WAAROM HET ONS VIR Y’SHUA NODIG? 4

alternate text

In Openbaring 21 en 22, die laaste twee hoofstukke van die Skrif, word daar twee keer, kort na mekaar, geskryf dat die woorde van daardie boek, waarin Y’shua deurgaans die sentrale figuur is, betroubaar (“pistos”) en waar (“alethinos”) is. Ongeveer 30 jaar voordat Openbaring geskryf is, het Paulus of Shaúl minstens sewe keer in sy drie kort briewe aan Timoteus en Titus geskryf dat die dinge aangaande die Messias waaroor hy met hulle gepraat het, betroubaar (“pistos”) en waar (“alethinos”) is. In die res van die Nuwe Testament word daar minstens sewe keer geskryf dat die Een wat Y’shua na hierdie wêreld toe gestuur het, Yahweh, die Skepper van hemel en aarde, betroubaar of getrou (“pistos”) is. En minstens nóg sewe keer word daar gesê dat Hy waaragtig (“alethinos”) is. Wat van die Een wat Hy gestuur het – Y’shua van Nasaret? Op minstens sewe plekke word daar gesê dat Y’shua getrou of betroubaar (“pistos”) is, en op minstens sewe ander plekke word daar gesê dat sy lering waar is (“alethinos”) of dat Hy waaragtig is (“alethinos”). Bloot op grond van hierdie eenvormige getuienis wat oor ‘n breë spektrum en uit baie oorde na ons toe kom, behoort daar by ons geen twyfel te wees dat Y’shua se koms na hierdie wêreld, een van die mees deurslaggewende gebeurtenisse van alle tye is nie. Teen hierdie agtergrond, gaan ons voort met ons ondersoek – in ‘n poging om 50 antwoorde op hierdie vraag, in ons harte en verstand te graveer: WAAROM HET ONS VIR Y’SHUA NODIG?

22. Matteus 10:40 Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.

OMDAT Y’SHUA DIE SLEUTEL IS OM YAHWEH DEEL VAN ONS LEWENS TE MAAK

23. Lukas 12:51 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid.

OMDAT ONS BY DIE VREDEVORS MOET LEER DAT ALLE TIPES VREDE NIE SHALOM IS NIE

24. Johannes 3:34 Want Hy wat Elohiem gestuur het, praat die woorde van Elohiem; want Elohiem gee die Gees nie met mate nie.

OMDAT ONS ANDERSINS NOOIT SAL WEET WAT WARE GEESVERVULDHEID BETEKEN NIE

25. Johannes 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die een, waaragtige (“alethinos”) Elohiem, en Y’shua die Messias wat U gestuur het.

OMDAT DIE WAARHEID (“ALETHEIA”) VAN DIE ENIGSTE ELOHIEM ‘N FOKUSPUNT HET

26. Romeine 8:29 Die wat Hy voorheen geken het, hulle het Hy bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene (“prototokos”) kan wees onder baie broers.

OMDAT DAAR NIE BROERS EN SUSTERS, SONDER ‘N “PROTOTOKOS” KAN WEES NIE

27. 1 Korintiërs 5:7 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons Pesaglam is vir ons geslag, naamlik die Messias.

OMDAT PESAG SONDER Y’SHUA, VAN SY DIEPSTE BETEKENIS ONTNEEM WORD

28. 1 Timoteus 1:15 Dit is ‘n betroubare (“pistos”) woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat die Messias Y’shua in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.

OMDAT SONDAARS, SONDER Y’SHUA, ALTYD SONDAARS, SONDER REDDING SAL BLY

Om saam te vat: Om Y’shua se koms, insluitend sy dood en opstanding, op enige manier te verwerp of te misken of af te water, beteken om ‘n vraagteken te plaas oor die waarheid en getrouheid van Yahweh. Reg deur die Skrif is dit duidelik dat Yahweh se waarheid en getrouheid onlosmaaklik verbind is aan die Een wat Hy as sy Gesalfde (of Messias) na die wêreld sou stuur. Y’shua van Nasaret word in die Skrif duidelik as hierdie Messias uitgewys en geïdentifiseer. Hulle wat Hom in waarheid en getrouheid navolg, leer onder meer wat ware redding en vergifnis beteken, wat ware vrede beteken, wat die ware eersgeborene beteken, wat die ware Pesag beteken en wat ware vervulling met die Gees beteken. Vir hulle is die volle boodskap van die voor-Messiaanse Skrifte en die Messiaanse Skrifte, ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word.

 

Views: 8

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *