WOORDE WAT JOU LAAT REGUIT LOOP

alternate textDie naam van die eerste Torah Leesstuk van die boek Deuteronomium, is Devariem (“Woorde”), wat ook die naam van die hele boek is – na aanleiding van die heel eerste vers van die boek: “Dit is die WOORDE waarmee Mosheh die hele Yiesraél toegespreek het …”. Daar is min twyfel dat WOORDE binne die raamwerk van GELOOF ontsettend belangrik is. Woorde kan geloof opwek. Die apostel het in Romeine 10 gesê: “Naby jou is die woord van geloof, in jou mond en in jou hart.” Met ander woorde: ‘n Woord (of woorde) moet eers naby jou kom om gehoor en geglo te kan word. Wanneer jy hierdie woorde glo, kom dit eers in jou mond (sodat jy dit met groot blydskap bely en daaroor praat) en dan in jou hart (sodat dit jou oor die lang termyn kan sterk maak en bemoedig in tye van swaarkry). Woorde kan jou werklik laat reguit loop in die geloof. Maar woorde kan ook geloof laat SINK. Wanneer mense en leermeesters die woord van waarheid selfs net effentjies verdraai of vervals, kan dit die geloof van niksvermoedende luisteraars op ‘n dwaalspoor plaas en, in sommige gevalle, vernietig. Daar is selfs aanduidings in hierdie eerste Torah Leesstuk van Devariem dat iemand of iets veroorsaak het dat sekere woorde subtiel verander is – soveel só, dat die waarheid daardeur vertroebel is.

Wanneer Mosheh in die eerste hoofstuk van Devariem met die volk begin praat en vir hulle ‘n oorsig gee oor die hoogtepunte en laagtepunte van die voorafgaande 39 of 40 jaar in die woestyn, verwys hy onder meer na die episode van die uitstuur van die 12 VERSPIEDERS, waarvan Kaleb en Yahushua die bekendstes was. Daar is egter ‘n paar dinge in hierdie tweede weergawe van die insident van die 12 verspieders wat nie heeltemal klop met die eerste weergawe in Numerie of Bemiedbar 13 nie. Dis asof daar met die WOORDE gepeuter is. Kom ons kyk kortliks na die twee beskrywings:

Num 13:1-2 En YAHWEH het met Mosheh gepraat en gesê: Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kenaán wat Ek aan die kinders van Yiesraél sal gee, kan VERKEN (“tur” = tour, explore, inspect).

Deut 1:22 Toe het JULLE ALMAL na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur dat hulle vir ons die land kan VERKEN (“chafar” = spy, pry, snoop).

Daar is minstens TWEE OPVALLENDE VERSKILLE. In die eerste weergawe het Yahweh vir Mosheh die opdrag gegee om verspieders uit te stuur. In die tweede weergawe het die VOLK na Mosheh toe gekom en voorgestel dat daar verspieders uitgestuur word. En dan die tweede verskil: In die eerste weergawe het Yahweh vir Mosheh gesê die verspieders moes die land gaan verken en ‘n woord daarvoor gebruik wat meer die betekenis van “toer en waarneem”, as “spioeneer” het. They had to EXPLORE the land. Maar in die tweede weergawe lyk dit asof die volk ‘n ander idee gehad het. Die 12 manne moes as spioene in die land ingaan. ‘n SPIOEN is iemand wat in die geheim, op ‘n slinkse manier inligting inwin – iemand wat om die hoekies loer en in donker plekke wegkruip. In Numerie se weergawe, waar die woord “tur” 13 keer gebruik word, was dit duidelik nie die idee dat die verkenners in Kanaän op ‘n slinkse manier moes gaan “pry” en gaan “snoop” nie. Die woord “tur” beteken om te gaan kyk wat goed en aantreklik is in ‘n plek, soos wat dit duidelik in die Afrikaanse woord “toer” na vore kom. Maar die woord “chafar” beteken om met ‘n vooropgesette idee te gaan kyk na ‘n plek, omdat dit vir jou die plek van die vyand is, die plek wat vir jou ‘n bedreiging inhou. Wie het besluit om die woorde hier in Devariem só te verander?

Daar is baie kommentators wat in die verlede met MOONTLIKE ANTWOORDE vorendag gekom het, oor hoekom Numerie en Deuteronomium se weergawes nie met mekaar klop nie. Die verklaring wat vir my die meeste sin maak, in ‘n neutedop, is dat dit wel DIE VOLK is wat na Mosheh toe gekom het met die versoek om verkenners na die land te stuur (soos daar in Deuteronomium staan). Mosheh het toe vir Yahweh daaroor geraadpleeg en, soos daar in Numerie 13 staan, het Yahweh vir Mosheh gesê dat hy verkenners mag instuur, maar dat hulle moes toer en rondkyk en sien hoe vrugbaar die land is en moes terugkom en dit as getuies aan die volk moes oordra. Yahweh het sy toestemming gegee vir “tur”, nie vir “chafar” nie. Vanuit Yahweh se perspektief, was dit nie nodig dat daar spioene moes ingaan nie, net soos wat dit vir 40 jaar lank in die woestyn nie nodig was dat daar spioene voor die volk moes uittrek nie. Waarom was dit nie nodig nie? Want die WOORDE van Devariem bevestig dit: “Dit is YAHWEH wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle ‘n plek uit te soek om julle kamp op te slaan, snags in die vuur om julle te laat sien op die pad waar julle langs moes trek, en bedags in die wolk” (Deut 1:33).

Volgens Numerie se verslag lyk dit egter asof Mosheh hierdie vergunning van “tur” NIE HEELTEMAL REG aan die verspieders oorgedra het nie en vir hulle gesê het hulle moes die land gaan bekyk, “hoe dit is, of die volk wat daarin woon, sterk of swak is, of daar min of baie mense is, of die land goed of sleg is en of die stede beskerm of onbeskerm is” (Num 13:18-20). Dit lyk gevaarlik baie na “chafar”, die aktiwiteite van ‘n spioen, nie na “tur” nie. Sommiges meen (dalk heeltemal tereg) dat DIT die eintlike rede is waarom Mosheh verbied is om in die Beloofde Land in te gaan. Want met hierdie subtiele verdraaiing van Yahweh se woorde, het Mosheh ‘n saad van ONGELOOF gesaai wat 40 dae later, toe die verspieders teruggekom het, totale chaos en verwarring en grootskaalse ongeloof onder die hele volk veroorsaak het.

Hoe dit ook al sy, ons word deur Devariem opgeroep om te let op ons WOORDE, en bo alles te let op die WOORDE van Yahweh en seker te maak dat ons nie sy woorde VERDRAAI of VERVALS of, sonder om enigsins daaraan te verander, dit inspan en misbruik vir ons EIE GEWIN nie. Soos Job moet ons ook met ‘n skoon gewete kan sê dat ons die woorde van die Afgesonderde nie verloën het nie (Job 6:10). Ons behoort gereeld die gebed van Dawid te bid: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o Yahweh, my rots en my verlosser” (Ps 19:14). Anders raak die woorde van ons mond, net soos die woorde van die kwaaddoeners van Psalm 36, vol van onreg en bedrog. Spreuke sê ons woorde kan genesing vir die beendere en ‘n fontein van wysheid wees, maar in sommige mense se monde is woorde soos ‘n sinkgat wat onskuldige mense se dood veroorsaak.

Dis baie betekenisvol dat Romeine 10 die punt maak dat die woord van geloof NABY aan ‘n mens is. Hoe naby is dit? Net so naby as wat die woorde van vernietiging aan jou is. Woorde wat verslind (Ps 52:4), woorde wat verlei (Efes 5:6) en woorde wat weerspreek (2 Tim 4:15), is niks verder van ons af as die suiwer woorde van geloof nie. Ons lewe in ‘n samelewing waarin allerlei soorte woorde selfs NADER aan ons is as tevore. Die persoon wat die woorde uitspreek, mag ver van jou af wees, maar die TEGNOLOGIE van rekenaars en selfone en oorfone bring dit nader aan jou as die woorde van die mense wat saam met jou in dieselfde huis woon. En die persoon wat die woorde uitgespreek, mag in jou oë die gestalte en die geloofwaardigheid en die leierseienskappe van Mosheh uitstraal, veral as sy woorde gereeld uit Amerika of uit Israel of oor YouTube uitgesaai word.

Maar die vraag is of hierdie woorde die suiwer geloof OPWEK, of die suiwer geloof ONDERDRUK. Daar is daagliks tientalle voorbeelde van woorde wat op die sosiale media gehoor kan word, wat meer van ‘n VERSPERRING is in die proses om Yahweh se woorde reg te hoor, as wat dit ‘n hulp is. Sommige van hierdie woorde en boodskappe word – met goeie bedoelings – met ander “geshare”, selfs op ‘n groep soos ElimPlus, omdat die een wat dit aanvanklik gehoor of gesien het, nie altyd dadelik die misleiding daarin kan optel nie. Op sigself is daar niks hiermee verkeerd nie en ek verwelkom dit om na andere se standpunte te luister en nuwe insigte te hoor en notas te vergelyk. Maar ons behoort vandag meer aandag te gee aan 2 Tim 2:15 as ooit tevore – júís omdat ons daagliks deur sosiale media met ‘n STORTVLOED van woorde gebombardeer word: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor Elohiem te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” Kom ons neem ons opnuut voor om SO NÁ AS MOONTLIK aan die woorde en die bedoeling van die oorgelewerde Woord van Elohiem te bly, en in lyn met die heel laaste woorde van die Messias wat vir ons in die Skrif opgeteken is (in Openbaring 22), niks daar by te voeg en niks daarvan weg te neem nie.

Views: 26

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *