Ons het verlede week ondersoek ingestel na sommige van die tergende vrae waarmee bekende figure in die Skrif dikwels geworstel het. Ons het gevind dat meeste van die gelowiges vandag met dieselfde tipe vrae worstel en dat dit nie maklik is om by ‘n antwoord op hierdie soort vrae uit te kom nie. Iets waaraan ons egter kan werk, is om ander soort vrae te vra: In plaas van “Waarom is Yahweh so kwaad vir my?” kan jy vra: “Waarom is Yahweh so goed vir my?” – en jy sal vind dat so ‘n kop-skuif jou in staat stel om perspektief te kry en aan te beweeg met jou lewe.
Dit is opvallend hoe netjies die Torah leesstuk van hierdie week (Deut 7:12 -11:25) aansluit by die tema van die vrae waarmee ons as mense op ‘n daaglikse basis worstel. Elke nuwe Torah leesstuk het ‘n naam, bestaande uit ‘n prominente Hebreeuse woord wat aan die begin van daardie spesifieke leesstuk voorkom. Die naam van die Torah leesstuk van verlede week was “Va’etchanan” (sien Deut 3:23) wat beteken: “En ek het gesmeek…”. Die aspek van smeking bring ons tema van verlede week, Tergende vrae, na vore – wat ons daaraan herinner dat ons dikwels met ons vrae na Yahweh toe gaan en smeek dat Hy ons tog moet antwoord.
Die naam van hierdie week se leesstuk is “Ekev”. Hierdie woord beteken normaalweg “omdat”. Waar die klem verlede week op smeking en onbeantwoorde vrae en worsteling was, kom ons nou by daardie één woord wat almal wat met vrae worstel, so graag wil hoor: OMDAT … !! Die merkwaardige feit is dat hierdie woord “ekev” net 5 maal in die hele Torah voorkom en dat twee van hierdie vyf gevalle in die Torah leesstuk van hierdie week is: in Deut 7:12 (“omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en vervul, sal Yahweh jou Elohiem vir jou die verbond en die goedertierenheid hou …”) en Deut 8:20 (“julle sal omkom, omdat julle na die stem van Yahweh julle Elohiem nie geluister het nie …”).
Hier sien ‘n mens weer die opvallende verskil in die manier hoe ons van nature na die lewe kyk en die manier hoe Yahweh graag wil hê ons na die lewe moet kyk. Ons wil graag die woord “omdat” hoor, in antwoord op al die “waarom” vrae waarmee ons in ons binneste worstel: Waarom moet ons so swaarkry? Waarom gebeur slegte dinge met ons? Waarom werk ons planne nie uit nie? Ensovoorts. Yahweh, aan die ander kant, gee vir ons die “omdat” van sy seën (wanneer ons na sy woorde luister) en die “omdat” van die onttrekking van sy seën (wanneer ons nie na sy woorde luister nie). Ek sal my verbond met julle nakom, OMDAT julle my woorde vervul. OF: Ek sal julle laat omkom, OMDAT julle nie na my stem geluister het nie.
Wat ons dikwels nie verstaan nie, is dat die slegte dinge wat met ons gebeur – die dinge wat ons alte gou daartoe dryf om vir die soveelste keer “Waarom?” te vra – dat hierdie dinge meeste van die tyd nog nie die einde van die proses is nie. Dit mag wees dat dit niks te make het met die vraag of ons na Yahweh se stem geluister het, of nie. Daar kan ‘n totaal ander rede daarvoor wees. Maar dit kan ook met ons gebeur het OMDAT ons nie na die woorde van Yahweh geluister het nie. Maar dit beteken nie dis die einde van die pad nie. As ‘n mens na Yahweh se bemoeienis met Yiesraél kyk, kan jy sien dat Hy dikwels hierdie soort dinge oor hulle pad gebring het weens hulle ongehoorsaamheid (negatiewe “omdat”), MAAR MET DIE DOEL OM HULLE UITEINDELIK WEER BY GEHOORSAAMHEID UIT TE BRING, sodat Hy hulle opnuut kon seën (positiewe “omdat”).
Ons het daarop gewys dat die woord “ekev” 5 maal in die Torah voorkom. Op watter drie plekke kom dit nóg voor behalwe in die Torah leesstuk van hierdie week? Kom ons kyk kortliks:
Gen 22:18 En in jou (Avraham se) nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat (“ekev”) jy (Avraham) na my stem geluister het.
Gen 26:4-5 En Ek sal jou (Yietsgak se) nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat (“ekev”) Avraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my leringe onderhou het.
Num 14:24 Maar my kneg Kalev, omdat (“ekev”) ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg – hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.
Ons mense soek dikwels na ‘n “omdat” wat bloot net ons vraende harte tot rus sal bring en sal inpas binne ons beperkte, menslike verwysingsraamwerk, waarin die woorde van Yahweh en die seën van Yahweh geen rol speel nie. Yahweh kyk na die groter prentjie en wil vir ons die “omdat” gee van sy seën en sy gawes en sy oorvloed, in die mate dat ons na sy stem geluister het, sy leringe onderhou het, ‘n ander gees in ons gehad het as die gees van hierdie wêreld en volhard het om Hom te volg. As dít ‘n mens se begeerte en doelwit in die lewe is, is dit net sóveel makliker om berusting en klarigheid te kry wanneer jy soek na “omdat” antwoorde op die talle “waarom” vrae wat jy daagliks moet trotseer.
Die woord “ekev” is afgelei van die woord “akav” wat oorspronklik beteken: “om te swel; om ‘n ronding te vorm”. Dis moeilik om in te sien hoe daar van hierdie woord “akav” (wat met swelling te make het) by “ekev” uitgekom is (wat “omdat” beteken). Hier het ons egter weer ‘n demonstrasie van hoe lewend die Hebreeuse taal is. As iemand ‘n swelling op sy been of arm of kop sien of voel, is die heel eerste reaksie gewoonlik: “Waarom?” “Waar kom dit vandaan?” “Wat het dit veroorsaak?” Die persoon sal gewoonlik nie rus nie, totdat hy weet: Dis omdat ek my been gestamp het, of dis omdat ‘n by my gesteek het, of dis omdat ek ‘n ernstige siekte onder lede het.
Die interessante is dat die woord “hakskeen” (wat lyk soos ‘n swelling aan die voet) in Hebreeus ook verband hou met “ekev” en “akav” en dat “Yaákov” sy naam gekry het omdat hy aan die hakskeen van sy broer Esau vasgehou het toe hy gebore is. Die feit dat die naam Yaákov verwant is aan “ekev” (OMDAT) en Yaákov só ‘n belangrike rol in Yahweh se plan met sy volk gespeel het, is vir ons dalk ‘n aanduiding dat “waarom” en “omdat” altyd ‘n wesenlike deel sal wees van die lewens van hulle wat aan Yahweh behoort. Daar is ‘n interessante vers uit die lewens van Esau en Yaákov waarin daar gesinspeel word daarop dat die betekenis van Yaákov se naam ‘n groot rol sou speel in wat vorentoe in sy lewe sou gebeur.
Gen 27:36 Daarna sê hy (Esau): Is dit waarom hulle hom Yaákov noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en kyk, nou hy het my seën geneem! Verder vra hy: Het u vir my geen seën oorgehou nie?
As ons na Yaákov se naam en na sy lewe kyk, kom ons uit die aard van die saak nie tot dieselfde gevolgtrekking as wat Esau gekom het nie. Ons vra nie die vraag waarom sy ouers hom die naam Yaákov gegee het nie. Ons vra ook nie waarom iemand die eersgeboortereg van ons weggeneem het nie. Inteendeel, ons sien die “omdat” van Yahweh se oorvloedige seën – nes Hy aan Yaákov se oupa, Avraham, en aan sy pa, Yietsgak, belowe het. Hoe kan ons kla dat Yahweh iets van ons weggeneem het, wanneer Hy eintlik iets vir ons gegee het wat ons voorheen nooit gehad het nie? Hoe kan ons die herkoms van ons voorlopers in die geloof bevraagteken as daar oor ons eie herkoms ‘n nog groter vraagteken gehang het en Yahweh ons nogtans by sy volk en sy beloftes ingereken het?
Efes 2:11-13 Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in daardie tyd sonder die Messias was, vervreemd van die burgerskap van Yiesraél en vreemdelinge met betrekking tot die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder Elohiem in die wêreld. Maar nou in die Messias Y’shua het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van die Messias.
Views: 21