Die hoofstuk waarop ons verlede week gefokus het, Esegiël 36, eindig met die agt woorde: “EN HULLE SAL WEET DAT EK YAHWEH IS” (Eseg 36:38). Hoe wens ons nie vandag dat mense tog tot hierdie ontdekking mag kom nie! Dat meer en meer mense sal weet dat die onsigbare Een wat hulle dalk al 20 of 30 of 50 jaar lank aanroep, YAHWEH is! Dat die kragtige hand wat hulle al soveel keer uit die diepste denkbare nood gered het, die hand van YAHWEH is! Dat die Een wat in beheer van hierdie deurmekaar wêreld bly, YAHWEH is, al lyk dit soms of daar letterlik net ‘n handjievol is wat dit raaksien en erken. Dat mense nie meer sal twyfel nie, maar sal WEET dat dit net YAHWEH is wat ‘n volmaakte werk kan doen, wat herstel kan bring en wat weer diepte en betekenis en hoop in ons lewens kan indra!
Die hele vers aan die einde van Esegiël 36 wat met hierdie agt woorde eindig, klink só: “Soos die afgesonderde skape, soos die skape van Yerushalayiem op sy feestye, so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; EN HULLE SAL WEET DAT EK YAHWEH IS.” So, wat is die eintlike teken (volgens hierdie vers) waaraan mense, êrens in die toekoms – heel waarskynlik ná die koms van die Messias – sal wéét dat Yahweh dáár is en sal wéét dat Hy ‘n besonderse werk gedoen het? Plekke wat voorheen in puin gelê het, sal vol wees van kuddes van mense, kom die antwoord in hierdie vers baie duidelik. Kom ons gaan een stappie terug. Waarom gaan daar soveel plekke wees wat in puin lê (Engels: “ruined places, wasted places, desolated places”)? Die Skrif sê oor en oor dat dit die mense se sonde en ongehoorsaamheid en ongeregtigheid is wat maak dat al hoe meer plekke en stede en lande in puin gelê sal word. Ons eie land is nie hiervan uitgesluit nie. Kyk hoeveel vernietiging en onherstelbare skade het individue en politieke partye en arrogansie en geldgierigheid en die gees van korrupsie nie al in ons land tot stand gebring nie. “Puin” is ‘n woord wat met vernietiging, verdorring en onherstelbare skade te make het. En die enigste manier hoe mense gaan wéét (sonder enige twyfel) dat Yahweh op daardie plekke ingegryp het, is as dit wat onherbergsaam en onherstelbaar en onherkenbaar, totaal bedorwe was, weer opgerig word en weer krioel van lewe en weerklink van kinderstemme en van gelag en van lofprysing. Dit sal só groot en opvallend wees, dat almal sal weet dat dit net die Een is wat in die Skrif YAHWEH genoem word, wat dit kon gedoen het!
Juis om hierdie rede behoort ek en jy in die gewoonte te kom om Yahweh by sy Naam te noem, veral wanneer ons verstaan dat die Een wat in ons lewens werk, dieselfde Een is wat in die Skrif ook gewerk het. EN HULLE SAL WEET DAT EK YAHWEH IS. Weet ons dit nie alreeds nie? En as ons dit weet, waarom skram ons weg van sy Naam? Is dit normaal dat ons voorlopers in die geloof, lank gelede, sy Naam erken en aangeroep het en dat ons en ons opvolgers in die toekomstige bedeling sy Naam sal erken en aanroep, maar dat óns, hier in die middel êrens, as gevolg van al die gekruisde lyne van die stemme van rabbi’s en kerkleiers en sogenaamde kenners van die regte uitspraak van die Naam, nog steeds nie onsself tuis voel in die groep van mense wat wéét dat Hy Yahweh is nie? Weet ons dat Hy Yahweh is of weet ons dit nie? As ons dit weet, het die tyd nie al lankal aangebreek dat ons sal ophou om die uitspreek van sy Naam te vermy, asof ons nie seker is dat dit werklik Hy is wat in ons lewens en in ons wêreld aan die werk is nie?
EN HULLE SAL WEET DAT EK YAHWEH IS. Twintig keer kom hierdie agt woorde net so in die Skrif voor – en al 20 keer is dit in die boek van Esegiël. Die eerste keer is Esegiël 6:10: “En hulle sal weet dat Ek Yahweh is; Ek het nie tevergeefs gepraat nie …” Daar is ‘n dag wat kom waarin duisende mense sal ontdek dat Yahweh nie tevergeefs gepraat het nie. Dat sy woorde nie maar net woorde in die wind was nie. Dat elke woord wat uit sy mond gekom het, die waarheid was. En dit sal hulle berou dat hulle nie na sy woorde geluister het nie. Hulle sal dán WEET dat hy Yahweh is, maar hulle sal spyt wees dat hulle nie al lankal sy woorde en sy werke nagespeur het nie. Dat hulle nie al lankal ag geslaan het op die roepstem van sy Gees in hulle harte nie. Hulle sal weet dat Hy Yahweh is, maar die vraag is: Sal dit nie dan al te laat wees nie?
Esegiël 7:27 is een van die verse wat dit selfs nog duideliker beklemtoon dat daar ‘n tyd gaan kom dat baie mense sal besef dat hulle met Yahweh te make het en berou sal hê dat hulle nie vroeër reeds na Hom toe teruggedraai het nie. In hierdie vers lees ons: “Ek sal met hulle handel ooreenkomstig hulle weg, en ooreenkomstig hulle verordeninge sal Ek hulle VONNIS; en hulle sal weet dat Ek Yahweh is.” Hoe tragies moet dit wees om eers met die VONNISOPLEGGING – eers wanneer daar STRAF uitgedeel word – te besef dat die Een met wie jy te make het, toe al die tyd Yahweh was! Dink net hoeveel anders kon dit gewees het as jy reeds met die GUNSBETONING – toe Hy sy gawes en sy goedheid uitgedeel het – besef het dat Hy Yahweh was en sy Naam tóé al reeds aangeroep en vereer het!
Esegiël 12:16 bring vir ons nog ‘n besonderse waarheid na vore: “Ek sal van hulle ‘n klein klompie laat oorbly van die swaard, die hongersnood en die pes, sodat hulle al hulle gruwels kan vertel onder die nasies waar hulle kom; en hulle sal weet dat Ek Yahweh is.” As jy deur ‘n periode van swaarkry gegaan het, is jou eerste reaksie nie om vir ander van jou en jou mense se GRUWELS en julle dade van ongehoorsaamheid te vertel nie. Nee, jy vertel liewer van jou SWAARKRY en van jou pyn. Jou eerste gedagte is dat mense jóú moet jammer kry, NIE dat hulle Yahweh beter sal leer ken nie. Veral nie dat hulle sal vermoed dat dit dalk weens jou ongehoorsaamheid is dat hierdie dinge oor jou gekom het nie. Ek is bevrees om te sê dat Israel self, en diegene wat met Israel simpatiseer, geneig is om op al die gruwels van Romeinse keisers en die Duitsers en die moderne gestaltes van Anti-semitisme te fokus, wanneer hulle (soos hierdie vers dit stel) “vertel onder die nasies”, NIE op Israel se eie gruwels en hulle eie ongehoorsaamheid teen die Woord van Yahweh nie. En wat van ons? Sien ons ons eie oortreding raak, en vertel ons daarvan onder die nasies, sodat hulle na Yahweh toe kan draai, of kry ons onsself só jammer dat ons nie die moed het om na die gruwels in ons eie midde te wys of dit selfs net te noem nie?
Ons het reeds voorheen gesien dat Esegiël 34 tot 37 as ‘n eenheid gelees kan word, omdat daar dikwels in hierdie vier hoofstukke oor die HERDERS en die KUDDE gepraat word. Esegiël 34:27 is ‘n woord vir die kudde waarna ons baie goed behoort te luister: “En hulle sal weet dat Ek Yahweh is as Ek hulle jukskeie stukkend breek en hulle red uit die hand van die wat hulle diensbaar gemaak het.” Oor en oor in Esegiël 34 staan daar dat Israel ‘n geskiedenis gehad het van herders wat net aan hulleself weiding verskaf. In plaas dat die herders die jukke van die nekke van die kudde afgehaal het, soos wat hulle veronderstel was om te doen, het hulle die jukke swaarder gemaak. In plaas dat die herders die kudde BEDIEN het, het hulle die kudde aan hulleself en aan hulle eie egos en hulle eie gierigheid, maar ook hulle eie geestelike blindheid, DIENSBAAR gemaak. En één seker manier waarop die volk gaan weet dat hulle Elohiem YAHWEH is, is wanneer Hy ‘n Herder vir hulle gaan oprig, wat werklik hulle jukke gaan verbreek en vir hulle ware weiding, beskerming, rus, herstel en bevryding gaan bring. En hierdie herder gaan nie sommer enige herder wees nie. Twee keer in Esegiël 34 en twee keer in Esegiël 37 word dit onthul dat hy uit die geslag van Dawied sal wees. En om seker te maak dat daar geen misverstand oor die identiteit van hierdie toekomstige Herder onder die volk sal bestaan, en oor sy verhouding tot Yahweh nie, sê die Skepper, by monde van die profeet: Dan sal julle weet dat EK Yahweh is – let wel, NIE: Dan sal julle dink dat HY Yahweh is nie!
Kom ons kyk nog ‘n laaste keer na Esegiël 36:38 waarmee ons begin het en wat basies verklaar: “Hulle sal weet dat Ek Yahweh is, as Ek dit wat voorheen IN PUIN was, weer opbou en herstel.” Een van die woorde wat in Esegiël 36 vir “puin” gebruik word (altesaam 5 keer!), is “shamem”, wat ook as “verlatenheid, verwoesting en rampspoed” vertaal kan word. Is dit nie die eintlike boodskap van hierdie gedeelte vir ons, vandag, nie? Dat ons sal WEET en ERKEN dat die Een wat ons aanbid, Yahweh is, wanneer Hy iets aan ons verlatenheid doen, en wanneer Hy orde skep in die verwoesting in ons lewens, en wanneer Hy ons rampspoed omkeer in voorspoed. Die Skrif bevestig dit oor en oor: Wanneer ons gees versmag in ons, en ons harte omgekrap is (“shamem”) in ons binneste, kom staan Hy as Yahweh hier reg voor ons en fluister: Kyk na die werk van my hande (Ps 143:4,5)! Wanneer dit vir ons voel of ons erfenis verwoes is (“shamem”) en Hy ons nie verhoor nie en skynbaar nie belangstel om ons te help nie, kom staan Hy as Yahweh hier reg voor ons en sê: Ek het ‘n tyd van welbehae en ‘n dag van verlossing vir jou bepaal – vertrou My (Jes 49:8)! Wanneer gevoelens van eensaamheid en verlatenheid en verlorenheid ons verswelg, kom staan Hy as Yahweh hier reg voor ons en bring in ons harte die oortuiging dat die kinders van die eensame (“shamem”) méér is as die kinders van die getroude (Jes 54:1). Wanneer ons ons skaar by die treurendes en ons gees verslae is, kom staan Hy as Yahweh hier reg voor ons en gee vreugde-olie vir ons treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ons neerslagtigheid en die versekering dat dit wat voorheen verwoes is (“shamem”) , weer opgerig sal word (Jes 61:3-4)! Daar is geen twyfel dat die Een wat in ons lewens aan die werk is, YAHWEH is en dat Hy altyd getrou aan sy Naam sal bly nie!
Views: 62