Daar is sewe dinge wat in Levitikus 1 tot 5 totaal anders plaasvind of totaal anders verwoord word, as wat ‘n mens sou verwag. Die eerste is dat ENIGE MENS voor Yahweh mag verskyn en sy of haar offer aan Yahweh mag bring (Lev 1:2 “As enige een van julle – ki adam mikhem – ‘n offer aan Yahweh wil bring…”). Die tweede is dat die PRIESTER ‘n dienskneg is, nie ‘n supermens nie. Hy is die een wat die bloed hanteer en die vuur aan die gang hou. Hy fasiliteer die aanbidding. Hy annekseer nie die aanbidding en laat ander voel dat hulle nooit by sy vlak sal uitkom nie. Die derde is dat daar versoening vir die mens met sy brandoffer aangebied word, voordat die dier nog verbrand word (1:4-5: Hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê, dan sal dit vir hom met GOEDKEURING aangeneem word om versoening vir hom te doen, dan moet hy die jong bul voor die aangesig van Yahweh slag). Die vierde is dat daar ‘n tyd was toe ‘n eenvoudige offer soos MEEL ook vir ‘n mens versoening kon bring (Lev 5:11-13 as hy nie twee duiwe kan bekostig nie, moet hy as offer die tiende van ‘n efah fynmeel as sondoffer bring … en hy sal versoening ontvang vir sy sonde).
Die vyfde is dat die bring van offers ook ‘n tyd van GEMEENSKAP tussen gewone mense, die priesters en die Allerhoogste was. ‘n Sekere porsie van die offers moes deur die mense geëet word, ‘n sekere porsie deur die priesters, en die vet is alleen vir Yahweh. Die Skrif verduidelik dat die sogenaamde “vrede-offer” nie net ‘n offer van vrede en danksegging is nie, maar ook ‘n offer van gemeenskap, waarby Yahweh ingesluit is. Die sesde is dat onbedoelde of ONOPSETLIKE sonde sáák maak in Yahweh se oë, omdat elke mens medeverantwoordelikheid dra vir die “shalom” van die hele gemeenskap. Selfs wanneer ek iemand onbewustelik te ná gekom het, moet ek daardie onreg regstel, na die beste van my vermoë. En die sewende gaan daaroor dat ware omgee dikwels met ‘n BONUS gepaard gaan. Nie net ‘n oog vir ‘n oog nie. Nie net: as jy R100 steel, gee jy R100 terug nie. Nee, selfs as jy in swakheid een deel van jou offers aan Yahweh weerhou het, moet jy later daardie deel bring en nog een vyfde daarby voeg. Geen wonder Y’shua het geleer dat as iemand jou teen jou sin 1000 tree laat loop, jy 2000 tree saam met hom moet loop nie. Ons uitgangspunt, wanneer dit by ‘n medemens kom, is nie net “tit for tat” of “iets vir iets” nie, maar ek doen vir hom soveel as wat ek kan, ongeag wat hy vir my gedoen het, ongeag wat ek hom skuld.
Jesaja 34 gaan voort op dieselfde trant as Parashah Vayiekra. Yahweh se manier van doen, en Sy patroon van geregtigheid, is dikwels net mooi die teenoorgestelde as wat ons verwag. Die edeles en die heersers van die land, wat gedink het hulle kan soos konings regeer en andere uit die hoogte uit hiet en gebied, sal in die stof byt, en in hulle plek sal die pelikane en die krimpvarkies en die jakkalse baljaar. Yahweh is nie ‘n Elohiem wat hom deur aansien en grootheidswaan laat voorskryf nie. Boonop is Hy nie die een dag so en die ander dag sus nie. Hy kan met een woord die aarde leeg maak. Maar nie een van Sy woorde sal ooit leeg na Hom toe terugkeer nie. Daarom pas dit ons om ons aan Sy woord en Sy onbetwisbare outoriteit te onderwerp.
Matteus 20 sluit hierby aan. Die gelykenis van die werkers in die wingerd, wat verskillende lengtes van skofte gewerk het, maar almal dieselfde vergoeding ontvang het, sê vir ons dat Yahweh se guns ‘n unieke geskenk is, wat uit Sy karakter voortspruit en nie uit ons meriete of verdienste nie. Johannes en Jakobus wil graag die beste sitplekke in die koninkryk hê, maar Y’shua keer hulle verwagting totaal op sy kop. Die vraag is of elkeen van hulle bereid is om nie net ‘n “diakonos” (dienskneg) te wees nie, maar ook ‘n “doelos” (slaaf). In die koninkryk werk dit so: Hoe hoër jy op beweeg, hoe meer mense gaan jy onder jou hê, na wie jy moet kyk en bedien en versorg. Jakobus en Johannes het gedink hulle kan sit op trone en drink uit goue bekers gevul met die beste wyn wat daar is. Maar Y’shua sê nie “legaim” nie. Hy vra vir hulle of hulle die beker kan drink wat Hy binnekort sou drink. Of hulle bereid was om te dien, selfs al kos dit hulle lewe.
Ons behoort nie verbaas te wees oor die verrassende en onverwagse patroon wat uit Levitikus en Jesaja en Matteus na vore kom nie. Is dit nie die manier waarop Yahweh nog oor alle tye heen gehandel het nie? Dink aan die bykans ongehoorde omkeer van die “reg” van die eersgeborene, in dit wat met Esau en Yaákov gebeur het, en Yahweh wat teenoor Rivkah (Rebekka), hulle ma, verklaar: die ouere sal die jongere dien. Dink aan die manier waarop hierdie patroon hom herhaal het met Yietsgak en Yieshmaél, Yosef en sy broers en Efrayiem en Manasheh.
Menslike logika sê vir ons ‘n leier moet status en ondervinding en statuur hê. Maar Shaúl en al Dawid se broers word oorgesien en hulle jonger boetie en skaapwagter-op-die-agtergrond word as koning deur Yahweh verkies. Dit, met die geklank van Yahweh se eie woorde in 1 Samuel 16:7: Nie wat die mens sien, sien Elohiem nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar Yahweh sien die hart aan. En op die wysie van Psalm 147:10 en 11, waar daar met ware wysheid gesing word: “Yahweh het geen welbehae in die krag van die perd, geen begeerte na die bene van die man nie. Nee, Hy het ‘n begeerte na die wat Hom vrees, wat op Sy goedertierenheid hoop.”
Enige mens met ‘n klein bietjie insig in militêre dinge, weet dat ‘n mens elke stryd met genoeg soldate en wapentuig moet aanpak. Maar Yahweh sê vir Gideon dat hy sy leër van 32000 na 300 soldate moet verminder. En so word ‘n klinkende oorwinning teen die gesamentlike leer van Midianiete en Amalakiete behaal, 450 keer so groot soos Gideon se bende, wat nie eens kwalifiseer vir die benaming “leër” nie. Die “swakkere” oorwin die “sterkere”. En die volk leer die belangrike les dat daar geen rede vir spiere bult en “fist pumps” en selfvoldaanheid is as jy so ‘n onwaarskynlike oorwinning behaal nie. Al wat jy kan doen, is om op te kyk, jou hand na die eintlike Oorwinnaar uit te steek en aan Hom die eer toe te bring.
In die antieke tye is ‘n vrou se “waarde” en “geseëndheid” dikwels gemeet aan haar vermoë om kinders te verwek. Onvrugbaarheid is in die algemeen verstaan as teken dat jy vergete of selfs vervloek is. Maar Sarah, Rivkah, Ragel, Hannah en Elisabet se ondervinding van die omkeer van onvrugbaarheid, bewys dat Yahweh nie dink soos wat mense dink nie. Dat daar nie eenvoudig net ‘n is-gelyk-aan-teken tussen SEËN en SEUN geplaas kan word nie. En dat geloof enige soort menslike verwagting en persepsie omver kan werp. Dit word alles prentjie mooi opgesom in Hannah se woorde in 1 Samuel 2:5: “Selfs die onvrugbare het sewe verwek, maar sy wat ryk aan kinders was, het verwelk.” Dis net in Afrikaans waarin die enersheid en die kontras tussen “verwek” en “verwelk” so duidelik met ‘n mens kan praat! Daar kan nog vele voorbeelde bygevoeg word: Yahweh wat die dwase dinge van hierdie wêreld (en mense wat as “dwaas” aangesien word!) uitgekies het om die wyses te beskaam (1 Korintiërs 1:27). Die uitgeworpene Samaritaan wat die priester en die Leviet in barmhartigheid oortref het in Y’shua se bekende gelykenis van Lukas 10. Die berouvolle tollenaar wat nie sy eie deugde besing het soos die Fariseër saam met hom in die tempel nie, maar homself op die bors geslaan het en uitgeroep het, O Elohiem, ek is ‘n sondaar. Bewys asseblief guns aan my! En Y’shua wat dit aangevul het met: Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word!
Die nuwemaan is een van die mooiste demonstrasies van die andersoortige manier waarop Yahweh werk. Wanneer iets kleiner word en verdwyn, volgens menslike logika, is dit ‘n teken van mislukking en dood. Maar vir die nuwemaan, om gebore te kan word, moet dit eers heeltemal verdwyn. En dan is dit daardie eerste skrefie wat die begin van die nuwe maand, of selfs die begin van ‘n nuwe jaar, aandui. Nie die volmaan nie. Nie wanneer die maan op sy helderste en sy mees aanskoulike is nie. En wanneer die maan, ná volmaan, weer in sy kleiner-word fase ingaan (“waning”), beteken dit nie hy verloor sy krag nie. Dit is doodeenvoudig die noodsaaklike voorbereiding vir ‘n nuwe begin. Want Yahweh het die geringste van die lig van die maan gekies om die eerste en belangrikste van elke maand aan te dui. Net soos in Y’shua se antwoord aan Johannes en Jakobus, en uiteindelik aan ons as sy volgelinge: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie (Matteus 20:25 -28).
Views: 1