ʼn Mens is nie altyd bewus daarvan hoe sentraal families en familiebande in die Skrif is en hoe gereeld daar na die verhouding tussen ouers en kinders verwys word nie. Onder die eerste eerste vyf boeke van die Skrif (wat normaalweg as die “Torah” bekendstaan) staan die boek Bemiedbar (Numerie) uit as die een waarin daar die meeste direkte verwysings na families of lede van families is. In die vertaling van Woord en Getuienis is daar (slegs in die boek Numerie) 642 verwysings na geslagte; 402 verwysings na seuns of dogters of kinders, 42 verwysings na families; 20 verwysings na vaders en moeders en 16 verwysings na nakomelinge en die nageslag. In die leesstuk van hierdie week alleen (Numerie 16 tot 18) is daar minstens 48 verwysings na een of ander begrip wat met die familie of familiebetrekkinge te make het. Teen hierdie agtergrond kan ʼn mens verstaan waarom die gebod van “Eer jou vader en jou moeder” (as die vyfde van die tien gebooie) letterlik die mees sentrale posisie inneem binne die struktuur van die Tien Gebooie. Die vyfde gebod is ook die oorgang wat die eerste vier (wat by uitstek oor Yahweh gaan – hoe ʼn mens Hom behoort lief te hê en te eer) verbind aan die laaste vyf (wat by uitstek oor liefde en respek teenoor jou naaste gaan). Eer jou vader en jou moeder is ʼn uitvloeisel en die logiese gevolg van “Eer Yahweh” (want Hy is ook ons Vader), maar dis ook die plek waar liefde teenoor jou naaste begin en waar die respek wat jy vir die mense rondom jou het, al dan nie, op sy duidelikste getoets en gedemonstreer word.
ʼn Mens is geneig om te dink dat die Vyfde Gebod net vir kinders bedoel is – dat dit net die kinders is wat opgeroep word om die regte tipe verhouding met hulle ouers te hê en dat die Tien Gebooie eintlik geen verpligting op die ouers lê, in soverre dit die verhouding met hulle kinders aangaan nie. Dit is egter nie waar nie. Ouers het die verantwoordelikheid om die eer en die respek van hulle kinders waardig te wees en die primêre manier waarop hulle dit moet doen is om die beginsels van die Torah te gehoorsaam en uit te leef. Iemand het êrens geskryf: “Have you ever noticed how parents can go from the most wonderful people in the world to totally embarrassing in three seconds?” Almal van ons weet dat die woord “embarrassing” in die mond van kinders vandag verskillende betekenisse kan hê. Soms kan dit daarop dui dat kinders skaam is vir hulle ouers omdat hulle ouers werklik lamsakkig en skaamteloos en beginselloos is. Dit maak dit natuurlik moeiliker vir ʼn kind om dan nog steeds sy ouers te eer. Die Vyfde Gebod geld egter ook in sulke omstandighede en gelowige kinders behoort alles in hulle vermoë te doen om dán nog steeds hulle ouers te eer, sonder om hulle eie beginsels prys te gee en ook sonder om een duimbreedte af te wyk van die eise van die Woord.
In sommige gevalle is ouers egter vir hulle kinders “embarrassing” om presies die teenoorgestelde rede. Hulle is skaam vir hulle ouers omdat hulle self ʼn leefstyl gekies het waarin die beginsels van die Woord nie meer nagevolg word nie. En hierdie verleentheid is dikwels op sy sterkste waar vriende en ʼn portuurgroep (Eng: “peer group”) betrokke is, wat in dieselfde soort leefstyl as hierdie kinders betrokke is. Die probleem lê in hierdie geval nie by die leefstyl of die gedrag van die ouers nie. Dit lê by die feit dat die kinders nie kans sien om dieselfde waardes na te volg nie. Vir sulke kinders behoort “Eer jou vader en jou moeder” veel méér te behels as net: “Aanvaar hulle vir wie hulle is en moenie gedurig melding maak van hoe “embarrassing” hulle vir jou is nie.” Nee, die Vyfde Gebod is deel van die Torah en ʼn inherente deel van Yahweh se Woord. Die beste manier om jou ouers werklik te eer, is om hulle leefstyl en hulle voorbeeld na te volg in soverre dit in lyn met die Woord van Yahweh is – nie net vir ʼn gedeelte van jou lewe nie, maar reg deur jou hele lewe. So onsinnig as wat dit is om te sê “Ek eer Yahweh, maar ek eer nie sy woorde en sy instruksies nie, of ek eer dit net wanneer, en vir hoe lank dit my pas”, net so onsinnig is dit om te sê: “Ek eer my vader en my moeder, maar ek hoef nie die voorbeeld van ʼn Skrifgetroue lewe wat hulle vir my nagelaat het, na te volg nie!”
Die gebod om jou vader en jou moeder te eer, moet in die konteks van die Skrif in sy geheel gelees word. Daar mag spesiale omstandighede wees waarin hierdie gebod anders as normaalweg verstaan en uitgevoer moet word. Een van die beste voorbeelde hiervan kom na vore in gedeeltes waar daar uit en uit negatief oor die “vaders” gepraat word, soos 2 Kon 22:13 (“Ons vaders het nie geluister na die woorde van hierdie boekrol nie”); Jer 16:19 (“Net leuens het ons vaders geërf, nietige afgode, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie”); Eseg 20:30 (“Julle is verontreinig in die weg van julle vaders, en julle hoereer agter hulle verfoeisels aan”); Hand 7:39 (“Na hom wou ons vaders nie luister nie, maar hulle het hom verstoot en met hulle harte na Mietsrayiem teruggekeer”). Wanneer ons vaders (en moeders) vir ons só ʼn voorbeeld nagelaat het, al was dit met die beste bedoelings, is die boodskap van die Skrif baie duidelik: Moenie hulle hierin navolg nie – bréék met daardie leefstyl! Jy eer hulle nie deur hulle ongehoorsaamheid en hulle rebelsheid teenoor Yahweh na te volg nie! In ons almal se lewens kom daar ʼn dag waarop dit nodig is om soos Psalm 106:6 te bely: “Ons het gesondig, saam met ons vaders; ons het verkeerd gedoen en in afvalligheid gehandel.” En hierdie belydenis behoort opgevolg te word met BEKERING – ʼn terugkeer na Yahweh, ʼn verwerping van die leuens wat ons verblind het en ʼn totale verandering van hart – vanuit die oortuiging dat ons aardse vaders en moeders en broers en susters ons nie kan red nie, maar slegs ons Vader in die hemel.
Daar is ʼn bekende uitspraak van Y’shua wat op die oog af lyk of dit direk indruis teen die Vyfde Gebod: Luk 14:26 “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” Beteken dit Y’shua het die Torah, en spesifiek die Vyfde Gebod, geminag of selfs geskrap? Beslis nie. Hy het dit meer as een keer duidelik gestel dat Hy nie gekom het om die Torah te vernietig of te skrap nie. In Luk 14 het Hy die skare geleer oor die soort leefstyl wat pas by iemand wat waarde heg aan die koninkryk van die hemel – iemand wat nie net vir die hier en nou lewe nie, maar wat sy oog het op die LEWE wat Yahweh belowe het aan hulle wat aan Hom en aan sy Seun verbind is. Die woord “haat” in vers 26 word gebruik in die konteks van die neiging van sommiges wat hulle vaders of moeders of kinders of huweliksmaats gebruik as ʼn verskoning om Yahweh nie vol-uit te gehoorsaam nie. Of wat toelaat dat vaders of moeders of kinders of huweliksmaats hulle verhinder om ware dissipels van Y’shua te wees. Matteus 10:37 sluit hierby aan en help ʼn mens om te verstaan wat Luk 14:26 eintlik wil sê: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.” Enige verhouding en enige soort struikelblok wat ons absolute lojaliteit teenoor Yahweh en sy Woord en teenoor sy Seun, Y’shua belemmer, is iets waarna ons moet kyk en moet regstel in ons lewe! En baie belangrik: Hierdie “regstel” is nie ʼn aanpassing terug na my eie verdraaide verstaan van die Woord nie, maar juis ʼn korreksie van my eie gebrekkige verstaan, aangevuur deur ʼn eerlike soeke na die waarheid.
Wat beteken die profesie van Mal 4:5-6 (Kyk, Ek stuur julle die profeet EliYah voordat die groot en vreesaanjaende dag van Yahweh aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie)? Het dit dalk iets te make met die Vyfde Gebod? Op ʼn manier het dit daarmee te make. In Luk 1:16 word hierdie profesie op Johannes die Doper van toepassing gemaak en word onder meer gesê: “Hy sal voor Hom (dit is: voor die Messias) uit gaan in die gees en die krag van EliYah, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir Yahweh ‘n toegeruste volk te berei.” Wat opvallend is, is dat Lukas die tweede gedeelte van die profesie van Mal 4, “Hy sal die hart van die kinders terugbring tot hulle vaders”, vervang met “Hy sal die gesindheid van die ongehoorsames terugbring tot die gesindheid van die regverdiges”. Volgens hierdie verstaan is dit duidelik dat die ware herstel in die verhouding tussen kinders en vaders, hand aan hand sal gaan met die herstel in mense se verhouding met Yahweh, hulle Vader – mense wat die gesindheid van ongehoorsaamheid verruil vir die gesindheid van regverdiges. Dit is ook die diepste bedoeling van die vyfde gebod. Nie net dat kinders hulle ouers sal eer deur vir hulle te sorg en te trakteer en af en toe te bel of te Skype en nie van Moedersdag of Vadersdag te vergeet nie. Maar dat kinders hulle ouers sal eer deur Yahweh te dien soos wat ons vaders (hetsy onlangs of in die gryse verlede) dit gedoen het. Want onthou: Ons vaders het nie net ongehoorsaamheid en leuens vir ons nagelaat nie. Daar is ook ʼn nalatenskap van geregtigheid en afgesonderdheid en die vrees van Yahweh. Dit sien ons onder meer in Spr 22:28 (Die ou grenslyne wat jou vaders gemaak het, moet jy nie verlê nie) en Rig 2:22 (Hy het Yiesraél op die proef gestel, of hulle die weg van Yahweh sal hou deur daarin te wandel soos hulle vaders dit gehou het, of nie). Kom ons bid vandag saam met die profeet, in alle erns en met ons hele hart, dat Yahweh sy belofte sal nakom en die hart van die vaders sal terugbring tot die kinders en die hart van die kinders tot die vaders, en veral tot hulle Vader in die hemel en tot dit wat na aan sy hart lê! Want uiteindelik is daar niks erger, en niks meer tragies, wat in hierdie lewe kan gebeur as dat ʼn mens in ʼn ouer-kind verhouding staan, maar dat die hart op een of ander manier uit hierdie verhouding weggeval het en dit wat oorgebly het, uiteindelik nie veel meer as “window-dressing” is nie!
Views: 521