DIE ELOHIEM WAT VIR ONS GENOEG IS

alternate textDie getal 14 kom gereeld in die Skrif voor. In Genesis 31 herinner Yaakov vir Lavan, waarskynlik met gemengde gevoelens, daaraan dat hy hom 14 jaar gedien het vir sy twee dogters en dat Lavan sy loon 10 maal verander het. In Genesis 46 herinner die Skrif ons daaraan dat Ragel direk en indirek verantwoordelik was vir 14 siele wat vir Yaakov gebore is: Hulle twee seuns, Yosef en Benyamien, Yosef se twee seuns, Efrayiem en Menasheh, en Benyamien se tien seuns wie se name in Genesis 46:21 genoem word. Daar moes 14 jaaroud lammers op elke dag van die Huttefees geoffer word, Pesag moes op die 14de Dag van die Eerste maand gehou word; Shelomo het ‘n fees van 14 dae gehou ná die inwyding van die tempel en Yahweh het volgens 1 Kronieke 25 aan Heman, die persoonlike siener van die koning, 14 seuns gegee (ook in sy werk as profeet) te versterk”. En, van “versterk” gepraat, Aviyah, een van die konings van Israel, en draer van een van die mooiste name wat daar is, het homself versterk deur vir hom 14 vroue te neem, volgens 2 Kronieke 13. Of hy 14 keer sterker as die ander konings was, is moeilik om te bepaal! En dan sê Matteus 1 vir ons dat daar in die Messias se geslagsregister 14 geslagte van Avraham tot Dawied was, nog 14 geslagte van Dawied tot by die Babiloniese ballingskap, en nog ‘n verdere 14 geslagte van die ballingskap tot by die geboorte van die Messias.

Verlede week het ons by Exodus 15 stil gestaan en veral die lied wat die volk gesing het nadat hulle deur die Rooi See getrek het. En die deurtog deur die Rooi See word in Exodus 14 beskryf. Exodus 14 word afgesluit met vers 31, wat terselfdertyd ‘n opsomming van hoofstuk 14 is, en ‘n inleiding of aanleiding tot die lied van hoofstuk 15. Hierdie laaste vers van hoofstuk 14 sê drie dinge van Israel: (1) Hulle het die wonderwerk van Yahweh aanskou (2) Hulle het Yahweh gevrees (3) Hulle het in Yahweh geglo. En in die voorafgaande 30 verse van hoofstuk 14 – die eintlike gedeelte wat tot hierdie opsomming en die lied aanleiding gegee het, word die naam van Yahweh 14 keer gebruik. Hoe maklik vergeet ‘n mens nie hoe absoluut deurslaggewend die Naam van Yahweh vir die volk was, destyds toe hulle sy magtige dade in Egipte en in die woestyn gesien het nie! En méér nog so, as ‘n mens ‘n Bybel lees waarin hierdie besonderse Naam weggelaat word en bloot met “Lord” of “Here” vervang word. Die Naam “Yahweh” word gemiddeld 7 keer in elke hoofstuk van die Voor-Messiaanse gedeelte van die Skrif gebruik. Dit wil sê: Bybels wat die Naam met “Lord” of “Here” weergee, het gemiddeld 7 keer per hoofstuk van die Voor-Messiaanse Skrifte ‘n “item” weggelaat. Wat is hierdie “item”? Die belangrikste item denkbaar, naamlik die Naam van die Outeur wat nie net AGTER die Skrifte sit nie, maar ook die Een is OOR WIE die Skrifte gaan!

Om terug te kom na die getal 14. Die Naam van Yahweh kom 14 keer in Genesis 24 voor. Genesis 24 is die hoofstuk wat gaan oor Avraham wat sy dienskneg, Eliézer gestuur het om vir Yietsgak ‘n vrou te soek. Wat so besonders van hierdie hoofstuk is, is dat Yahweh hierin soms die Elohiem van die hemel genoem word, soms die Elohiem van die hemel en die aarde, en soms die Elohiem van Avraham. Het jy al daaraan gedink watter uitnemende voorreg dit is om die Elohiem van die hemel en die aarde, JÓÚ Elohiem te noem, en Hom by sy Naam te kan noem, net soos wat Avraham, Yietsgak en Yaákov Hom as HÚLLE Elohiem geken het en Hom by sy Naam genoem het? Niks in hierdie lewe tel méér as dit nie! Nog ‘n hoofstuk waarin die Naam van Yahweh 14 keer voorkom, is Exodus 6. Hierdie hoofstuk bevat daardie omstrede vers wat deur sommige Bybels só vertaal word: “Ek het aan Avraham, Yietsgak en Yaákov verskyn as El, die Almagtige, maar met my Naam Yahweh, het Ek My NIE aan hulle bekend gemaak nie.” Ons weet egter drie dinge: (1) Hierdie drie aartsvaders het beslis Yahweh se Naam geken en Hom gereeld by hierdie Naam aangeroep, (2) Sinne wat soos stellings lyk in Hebreeus, móét soms as vrae vertaal word, en (3) As hierdie vers as ‘n vraag vertaal word, is daar geen teenstrydigheid met ander gedeeltes van die Skrif nie. Nog ‘n hoofstuk waarin die Naam van Yahweh 14 keer voorkom, is Numerie 17 wat vir ons die wonderwerk beskryf van Aharon se staf wat oornag met botsels en bloeisels en selfs ryp amandels uitgeloop het. In die meeste nie-Hebreeuse Bybels bestaan hierdie hoofstuk net uit 13 verse, maar in die Hebreeuse teks is die laaste 15 verse van hoofstuk 16, eintlik deel van Numerie 17, sodat Numerie 17 nie uit 13 verse bestaan nie, maar 28 (2 maal 14), met die Naam van Yahweh wat boonop presies 14 keer daarin voorkom. Mag sy Naam ‘n stuk lewe en skoonheid in ons lewens inbring, soos die botsels en amandels aan Aharon se staf!

Een van die min name in die Skrif met ‘n numeriese waarde van 14, is die naam Dawid of Dawied. Wat ‘n sterk invloed het die nalatenskap van Dawied nie op elkeen van ons se lewens gehad nie! Dink aan die skat van inspirerende Psalms wat Hy vir ons nagelaat het en ons verbintenis met hom deur ons verhouding met Y’shua van Nasaret wat uit sy nageslag voortgekom het. Dink aan 1 Samuel 17:14 wat vir ons sê dat Dawied die jongste van sy broers was en aan die feit dat hierdie jongste een, nie sy ouer broers wat reeds deel van Shaul se leër was nie, aangebied het om teen Goliat te veg en dat hy die enigste strategie wat hy geken het, hardop teenoor Goliat uitgespreek het: “Ek kom na jou toe in die Naam van Yahweh!” By Dawied leer ons van die krag van Yahweh se Naam. Dink aan 1 Samuel 18:14 wat vir ons sê Dawied was voorspoedig in al sy weë, want Yahweh was met hom. Is daar iets meer of beter wat ons uit die hand van Yahweh kan begeer? By Dawied leer ons van die geheim van voorspoed. Dink aan 1 Samuel 20:14 waar Jonatan vir Dawied vra om aan hom DIE GUNS VAN YAHWEH te bewys, net soos wat ek en jy 3000 jaar later aan Dawied se nasaat, Y’shua, gevra het om aan ons ook die guns van Yahweh te bewys. By Dawied leer ons wat guns beteken. Dink aan 1 Samuel 22:14 waar ‘n priester met die naam van Agimeleg, een van die mooiste getuigskrifte aangaande Dawied gee wat daar seker kan wees: “Wie onder al die koning se dienaars is so getrou soos Dawied”? By Dawied leer ons van getrouheid. Dink aan 1 Samuel 23:14 wat vir ons sê dat Shaul oral na Dawied gesoek het om hom dood te maak, maar dat Yahweh hom NIE in sy hand oorgegee het. By Dawied leer ons van Yahweh se beskerming.

Dink aan 1 Samuel 24:14 waar Dawied, ten spyte van alles, weier om sy hand teenoor koning Shaul te lig en, in die proses sy eie koningskap begin, nie deur die lewe van sy voorganger te neem nie, maar deur die lewe van sy voorganger te spaar. By Dawied leer ons van integriteit en vergifnis. Dink aan 2 Samuel 6:14 wat vir ons beskryf hoe hy MET ALLE MAG gedans het voor die aangesig van Yahweh en watter nuwe verstaan Dawied se onbeskroomde lofprysing vir ons gebring het in ons aanbidding voor Yahweh. By Dawied leer ons van lofprysing. Dink aan 2 Samuel 7:14 waar Yahweh hierdie woorde vir Dawied sê: “Ek sal vir jou ‘n Vader wees, en jy sal vir My ‘n seun wees” en hiermee die grondslag lê vir een van die grootste dinge wat Y’shua, die Seun van Elohiem vir ons kom doen het en wat onder meer in die bekende Johannes 1:12 verwoord word: “Aan almal wat hom (Y’shua) aangeneem het; het hy die mag gegee om kinders van Elohiem te word.” By Dawied leer ons van die mees merkwaardige Vader-kind verhouding wat bestaan. Dink aan 2 Samuel 8:14 wat vir ons sê dat Yahweh aan Dawied die oorwinning gegee het oral waar hy getrek het. Hoe totaal anders word oorwinning nie hierin voorgestel nie, as die wêreld se model van “As JY wen, word JY opgehemel”? By Dawied leer ons van die regte manier van wen en van “gee eer waar eer toekom”.

In Psalm 14 sê Dawied iets wat beter inpas in ons moderne wêreld as die wêreld van sy dag: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen Elohiem nie.” Baie mense sê dit vandag ook in hulle hart. Hulle spreek dit nie hardop uit nie, maar hulle glo dit in hulle hart. En in die proses verloor die lewe vir sulke mense sy sin en betekenis en sy smaak. Wat ‘n voorreg om soos Dawied in Psalm 18:14 te kan sê: Die Allerhoogste het sy stem laat hoor en daardie stem het tot by my ore gekom. En dit is vir my genoeg. HY is vir my genoeg! Hy is my El Shaddai! (Letterlik: die El wat GENOEG is – die numeriese waarde van “dai” is 14). Dawied se Psalm 14 het net 7 verse. Maar die omgekeerde van 14 is 41. Psalm 41 is ook ‘n Psalm van Dawied. En Psalm 41:14 kan ons vandag maar net met ons hele hart beaam: “Geseënd is Yahweh, die Elohiem van Yiesraél, van ewigheid tot in ewigheid! Amein en amein!”

 

Views: 0

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *