ONS EN ONS KINDERS

alternate textIn Bemiedbar (Numerie) 27 vind ons drie brokkies inligting wat skynbaar niks met mekaar te make het nie, maar as mens ʼn bietjie dieper grawe, kom jy agter dat dit hier gaan oor die ingebore begeerte wat daar by gelowige ouers is dat hulle kinders ook die geloofspad sal kies en dat dit met hulle kinders (en hulle nageslag) goed sal gaan nadat hulle (die ouers) gesterf het. Eers was dit die 5 dogters van Tselofgad wat na Mosheh toe gekom het met ʼn probleem. Hulle pa het in die woestyn gesterf, maar omdat hy geen seun gehad het nie, sou daar in die Beloofde Land geen grondgebied aan sy huis toegeken word nie. Dit sou uiteindelik beteken het dat die naam en erfporsie van daardie spesifieke familie verlore sou gaan. Die vyf dogters se versoek was daarom dat hulle ook ʼn besitting (of ʼn toegekende stuk grond) binne die grondgebied van hulle pa se broers moes ontvang. Uit die aard van die saak het hierdie dringende versoek nie net oor hulleself gegaan nie, maar oor hulle huis en hulle kinders en hulle nageslag. Hierdie versoek word aangehoor en dadelik toegestaan en daar word selfs op hierdie laat stadium ʼn nuwe insetting by die Torah gevoeg: As iemand sterf en geen seun het nie, moet sy erfdeel aan die dogter, of so nie, aan die naaste bloedverwant gegee word.

Die tweede interessante stukkie inligting in hierdie gedeelte is dat Yahweh vir Mosheh bevel gee hy op ʼn sekere berg moet klim en na die land moet kyk wat Yahweh aan die Israeliete gegee het. “As jy dit gesien het” sê Yahweh vir hom, “sal jy by jou volksgenote versamel word, soos jou broer, Aharon, versamel is.” Baie kommentators het al gewonder waarom hier bygevoeg word: “… soos jou broer Aharon versamel is”. Was daar dan ʼn ander plek of ʼn ander manier hoe Mosheh by sy volksgenote versamel kon word? Miskien nie ʼn ander plek nie, maar wel ʼn ander manier! Op watter manier of onder watter omstandighede is Aharon by sy volksgenote versamel? Die ou rabbi’s se kommentaar op hierdie gedeelte is dat Mosheh graag wou sterf soos wat Aharon gesterf het – wetende dat sy kinders in sy voetspore sou volg. Aharon se seuns, Eliázar en Itamar, is reeds as priesters aangestel toe Aharon nog gelewe het. Toe Aharon dus gesterf het, het hy die gemoedsrus gehad dat sy seuns dieselfde geloofspad as hy geloop het en, net soos hy, vir Yahweh voltyds as priesters sou dien.

Was dit ook die geval met Mosheh? Het hy, terwyl hy nog gelewe het, die gemoedsrus gehad dat sy seuns (of sy dogters) in sy voetspore sou volg en sy familie se naam hoog sou hou, ná sy dood? Die Skrif is duidelik daaroor dat nie een van die twee seuns van Mosheh, Ghershom en Eliézer, enigsins in die voetspore van Mosheh gevolg het nie. (Eliézer se naam is byna identies as die naam van Aharon se seun, Eliázar, en beide het die betekenis van: Elohiem is [my] Helper). Feite is: nie een van Ghershom of Eliézer het naastenby die soort impak op die lewens van die volk gehad wat Mosheh gehad het nie. Hierdie wete moes vir Mosheh sonder twyfel ʼn groot teleurstelling gewees het. En tog het Yahweh spesifiek aan hom belowe: Jy sal soos jou broer Aharon in die dood in gaan – dit wil sê: wetende dat dit met jou kinders en jou nageslag goed sal gaan!

Die derde brokkie inligting in hierdie hoofstuk sluit aan by die tweede. Dit is waar Mosheh met Yahweh praat (vers 16-17) en vir Hom sê: “Laat Yahweh, die Elohiem van die geeste van alle vlees, ‘n man oor die vergadering aanstel wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek, en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van Yahweh nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie.” Het Mosheh dalk heimlik gehoop dat Yahweh een van sy twee seuns, Ghershom of Eliézer, vir hierdie taak sou aanstel? Dit weet ons nie. Wat ons wel weet, is dat Yahushua, die seun van Nun, as die opvolger van Mosheh aangestel is en beslis nie een van sy twee seuns nie.

Daar is ʼn latere gedeelte in die Skrif, Shofetim of Rigters (Judges) 18, wat die vermoede bevestig dat Mosheh moontlik dieselfde pad met sy kinders (en kleinkinders) gestap het wat so baie ouers tot in ons eie dag met hulle kinders moet stap. Die pad van teleurstelling en droefheid en selfs pyn en smart. Soms is die oorsaak hiervan ʼn ouer wat só in sy of haar werk vasgevang was dat daar net nie tyd was om in die kinders se lewens te belê nie. Sommiges sê selfs dat Mosheh so ʼn ouer kon gewees het omdat sy lewe so absoluut in beslag geneem is deur die enorme taak om die volk uit Egipte en daarna deur die woestyn te lei. Soms is die oorsaak van die teleurstelling oor kinders heeltemal iets anders – treurige omstandighede waarin hulle groot geword het, verkeerde keuses wat die kinders self gemaak het, verkeerde soort vriende wat hulle gekies het, rebellie, gebrek aan dissipline, swak kommunikasie in die huis, te veel geld en luukshede wat gedurig tot die kinders se beskikking gestel is, ʼn swak voorbeeld wat deur die ouers gestel is en ʼn leemte wat gelaat is omdat daar nie behoorlike geestelike insette en morele waardes vanaf die ouers oorgedra is nie. So kan mens aangaan. Hierdie lys van moontlike oorsake kan oneindig lank wees. Meeste van die tyd is dit ʼn kombinasie van oorsake. En in baie gevalle is dit byna onmoontlik om presies te kan weet waar alles nou eintlik begin het. Vir ons behoort die vraag ook nie te wees waar alles begin het nie, maar eerder: wáár en hóé alles eindig.

Wat staan daar in Rigters 18 wat met Mosheh se kinders te make het? Op die oog af, nie veel nie. Ons lees hier van ʼn man met die naam MigaYah wat in die woongebied van Efrayiem ʼn heidense kultus bedryf het waarvoor hy ʼn Leviet gebruik het – moontlik om geloofwaardigheid te verleen aan die duistere praktyke waarmee hy besig was. Die vrug van hierdie kultus het veel te wense oorgelaat en die Leviet se optrede verteenwoordig ʼn baie donker tydperk in die geskiedenis van Israel en het sekerlik die grondslag gelê vir baie duistere aktiwiteite wat oor die eeue heen in die naam van priesterskap en geloof plaasgevind het. Wie was hierdie Leviet? Die Hebreeuse teks van Rigters 18:30 sê hy was “Yahunatan, die seun van Ghershom, die seun van Menasheh”. Dit is hoe die woorde “Ghershom seun van Menasheh” in die Hebreeuse teks geskryf word:

menasheh01

Selfs iemand wat nie Hebreeus kan lees nie, sal oplet dat daar ʼn letter is in die Naam “Menasheh” wat bokant die ander letters uitsteek – iets wat uiters vreemd in enige Hebreeuse teks is. Hoekom is dit so? Daar is groot eenstemmigheid onder meeste Skrifkenners dat die naam “Menasheh” hier oorspronklik “Mosheh” was en dat die antieke oorskrywers van die teks die letter “n” (of “nun”) hier bygevoeg het, bloot uit respek vir Mosheh – om die groot man, Mosheh, se verbintenis met hierdie afgodsdienaar te verberg. Yahunatan was in werklikheid die seun van Ghershom, die seun van Mosheh – dus Mosheh se kleinseun! Nie net het beide die seuns van Mosheh vir alle praktiese doeleindes van die aardbol af verdwyn en glad nie in hulle pa se voetspore gevolg nie, maar ook was sy kleinseun, Yahunatan, se optrede ʼn skandvlek op die hele geslag van Leviete. Hy het hom aan ʼn leefstyl oorgegee wat sy oupa behoorlik in sy graf sou laat omdraai het!

As dit dan die koers is wat Mosheh se kinders en kleinkinders ingeslaan het, waarom het Yahweh dan so uitdruklik aan hom belowe dat hy soos sy broer Aharon (met gemoedsrus oor sy kinders) in sy dood kon ingaan? Omdat Yahweh self in beheer van Mosheh se nageslag was en iets tot stand kon bring wat menslik gesproke onmoontlik was. In 1 Kronieke 23:16 lees ons dat Shevuél (nie Yahunatan nie) die seun van Ghershom, die seun van Mosheh was. Nou hoe dan nou? Meeste Skrifkenners meen dis een en dieselfde persoon. Yahunatan se naam is later na Shevuél verander. Waarom? Omdat hy tot inkeer gekom het, sy afgodspraktyke laat staan het en na Yahweh toe terug gedraai het. Die naam Shevuél beteken letterlik: “Teruggekeer na Elohiem”! Yahweh het gedoen wat Hy belowe het en nie sy bemoeienis met Mosheh se nageslag laat staan nie! Dis egter nie al nie. In Bemiedbar (Numerie) 3:1 lees ons hierdie woorde: “En dit is die nakomelinge van Aharon en Mosheh op die dag toe Yahweh met Mosheh op die berg Sinai gepraat het …” In die daaropvolgende verse hoor ʼn mens die name van die nakomelinge van Aharon, maar nie ʼn enkele naam van die nakomelinge van Mosheh nie. En tog sê die eerste vers uitdruklik: “En dit is die nakomelinge van Aharon en Mosheh …”

Dit is wat Yahweh met ons en ons kinders kan en wil doen. Die pa kan soos Terag, ʼn afgodsdienaar wees en die seun soos Avraham, ʼn vriend van Elohiem. Of die pa kan soos Yietsgak wees, iemand wat Yahweh soek van ganser harte, en die seun soos Esau, wat bereid is om sy eersgeboortereg vir ʼn pot lensiesop te verruil. Maar te midde van hierdie hartseer en teleurstelling wat daar in families mag heers, kan ons by Yahweh berusting en hoop en perspektief kry want, soos Psalm 68 dit op so ʼn onoortreflike wyse sê: Elohiem laat die eensames in ‘n huisgesin woon. Hy maak jou deel van ʼn familie, maak nie saak hoeveel wye draaie jou eie familie om jou loop nie. Hy kan uit niks uit, en uit hopeloosheid uit, vir jou ʼn familie gee wat jy self nie geweet het jy kan hê nie. En Hy kan jou afvallige seun of jou rebelse dogter of jou broer of jou suster of selfs jou ma en jou pa wat in ystergrendels en stokoue, lewelose tradisies vasgevang is, laat loskom en “Shevuél” oor hulle lewens skryf: Hulle wat na Elohiem toe teruggekeer het!

Views: 24

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *