WAT SAL EK AAN HOM OFFER?

alternate textHierdie week se Torah lesing begin met Shemot (Exodus) 25 en eindig met die laaste vers van Shemot 27. Die opvallende tema, reg aan die begin van hierdie gedeelte, is die tema van “offergawe”. Hier is die eerste drie verse van Shemot 25:

Ex 25:1 Toe het Yahweh met Mosheh gepraat en gesê:
Ex 25:2 Sê aan die kinders van Yiesraél dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandryf, moet julle my offergawe bring.
Ex 25:3 En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper …

Die tema van offergawes aan Yahweh is vandag vir baie gelowiges, wat graag die Torah wil gehoorsaam, ‘n moeilike tema om te verstaan. Hoe moet ‘n mens aan Yahweh ‘n offergawe bring as daar nie ‘n tempel is waarnatoe jy dit kan bring nie? En watter soort offergawes kan ‘n mens bring? Baie Christene hou vol dat offergawes nie meer gebring moet word nie, omdat Y’shua eens en vir altyd die volmaakte offer – sy eie lewe – gegee het. Maar dis nie heeltemal wat die Skrif sê nie. Dieselfde Hebreërboek wat sê dat Y’shua eens en vir altyd ‘n offer vir ons sonde gebring het, sê ook dat ons gedurig deur Y’shua aan Yahweh ‘n lofoffer moet bring en dat Yahweh ‘n welbehae aan sulke offers het (Heb 13:15-16). Wat is ‘n lofoffer? Is dit die enigste soort offer wat ons vandag nog moet bring of is daar ander soort offers ook waarin Yahweh ‘n welbehae sal hê? Die profeet Malági sien in sy geestesoog ‘n dag in die toekoms wanneer Yahweh se mense weer vrylik offers aan hulle Elohiem sal bring: “Dan sal die offer van Yehudah en Yerushalayiem vir Yahweh aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd” (Mal 3:4).

Om te verstaan wat met ‘n offer bedoel word, moet ‘n mens teruggaan na die Hebreeuse woord wat in Shemot 25 vir hierdie begrip gebruik word, die woord “terumah” wat ‘n afgeleide vorm van “rum” is. Die woord “rum” (uitgespreek: “roem”) beteken: “to be high, to rise, to raise, to exalt, to lift up, to make lofty, to promote”. Hier sien ‘n mens die dieper betekenis van die bring van offers. Dit is naamlik om Yahweh op te lig en te vereer en sy Naam groot te maak. Dis ook waarom daar ‘n offer vir sonde gebring moet word, want sonde strek Yahweh nie tot eer nie. Sonde is ‘n belediging vir die Allerhoogste, ‘n daad van minagting van sy woorde en sy opdragte. Daarom noodsaak sonde die bring van ‘n offer – sodat daar herstel kan plaasvind, sodat die minagting, belediging en rebellie reggestel kan word en Yahweh weer die eer en die hoogagting kan ontvang wat Hom toekom.

Maar sonde is nie die enigste rede waarom daar ‘n offer gebring moet word. Sonde is eintlik ‘n versperring in die proses van offers bring aan Yahweh waarmee ons ons hele lewe lank moet besig wees. Yahweh het nog steeds ‘n welbehae aan offers, nie net een soort offer nie, maar enige soort offer waarmee sy Naam groot gemaak word en daar eer aan Hom gebring word as die Skepper en Oorsprong van alles wat lewe en bestaan. Deur die woord “rum” te bestudeer en te kyk na die konteks waarin dit in die Skrif gebruik word, behoort ons ‘n beter antwoord te kry op die vraag: “Wat sal ek aan Yahweh offer?”

#1 Psa 99:5-9 Verhef (“rum”) Yahweh onse Elohiem, en buig julle neer voor die voetbank van sy voete. Afgesonder is Hy! Mosheh en Aharon was onder sy priesters, en Shemuél onder die aanroepers van sy Naam. Hulle het Yahweh aangeroep, en Hy het hulle verhoor … Verhef (“rum”) Yahweh onse Elohiem, en buig julle neer voor sy afgesonderde berg. Want afgesonder is Yahweh onse Elohiem.
ONS KAN AAN YAHWEH OFFER DEUR VOOR SY VOETE NEER TE BUIG EN SY NAAM IN GEBED AAN TE ROEP.

#2 Neh 9:2-6 En die afstammelinge van Yiesraél het hulle afgesonder van al die uitlanders, en hulle het gaan staan en belydenis gedoen van hulle sondes en die ongeregtighede van hulle vaders. En hulle het van hulle plek opgestaan, en gedurende ‘n vierde deel van die dag gelees uit die Torah van Yahweh hulle Elohiem, en gedurende ‘n vierde deel belydenis gedoen en Yahweh hulle Elohiem aanbid … en gesê: Staan op, loof Yahweh julle Elohiem van ewigheid tot in ewigheid! En laat hulle u roemryke Naam loof wat bo (“rum”) alle lof en prys verhewe is!
ONS KAN AAN YAHWEH OFFER DEUR TE BID EN BELYDENIS VAN SONDE TE DOEN IN DIE LIG VAN WAT ONS LEES IN DIE TORAH.

#3 1 Sam 2:1-2 Toe het Gannah gebid en gesê: My hart jubel in Yahweh, my horing is hoog (“rum”) in Yahweh; my mond is wyd oop oor my vyande, want ek verheug my in u verlossing. Niemand is afgesonder soos Yahweh nie; ja, daar is niemand behalwe U, en daar is geen rots soos onse Elohiem nie.
ONS KAN AAN YAHWEH OFFER DEUR ONS TE VERHEUG IN SY VERLOSSING EN ONS VYANDE TE SIEN VIR WIE HULLE WERKLIK IS

#4 2 Sam 22:47-50 Yahweh leef! En geseënd is my rots, en laat verhoog (“rum”) wees die Elohiem wat die rots is van my verlossing … en wat my uitlei onder my vyande uit; ja, U verhef my bo my teëstanders, U bevry my van die man van geweld … daarom wil ek U loof, o Yahweh, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek psalmsing
ONS KAN AAN YAHWEH OFFER DEUR SY NAAM ONDER DIE NASIES TE LOOF EN TE GETUIG DAT HY ONS UIT ELKE VORM VAN GEVAAR VERLOS

#5 Jes 6:1-3 In die sterfjaar van koning UzziYah het ek Yahweh sien sit op ‘n hoë (“rum”) en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan … En die een het die ander toegeroep en gesê: Afgesonder, afgesonder, afgesonder is Yahweh van die leërskare. Die hele aarde is van sy grootheid vol!
ONS KAN AAN YAHWEH OFFER DEUR TE ERKEN DAT HY AFGESONDER IS EN DAT DIE AARDE VOL IS VAN SY GROOTHEID

#6 Jes 40:9-11 o Tsion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! o Yerushalayiem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op (“rum”) met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Yehudah: Hier is julle Elohiem! Kyk, die Meester Yahweh sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers … Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.
ONS KAN AAN YAHWEH OFFER DEUR DIE GOEIE NUUS TE VERKONDIG DAT HY ‘N HERDER VIR SY KUDDE WIL WEES

#7 Jes 58:1-14 Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef (“rum”) jou stem soos ‘n ramshoring! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Yaákov hulle sondes. Wel soek hulle My dag vir dag … hulle het ‘n behae in die toenadering tot Elohiem … As jy jou voet weerhou van die Shabbat – om nie jou sake op my afgesonderde dag te doen nie, en as jy die Shabbat ‘n verlustiging noem en die afgesonderde dag van Yahweh hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal praat nie; dan sal jy jou verlustig in Yahweh …
ONS KAN AAN YAHWEH OFFER DEUR SOEKENDE MENSE OP TE SOEK EN VAN DIE SHABBAT TE VERTEL.

Views: 65

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *