Daar is ‘n bekende storie van die kaptein van ‘n Amerikaanse oorlogskip wat op ‘n oefenvaart was, wat die les geleer het dat daar sekere waarskuwings is wat mens nie kan ignoreer nie. Een van die bemanningslede het gerapporteer dat daar ‘n lig in die verte was wat moontlik gedui het op ‘n ander boot wat in die “pad” van die oorlogskip was. Die kaptein het dadelik opdrag gegee dat ‘n radio boodskap uitgestuur moes word wat sê: “We are on a collision course, advise you change course twenty degrees”. Kort daarna het die antwoord teruggekom: “Advisable for you to change course twenty degrees”. Die kaptein het een of twee keer gesluk en weer ‘n boodskap laat stuur: “I’m a captain, change course twenty degrees”. Dit was nie lank nie, toe kom die antwoord: “I’m a seaman second-class, you had better change course twenty degrees.” Teen hierdie tyd was die kaptein buite homself. Hy laat weer ‘n boodskap stuur: “I’m a battleship. Change course twenty degrees!” En toe kom die antwoord: “I’m a lighthouse, you have no choice!” Sonder ‘n verdere woord het die kaptein opdrag gegee dat die oorlogskip sy koers verander.
Is dit nie diep ingegraveer in ons menslike aard dat ons onsself, soos hierdie kaptein, wil laat geld en in opstand kom teen die aandrang dat ons ons koers verander om in lyn te kom met die Woord van Yahweh nie? Die punt wat baie mense en selfs baie Messiaanse groepe nie kan snap nie, is dat dit nie gaan om een standpunt VS ‘n ander standpunt nie. Dit gaan nie oor wie sy siening die duidelikste uitstippel, of wie die meeste vertroue inboesem, of wie se outoriteit die grootste is of wie se bediening die meeste rimpelings veroorsaak nie. Dit gaan oor die vuurtoring wat op die rots gebou is en oor die Woord van Yahweh en die profesieë van sy Woord wat nie ‘n saak van eie uitlegging is nie (soos daar geskryf staan in 2 Kefa / 2 Petrus 1:20-21) of deur die wil van ‘n mens voortgebring is nie. Dit gaan daaroor dat die Woord van Yahweh oor duisende jare nie uitgewis kon word nie en vandag nog steeds hierdie onverklaarbare vermoë het om mense se lewens geheel en al om te keer.
Waar kom hierdie vermoë vandaan? Wat is dit wat die Skrif so effektief maak? Myns insiens net een ding: Die feit dat dit ons in aanraking bring met Yahweh, die Onveranderlike en terselfdertyd ook die gans Andere. Die Een wat in wese totaal anders as ons mense is. Sy waardes is anders. Sy geregtigheid is net soveel groter. Sy guns is net soveel meer omvattend. Sy woorde en beloftes is net soveel meer betroubaar en betekenisvol. Sy manier van doen is net soveel anders as wat jy in hierdie wêreld aantref. Sy manier van dink oortref ons denkpatrone en ons skemas en ons planne deur en deur. En tog maak ons dikwels die fout om Yahweh se Woord te probeer aftrek tot op ons vlak en daarvan net nog ‘n menslike produk te maak. Iets wat ons geplooi het om ons lewenstyl en ons redenasies en ons gunsteling temas te pas. Ons behoort ons daaroor te skaam. Maar méér nog: Ons behoort ons van hierdie manier van omgang met die Woord van Yahweh te bekeer. Want in die proses is ons besig om die inherente krag van Yahweh se Woord te versmoor en uit te blus. Ons probeer om die belangrikste vuurtoring, die Bron van lig, in ‘n “ander” posisie in te dwing, wat uiteindelik daartoe gaan lei dat ons ons in die rotse te pletter gaan loop!
Kom ons bepaal ons vir ‘n oomblik by die terrein van die Messiaanse en Torah-gesinde groepe wat besig is om wêreldwyd baie veld te wen. Meeste van ons is op een of ander manier self deel van hierdie groepering. Ek is bevrees, die geluide wat ‘n mens meeste van die tyd op hierdie terrein hoor, klink dikwels nie dieselfde as die geluide wat ‘n mens in die Skrif by die profete en by Y’shua en by die apostels hoor nie. Geluide wat met die dra van hoofbedekkings, of tsit-tsit, of sg. “korrekte” uitspraak van die Naam, of die teorie van twee huise van Israel, of rasse- en kleur-kwessies, of plekke van bewaring met die oog op die eindtyd, of die gebruik van Hebreeuse woorde, of die navolg van Joodse tradisies, of ander uiterlike tekens en rituele te make het. Dinge waaroor nóg die profete, nóg Y’shua, nóg die apostels ooit met hulle gehore gepraat het. Maar ons hou ons dikwels hiermee besig, want dis in die aard van die mens om Yahweh se ewige beginsels van geregtigheid te probeer doodpraat en doodleef, deur op bysake te fokus wat ons egos streel en ons aardse “bedieninge” kan laat goed lyk.
Kom ons kyk kortliks na die dinge waarop die profete van die Skrif gefokus het en wat hulle as waarskuwing aan die mense van hulle tyd voorgehou het. Laat ons in gedagte hou dat daar sekere waarskuwings is wat nie deur mense (van enige tyd) geïgnoreer kan word nie …
Ps 2:10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! (Oppas, niemand is verhewe bo ‘n waarskuwing van Yahweh nie).
Pred 12:12-13 En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boekrolle maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees. Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees Elohiem en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. (Oppas dat jy nie die vrees vir Yahweh verwar met die blote insameling van kennis nie).
Jer 6:10-14 Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van Yahweh is vir hulle ‘n oneer, hulle het daar geen behae in nie … Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die gebrokenheid van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie. (Oppas, die roete van die Woord is nie maklik nie en sal nie gevind word deur hulle wat onbesnede van hart is nie).
Jer 11:7-8 Want Ek het julle vaders nadruklik gewaarsku op die dag toe Ek hulle uit Mietsrayiem laat optrek het tot vandag toe, vroeg en laat, en gesê: Luister na my stem! Nogtans het hulle nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hulle het gewandel elkeen in die verharding van sy bose hart. (Oppas, om nie jou eie hart te volg en jou nie teen die stem van Yahweh te verhard nie).
Jer 42:19-20 Yahweh het oor julle gepraat, o oorblyfsel van Yehudah: Trek nie na Mietsrayiem nie! Weet verseker dat ek julle vandag waarsku. Want julle het gedwaal ten koste van julle lewe. (Oppas, moenie dink Mietsrayiem [Egipte] is die oplossing vir al jou probleme nie).
Hand 20:28-30 Bewaar julleself en die hele kudde waaroor die Afgesonderde Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van die Meester te versorg, wat Hy deur die bloed van sy eie ontvang het. Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. (Oppas vir die wrede wolwe wat ingekom het en wat nie die kudde van Yahweh sal spaar nie).
Opb 3:17-18 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. (Oppas vir trots en oorgerustheid en ‘n traagheid om die leemtes in jou eie geloof raak te sien).
Spr 8:34-35 Geseënd is die mens wat na my (die wysheid van Yahweh) luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou. Want hy wat my vind, het die lewe gevind en ontvang ‘n welbehae van Yahweh.
Views: 24
Please send me more info regarding “Yom Kippur”
Regards
JJ Botes
Will do so, via email.
Regards
John