JOSHUA EN KALEB TIPE GELOOF

alternate text‘n Mens vergeet soms dat die periode van 40 jaar wat die volk Yiesraél in die woestyn deurgebring het, ‘n baie spesifieke oorsprong het. Dit is aangekondig toe die 12 verspieders uit die Beloofde Land teruggekeer het en 10 van hulle ‘n absolute negatiewe en angsbevange prentjie van die land geskilder het. Dis tóé dat Yahweh gesê het: “Ooreenkomstig die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank” (Num 14:34). Party kommentare beskryf die motief agter hierdie eksponensiële vermeerdering van 40 dae na 40 jaar as volg: “Thereby, they shall know by sad experience the evil of complaining and murmuring against Yahweh”. Behalwe die 40 jaar woestyn vonnis, was daar nog verdere reperkussies: Nie een van die generasie wat gerebelleer het sou die land binnegaan nie. Net hulle kinders, saam met Yoshua en Kaleb, sou die beloofde Land beërf. En die tien verspieders wat die negatiewe verslag gebring het, sou onmiddellik met ‘n plaag doodgemaak word. En om alles te kroon: Toe ‘n gedeelte van die volk die volgende dag, direk téén Mosheh se woord, vir hulleself ‘n pad na die Beloofde Land probeer oopveg, word hulle beslissend deur die Amalekiete en Kanaäniete verslaan, eenvoudig omdat Yahweh nie by hulle was nie. As ons vir AI moes vra om ‘n lied oor hierdie voorval te maak, sou hy dit summier weier en sê dis “inappropriate content” omdat dit te veel geweld en doodslag bevat!

Sagaria 8, met altesaam 40 vermeldings van die Naam Yahweh of sy woorde, sluit baie treffend aan by die tema van die verspieders en die 40 dae wat 40 jaar geword het. Numerie 14 sê vir ons dat die volk ná die terugkeer van die verspieders, een hele nag geween het. Sommige rabbi’s glo dat die volk daardie nag verniet geween het en dat daardie selfde nag, Tisha B’Av, later, met gereelde tussenposes, ‘n nag (en ‘n dag) geword het waarin die volk oorvloedige rede gehad het om te ween. Twee tempels wat verwoes is – 655 jaar uit mekaar uit. ‘n Menseslagting met die Bar Kogba Opstand in die jaar 135, wat aanleiding gegee het tot die uitdrywing van Jode uit hulle eie land, 1800 jaar lank. Die uitdrywing van Jode uit Engeland in die jaar 1290. Die uitdrywing van Jode uit Spanje in die jaar 1492. En die begin van die massa deportasie van Jode uit die Warsaw Ghetto, in 1942 tydens die 2de WO, na straf kampe waar hulle uiteindelik doodgemaak sou word. Alles óp, of baie naby aan, die dag van Tisha B’Av. En Sagaria 8 verwys waarskynlik na hierdie dag, wanneer dit praat van die vas van die vierde maand, die vyfde maand (Av!), die sewende maand en die tiende maand. Meeste Skrifverklaarders meen dat hierdie 4 vasdae almal gekoppel kan word aan die gebeure rondom die begin van die Babiloniese Ballingskap en die verwoesting van die eerste tempel in die jaar 586vM.

Sagaria bring ‘n boodskap van hoop en verlossing aan hierdie volk wat elke detail van die verspieders en die verraad van die 10, die druiwe en die drama van die reuse, en die woestyn en die weerstand van die massas geken het. Hulle weet alte goed van die ouer garde wat omgekom het in die woestyn en die jonger generasie, of oorblyfsel, wat ingekom het in die Beloofde Land. Daarom gebruik hy begrippe soos wingerd en vrug en ou manne en ou vroue en jong kinders en oorblyfsel. Maar sy boodskap verskil soos handomkeer van dit wat in Bemiedbar (letterlik: “in die woestyn”) gebeur het. Yahweh gaan iets nuuts doen! Die druiwetros bevat nie meer ‘n saad van ongeloof soos vroeër nie, maar ‘n saad van vrede. Vroeër was daar vrees en verwarring en vloeke en vasdae. Maar op ‘n tyd wat Yahweh bepaal het, gaan daar nou veiligheid en verlossing en vrolikheid op ‘n groot skaal wees. En luister hier: Tien man uit al die tale van die nasies (dieselfde aantal as die tien verspieders wat nie in dieselfde kamp gestaan het as Joshua en Kalev nie), gaan die soom van ‘n Yehudiese man (soos Kaleb) vasgryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat Elohiem met julle is. Dit is iets wat net Yahweh kan doen. Net Hy kan ‘n mens se vas en vrees in ‘n fees van standvastigheid verander. En is dit nie merkwaardig dat Yoshua van die stam van Efraim, en Kaleb van die stam van Yehudah was nie. Dat die twee getroue verspieders verteenwoordigend van die twee groepe was wat later die verdeeldheid binne-in Israel sou uitspel, maar profeties alreeds die boodskap ingehou het dat Yahweh daardie verdeeldheid totaal sal uitwis – tot op die punt dat tien man (oftewel: derduisende mense) uit die wêreld se tale en nasies, verteenwoordigend van die verlore tien stamme van Israel, sal kom, gestroop van hulle trots, en vir ‘n Jood sal sê: Daar is iets onweerstaanbaar wat my aan jou verbind!

In die boek Bemiedbar of Numerie het die tien verspieders na die reuse en die versterkte mure van die stede in die Beloofde Land, en selfs na die groot druiwetros, gekyk met fisiese oë, NIE met oë van geloof nie. Die één boek in die Skrif wat gelowiges oor die eeue heen aangemoedig het om na hulle omstandighede met oë van geloof te kyk, is die boek van Hebreërs. Die woord “Hebreërs” kom van ‘n woord wat beteken “om oor te steek” (soos wat Avraham die Eufraat rivier oorgesteek het en die Israeliete later die Jordaan rivier oorgesteek het) of “om aan die ander kant te gaan staan”. Die eerste mens wat ‘n Hebreër genoem is, is Avraham. Die Joodse kommentators sê Avraham word nie net ‘n Hebreër genoem omdat hy die Eufraat rivier oorgesteek om na die land toe te gaan wat Yahweh vir hom aangewys het nie. Dis het ook ‘n diep geestelike betekenis: Die hele wêreld het aan die een kant gestaan en Avraham het aan die ander kant gaan staan. In die wêreld word daar met fisiese oë gekyk. Maar Avraham het met die oë van geloof gekyk en hy was dikwels die enigste een van sy generasie wat die moed gehad het om dit te doen. Daarom sê Hebreërs 11 Avraham het die stad verwag wat fondamente het, waarvan Elohiem die boumeester en oprigter is. Dis waarom hy die vader van die gelowiges genoem word. As gelowiges behoort ons telkens soos Avraham met ons keuses en ons optrede te wys dat ons bereid is om aan die ander kant te gaan staan en deur oë van geloof te kyk – nie net na die reuse en die mure voor ons nie, maar ook na die belofte en die potensiaal wat daar in een enkele druiwetros opgesluit kan lê.

Hebreërs 3 is geskryf teen die agtergrond van wat daar in die woestyn gebeur het toe so te sê die hele volk die hart teen Yahweh verhard het, omdat 10 verspieders ‘n saad van ongeloof in hulle midde geplant het. Niks laat ‘n mens so gou van die lewende Elohiem afvallig word nie, as wanneer jy plek maak vir ‘n ongelowige hart, sê Hebreërs 3:12 vir ons. En laat ons vir geen oomblik dink dat so ‘n massa demonstrasie van ongeloof nie vandag meer kan gebeur nie. Dis juis waarom Hebreërs 3 die woorde van Psalm 95 aanhaal en uitdruklik sê: VANDAG, as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie! Dis vandag dat ek en jy ook moet kies om nie die deur oop te maak vir ongeloof en hardheid om in ons harte in te kruip nie. Dis vandag dat ons soos Avraham moet kies om aan die teenoorgestelde kant as die geloofs-weerstandige deel van die wêreld te gaan staan. Dis vandag dat ons soos Shaúl (Paulus) moet verklaar: Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, na die hoë roeping waarmee Elohiem my geroep het, en wat alles met Y’shua te make het.

En van Y’shua gepraat. Sy Naam is ‘n afgeleide vorm van Yehoshua. Presies dieselfde naam as die een wat vroeër saam met Kaleb gekies het om met die oë van geloof te kyk na die reuse en die mure en die druiwetros, as die erfdeel wat Yahweh vir sy volk afgemeet het. Ons het vroeër gesien dat hierdie Yehoshua of Yoshua van die stam van Efraim (of Efrayiem) was, wat die benaming is wat die Skrif dikwels gebruik om na die Noordelike Tien stamme te verwys, wat later deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is en met die nasies van die aarde vermeng geraak het. En net soos wat Yehoshua of Yoshua vroeër ‘n geesgenoot in die vorm van Kaleb langs hom gehad het, wat uit die stam van Yehudah was – simbolies van die wesenlike eenheid tussen Efraim en Yehudah in Yahweh se oë – net so word daar 1300 jaar na die aardse lewe van hierdie Yehoshua, nog ‘n geesgenoot (en ‘n naamgenoot!) vir hom gebore – ook uit die stam van Yehudah. En met hierdie een se geboorte kom bevestig Yahweh opnuut dat Hy die herstel en die eenheid van sy volk absoluut op Sy hart dra. Y’shua het nie net gekom om ons met Yahweh te verenig nie. Hy het ook gekom om ons met Sy herstelde en eensgesinde volk te verenig! Hy het gekom om ons weer deel te maak van die ware nageslag van Avraham. Ons weet nie presies hoe die verhouding tussen fisiese Israel en gelowiges uit die nasies in die toekoms gaan uitspeel nie. Maar ons weet dat Yoshua en Kaleb-tipe geloof deurslaggewend gaan wees. En dat Sagaria in die kol was toe hy geprofeteer het dat mense uit alle tale na die getroue Jode sal kyk en vir hulle sal sê: Ons wil met julle saam gaan want ons het gehoor dat Elohiem met julle is!

 

Views: 4

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *