WEES NIE BEVREES NIE

alternate textDie oproep om nie te vrees nie, is ‘n herhalende tema in die drie lees gedeeltes van hierdie week: Deut 1:1 – 3:22; Jes 43:1-22 (moenie stop by 21 nie!) en Mat 24:1-22 (Gideon se bende).

• Deut 1:29 Toe het ek aan julle gesê: Word nie verskrik (arats) en wees nie bevrees (yareh) vir hulle nie.
• Jes 43:1 Wees nie bevrees (yareh) nie, want Ek het jou verlos.
• Jes 43:5 Wees nie bevrees (yareh) nie, want Ek is met jou.
• Mat 24:6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik (Throeo) word nie, want dit moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.

Die oproep om nie te VREES nie, is baie relevant binne die konteks van WOORDE (verlede week se tema en hierdie week se Torah porsie – Devariem).

• Eseg 2:6 En jy, seun van Adam, wees nie vir hulle of vir hulle woorde bevrees nie.
• Ps 56:4 Ek sal Sy woord prys; ek vertrou op Hom, ek vrees nie; wat kan vlees my doen?
• Hand 18:9 Y’shua het vir hom gesê: Wees nie bevrees nie – praat en moenie swyg nie.
• Fil 1:14 Hulle het deur my boeie vertroue gekry om die woord onbevrees te praat.
• Daar is 2 dinge wat ons nie hoef te vrees nie: (1) Om mense se afbrekende woorde te hoor (2) Om Yahweh se opbouende woorde te spreek!

Wanneer ‘n mens jou aan vrees oorgee, kan dit jou hele lewe in beslag neem. Arats, Throeo en Yareh kan soms dieselfde soort vrees beskryf, maar daar is ook verskille tussen die drie.

• Arats: Fisiese bedreigings wat met jou liggaam, gesondheid en werk te make het: Het ek dalk kanker? Gaan ek weer kan bestuur? Wat as ek my werk verloor?
• Throeo: Emosionele bedreigings: Hoe gaan ek oorleef as die ekonomie so lyk? Wat maak ons as die epidemie hier ook uitbreek? Wat se soort toekoms gaan my kinders hê?
• Yareh: Krisis in geloof: In plaas van Yahweh te vrees (positief – fokus op iemand wat groot is, buitekant myself), vrees ek mense en myself (negatief – fokus op eie foute en leemtes).

Wat is die eintlike probleem met vrees?

• Self-fokus: Die vrees oor wat met MY gaan gebeur: My toekoms, my gesondheid, my finansies, my mense en my verhoudinge – veral MY verhouding met Yahweh – groot hindernis in die pad van intimiteit met Yahweh.
• Uit pas uit met die waarheid van die Bewaarder wat nooit sluimer of slaap nie: steur jou te veel aan “gerugte van oorloë” (Mat 24) – gegooi deur mense woorde, in plaas van gehoorsaam en verheug oor Yahweh se woorde.
• Geneigdheid om óór te reageer: gevare in die wêreld is altyd ‘n werklikheid, maar kroniese angstigheid hieroor, is die grootste gevaar van alles! – om gedurig aan “worst-case scenarios” te dink, is om jou denke te vul met inhoud wat teenoor die waarheid staan.
• Die vrees VIR mense sluit die vrees VAN Yahweh uit: Wysheid BEGIN met die vrees van Yahweh en dit VERDWYN met die vrees vir mense – die mens wat waarlik vashou aan die vrees en ontsag vir Yahweh, behoort nie deur enige ander soort vrees vasgehou te word nie.
• Net soos wat vrees ‘n mens se LIGGAAM kan aantas, kan dit ook die oorsaak wees dat daar ‘n verstopping in jou SIEL kom, wat dit moeiliker maak om te glo en te vertrou – Soeklig effek – vrees dreineer die battery sodat die lig waarmee ons op Yahweh fokus, al hoe flouer word.

Wat is die Skrif se oplossing vir ‘n vrees gedrewe leefstyl? (Vertrekpunt: Begin betyds deur een of ander vorm van joernaal te hou van Yahweh se goedheid en grootheid in jou lewe, veral as jy ‘n geneigdheid het tot angs en benoudheid.)

1. Verander jou “WAT AS” vraag na ‘n “ONTHOU JY NOG” gesprek met ‘n mede-gelowige.
2. Kanaliseer jou AANBIDDING in die regte rigting (“aanbidding” = “neerbuig”).
3. Kyk weg van die DETAIL wat jou laat vrees en fokus op die EEN wat jou kan red – Ek is Yahweh – die EEN wat was en is en sal wees!
4. Herinner jouself daaraan dat DIT wat moontlik mag gebeur, nie opweeg teen HOM wat nou by jou is nie.
5. Hou vas aan Y’shua se perspektief van geboortepyne – SLEGTE dinge moet gebeur, sodat die GOEIE kan aanbreek!
6. Vervang elke “MY …” wat my benoud maak, met ‘n “YAHWEH SE …” wat my benoudheid kan wegneem.
7. Gaan uit jou pad uit om ISOLASIE uit te skakel, en GEMEENSKAP met die Liggaam van die Messias op te soek (vrees floreer as jy alleen met jou gedagtes worstel).

Luister net weer na Jesaja 43: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is Yahweh, jou Elohiem!

 

Views: 13

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *