OM YAHWEH AAN TE HANG

alternate textHierdie week se Torah leesstuk sluit in Devariem (Deut) 29 en 30. Die heel laaste vers van hierdie gedeelte is Deut 30:20 waar daar staan: “Jy moet Yahweh jou Elohiem liefhê, na sy stem luister en Hom aanhang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat Yahweh aan jou vaders Avraham, Yietsgak en Yaákov met ‘n eed beloof het …”

Almal van ons weet (hopelik) wat dit beteken of Yahweh lief te hê en na sy stem te luister. Maar wat beteken dit om Hom aan te hang? Om hierdie vraag te kan beantwoord, sal dit ons oneindig baie help om na die bekende figuur van Yietsgak (Isak) te kyk. Baie verse in die Ou Verbond verwys na “Avraham, Yietsgak en Yaákov” – nes Deut 30:20 wat ons hierbo aangehaal het. Vroeër in hierdie selfde leesstuk, in Deut 29:13 kom dit ook voor:

Deut 29:13 (Onderhou en vervul die woorde van hierdie verbond) sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n Elohiem kan wees … soos Hy aan jou vaders Avraham, Yietsgak en Yaákov met ‘n eed beloof het.

In die res van die boek Devariem (Deuteronomium) word daar gereeld na hierdie drie belangrike aartsvaders verwys. Om maar net ‘n paar te noem:

Deut 1:8 Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat Yahweh aan julle vaders Avraham, Yietsgak en Yaákov met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag na hulle.

Deut 6:10 En as Yahweh jou Elohiem jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Avraham, Yietsgak en Yaákov, met ‘n eed beloof het om jou te gee … (bewaar jouself dan dat jy Yahweh nie vergeet nie).

Deut 9:5 Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie, maar … om die woord te vervul wat Yahweh vir jou vaders, Avraham, Yietsgak en Yaákov, gesweer het.

Dit is duidelik dat hierdie drie “vaders” Avraham, Yietsgak en Yaákov, ook vir die geloofspad wat ons loop, geweldig belangrik is. Dis veral die middelste een van die drie, Yietsgak, wat ons kan help om beter te verstaan wat dit beteken om Yahweh aan te hang of aan te kleef.

Dis vandag net ‘n paar dae voor die aanbreek van een van die belangrikste feeste op die kalender wat vir ons in die Woord nagelaat word. Die fees wat in die Skrif genoem word: Yom Teruah of Trompettefees of Fees van die Groot Geskal. Die fees wat in Joodse kringe (eintlik verkeerdelik) bekend staan as Rosh Hashanah (Afr: “Die Begin van die Jaar”). Die Torah leesprogram waarna ons hierbo verwys het, is ‘n leesrooster wat daarop gemik is om die eerste vyf boeke van die Skrif in een jaar deur te lees. Hierdie leesrooster word al vir eeue lank deur die Jode gevolg, maar deesdae is daar reg oor die wêreld honderd duisende volgelinge van die Messias wat intussen ontdek het dat die Torah vir hulle ook bedoel is en dat hierdie leesrooster vir hulle van net soveel waarde kan wees.

Hierdie leesrooster het nou naby aan die einde van die siklus gekom – dit begin by Gen 1 en eindig by Deut 34 en ons is nou by Deut 30. Die leesrooster maak egter voorsiening vir die feeste en voeg normaalweg ‘n spesiale gedeelte by die leesprogram vir elkeen van die feeste. Dit gedeelte wat vir die fees van Yom Teruah bygevoeg word is nogal baie betekenisvol – dit bestaan uit twee verskillende hoofstukke van die Torah: die een is Num 29:1-6 wat spesifiek oor die Trompettefees gaan en die ander gedeelte is Gen 21 wat oor niemand minder nie as Yietsgak gaan. Die geboorte en die persoon van Yietsgak word al vir eeue lank met Yom Teruah (oftewel die Trompettefees) in verband gebring. Kom ons kyk of ons kan agterkom waarom dit so is …

Die naam Yietsgak beteken “gelag” en dit verwys daarna dat Sarah, Yietsgak se ma, gelag het toe sy die eerste keer gehoor dat sy op gevorderde ouderdom ‘n kind in die lewe sou bring en dat hierdie kind sou verseker dat Yahweh elkeen van sy beloftes wat Hy aan Avraham gemaak het, sou nakom. Eintlik het Sarah twee keer gelag – die eerste keer uit wanhopigheid, byna ongeloof, toe sy hierdie verstommende aankondiging van die boodskapper van Yahweh hoor en die tweede keer van blydskap, toe die belofte vervul is en haar seun gebore is. Hiervan lees ons in Gen 21:6 “En Sarah het gesê: ‘n Gelag het Elohiem vir my berei: elkeen wat dit hoor, sal oor my lag.” Hierdie lag wat ons vandag nog oor Sarah lag, is nie ‘n koggelende of ‘n spottende lag nie. Dit is waarlik ‘n lag van blydskap en verwondering oor Yahweh wat die menslik onmoontlike kan moontlik maak en ‘n pad vir sy woord kan oopbreek waar mense lankal hoop verloor het en handdoek ingegooi het.

Yietsgak se geboorte het gevolg nadat ‘n boodskapper van Yahweh die vorige jaar onder meer vir Avraham en Sarah gesê het: “Sou iets vir Yahweh te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sarah sal ‘n seun hê” (Gen 18:14). Letterlik vertaal, lyk hierdie vers só: “Sou ‘n woord vir Yahweh te moeilik wees (om uit te voer)? Op die vasgestelde tyd (Heb: op die “moád”), volgens die tyd (of siklus of seisoen) van die lewe, sal Ek na jou terugkom, en Sarah sal ‘n seun hê.” Nou verstaan mens waarom Yietsgak se verhaal tydens ‘n fees gelees word. Hou in gedagte dat die woord “moád” of die meervoud “moádiem” die woord is wat normaalweg met “fees” of “feeste” vertaal word. Daar word natuurlik nêrens vermeld na watter fees hier moontlik verwys word nie. Daar is egter ‘n lang Joodse tradisie wat Yietsgak se geboorte met die fees van Yom Teruah in verband bring.

Daar is soveel ooreenkomste tussen Yietsgak en Y’shua die Messias, dat die lys te lank is om hier volledig te bespreek. Om maar net ‘n paar te noem: Die wonderbaarlike manier waarop beide gebore is; die feit dat beide “die eniggebore seun” was; die manier waarop beide instrumenteel was om Yahweh se verbond met sy volk te bevestig; die feit dat beide die lang-verwagte vervulling van Yahweh se belofte was; die opoffering en plaasvervanging wat ‘n rol gespeel het toe beide die seuns die dood (moontlik op presies dieselfde plek!) in die gesig gestaar het, ensovoorts. By hierdie lysie kan ons nou moontlik ook voeg: Die moontlikheid dat beide op een van die vasgestelde tye, een van die moádiem – heel moontlik Yom Teruah – gebore is. Al is ons nie seker op watter fees dit was nie, hiervan kan ons seker wees: Yahweh se groot werke van verlossing het nog altyd op sy vasgestelde tye plaasgevind. Daarom verwag ons dat die tweede koms van die Messias ook op een van hierdie vasgestelde tye – heel moontlik Yom Teruah – sal plaasvind. Daarom hou ons nie op om die feeste te vier nie. Waarom sou ons immers só iets doen as ons weet dat Yahweh nooit vir een oomblik opgehou het om sy afsprake na te kom en sy vasgestelde tye te hou nie?

Om terug te keer na die vraag wat ons aan die begin gevra het: Wat beteken dit om Yahweh aan te hang? Die antwoord word vir ons duidelik as ons kyk na die geboorte geskiedenis van Yietsgak. As dit kom by die beloftes van Yahweh – ook die belofte van die koms van sy Seun – dan is ons in baie opsigte soos Sarah. Daar is tye dat ons so moedeloos is en só moeg gewag is, dat ons skepties begin raak – tot op die punt dat ons wil lag oor die dinge wat in die Skrif belowe word. Hierdie houding word verwoord in 2 Pet 3:3-4 “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”

Om Yahweh aan te hang, beteken om nie aan sy Woord of sy beloftes te begin twyfel nie. Dit beteken om soos Sarah te weet en dit vir jouself te sê, maar selfs nog vroeër as in Sarah se geval – reeds in die tyd van swangerskap, voordat die geboorte nog plaasgevind het: Yahweh het vir my ‘n gelag voorberei. Ja, wat die oog nie gesien het nie en die oor nie gehoor het nie en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het Yahweh voorberei vir die wat hom liefhet. Het Y’shua dan nie self gesê nie: Geseënd is julle wat nou ween, want julle sal lag (Luk 6:21)? Dit is soos daardie lied wat ons sing wat kom uit Ps 126: “Toe Yahweh die nood van Tsion verander het, was ons soos dié wat droom. Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê: Yahweh het groot dinge aan hierdie mense gedoen. Yahweh het groot dinge aan ons gedoen en ons was bly!”

Views: 24

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *