DIE TAAL VAN ONS HARTE

Die drie gedeeltes wat saam gegroepeer word in hierdie week se leesstuk, lê baie sterk klem op die HART. Die woord “hart” kom 11 keer voor in Deuteronomium 7:12 tot 11:25 en is deel van die heel eerste punt wat Mosheh deur hierdie gedeelte by die volk probeer tuisbring: OMDAT (“eikev”) die volk gekies het om Yahweh te volg en te gehoorsaam, SAL Hy hulle seën.

Hierdie seën bestaan uit baie komponente. Yahweh sal getrou bly aan sy verbond. Hy sal aanhou om goedertierenheid aan sy volk te bewys. Hy sal hulle lief hê en laat uitbrei. Hy sal die vrug van hulle liggame seën. Hy sal die vrug van hulle land seën. Hy sal hulle seën in hulle omgang met ander nasies. Hy sal hulle gesondheid seën. En Hy sal hulle seën as hulle in oorlog gewikkel raak. Daarom mag geen een van hulle in sy HART dink: Hierdie nasies is meer as ons – ons kan hulle nie verdryf nie (7:17). Het Yahweh dan nie belowe dat Hy hulle sal seën in hulle omgang met ander nasies, en spesifiek in hulle stryd teen ander nasies nie? Het hulle dan nie alreeds beleef hoe Yahweh hulle op soveel ander terreine geseën het nie? Nie net op die terreine wat Hy deur Mosheh vir hulle opgenoem het nie, maar selfs op vlakke wat nooit eens in hulle gedagtes opgekom het nie!

Jesaja 49:21 is deel van die tweede lesing van hierdie week. Hier lees ons die woorde: “Dan sal jy in jou HART sê: Wie het vir my hierdie kinders verwek, aangesien ek kinderloos en onvrugbaar was, verban en verstote? Die agtergrond van hierdie vraag wat die volk in hulle eie harte gehad het, is die volgende: Die volk het (in hulle harte) gesê: Yahweh het my verlaat, en Yahweh het my vergeet! Waarop Yahweh met hierdie aangrypende woord geantwoord het: Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet? Al sou hierdie onmoontlikheid ook kon gebeur, Ek sal jou NOOIT vergeet nie! En wat meer is: Ek sal jou kinderloosheid en onvrugbaarheid omdraai. En jy sal nie meer gevoelens van verlatenheid en verstotenheid beleef nie. En só kom ons dan by vers 21, waar die mense van Israel nou totaal anders, in ‘n taal van verbasing en verwondering, met hulle eie harte praat: Wie het vir my hierdie kinders verwek, aangesien ek kinderloos en onvrugbaar was, verban en verstote? Yahweh hoor nie net die versugtinge van ons harte nie. Hy raak ons harte aan en doen ‘n werk wat die taal van ons harte heeltemal verander.

In die derde gedeelte, Jakobus 5:7-11, kom die hart van die mens weer ter sprake. Die gelowiges moet geduldig wag op die wederkoms van die Meester. Soos ‘n landbouer wat met groot geduld wag op die oes, omdat hy weet dat daar ‘n kostelike vrug op pad is. En in die tussentyd moet die gelowiges hulle HARTE VERSTERK! Die woord wat hier gebruik word, dui op standvastigheid, sterkte en die aanleer van ‘n gesonde patroon van lewe. Hierdie hart wat ons het, is dieselfde hart wat Yahweh reg aan die begin aangeraak het, en is ook die medium waardeur ons met Hom in ‘n verhouding staan. Daarom moet dit bewaar en versterk word. En die voorvereiste, volgens die Torah (en by name Deuteronomium 10:16, wat déél is van hierdie week se leesgedeelte), is dat ons harte BESNY sal wees. Die kanker en die kwaad en die harde korse moet uitgesny wees. Voordat dit nie gebeur nie, kan die hart nie versterk word nie.

Die Skrif praat en dink nie oor die hart soos daar in die algemeen in die wêreld oor die hart gepraat en gedink word nie. Dis nie net ‘n orgaan wat bloed pomp nie. Dis die sentrum van die bestaan van ‘n mens. Dis die oorsprong van sy gedagtes, sy emosies, sy morele keuses en sy begeertes. Daarbuite word gewoonlik gesê: Jou kop of jou verstand is die plek waar jou gedagtes ontstaan en jou hart is die plek waar jou emosies ontstaan. Maar dis nie heeltemal hoe dit verstaan word binne die Hebreeuse raamwerk nie. Sonder om daarvan ‘n fisiologiese of ‘n wetenskaplike saak te maak, sê die Skrif onomwonde:  Ons GEDAGTES word in ons harte gehuisves (Deut 4:39 Jy moet dit vandag weet en in jou hart bewaar dat Yahweh Elohiem is en dat daar geen ander is nie). Ons EMOSIES kom van ons harte af (Deut 6:5 Jy moet Yahweh jou Elohiem liefhê met jou hele hart). Ons MORELE BESLUITE neem vorm aan in ons harte (Genesis 6:5 Toe het Yahweh gesien dat al die versinsels wat die mens in sy hart bedink, voortdurend net sleg was). Ons BEGEERTES ontstaan vanuit die hart (Psalm 37:4 Verlustig jou in Yahweh, dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart). En dan word die hart veral in verband gebring met GELOOF. Ons loof Yahweh met ons harte (Psalm 9:1). Ons harte juig oor sy verlossing (Psalm 13:6). Yahweh is die Een wat ons harte toets, om te sien of dit suiwer is (Psalm 17:3). Die bevele van Yahweh verbly die hart (Psalm 19:8). En so kan ‘n mens aangaan. Daardie dringende, wesenlike en onsigbare deel van ons bestaan, wat ons hier van binne af voortdurend pols met die vraag “Wat maak jy met die Een wat jou gemaak het?”, word deur die Skrif ons HART genoem.

Dis opvallend hoe dikwels daar in die Skrif verwys word na iemand wat met, of in, sy hart gepraat het, of iemand wat iets vir, of in, sy hart gesê het. In sommige gevalle dui dit eenvoudig daarop dat daardie persoon of groep mense iets nie hardop uitgespreek het nie, maar bloot daaraan GEDINK het. Daar is nie ‘n spesifieke woord soos “dink” in Hebreeus wat eenvoudig na “gedagtes” verwys en nie na woorde nie. Dikwels, as daar in ons moderne vertalings gesê word dat iemand iets “gedink” het, dan kom dit van ‘n Hebreeuse woord wat eintlik “sê” of “praat” of selfs “sien” beteken. Maar in die konteks is dit duidelik dat die betrokke persoon nie hardop gepraat het nie. Of die betrokke persoon het in daardie situasie dinge op ‘n sekere manier “gesien” – met ander woorde, op ‘n sekere manier daaroor gedink, sonder om te praat. En dikwels hoor ons dat Yahweh aan iemand “gedink” het. Maar dan is die woord in werklikheid “onthou”, nie dink nie – Hy het hulle nie vergeet nie! Ons sou ook kon sê: Hy het hulle op sy hart gedra en hulle name in sy hart bewaar!

En net soos wat die Vader se hart ter sprake kom, wanneer dit gaan oor sy besorgdheid en sy liefde vir sy kinders, net so is die gepraat van mense IN of MET hulle harte, dikwels ‘n verwysing na hulle liefde of getrouheid of lojaliteit teenoor Yahweh, of die gebrek daaraan. Avraham, wat in die Skrif as die groot voorloper van geloof aangedui word, se geloof het maar bra wankelend begin, toe Yahweh vir hom belowe het dat Sarah ‘n kind sou hê. Ons lees dat hy in sy HART gesê het: Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ‘n kind gebore word? (Genesis 17:17). Haman, in Ester se tyd, het in sy hart gesê: “Aan wie sou die koning eer wil bewys meer as aan my?” (Ester 6:6). Die afvallige is die een wat gereeld vir sy eie hart sê: “Ek sal nie wankel nie en daar sal geen teëspoed oor my kom nie” (Psalm 10:6). Die dwaas sê in sy hart: “Daar is geen Elohiem nie” (Psalm 14:1). Selfs onder die volk van Yahweh is daar talle wat in hulle harte listige planne beraam (Jeremia 9:8). En in die profesieë oor die eindtyd, wat ook ‘n beskrywing van die gees van die Antimessias (of Antichris) bevat, gaan dit oor ‘n figuur wat groot dinge in sy hart onderneem en wat misleiding laat floreer en wat talle mense vernietig (Daniel 8:25). Ons moet ons harte besny en bewaar en versterk, sodat klein-geloof, soos by Avraham, en arrogansie, soos by Haman, en ongeloof, soos by hulle wat sê dat daar geen Elohiem in hierdie wêreld is nie, en misleiding en vernietiging, soos gesien kan word in die gees van die Antimessias, nie die oorhand oor ons kry nie.

Maar ons hoef nie by die negatiewe kant van die hart vas te steek nie.  Ons het die keuse om met ons harte die waarheid te praat en in opregtheid te wandel (Psalm 15:2). Ons kan dit die fokuspunt van ons lewe maak om slegs dinge in ons hart te bedink wat welbehaaglik en aangenaam voor Yahweh se aangesig is (Psalm 19:14). Deur te weier om ons besig te hou met nietigheid en valsheid, kan ons al hoe nader kom aan die punt van reinheid van hande en suiwerheid van hart (Psalm 24:4). Ons kan in tye van angs met ons harte praat en sê: Al word ‘n kamp teen my opgeslaan en al staan ‘n leërmag teen my op, my hart sal nie vrees nie (Psalm 27:3). Ons kan dit die daaglikse belydenis van ons lippe maak: Yahweh is my sterkte en my skild; op Hom sal my hart vertrou (Psalm 28:7). Ons kan mekaar bemoedig en vir mekaar sê wanneer ons saamkom: Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op Yahweh wag! (Psalm 31:24). Ons kan ons harte ligter maak in hierdie donker wêreld deur vir mekaar te sê: “Ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy afgesonderde Naam vertrou” (Psalm 33:21). En ons kan ons harte as ‘n platform gebruik om die goeie nuus van Yahweh en van sy Seun, Y’shua, met ander te deel. Ons kan dit doen in die woorde van Psalm 40:10: U geregtigheid bedek ek nie binne-in my hart nie; ek hou aan om te praat van u trou en u verlossing; u goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie. As ons ons harte só kan oefen en só kan temper, dan kom hierdie woord van Yahweh helder en duidelik na ons: Yahweh is naby die wat gebroke is van hart (Psalm 34:18), verlustig jou in Hom en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart (Psalm 37:4). As dit nie die taal van ons hart verander nie, sal niks dit verander nie!

 

Views: 7

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *