DIE PROFETIESE PERSPEKTIEF VAN SHAVUOT (2)

alternate textIn ons Engelse diens verlede week het ons begin om na die profetiese aspekte van Shavuot te kyk en onder meer stilgestaan by die betekenis daarvan dat Shavuot die hoogtepunt van ‘n aftel periode van 50 dae is. Die Skriftuurlike en profetiese betekenis van 50 dae is dat 50 die getal van ‘n Jubileum is en dat die Jubileum of die jubeljaar (elke 50 jaar) by uitstek die konnotasie van vrymaking en verlossing en versoening het. Boonop staan daar in Levitikus 25 dat daar ‘n spesiale shofar, elke 50 jaar op die jubeljaar geblaas moet word, spesifiek op die dag van Yom Kippur (die Dag van Versoening), en dat die geluid van die ramshoring op daardie dag deur die hele land moet weerklink. Ons het goeie rede om te vermoed dat die profetiese “Dag van Yahweh” waarna die profete en ook die apostels herhaaldelik in die Skrif verwys, met ‘n Yom Kippur sal saamval, of ten minste met ‘n Yom Kippur sal afskop. Dit is opvallend dat Shaúl of Paulus in 1 Tes 4:16 skryf dat Y’shua eendag van die hemel af sal neerdaal met die geklank van die basuin van Elohiem en dat hy aan die Korintiërs skryf, in 1 Kor 15:52, dat die gestorwe gelowiges by die laaste basuin opgewek sal word. Waarom die laaste basuin? Omdat Openbaring onthul dat daar in die laaste dae sewe basuine geblaas sal word en dat, wanneer die sewende (of die laaste) basuin geblaas word, daar ‘n aankondiging sal wees wat sê: Die koninkryk van die wêreld het die eiendom van ons Meester geword en van sy Gesalfde, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid (Opb 11:15).

Toe Kefa (Petrus) sy boodskap gebring het op die bekende dag van Shavuot in Handelinge 2, het hy drie profesieë van oor die 500 jaar oud aangehaal en al drie hierdie profesieë met sy eie tyd EN met die eindtyd in verband gebring. Vir Kefa en die ander apostels, was Y’shua se koms alreeds die eerste fase van die eindtyd. Daarom het hulle dikwels daarna verwys dat ‘n sekere profesie in of deur Y’shua se lewe en dood en opstanding vervul is. Hulle het ook verstaan dat daar ’n “alreeds” en ‘n “nog-nie” by Y’shua se eerste koms ingelees kon word. Die koninkryk van Elohiem het ALREEDS tot by hulle gekom en hulle was self getuies van die tekens van hierdie koninkryk. Blindes wat gesien het, dowes wat gehoor het, melaatses wat genees is, demone wat uitgedryf is, selfs tekens in die natuur. Maar hulle het geweet dis NOG NIE die finale fase nie. Daar was nog werk wat gedoen moes word. Daar was nog lote wat ingeënt moes word. Daar was nog onbereiktes wat bereik moes word. Daar was nog aspekte van die Skepper se groot plan wat nog nie in plek was nie.

Die drie profesieë in Kefa se boodskap was uit Joël 2, Psalm 16 en Psalm 110. Hier is ‘n paar van die hoogtepunte van hierdie profesieë – dinge wat in die Handelinge tyd gebeur het, maar ook dinge wat in ons tyd kan gebeur of reeds gebeur het: Julle seuns en julle dogters sal profeteer; julle ou mense sal drome droom; julle jongelinge sal gesigte sien; daar sal wondertekens wees aan die hemel en die aarde; die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed; elkeen wat die Naam van Yahweh aanroep, sal gered word; omdat Yahweh aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie (Hy sal nie my siel aan die doderyk oorgee en toelaat dat ek verderwing sien nie); uit Yahweh se regterhand is daar lieflikhede vir ewig; Yahweh het vir my meester gesê (profetiese taal vir: “Yahweh SAL vir my Meester sê”): Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete. Daar is minstens 7 kern aspekte wat in hierdie boodskap sterk op die voorgrond tree: (1) Profesieë (2) Drome (3) Visioene (4) Wonderwerke (5) Natuurtekens (6) die Naam van Yahweh (7) die Regterhand van Yahweh.

Die eerste drie aspekte – profesieë, drome en visioene of gesigte – het vir die eerste keer in byna 500 jaar (ná die optrede van die laaste bekende profeet, Maleagi) weer sterk in die Handelinge periode na vore getree. In die boek Handelinge alleen, word daar dikwels verwys na die optrede van profete (bv. Hand 11:27; 13:1; 15:32; 19:6 en 21:10) en ook na apostels en ander gelowiges wat visioene of gesigte gesien het (bv. Hand 9:3; 9:10; 10:3; 10:10; 16:9 en 18:9). Baie van die dinge wat die apostels in kritiese tye gesê het, was profetiese uitsprake, in die ware sin van die woord, sonder dat daar ‘n etiket van “profesie” aan gekoppel was. Daniel en Jeremia en ander bekende profete is as “profeet” gereken omdat hulle die Skrifte uitgelê en geïnterpreteer het. Dit is dus nie verkeerd om te sê dat die apostels, soos Kefa (Petrus) en Yahuganan (Johannes) en Yaakov (Jakobus) en Shaúl (Paulus), in werklikheid ook profete was nie, omdat hulle vanaf die dag van Shavuot gereeld die Skrifte uitgelê het en lyne deurgetrek het vanaf die antieke profesieë tot by die gebeure wat in hulle eie tyd plaasgevind het, as ‘n direkte uitvloeisel van die dood en opstanding van die Messias. Wanneer Shaúl in Hand 28:25-27 verklaar dat die hart van die volk afgestomp geword het en dat hulle nie behoorlik kon sien nie, net soos wat voorheen deur die profete geprofeteer is, het hy sélf as profeet opgetree en namens Yahweh gepraat. Die woord “profeet” beteken letterlik om “vooruit” (“pro”) te spreek (“phemi”) of om “namens ‘n ander” (“pro”) te spreek (“phemi”). Dis ‘n groot gemis dat hierdie soort profesie, waardeur die Skrif na sy ware bedoeling vir ons tyd uitgelê word, nie altyd as profesie gereken word nie. In plaas daarvan dat daar gesoek word na profete wat in die tradisie staan van die antieke profete en die apostel-profete wat Y’shua geken en gevolg het – profete wat onverskrokke (“without fear for persecution”) namens Yahweh gepraat het – word daar deesdae liewer gesoek na “profete” wat aanloklike en maklik verteerbare boodskappe bring, en “voorspellings” maak wat met mense se voorspoed en welvaart te make het. Van hierdie soort profesieë word daar ook in die Skrif gepraat. Maar dit word onder die sambreel geplaas van valse profesie – selfs waarsêery – en die gelowiges word opgeroep om seker te maak dat hulle nie daardeur verblind en mislei word nie.

Die vierde en die vyfde aspekte wat in Kefa se Shavuot boodskap na vore gekom het, was wonderwerke en natuurtekens. Beide hiervan het gereeld, kort vóór en kort ná die koms van die Messias plaasgevind – ook in die Handelinge periode. En soos wat ons nader aan die groot Dag van Yahweh kom, sal dit weer met groter intensiteit plaasvind. Die Skrif sê duidelik dat die aanbreek van die Dag van Yahweh met allerlei kosmiese tekens gepaard sal gaan (bv. Jes 13:9-10; Sef 1:14-16; Dan 9:26; Sag 14:4; Mat 24:7 en ‘n hele aantal gedeeltes in die boek Openbaring). Tekens aan die son en die maan en die sterre, aardbewings, berge wat in twee skeur, magtige watervloede, vuur-verwante tekens, oorstromings, oorloë, pandemies, landskappe wat verander, om maar net ‘n paar van die verskynsels te noem. Net kortliks ‘n gedagte oor wonderwerke. Soms word daar gevra waarom ons nie meer die soort wonderwerke sien wat onder meer in Handelinge beskryf word nie. Grootskaalse wonderwerke vind nie altyd met dieselfde frekwensie en dieselfde intensiteit plaas nie. Markus 6:5 sê dat daar gebiede was waar Y’shua nie baie wonderwerke kon doen nie, omdat daar soveel ongeloof in daardie area was. Soms het Y’shua uitdruklik gesê dat Hy self wonderwerke sal weerhou of onderdruk omdat daar mense is wat net agter die tekens wil aanhardloop, maar nie bereid is om die hele pakkie van geloof op hulle te neem nie (bv. Mat 12:39). Wat ons egter bo alles moet raaksien, is dat ingryping van Bo af nie ‘n “grootskaalse” wonderwerk hoef te wees om as “wonderwerk” bekend te staan nie. Is dit nie ook ‘n wonderwerk as Yahweh ingryp en individue se omstandighede ingrypend verander, in antwoord op gebed nie? Het elkeen van ons nie al male sonder tal die “wonder” daarvan beleef dat wanneer ons die Naam van Yahweh aanroep, sy Regterhand in beweging kom en ons lewens drasties aangeraak word nie?

Dis interessant dat die laaste twee van die 7 uitstaande aspekte van Kefa se boodskap, juis met die Naam van Yahweh en die Regterhand van Yahweh te make het. As dit kom by profetiese tekens wat met die eindtyd te make het, is die Naam van Yahweh en die Regterhand van Yahweh van die allergrootste belang. Net soos daar tye was (en steeds is) dat tekens en wonderwerke nie so intensief plaasvind soos in sommige periodes van die verlede nie, net so sou daar tye wees dat die Naam van Yahweh en die Regterhand van Yahweh nie so ‘n prominente rol sou vervul, soos byvoorbeeld in die tyd van die uittog en die wildernis, toe daar letterlik honderde verwysings na die Naam en die Regterhand van Yahweh was nie. In Kefa se eie tyd was daar alreeds ‘n sterk beweging onder die Jode wat die gebruik, en selfs net die uitspreek, van die Naam van Yahweh geopponeer het. Maar ten spyte hiervan huiwer Kefa nie vir een oomblik om voor ‘n Joodse gehoor juis die profesie aan te haal wat sê dat elkeen wat die Naam van Yahweh aanroep, gered sal word nie. Ek het geen twyfel dat die letterlike aanroep van Yahweh se Naam, en die sterk begeerte wat daar deesdae by sommiges posgevat het om die Naam van Yahweh in ere te herstel, ‘n vervulling van Bybelse profesie is nie.

Die woord “regterhand” kom drie keer in Kefa se toespraak voor – eintlik moes dit vier keer gewees het, want dit lyk of die woorde van Ps 16:11 “lieflikhede in u regterhand, vir ewig” per abuis uitgelaat is in die teks van Handelinge 2. Die idee is dat Y’shua wat ná sy opstanding en hemelvaart aan die regterhand van Yahweh stelling ingeneem het, dit moontlik maak dat die eindtyd gelowiges Yahweh se regterhand opnuut in aksie sal sien, soos wat die volk dit in Egipte en in die woestyn in aksie gesien het. Hoe weet ons dit? Omdat Kefa nie sou vergeet het nie dat Y’shua eenkeer dieselfde teks uit Ps 110 aangehaal het en gesê het: “Want Dawied self het deur die Afgesonderde Gees gesê: Yahweh het vir my Meester gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete” (Mark 12:36). Ons lewe nou in die periode voordat Yahweh finaal die vyande van die Messias tot ‘n voetbank van sy voete sal maak. Yahweh se regterhand is nie net daar waar Y’shua op die oomblik vir ons intree nie. Yahweh se regterhand is iets wat ons prakties en daagliks in ons eie lewens ervaar omdat ons verbind is aan Y’shua. Ons sien Yahweh se regterhand en sy krag in aksie – elke keer as die Vyand ons in ‘n hoek probeer dryf of van koers af probeer dwing. Ons sien sy regterhand wat Hy na ons toe uitsteek as ons wankel en as ons voete gly. Ons voel sy regterhand onder ons as ons desperaat en moedeloos voel. Ons sien sy regterhand raak, en die lieflikhede wat daar in sy hand is en ons weet dis nie ‘n “flash in the pan” nie – nee, dis vir ewig en dis om die boodskap aan ons oor te dra: Moenie jou geloof verloor nie want dis ook vir jóú dat my Seun aan my regterhand is!

Views: 28

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *