‘n Sentrale gedeelte van die Torah porsie van verlede week was Exodus 31:13-17 wat na die Shabbat verwys as ‘n teken dat iemand hom met Yahweh assosieer. Hierdie week se leesstuk (Exodus 35 – 38) word “Vayakhel” genoem en, sommer met die intrapslag, word die tema van Shabbat weer op die tafel geplaas: (Ex 35:1-3) “Toe het Mosheh die hele vergadering van die kinders van Yiesraél bymekaar laat kom (“vayakhel”) en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat Yahweh beveel het, om dit te doen: Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n afgesonderdheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van Yahweh. Elkeen wat daarop werk verrig, moet doodgemaak word. Julle mag op die Shabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie.”
‘n Mens kan maklik verstrengel raak in allerlei moeilike vraagstukke as jy oor die Shabbat begin praat. Jy kan byvoorbeeld vasval en ‘n angs aanval beleef oor die destydse reëling dat iemand wat werk doen op die Shabbat, doodgemaak moes word. Maar ons het reeds hieroor gepraat. Die feite is ons kan nie vandag iemand doodmaak wat nie die Shabbat hou nie. Maar dít kan ons weet: Die Een wat die Shabbat vir die mensdom gegee het, heg nog steeds groot waarde aan hierdie dag. Hy wil nog steeds hê dat ons die dag moet hou en die seën van hierdie besonderse dag moet beleef. Hierdie feit staan in duidelike letters geskryf bo-oor alles wat die Skrif vir ons oor die Shabbat leer. Daarom pas dit ons om nie maar net bolangs oor die Shabbat te praat en ná alles nog steeds in ons gemakstoele te bly sit nie. Dit pas ons om die gebod van die Shabbat nie net met ons verstand nie, maar ook met ons hart te omhels.
Ons kan net so maklik verstrengel raak in die bepaling dat daar geen vuur aangesteek behoort te word op die Shabbat nie. Ons kan ons ore uitleen na wat die Jode en andere oor die jare heen onder hierdie bepaling verstaan het en begin om ‘n lysie te maak van al die moderne en elektroniese maniere van “vuur maak” – van motor bestuur, hysbakke gebruik, ligte aanskakel, vooraf gemaakte kos opwarm tot by ‘n eenvoudige gebaar van meelewing soos om ‘n epos of ‘n whatsapp vir iemand stuur. Persoonlik dink ek dat al hierdie verklarings heeltemal die punt mis en dat nie een van hierdie dinge enige verskil daaraan gaan maak of ons die volle rus van die Shabbat gaan geniet, of níé. Dit is besonders insiggewend dat die EERSTE verwysing na Shabbat in Exodus die aspek van kook en bak op Shabbat aanspreek (Ex 16:23 Toe sê hy vir hulle: Dit is wat Yahweh gesê het: Môre is dit rusdag, ‘n afgesonderde Shabbat van Yahweh. Wat julle wil bak, bak dit; en wat julle wil kook, kook dit; en bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die môre toe) en dat die heel LAASTE verwysing na Shabbat in Exodus (hier in Ex 35) oor die aspek van “vuur maak” gaan. Kan dit wees dat die verbod om vuur te maak, eintlik maar net ‘n herhaling is van die verbod om te kook en te bak? Ons kan nie hieroor seker wees nie. Wat ons egter wel kan doen, is om hierdie verbod eenvoudig te respekteer – beide in die geval van kos maak en vure aansteek. Onder normale omstandighede is dit moontlik om te kook en te bak (en te braai) en vure of kerse aan te steek, VOORDAT die Shabbat begin, of NADAT die Shabbat ten einde geloop het.
Is dit nou nodig om só puntenerig te wees, sal party mense vra. Waarom moet ‘n mens oor ‘n eenvoudige saak soos vuur maak, vroeg eet op ‘n Vrydag aand en laat eet op die aand ná Shabbat? Omdat daar ‘n vyf-letter woord in die teks van Ex 35:1-3 voorkom wat vir ons as gelowiges die grootste, enkele dryfveer van ons gedrag en lewenstyl is – die Hebreeuse woord “le-Yahweh”. Die regte manier om hierdie woord te vertaal, is: “Tot eer van Yahweh”. “Die sewende dag moet vir julle ‘n dag van volkome rus (“shabbat shabbaton”) wees, tot eer van Yahweh (le-Yahweh)”, staan daar in vers 2. Ons behoort ALLES in ons lewe tot eer van Yahweh te doen, ook sake wat met kos te make het – nie net wát en hóéveel ons eet nie, maar (wanneer dit kom by Shabbat) ook die tye waarop ons eet en kos maak. Die apostel het juis in 1 Kor 10:31 hierdie saak uitgestippel: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot eer van Elohiem.”
Met die hulp van ‘n konkordansie het ek gaan kyk hoeveel keer in die Skrif daar letterlik gesê word dat ons die Shabbat “tot eer van Yahweh” behoort te hou. Tien keer! Ek was verstom om dit te ontdek! Soveel gebooie soos wat daar in die Tien Gebooie was, voordat sommiges probeer het om die vierde gebod daar uit te haal, soveel keer sê die Skrif vir ons dat ons die Shabbat tot eer van Yahweh (“le-Yahweh”) behoort te hou! Dit gaan nie oor óns voorkeure nie. Dit gaan nie oor die vraag of ons gaan eet op ‘n tyd wat vir ons (en ons kuiermense) pas nie. Dit gaan nie oor ons eie skeefgetrekte en verskraalde verstaan van die Shabbat nie. Die Skrif vra van ons om die Shabbat “le-Yahweh” (vir Yahweh) te hou, nie “le-Adam” (vir die mens) nie.
Die tien plekke in die Skrif waar daar staan dat ons die Shabbat “le-Yahweh” behoort te hou (soms vertaal as “tot EER van Yahweh”, soms as “VIR Yahweh” en soms as “die Shabbat VAN Yahweh”), is die volgende: Ex 16:23; 16:25; 20:10; 31:15; 35:2; Lev 23:3; 23:38; 25:2; 25:4 en Deut 5:14. Kom ons sê dit net weer DUIDELIK vir mekaar: ‘n Handeling wat só pertinent en só herhaaldelik in die Skrif aangedui word as ‘n handeling wat TOT EER VAN YAHWEH geskied, is ’n handeling waaraan ons met alles wat ons het, behoort vas te hou. Dis iets wat ons moet koester. Dis iets wat ons nie moet afwater nie. Dis iets waaraan ons nie moet verander nie. Dis iets wat ons nie met ons besmette hande moet besmeer en verwring nie. En dis iets waaroor ons ons nie genoeg kan verbly nie. Mense sê so maklik hulle lewe tot eer van Yahweh of hulle wil graag lewe tot eer van Yahweh. Maar dan is dit net ‘n vae en abstrakte ideaal wat in hulle eie gemoed geen konkrete gestalte het nie. Maar hier het ons iets konkreets, iets sigbaars, iets wat ‘n TEKEN is en wat doenbaar is, wat ons kan najaag en beoefen. Daarom is dit ook iets waarin ons ons waarlik kan verbly. Ons is immers gemáák om eer aan ons Skepper toe te bring en Hy self gee vir ons hierdie praktiese maatreël om uitdrukking te gee aan die hoogste doel van ons bestaan! Dit is hoe ons Hom as Skepper erken en voor die mense bely. Dit is hoe ons onsself met sy Naam en dit waarvoor sy Naam staan, assosieer. Dit is die grootste voorreg wat aan ‘n mens gegun kan word!
Hoe lyk die lewe en belydenis van iemand wat ingestel is daarop om tot eer van Yahweh te lewe? Daar is uitsprake in die Skrif wat, op sigself, vir ons ‘n genoegsame antwoord bied op hierdie vraag en wat ook konkrete inhoud kan gee aan die manier waarop ons elke week die Shabbat deurbring. Hier is NOG TIEN “le-Yahweh” gedeeltes, verspreid oor die hele Skrif:
Ps 9:1-2 Ek wil Yahweh loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel. In U wil ek bly wees en juig; ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste.
Ps 13:6 Maar ek – op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u verlossing. Ek wil sing tot eer van Yahweh, omdat Hy aan my goed gedoen het.
Ps 27:6 En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my … ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van Yahweh.
Ps 104:33-34 Ek wil sing tot eer van Yahweh solank as ek lewe … Mag my oordenking vir Hom aanvaarbaar wees; ek sal bly wees in Yahweh!
Jes 12:5 Psalmsing tot eer van Yahweh, want Hy het voortreflike dinge gedoen; laat dit bekend wees op die hele aarde.
Jer 20:13 Sing tot eer van Yahweh, prys Yahweh! Want Hy het die siel van die behoeftige uit die hand van die kwaaddoeners verlos.
Rom 15:7 Neem daarom mekaar aan, soos die Messias julle ook aangeneem het, tot eer van Elohiem.
2 Kor 1:20 Want hoeveel beloftes van Elohiem daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amein, tot eer van Elohiem deur ons.
2 Kor 2:15 Want ons is ‘n aangename geur van die Messias tot eer van Elohiem onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan.
Fil 2:11 Elke tong sal bely dat Y’shua die Messias die Meester is tot eer van Elohiem die Vader.
Views: 86