Sommige mense sal daarop wys dat Pesag (Pasga) en Ongesuurde Brode ‘n fees van herinnering is. Dit herinner ons jaar na jaar aan gebeure wat lank gelede plaasgevind het. ‘n Mens berei jou immers slegs voor vir iets wat nog moet gebeur – nie vir iets wat reeds gebeur het nie. Of is Pesag dalk méér as net ‘n gedenkfees? In 2 Kronieke 35 word daar van ‘n besonderse Pesag gepraat wat in koning YoshiYah se tyd gehou is. In vers 18 word die volgende van hierdie Pesag gesê: “So ‘n Pesag soos hierdie is in Yiesraél nie gehou van die dae van die profeet Shemuél af nie.” Dit moes ‘n unieke en absoluut fenomenale Pesag gewees het as daar vir langer as 400 jaar nie een keer só ‘n besonderse Pesag in die land plaasgevind het nie! Om die uniekheid van hierdie Pesag te verstaan, moet mens iets verstaan van die persoon van die koning – koning YoshiYah – onder wie se bewind hierdie Pesag plaasgevind het.
YoshiYah was ‘n skamele 8 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 31 jaar lank koning van die Yehudah-gedeelte van die verdeelde volk. Die begin van sy koningskap word in hoofstuk 34 beskryf en die besonderse Pesag wat hy gereël het, in hoofstuk 35. In hoofstuk 35 (vers 19) word spesifiek gesê dat hierdie Pesag in die 18de jaar van sy bewind plaasgevind het. Wat besonders insiggewend is, is dat ons in hoofstuk 34 ‘n kykie kry op dinge wat YoshiYah – ook in sy 18de jaar – ter voorbereiding van hierdie Pesag gedoen het. Dit het nie maar net toevallig gebeur dat daardie jaar se Pesag die mees merkwaardige Pesag in langer as 400 jaar was nie. Nee, dis die aanloop na daardie Pesag wat die knoop deurgehak het. En dis veral die getuigskrif van hierdie koning, waarvan ons onder meer lees in 2 Kronieke 34:3, wat die deurslag gegee het: “Terwyl hy nog jonk was, het hy begin om die Elohiem van sy vader Dawied te soek.”
YoshiYah word in meeste Bybelvertalings “Josia” of “Josiah” genoem, maar só ‘n spelling laat nie reg geskied aan sy naam nie. Sy naam is duidelik ‘n kombinasie van twee afsonderlike Hebreeuse woorde – die tweede deel van sy naam is die Naam van Yahweh, die Een na wie hy van kleins af begin soek het, net soos sy groot voorvader Dawied, wat die model koning van beide die Suidelike en die Noordelike koninkryke was. Die eerste deel van YoshiYah se naam hou verband met een van drie begrippe: “fondament”, “ondersteuning” of “genesing”. Dus beteken sy naam iets soos: “Op die fondament van Yahweh”; “Ondersteun deur Yahweh” of “Genees deur Yahweh”. Watter een van hierdie drie betekenisse ‘n mens ook al kies, dis duidelik dat YoshiYah se naam ‘n profetiese beskrywing van die karakter en die dryfkrag in die lewe van hierdie koning was!
Van kleins af het hy gekies om sy lewe te bou op die fondament van Yahweh. Dis byna ondenkbaar om ‘n agtjarige as koning oor ‘n land aan te stel. Maar dink net watter verskil kan dit aan die dinamika en die kohesie van ‘n nasie meebring as agtjariges en twaalfjariges en sestienjariges begin om na hulle Skepper te soek en begeer om hulle lewens op die fondament van Yahweh en van sy Woord te bou! Hulle hoef nie konings te wees om ‘n verskil te maak nie. Hulle hoef maar net te lewe volgens hulle oortuiging en hulle lewens en ideale te bou op die fondament wat hulle gekies het. Soos Y’shua die Messias – ook uit die nageslag van Dawied – gesê het: dis ‘n verstandige mens wat na die woorde van Yahweh luister en sy huis op die enigste ware fondament – die fondament van rots bou.
Tydens sy bewind het YoshiYah voortdurend staat gemaak op die ondersteuning van Yahweh. Hy was jonk en onervare – baie mense sou krities en skepties daaroor gewees het dat iemand só jonk as koning aangestel word. Maar YoshiYah het die ondersteuning van Yahweh gehad en daarom het hy een van die beste getuigskrifte ontvang van al die konings van Yehudah: “Hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh en gewandel in die weë van sy vader Dawied en nie regs of links afgewyk nie” (2 Kron 34:2). As jy deur Yahweh ondersteun word, kan hindernisse en tekortkominge maklik oorkom word. YoshiYah was nie die eerste en die laaste een met wie dit gebeur het nie. In Filippense 4 praat Shaúl (Paulus) van tye dat hy verdruk is, tye wat hy verneder is, tye toe hy honger en gebrek gely het, maar in hierdie tye, sê hy, het hy een ding geleer: “Ek is tot alles in staan deur Hom wat vir my krag gee” (Fil 4:13). Niks kan ‘n mens dra en oplig en bemagtig soos die ondersteuning van Yahweh nie!
YoshiYah het ook in sy eie lewe ervaar wat die genesing van Yahweh (die derde moontlike betekenis van sy naam) in werklikheid en in die praktyk beteken. In die 18de jaar van sy bewind (die jaar van die groot Pesag) het YoshiYah nog meer as ooit tevore begin om die land en die tempel te reinig. In die proses om die tempel skoon te maak, is daar ‘n boekrol van die Torah gevind wat toe na die koning gebring is. Dis onmoontlik om presies te weet watter deel van die geskrewe Torah op daardie stadium vir die volk beskikbaar was, maar YoshiYah se reaksie op hierdie vonds was verbysterend. Die skrywer Shafan moes aan hom voorlees uit die boekrol. Toe YoshiYah die woorde daarin hoor, het hy in trane sy klere geskeur omdat hy besef het dat sy eie generasie en die generasies voor hom nie volgens die Torah gelewe het nie. Hy het die profetes Guldah laat raadpleeg om die woord van Yahweh, op daardie tydstip, vir hom en sy mense te verneem. Die uitspraak van die profetes was tegelyk woorde van rampspoed en woorde van genesing:
2 Kron 34:24-28 “So sê Yahweh: Kyk, Ek bring ‘n rampspoed oor hierdie plek en oor sy inwoners … omdat hulle My verlaat en vir ander magtiges offerrook laat opgaan het, om My te terg met al die werke van hulle hande, daarom sal my gramskap oor hierdie plek uitgestort en nie uitgeblus word nie. Maar aan die koning van Yehudah … moet julle so sê: So sê Yahweh, die Elohiem van Yiesraél … omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van Elohiem verneder het toe jy sy woorde teen hierdie plek en teen sy inwoners hoor, en jy jou voor my aangesig verneder het en jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ek ook verhoor, sê Yahweh. Kyk, Ek sal jou by jou vaders versamel, en jy sal met vrede in jou graf versamel word”.
In die tyd waarin ons leef, waarin Vigs en Kanker en Ebola en allerlei moderne siektes aan die orde van die dag is, is genesing op almal se lippe. “Bid asseblief vir genesing”, is die noodkreet van duisende, selfs mense wat voorheen nie juis plek gegee het aan gebed in hulle lewens nie. Ek is nie so seker of almal mooi weet wat die Skrif onder genesing verstaan nie. Miskien word dit die heel beste verwoord in ‘n vroeëre vers uit dieselfde boek, 2 Kronieke 7:14: “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” Yahweh draai nie sy rug op die siektes en die pyn en die ellende van individue nie, maar dis die verootmoediging en bekering en vergifnis van individue, maar ook van lande en nasies wat Hy meer as enigiets anders wil sien. Dis harte en rebelsheid en hoogmoed wat Hy meer as enigiets anders wil genees. Ware genesing begin met harte wat verander en met trotsheid wat afgebreek word en dis wat by YoshiYah gebeur het toe hy hom verneder het voor die aangesig van Yahweh en sy klere geskeur het en geween het oor die sonde van sy mense. Alleenlik omdat hy hierdie gesindheid gehad het, het Yahweh hom verhoor en die genesing van vrede (“shalom” – ‘n woord wat primer “gesondheid” beteken) aan hom geskenk.
YoshiYah se voorbereiding vir daardie besonderse Pesag het selfs nog verder as dit gestrek. Hy het al die mense bymekaar geroep, die hele boekrol vir hulle voorgelees en almal saam opgeroep om opnuut hulle erns met die verbond te bevestig en ‘n onderneming voor Yahweh te maak dat hulle sy woorde en getuienisse en insettinge met hulle hele hart en siel sou onderhou. Met die hulp van die hele volk het hy ook elke praktyk en elke gruwel in die land wat nie met die standaard van die Torah ooreengestem het nie, met wortel en tak uitgeroei. As ‘n mens hierdie hoofstuk (hoofstuk 34) saam met die volgende hoofstuk (hoofstuk 35) lees, dan word dit meer as duidelik: Hierdie drastiese maatreëls van ‘n koning wat Yahweh met sy hele hart gesoek het, het die grondslag gelê en die harte van sy mense voorberei, sodat hulle daardie jaar ‘n Pesag kon vier soos daar nog bitter min ooit in hierdie wêreld beleef is.
Om terug te keer na die vraag wat ons aan die begin gevra het: Is Pesag dalk meer as net ‘n gedenkfees? Dit is beslis meer as net ‘n gedenkfees en dis sonder twyfel die moeite werd om jou so goed as moontlik vir hierdie fees voor te berei! Dis nie verniet dat die Skrif spesifiek sê dat die skepping van die son en die maan op die vierde skeppingsdag met die oog op die bepaling van die sogenaamde “moadiem” plaasgevind het nie. “Moadiem” beteken “feeste” of “vasgestelde tye”. Daar is ‘n sekere ritme in die skepping en in die seisoene ingebou wat ons nie mag ignoreer nie. Dis iets waarvoor ons moet uitkyk, jaar na jaar, en ook iets waarvoor ons ons deeglik moet voorberei. Wie weet, dalk is hierdie jaar se Pesag ‘n Pesag soos die een in YoshiYah se tyd. Dalk is dit een soos in die tyd van die tweede tempel, 2000 jaar gelede – toe die seun van ‘n timmerman uitgewys is as die Lam van Elohiem wat die sondes van die wêreld wegneem. Of dalk is dit daardie Pesag waarvan Y’shua gepraat het toe Hy kort voor sy dood vir sy volgelinge gesê het: “Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader” (Mat 26:29).
Views: 355