HOOR YIESRAEL

alternate text

Shema Yisrael, Yahweh Elohaynu, Yahweh Ekhad. V’ahavta et Yahweh Eloheikha, bekhol levavkha, u’vekhol nafshekha, u’vekhol me’odekha.

Hoor, Yiesraél, Yahweh is ons Elohiem; Yahweh is een. Daarom moet jy Yahweh jou Elohiem liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag – Devariem 6:4-5.

Waarom word die SHEMA (die waarheid wat bo alles GEHOOR moet word) as so belangrik vir die volk gereken dat dit op minstens 7 maniere beklemtoon word (vers 6-9)?

1. Dit moet in hulle harte wees (moet gekoester word)
2. Hulle moet gereeld daaroor praat (moet bespreek word)
3. Hulle moet dit inskerp by hulle kinders (moet vir die toekoms bewaar word)
4. Hulle moet ‘n teken daarvan op hulle hand plaas (moet prakties gemaak word)
5. Hulle moet ‘n simbool daarvan op hulle voorhoof plaas (moet oordink word)
6. Hulle moet dit skryf op die deurposte van hulle huise (moet voorop staan in huise)
7. Hulle moet dit skryf op die poorte van die stad (moet selfs in stede bekend wees)

ANTWOORD: OMDAT DIE SHEMA ONOMWONDE SÊ DAT YAHWEH ÉÉN IS – DIT WIL SÊ DIE ENIGSTE EEN WAT ONS NODIG HET OM VOL-UIT TE KAN LEWE EN DIE ENIGSTE EEN WAT WAARDIG IS OM VOL-UIT – MET JOU HELE HART, MET JOU TOTALE WESE, EN MET AL JOU KRAG – LIEF TE HÊ!!

Volgens Yeshayahu 44, word dit minstens op 7 maniere bevestig (geformuleer as vrae):

1. Is daar ‘n ander een wat vir jou ‘n Elohiem soos Ek, wat die Eerste en die Laaste is, kan wees (6)? Wie is daar anders wat met reg kan aanspraak maak daarop dat hy die eerste en die laaste is en hoe kan enigiets anders tussen-in belangriker wees?
2. Wie roep soos Ek (7)? Wie of wat is daar anders in hierdie wêreld wat jou roep of uitnooi, een honderd persent ter wille van jou en NIE ter wille van eie voordeel nie?
3. Kan hulle (ander sogenaamde magtiges) die toekomstige dinge bekendmaak (7)? Wie is daar anders wat die toekoms ken en vir die mense ná aan hom sê wat hulle nodig het om te weet oor die toekoms en tot rus te kom?
4. Het Ek jou hierdie dinge nie lank tevore laat hoor en bekendgemaak nie (8)? Wie is daar anders wat van die skepping af ‘n konsekwente boodskap van redding en versterking laat opteken het en wat oor die eeue heen diepe vertroosting aan miljoene mense verskaf het?
5. Watter voordeel bring mensgemaakte afgode wat niks weet en niks kan sien nie (9)? Wie is daar anders in hierdie wêreld met al sy kennis en deursigtigheid wat weet en kan sien soos Yahweh?
6. Is daar nie ‘n leuen in my regterhand nie (20)? Wie is daar anders wat met reg kan sê dat dit wat hy vir mense aanbied, niks met leuens te make het nie?
7. Is daar ‘n ander Elohiem wat vir jou ‘n ROTS soos Ek is (8)? Wie is daar anders wat vir die afvalliges ‘n ROTS is waaroor hulle struikel, maar vir die gelowiges die ROTS wie se werk altyd volkome en volmaak is (Deut 32:4); die ROTS wat hulle verwek het en waaruit hulle gekap is (Deut 32:18; Jes 51:1); die ROTS by wie hulle skuil (2 Sam 22:3); die ROTS wat hulle verlos (Ps 18:46); die ROTS waarop hulle verhef word, sodat hulle bokant hulle omstandighede kan uitstyg (Ps 27:5); die ROTS wat hulle laat bereik wat hulle andersins nie sou bereik het nie (Ps 61:2); die ROTS wat verhoed dat hulle wankel (Ps 62:2); die ROTS wat hulle bo verwagting sterk maak (Ps 62:7); die ROTS wat deurdring tot in hulle hart (Ps 73:26); die ROTS wat vir hulle ‘n standaard van reg en geregtigheid is (Ps 92:15); die ROTS wat hulle hande (en wilskrag) leer om te veg (Ps 144:1); die ROTS wat hulle ‘n begrip van die ewigheid gee (Jes 26:4).

Kan jy dit bekostig om die SHEMA nie te hoor en in jou hart te bewaar nie?

 

Views: 16

One thought on “HOOR YIESRAEL”
  1. Psalms – Tehillim 1 (PWL vertaling)
    1 1 Gelukkig is die man wat nie lewe volgens die raadgewing van die wetsoortreders of
    staan op die pad van die sondaars of vertoef in die geselskap van spotters nie,
    2 maar sy vreugde is in die wet van Yahweh en hy deurdink Sy wet dag en nag.
    3 Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by ’n waterstroom, wat sy vrugte gee op
    hulle tyd, waarvan die blare nie afval nie en alles wat hy doen, is voorspoedig.
    4 So is die wetsoortreders nie, maar soos kaf wat die wind wegwaai;
    5 daarom sal die wetsoortreders nie beoordeel word in die oordeel van, of die sondaars
    in die vergadering van die regverdiges nie,
    6 want Yahweh ken die lewenswyse van die regverdiges, maar die lewenswyse van die
    wetsoortreders sal vergaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *