Dit is interessant dat die Torah lesing vir Sukkot begin by Wayyiekra (Lev) 22:26 en dan die hele Wayyiekra (Lev) 23 insluit. Wayyiekra 23 is natuurlik die hoofstuk waarin die sewe groot feeste in detail beskryf word en dit word afgesluit met die klimaks van die jaar se feeste: Die Loofhuttefees of Sukkot (Feast of Tabernacles), wat op sy beurt afgesluit word met nog ‘n hoogtepunt: Die Agste Dag (Yom HaShemini) wat soms beskryf word as “The most Joyful Day of the Year”.
Die vraag is egter: Waarom begin die Torah lesing vir Sukkot alreeds by Lev 22:26 en wat staan daar in dié gedeelte? Kom ons kyk na die eerste vier verse van hierdie Torah lesing:
Lev 22:26-29 Verder het Yahweh met Mosheh gespreek en gesê: As ‘n bees of ‘n lam of ‘n bok aankom, moet dit sewe dae lank onder sy moeder bly; maar van die agtste dag af en verder sal dit met goedkeuring aangeneem word as ‘n vuuroffergawe aan Yahweh … as julle ‘n lofoffer aan Yahweh bring, moet julle dit so offer, dat julle goedkeuring kan vind.
Hier sien ‘n mens dadelik wat die konnotasie met die fees van Sukkot en Yom HaShemini is: die verwysings na “sewe dae lank” en “die agste dag”. ‘n Jong bees of ‘n lam of ‘n bok mag vir sewe dae ná geboorte nie geslag word nie. Maar van die agste dag af en verder sal dit met goedkeuring aangeneem word. Van die agste dag af en verder is enige jong dier gereed en geskik om as offer aan Yahweh gebring te word. Waarom moet daar sewe dae lank gewag word? Baie redes word hiervoor genoem:
1.Daar moet eers ‘n shabbat “plaasvind” in die lewe van hierdie dier voordat dit ‘n aanneemlike offer vir Yahweh kan wees.
2.Elke offer aan Yahweh moet volmaak wees en die skepping van hemel en aarde is eers op die sewende dag as “volkome” en “volmaak” verklaar – alhoewel die skepping oor ses dae plaasgevind het, sê Gen 2:2 “Op die sewende dag het Elohiem sy werk voltooi / afgesluit”.
3.’n Offer aan die einde van sewe dae word gesien as ‘n offer uitsluitlik aan Yahweh – as dit op een van die voorafgaande dae sou plaasvind, sou dit gesien kon word as ‘n offer aan iets wat Hy geskape het – soos aan die son of die maan of die sterre of selfs aan ‘n mens.
4.’n Dier is normaalweg net op homself ingestel, maar gedurende die eerste periode na ‘n nuwe geboorte, is daar by die moeder ‘n byna verrassende “onselfsugtigheid” wat gesien kan word in die manier waarop sy haar kleintjies sal koester en beskerm. Hierdie eienskap, wat selfs onder diere voorkom, moenie dood gesmoor word nie, want ons eie offers moet ook in onselfsugtigheid gehul wees – ons moet van ons eie belange en ons eie gerief afsien en die eer en die belange van ons hemelse Vader bo alles stel.
Ons het gekom by die laaste deel van die jaar se fees-siklus. Sukkot – ‘n periode van sewe dae waarin die Skrif sê dat ons die gerief van ons permanente wonings moet prysgee, sodat ons voorberei kan word vir ‘n nuwe begin (die Agste Dag). Wat presies is dit waarvoor hierdie fees ons moet voorberei? Hierdie fees moet ons daarvoor voorberei dat ons liggame, soos Romeine 12 dit stel, lewende en afgesonderde offers kan wees wat vir Elohiem aanneemlik is. Ek dink nie dis toevallig dat Romeine sê dat offers aan Yahweh met ons liggame te make het nie. Ons het dit nodig om ons liggame te oefen en voor te berei, sodat ons gees beter kan verstaan wat ‘n offer werklik beteken.
‘n Offer is ‘n manier om te wys dat Yahweh vir ons eerste kom – maak nie saak hoe groot die prys is wat ons daarvoor moet betaal nie. Een keer per jaar, tydens hierdie fees, voel ons iets van hierdie opoffering aan ons eie lyf – aan ons eie liggaam. Maar dis nie waar dit moet eindig nie. Dis maar net die begin! Dis ‘n noodsaaklike voorbereiding om die res van die jaar, elke dag van die jaar, Yahweh lief te hê met ons hele hart en met ons hele siel en met al ons krag. Dit stem ooreen met wat in Heb 13:14-16 weergegee word: “Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige. Laat ons dan gedurig deur Hom aan Yahweh ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want Elohiem het ‘n welbehae aan sulke offers.”
Views: 52