Prediker 3 is ʼn hoofstuk wat mense soms teenoor mekaar aanhaal, sonder om te besef dat dit eintlik uit die Skrif uit kom. ʼn Mens hoor dikwels dat iemand sê: “Alles het sy tyd” of “Daar is ʼn tyd vir alles”, min wetende dat hulle in werklikheid die bekende Prediker van die Skrif aangehaal het. Wie was hierdie Prediker? In vers 1 word gesê die Prediker was ʼn seun van Dawid en ook ʼn koning in Jerusalem. Daar is boonop ʼn baie sterk Rabbynse tradisie dat dit Salomo is wat Prediker geskryf het – later in sy lewe toe hy bejaard was. Volgens baie kommentators is daar egter rede om te vermoed dat Salomo dalk nie die werklike skrywer was nie. Sommiges het al daarop gewys dat daar woorde en begrippe in die boek Prediker gebruik word, wat nog nie in Salomo se tyd bestaan het nie en dat die boek ʼn hele paar honderd jaar na Salomo se leeftyd geskryf is. Uiteindelik moet ʼn mens toegee dat dit regtig nie saak maak wie die boek geskryf het nie – die feite is dat die boek oor meer as 2000 jaar behoue gebly het en dat die Een wat deur sy Gees die skrywers van elke boek in die Skrif gemotiveer en geïnspireer het om te skryf, ook hierdie boek oor die eeue heen gebruik het om mense se lewens te verander. Een kommentator het êrens opgemerk dat as die oorspronklike Prediker moes weet hoe daar nou al vir so lank al geskarrel word om uit te vind wie die Prediker nou eintlik was, sou hy waarskynlik nog ʼn reël aan die einde van sy boek bygevoeg het: “Al hierdie geskarrel om uit te vind wie nou eintlik hierdie boek geskryf het, is net een, groot gejaag na wind!”
Om terug te keer na Prediker 3 – ons hoor hier dat daar ʼn tyd vir alles is. So is daar byvoorbeeld ʼn tyd om gebore te word en ʼn tyd om te sterf; ʼn tyd om dood te maak en ʼn tyd om gesonde te maak; ʼn tyd om te bewaar en ʼn tyd om weg te gooi; ʼn tyd om te swyg en ʼn tyd om te praat; ʼn tyd om af te breek en ʼn tyd om op te bou. En dan die een wat vir meeste mense seker al die grootste bemoediging in hulle lewe was: ʼn tyd om te weeklaag (of te rou) en ʼn tyd om van vreugde rond te spring. Hoe waar is hierdie stelling nie in ons eie lewens nie! Daar is tye dat ʼn mens jouself in die diepste put van donkerte bevind. En as jy binne-in daardie tyd is, voel dit soms vir jou of dit net nooit gaan eindig nie. Die son breek nie deur nie; die las wat op jou druk word nie ligter nie; die beklemming in jou hart gaan nie weg nie. En dan gebeur dit – onverwags, onverklaarbaar! Die lig breek deur; die berg voor jou lyk nie meer soos ʼn berg nie en jou totale gemoed verander. Daar kom selfs ʼn ongekende vrede in jou binneste en in absolute teenstelling met die tyd waaruit jy nou net gekom het, voel dit vir jou of jy van vreugde kan rondspring en ronddans! Die ou mense het nie dieselfde daarmee bedoel nie, maar ons kan amper soos hulle sê: Jy is in ʼn ander tyd! En die Een wat dit teweeg gebring het, is Yahweh! Hy werk met ons binne die raamwerk van tye en seisoene en die bedoeling van Prediker 3 is nie net om vir jou te laat verstaan dat jy nou in ʼn sekere tyd is nie, maar ook om vir jou te verseker dat jy nie meer lank in daardie tyd gaan bly nie. Dit gaan verander, en as die tyd wat jy nou beleef vir jou sleg is, behoort jy aan hierdie een sekerheid vas te hou: Hy SAL jou deur hierdie tyd neem en ʼn nuwe tyd vir jou laat aanbreek!
Wat het dit alles met Yom Teruah en die feeste van die sewende maand te make? Om mee te begin: Die feeste is ook seisoene en tye. Die woord wat meeste van die kere in die Skrif as sambreelterm vir die feeste gebruik word, is “moádiem” wat letterlik “vasgestelde tye” (Engels: “appointed times”) beteken. Elke fees het sy eie, unieke karakter en verteenwoordig ʼn ander tyd van die jaar, maar ook ʼn ander tyd of ʼn ander seisoen van Yahweh se bemoeienis met hulle wat aan Hom behoort. Natuurlik is daar sekere temas wat deurlopend is en wat basies by al die feeste voorkom – soos byvoorbeeld dat elke fees ʼn tyd van afsondering en ʼn tyd van byeenkoms en ʼn tyd van bestudering van die Woord is. Maar Pesag het ʼn ander karakter as Shavuot. En by Yom Teruah (Trompette) vind jy elemente wat jy nie by Yom Kippur (Versoendag) sal verwag nie.
In NegemYah (Nehemia) 8:1 word aan ons meegedeel dat die hele volk op ʼn sekere dag soos een man op die plein voor die Waterpoort byeengekom het. Vers 2 sê vir ons watter dag dit was: “En Ezrah, die priester, het die Torah voor die vergadering gebring, manne sowel as vroue en almal wat met verstand kon luister, op die eerste dag van die sewende maand.” Die Dag van Yom Teruah of die Fees van Trompette. In die daaropvolgende vier verse word beskryf wat verder gebeur het en die belangrikste hiervan is: “En Ezrah het uit die Torah voorgelees (terwyl hy op ʼn houtverhoog gestaan het) voor die plein wat voor die Waterpoort was, vandat dit lig geword het tot die middag, in teenwoordigheid van die manne en die vroue en die wat kon verstaan; en die ore van die hele volk was op die boekrol van die Torah gerig … en die hele volk het opgestaan … En Ezrah het Yahweh, die grote Elohiem, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amein, amein! met opheffing van hulle hande; en hulle het hul gebuig en Yahweh aanbid met die aangesig na die aarde toe.” En dan staan daar in vers 9 iets wat byna teenstrydig is met die voorafgaande: “Die hele volk het geween toe hulle die woorde van die Torah hoor.” Eers het hulle Yahweh, die grote Elohiem geloof met die opheffing van hulle hande. Toe het hulle gebuig en Hom aanbid met hulle aangesig na die aarde toe. En soos wat hulle meer van die woorde van die Torah gehoor het, het hulle mettertyd begin ween. Dis net asof hulle nie presies seker was watter soort tyd dit vir hulle was nie. Was dit ʼn tyd om van blydskap (oor die grootsheid van die oomblik en die uitbundigheid van die fees) rond te spring en te dans of was dit ʼn tyd om te ween (vanuit die besef dat hulle vir so lank gesondig het en die Torah oortree het)?
In die tyd waarin ons op die oomblik is, behoort ons goed te verstaan hoe moeilik dit soms is om presies te weet watter soort stemming die beste pas by die Fees wat nou net verby is en die Fees waarheen ons nou op pad is. Dink jy aan Yom Teruah en aan die blaas van ramshorings en trompette, voel jy om rond te spring van vreugde. Dink jy aan ʼn maand waarin daar nie minder nie as tien dae van feesvieringe is wat voorlê (die meeste van al die maande van die jaar) ken jou opgewondenheid byna geen perke nie. En wat die oes-siklus betref, is dit boonop ʼn maand wat tradisioneel die GROOT maand van die insameling van die oes was. Die maand wat heel moontlik die geboortemaand van die Messias was en profeties heenwys na die groot oes wat in sy Naam in die laaste dae ingesamel sal word. Vreugde en blydskap is in hierdie maand onontbeerlik! Maar dan is daar Yom Kippur. Die Dag van Versoening. Die Dag van Verootmoediging. Die Dag van Boetedoening oor sonde wat in ons lewens ingesluip het. Die groot Dag van Yahweh wat profeties in die Skrif beskryf word as ʼn Dag van Gramskap en Gloeiende Toorn (Jes 13:9); ʼn Dag van Verwoesting (Jes 13:6); ʼn Dag van Wraak (Jes 34:8); ʼn Dag van Bewing (Joël 2:11); ʼn Dag van Benoudheid en Angs (Sef 1:15); ʼn Dag van Duisternis en Donkerheid (Sef 1:15); ʼn Dag van Donkerheid sonder Ligstraal (Amos 5:20); ʼn Dag van Verbranding (Mal 4:1); ʼn Dag van Rampspoed op rampspoed (Eseg 7:27). Is dit moontlik om só vinnig van vreugde na verootmoediging oor te slaan en vyf dae later weer lofliedere te sing wanneer die Huttefees in al sy skoonheid en sy rykdom aan simboliek gevier word? Hoe weet ʼn mens hierdie tyd van die jaar of jy moet dans en of jy moet huil?
In sommige kringe word daar geweldig sterk klem gelê op die feit dat ʼn mens in die tien dae tussen Yom Teruah en Yom Kippur in ʼn ander stemming moet ingaan en slegs op boetedoening en berou moet fokus. Iets daarvan is waar. Ons behoort selfondersoek in te stel. Ons behoort die vergrootglas van die Woord oor ons lewens te hou en ons voor Yahweh te verootmoedig oor dit wat uit lyn uit is en wat sy Gees bedroef. Ons behoort versoening met mense te soek en vergifnis te vra en vergifnis uit te deel waar dit nodig is – sodat ons Yahweh se vergifnis ten volle kan ontvang. Want dis veral Y’shua wat ons geleer het dat jy nie vergifnis uit Yahweh se hand kan verwag as jy ander nie kan vergewe nie. Maar wanneer dit by jou gemoedstemming kom, is dit nie ʼn kwessie van òf … òf nie. Dis nie die een of die ander nie. Daar mag tye in ʼn mens se lewe wees wat SLEGS tye is om te ween … en ander tye wat dalk SLEGS tye is om jubel. Hierdie tyd waarin ons op die oomblik is, is nie so ʼn tyd nie. In hierdie opsig kan ons leer by wat Ezrah en NegemYah vir die volk gesê het toe hulle die een oomblik nog hulle hande in lofprysing opgehef het en die volgende oomblik voor die aangesig van Yahweh geween het. Hulle woorde was: Hierdie dag is afgesonder aan Yahweh julle Elohiem; treur nie en ween nie! … (Neh 8:9) Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in Yahweh – dit is julle beskutting (Neh 8:10). En dan lees ons dat “die hele volk weggegaan (het) om te eet en te drink en porsies te stuur en groot vreugde te bedryf; want hulle het ag geslaan op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is” (Neh 8:12).
Dit alles was op die Dag van Yom Teruah. Op die volgende dag, die tweede dag van die maand, wat ooreenstem met die dag waarin ons ons vandag bevind (heel moontlik net op ʼn ander dag van die week), het die volk – sommige van hulle vir die eerste keer – gehoor van die Huttefees en, nog steeds met groot blydskap en entoesiasme, begin om voorbereidings vir daardie fees te begin tref. Daar word nie in hierdie gedeelte spesifiek na Yom Kippur verwys nie. Maar toe die Gees van Yahweh die volk onder die indruk van hulle sonde gebring het, het hulle spontaan in geween en groot berou oorgegaan. Dit was nie nodig om vir hulle te sê: Nou moet julle hartseer en bedroef wees nie. Maar die grootste en oorheersende emosie was vreugde! En daarom het die leiers nie lank geneem voordat hulle ingegryp het en die volk aangemoedig het dat hulle hartseer moes plekmaak vir vreugde nie. Hier het hulle die les geleer dat die blydskap IN Yahweh en die blydskap OOR Yahweh ʼn mens se beskutting is. Yom Kippur beteken mos juis Dag van Bedekking of Dag van Beskutting. Daar is tye wanneer ons deur berou en deur vergifnis hierdie beskutting oor ons lewe moet kry. Maar ons behoort nie in ʼn onophoudelike siklus van berou en pleit om vergifnis te verval nie. Net soos wat ons ons ook nie moet blind staar teen die donker prentjie wat daar in die Skrif oor die Dag van Yahweh geteken word nie. Die toorn en die straf en benoudheid oor sonde is vir ons ʼn werklikheid, maar as ons eers ons vertroue in Hom geplaas het, is die grootste werklikheid die blydskap in Yahweh en die blydskap oor sy verlossing. Dit is ons primêre beskutting en ons grootste besitting. En hierdie maand is by uitnemendheid die maand waarin ons met mekaar moet praat oor hierdie kosbare beskutting en besitting.
Views: 199