Om te vergeet is nie net iets wat met mense gebeur wat die sindroom van Alzheimer het nie. Almal van ons vergeet soms dinge. Partykeer vergeet ons goed omdat ons dit nie wíl onthou nie – omdat dit onaangenaam of embarrasserend of selfs skadelik vir ons mens-wees is. Partykeer vergeet ons iets omdat dit eenvoudig nie vir ons belangrik genoeg was nie. En partykeer vergeet ons doodeenvoudig omdat ons menslik is en te midde van ons besige programme nie alles kan onthou wat rondom ons gebeur of teenoor ons uitgespreek word nie. Sommige van ons het dit nodig om iets nie net te hoor nie, ons moet dit ook sien of minstens verstaan om dit te kan onthou. Confucius het glo gesê: “I hear and I forget. I see and I remember. I do and I understand.”
In sommige gevalle is dit baie goed om te vergeet. Vergeet is ‘n belangrike bondgenoot van vergewe. Mense sê graag: “Ek sal jou vergewe, maar ek sal nooit vergeet nie.” ‘n Mens kan nie help om aan te voel dat iemand wat só sê, eintlik maar net ‘n agterdeur oophou om dit wat hy sogenaamd vergewe het, later weer soos ou koeie uit die sloot uit te grawe nie. As Yahweh beskryf hoe sy vergifnis lyk, dan sê Hy dat Hy aan ons sondes nie meer sal dink nie. As Y’shua vir sy volgelinge leer hoe hulle mense moet liefhê wat hulle te ná gekom het, dan lê Hy klem daarop dat ons liefde en ons vergifnis verder moet strek as die sogenaamde vergifnis wat mens in hierdie wêreld aantref. Dit help nie baie as ons net liefhet en goed doen aan hulle wat aan ons goed doen nie. Dan lyk ons liefde nie veel anders as die liefde wat mens in die wêreld daarbuite aantref nie. Nee, as iemand ons te ná gekom het en ons het hom vergewe, dan moet ons nog steeds aan hom dink, sê die Messias, nie om hom later aan sy foute herinner nie, maar om hom te seën en vir hom te bid. Kom ons kyk na ‘n paar gedeeltes in die Skrif wat lig werp op die tema van vergeet.
MOENIE VERGEET WAT JOU OË GESIEN HET NIE
Deut 4:9 Bewaar jou net self en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kleinkinders bekend maak.
Ps 103:2 Loof Yahweh, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
MOENIE DIE EEN VERGEET WAT JOU MET BARENSNOOD VOORTGEBRING HET NIE
Deut 32:18 Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die El vergeet wat jou voortgebring het.
Jes 17:10 Want jy het vergeet die Elohiem van jou verlossing en nie gedink aan die rots wat jou toevlug was nie.
MOENIE DIE VERBOND VERGEET WAT YAHWEH MET YISRAEL GESLUIT HET NIE
2 Kon 17:38 En die verbond wat Ek met julle gesluit het, mag julle nie vergeet nie, en julle mag ander magtiges nie vrees nie.
Deut 4:31 Want Yahweh jou Elohiem is ‘n barmhartige El; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die vernietiging stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.
MOENIE DIE BOOSHEID EN VERKEERDHEID VAN DIE VERLEDE VERGEET NIE
Deut 9:7 Dink daaraan, vergeet nie hoe jy Yahweh jou Elohiem in die woestyn vertoorn het nie; van die dag af dat jy uit Mietsrayiem uitgetrek het, totdat julle by hierdie plek gekom het, was julle rebels teen Yahweh.
Jer 44:9 Het julle vergeet die booshede van julle vaders en die booshede van die konings van Yehudah en die booshede van hulle vroue en julle eie booshede en die booshede van julle vroue wat hulle bedryf het in die land Yehudah en op die strate van Yerushalayiem?
MOENIE DINK DAT YAHWEH JOU IN JOU NOOD VERGEET HET NIE
Ps 10:11 Hy (die ellendige) sê in sy hart: El vergeet dit; Hy verberg sy aangesig; vir ewig sien Hy dit nie.
Jes 44:21 Dink aan hierdie dinge, o Yaákov en Yiesraél! Want jy is my kneg; Ek het jou geformeer; jy is my kneg, Yiesraél! Jy sal deur My nie vergeet word nie.
MOENIE DIE WOORD VAN YAHWEH VERGEET NIE
Ps 119:16 Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.
Ps 119:109 My lewe is voortdurend in my hand; nogtans vergeet ek u Torah nie.
MOENIE YERUSHALAYIEM IN JOU VREEMDE LAND VERGEET NIE
Ps 137:4-5 Hoe sou ons die lied van Yahweh kan sing in ‘n vreemde land? As ek jou vergeet, o Yerushalayiem, laat my regterhand dan homself vergeet!
Jes 62:6 o Yerushalayiem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat voortdurend die hele dag en die hele nag nie sal stilbly nie. O Julle wat Yahweh herinner aan sy beloftes – moenie rus nie
MOENIE DIE NAAM VAN YAHWEH VERGEET NIE
Jer 23:27 is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het vanweë Baál?
Ps 44:20-21 As ons die Naam van onse Elohiem vergeet het en ons hande uitgebrei het na ‘n vreemde El – sou Elohiem dit nie naspeur nie? Want Hy ken die geheime van die hart.
YAHWEH KAN ONS DIE SKANDE VAN ONS JONKHEID LAAT VERGEET
Jes 54:4 Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou jonkheid vergeet en aan die oneer van jou weduweeskap nie meer dink nie.
Eseg 16:60,63 Ewenwel sal Ek dink aan my verbond met jou in die dae van jou jeug, en Ek sal met jou ‘n ewige verbond oprig … sodat jy kan nadink en beskaamd staan en jou mond nie meer oopmaak vanweë jou skande nie, as Ek vir jou versoening sal bewerk oor alles wat jy gedoen het.
YAHWEH KAN ONS DIE VORIGE BENOUDHEID EN SWAARKRY LAAT VERGEET
Jes 65:16 Sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die Elohiem van waarheid; en hy wat sweer in die land, sal sweer by die Elohiem van waarheid, omdat die vorige benoudhede vergeet is en verborge vir my oë.
Jes 65:17 Want kyk, Ek skep ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.
Jer 20:9 En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer praat nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my beendere. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.
Views: 55