KRAG OM TE LEWE

alternate textDie Torah lesing van hierdie week begin met Shemot (Ex) 10:1 “Verder het Yahweh vir Mosheh gesê: Gaan na Farao toe, want Ek het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig.” Die gedeelte eindig met Shemot 13:16 “En dit sal as ‘n teken wees op jou hand en ‘n voorhoofsband tussen jou oë; want Yahweh het ons deur ‘n sterke hand uit Mietsrayiem uitgelei.” Daar is baie temas wat in hierdie gedeelte na vore kom, waarvan Yahweh se sterke hand een is. Met alles wat in Mietsrayiem gebeur het, die tekens wat plaasgevind het, die plae waarmee die Egiptenare getref is, die bewaring van die eersgeborenes en die instelling van Pesag, moes Yiesraél die les leer (en dit ook so aan hulle kinders en hulle nageslag oordra) dat Yahweh met sy sterke hand altyd reg staan om hulle te help en te verlos. Hierdie tema word keer op keer reg deur die Skrif bevestig: Yahweh se sterke hand, sy grootheid en sy krag, is ons bron van krag. Omdat Hy sterk is, kan ons sterk wees. Omdat Hy die verpersoonliking van krag is, het ons die krag om te kan lewe. Dit is wat onder meer deur die profeet ZegarYah verwoord is toe hy geskryf het: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê Yahweh van die leërskare” (Sag 4:6).

Een van die Hebreeuse woorde wat met “krag” of “sterkte” of “mag” vertaal kan word (en wat ook in die vers hierbo gebruik word), is “kuag”. Nogal ‘n interessante woord en nie so moeilik vir Afrikaans-sprekendes om te onthou nie. Die klink baie soos ons woord “krag” – dink maar net aan die manier hoe die woord “krag” uitgespreek sal word deur ‘n klein seuntjie wat nie behoorlik ‘n “r” kan sê nie. “Kuag” kom ongeveer 125 keer in die Skrif voor en, alhoewel daar ‘n hele paar ander Hebreeuse woorde vir “krag” en “sterkte” en “mag” in die Skrif gebruik word, bring hierdie woord besondere en kosbare waarhede na vore:

(1 Sam 2:9) Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die afvallige mense kom om in duisternis; want ‘n mens oorwin nie deur krag nie.

KRAG OM TE OORWIN

(1 Kon 19:8) Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van Elohiem, Gorev.

KRAG OM DEPRESSIE TE OORKOM

(2 Kon 19:3) En hulle sê vir hom: So sê GiezkiYah: Vandag is ‘n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het gekom tot by die geboorte, maar daar is geen krag om te verwek nie.

KRAG OM TE VERWEK

(Ps 71:9) Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie.

KRAG OM OUD TE WORD

(Jes 40:31) maar die wat op Yahweh wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

KRAG OM DIE ONMOONTLIKE REG TE KRY

(Jes 49:4) Maar Ek het gesê: Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer! Nogtans is my reg by Yahweh, en my loon is by my Elohiem.

KRAG OM DIE “NOGTANS” RAAK TE SIEN

(Ex 9:16) maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.

KRAG OM YAHWEH SE NAAM TE VERKONDIG

(Deut 8:18) Maar dink aan Yahweh jou Elohiem, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het, soos dit vandag is.

KRAG OM SUKSESVOL TE WEES

(Jos 17:17) Toe het Yahushua met die huis van Yosef, met Efrayiem en Menasheh gepraat en gesê: Jy is ‘n groot volk en jy het groot krag: jy sal nie net een lot hê nie;

KRAG OM JOU BESTEMMING TE BEREIK

(1 Kron 29:12) En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak.

KRAG OM MET WAARDIGHEID TE LEWE

(2 Kron 20:12) Onse Elohiem, sal U nie teen hulle strafoplegging voltrek nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot skare wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.

KRAG OM TEEN SKARES OP TE STAAN

(Jes 40:29) Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.

KRAG OM MOEGHEID TE OORKOM

(Miga 3:8) Ek daarenteen is vol krag, met die Gees van Yahweh, en reg en heldemoed, om aan Yaákov sy oortreding te verkondig en aan Yiesraél sy sonde.

KRAG OM REGUIT TE WEES

Iemand het gesê “Real strength is not just a condition of one’s muscle, but a tenderness in one’s spirit.” As ‘n mens hierdie uitspraak in die konteks plaas van die woorde van ZegarYah waarmee ons begin het (“Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê Yahweh”) dan wil dit voorkom dat ons die Gees van Yahweh in ons nodig het om die “tenderness” of broosheid in ons eie gees te bewerkstellig, sodat ons voluit kan erken dat Yahweh alleen ons bron van krag is. Dit is interessant dat die apostels se vroeë getuienis aangaande Y’shua wat in die boek Handelinge beskryf word, onder meer die volgende ingesluit het: “Elohiem het Y’shua van Natsaret gesalf met die Afgesonderde Gees en met krag” (Hand 10:38). Dit is geen wonder nie, want het die profeet YeshaYahu dan nie geprofeteer dat die Gees van Yahweh, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van sterkte op Hom sou rus nie? Daarom kan ons die gebed van Shaúl in Efes 3:14-16 vandag ons eie maak: “Vader ek buig my knieë voor U wat aan elke geslag in die hemel en op die aarde sy naam gegee het, dat U aan ons, na die rykdom van u grootheid, daardie “iets” sal gee wat sal maak dat ons met krag versterk sal word deur u Gees in ons binneste, sodat die Messias deur die geloof in ons harte kan woon.”

Views: 35

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *