TOT U MOET ALLE VLEES KOM!

alternate textDie uitdrukking “alles vlees” (Heb: “kol basar”) kom ongeveer 40 keer in die Skrif voor en dit word gebruik om die boodskap helder en duidelik uit te spel: Die Een wat hemel en aarde geskape het, het onder meer “alle vlees” of alle mense op aarde geskape en dit is daarom ook sy wil dat ALLE VLEES uiteindelik na Hom toe sal kom en voor Hom sal neerbuig. Nie net die Jode of enige ander eksklusiewe groep wat uit totale arrogansie en onkunde meen dat hulle alleen die reg van toegang tot die Vader het nie. Dit kan onder meer gesien word in verse soos Ps 65:2 (O Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!); Ps 145:21 (Laat alle vlees sy afgesonderde Naam loof vir ewig en altyd); Jes 40:5 (Die grootheid van Yahweh sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien); Jer 32:27 (Kyk, Ek is Yahweh, die Elohiem van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?); Joe 2:28 (En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien).

As ʼn mens na die afsonderlike hoofstukke in die Skrif gaan kyk, is daar drie hoofstukke waar die uitdrukking “alle vlees” drie keer, of meer, in één hoofstuk gebruik word: Genesis 6, Genesis 9 en Jesaja 66. Wat so interessant is van hierdie drie hoofstukke, is dat al drie hoofstukke deel uitmaak van hierdie week se Parashah of voorgestelde leesstuk – die eerste twee hoofstukke vorm deel van die Torah lesing (Gen 6:9 – 11:32) en die derde hoofstuk is die profetiese lesing wat vir hierdie week voorgestel word, naamlik Jesaja 66:1-24. Die hoogtepunt van die “alle vlees” verse in Jesaja 66 is Jes 66:23 “En elke maand op die nuwemaan en elke week op die Shabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê Yahweh.” Hierdie is die heel laaste hoofstuk van Jesaja. Die profeet sien in sy geestesoog ʼn periode, wat hy net in die vorige vers die periode van “die nuwe hemel en die nuwe aarde” noem, waarin ALLES VLEES op ELKE NUWEMAAN (letterlik: “van nuwemaan tot nuwemaan”) en ELKE SHABBAT (letterlik: “van Shabbat tot Shabbat”) voor die aangesig van Yahweh bymekaar sal kom om Hom te aanbid. Die Shabbat en die nuwemaan word in een asem genoem en een of twee keer per jaar gebeur dit selfs (soos vandag – 21 Oktober 2017) dat die Shabbat en die nuwemaan op dieselfde dag val. Maar die punt is net: In die oë en in die verstaan van die profeet is die Shabbat en die nuwemaan nie tydelike en minder belangrike instellings, wat later sou verdwyn of deur sekere mense nie ernstig opgeneem hoef te word nie.

Die enigste ander plek in Jesaja waar daar ook van die Shabbat en die nuwemaan in een vers gepraat word, is die heel eerste hoofstuk van Jesaja (Jes 1:13, om spesifiek te wees) en mens kry byna die idee dat Yahweh sy arms in die vorm van die Shabbat en die nuwemaan rondom hierdie hele boek hou en heel letterlik die ingang en die uitgang van die boek (en die profesieë wat in hierdie boek voorkom) merk en bevestig – soos wat ʼn mens ʼn kontrak waarby jy betrokke is met jou eie voorletters sou parafeer. Wanneer Yahweh ʼn werk doen, doen Hy dit in totaliteit. Wanneer Hy ʼn werk begin, voer Hy dit deur tot aan die einde. “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Y’shua die Messias”, skryf Shaúl aan die Filippense. Die feeste wat verlede week tot ʼn einde gekom het, beteken nie Yahweh se werk in ons lewe het tot ʼn einde gekom nie. Daarom moet ons, soos daar in Heb 10 staan, nie ons onderlinge byeenkomste versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar mekaar vermaan, en dit des te meer namate ons die dag sien nader kom. Ons behoort nie weg te bly van een enkele vasgestelde byeenkoms van die gelowiges nie – nie van ʼn feesdag nie, en ook nie van ʼn Shabbat of ʼn Nuwemaan byeenkoms nie – wetende dat in die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Yahweh reeds vir hierdie wêreld in gereedheid gebring het, ALLE VLEES, van nuwemaan tot nuwemaan en van Shabbat tot Shabbat, voor die aangesig van Yahweh bymekaar sal kom om te aanbid. In die 24 verse van Jesaja 66 is daar net mooi 12 temas (een vir elke nuwemaan van die jaar!) wat ʼn mens sou kon uitlig en wat vir ons perspektief gee op die groter prentjie wat hom afspeel in die wêreld waarin ons leef en waarin ons soms (op onverklaarbare wyse!) ons entoesiasme en ons ywer vir Yahweh verloor.

Voetbank vir sy voete (vers 1). Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Betekenis: Hy is nie afgegrens en beperk tot sekere tye en sekere plekke nie. Alle vlees moet met Hom rekening hou en wanneer Hy deel van jou lewe word, behoort elke deel van jou lewe aan Hom!
Y’shua: Sweer nie by die aarde nie … omdat dit die voetbank van sy voete is (Mat 5:34-35).

Verslae van gees (vers 2). Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord. Betekenis: Hy bemoei Hom met mense wat dikwels in die oë van die wêreld verag en verfoei word: hulle wat arm is en verslae van gees en bewe vir sy Woord.
Y’shua: Geseënd is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel (Mat 5:3)

Verkies hulle eie weë (vers 3-4). Daar is (mense wat) hul eie weë verkies het en … doen wat verkeerd is in my oë, en verkies wat My nie behaag nie. Betekenis: Hy behoort ten volle deel te wees van dit wat dit wat ons in hierdie lewe verkies en begeer.
Y’shua: Ek soek nie my eie wil nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het (Joh 5:30).

Verstoot ter wille van Hom (vers 5). Julle “broers” is (ook) julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil. Betekenis: Hulle wat ons gemeen het die naaste aan ons is, is dikwels die sterkste teen ons gekant, omdat ons aan sy Naam vashou.
Y’shua: Omdat julle nie van die wêreld is nie … daarom haat die wêreld julle (Joh 15:19).

Vergelding van sy vyande (vers 6). Hoor – dit is Yahweh wat sy vyande hulle dade vergeld!
Betekenis: Hulle wat die ware gelowiges in hierdie bedeling verag en beledig, sal in die bedeling wat kom, beskaamd staan.
Y’shua: Want die Seun van die mens staan gereed … Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade (Mat 16:27).

Verwekking bo verwagting (vers 7-9). Word ‘n nasie met een slag verwek? Want Tsion het weë gekry, meteens haar kinders verwek. Betekenis: Daar is ʼn nuwe soort verwekking of geboorte wat in die toekoms gaan plaasvind – teen ʼn tempo en op ʼn skaal wat die wêreld nie ken nie.
Y’shua: As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van Elohiem nie sien nie (Joh 3:3).

Vrolikheid na treurigheid (vers 10). Wees vrolik saam met Yerushalayiem, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het! Betekenis: Die blydskap oor die redding wat Hy bewerkstellig, is onbeskryflik!
Y’shua: Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie (Joh 16:22).

Vertroosting en versadiging (vers 11). Julle sal kan suig en versadig word aan die bors van haar vertroostinge. Betekenis: Sy vertroosting is sterk genoeg om ons nie net tot bedaring te bring nie, maar ons ook te versadig.
Y’shua: Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word (Mat 5:4).

Vrede soos ʼn rivier (vers 12-14; 22). Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos ‘n rivier en die rykdom van die nasies soos ‘n oorlopende stroom. Betekenis: Wanneer Hy sy herstelwerk in ons lewens doen, gaan dit met ʼn ongekende vrede gepaard.
Y’shua: Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie (Joh 14:27).

Vuurvlamme van teregwysing (vers 15-17; 24). Yahweh sal kom in vuur … om sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy teregwysing. Betekenis: Ons behoort ons nie só te verlekker in sy liefde en sy guns dat ons sy toorn en sy teregwysing uit die oog verloor nie.
Y’shua: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde (Mat 28:18).

Versameling van die nasies (vers 18-21). Die tyd kom dat Ek al die nasies en tale versamel; en hulle sal kom en my grootheid sien. Betekenis: Hy is besig met ʼn grootskaalse insameling van mense uit alle nasies wat duidelik in ons eie dag gesien kan word.
Y’shua: En Hy sal sy boodskappers uitstuur … en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemel af tot die ander einde daarvan (Mat 24:31).

Van een vasgestelde byeenkoms tot die ander (vers 23). En van een nuwemaan tot die volgende en van een Shabbat tot die volgende, sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê Yahweh.
Betekenis: Die vasgestelde tye bly vasgestel – selfs tot in die nuwe bedeling wat kom!
Y’shua: Die Seun van die mens is Meester ook van die Shabbat (Mat 12:8).

Views: 44

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *