), sê Hy, het Ek jou verlaat, maar met groot liefde en ontferming sal Ek jou weer nader trek na My toe (54:7).
1 Timoteus 6:13-16 bring ‘n perspektief na vore wat uitstekend by Devariem en Jesaja aansluit. Veral die feit dat daardie paar hoofstukke in Devariem, ten spyte van die onvermoë van AI om dit raak te sien, nie minder nie as 69 keer sê dat ons niemand minder nie, as YAHWEH as ons Elohiem het. 1 Timoteus 6:13-16 staan in ‘n hoofstuk wat begin met die vermaning dat ons waardig moet wandel sodat die Naam van Yahweh nie belaster word nie. As ons sê dat ons aan Hom behoort en dat Hy ons Elohiem is, dan mag ons geen onreinheid of besoedeling in ons liggame of in ons lewe inbring nie. Die eet van onrein diere en spesies is ‘n “no-no”. Maar net so is onrein gedagtes en onsuiwer en kwetsende woorde. En net so ook gedrag wat Yahweh nie goedkeur nie en wat die mense rondom ons nie goed doen nie. Dinge wat daartoe bydra dat die wêreld NOG VUILER en boser raak as wat hy alreeds is.
Partykeer is dit asof ons tydelike blindheid opdoen en nie kan SIEN hoe groot die Een is met wie ons ons assosieer nie. 1 Timoteus 6:13-16 sê minstens 5 dinge van Hom: Hy is die Een wat aan alle dinge LEWE gee; Hy is die enigste absolute HEERSER wat daar is; Hy is die enigste Een wat ONSTERFLIKHEID besit; Hy is die enigste Een wat ONTOEGANKLIK is (nie in die sin dat ons nie met Hom in ‘n verhouding kan staan nie, maar in die sin dat ons as mense nooit op dieselfde vlak van grootheid as Hy sal wees nie) en Hy is die enigste Een wat geen mens gesien het of kan SIEN nie. En in die lig hiervan, só staan daar in 1 Timoteus 6:13-16, behoort ons as gelowiges die gebod (die woorde van Yahweh) onbevlek en onberispelik te bewaar tot by die verskyning van ons Meester, Y’shua die Messias.
Twee woorde wat met “on” begin – “onbevlek” en “onberispelik”. In Grieks is dit “aspilon” en “anepilempton”. Hierdie twee woorde kan duidelik gesien word in twee woorde wat ons baie goed ken – die woorde “spill” en “epilepsy”. Die “a” van “aspilon” en die “an” van “anepilempton” beteken dat daar GEEN verspilling en GEEN epilepsie in die gelowiges se omgang met die Woord behoort te wees nie. Verspilling in die sin van “to allow to fall and become wasted, polluted, or lost.” En epilepsie in die sin van “to have a seizure, or to be seized or taken hold of, or captured”. Wanneer ‘n mens nie sorgvuldig en eerlik met die Woord omgaan nie, kan jy dit verspil, beskadig en besoedel, sóveel so dat jy dit uiteindelik verloor. En wanneer jy die outoriteit van die Woord afwater, raak jy soos ‘n mens of ‘n organisasie of ‘n politieke leier wat “seized” of “captured” is en in die houvas kom van iets of iemand wat niks met die Woord te doen het nie. Epilepsie is ‘n siekte wat jy nie vir jou grootste vyand toewens nie. Maar wanneer jou denke en jou hart vasgegryp word en gevange geneem word deur ‘n tradisie of ‘n siening of ‘n ideaal of ‘n leuen wat nie op die Woord gebou is nie, kan die gevolge selfs nog erger as die siekte van epilepsie wees. Kom ons neem opnuut vandag die besluit om die woorde van Yahweh onbevlek en onberispelik te bewaar, tot op die dag wanneer ons ons Meester, Y’shua die Messias sal sien!
Views: 2