TIEN WOORDE VAN GELOOF

alternate textVir hulle wat die Skrifte liefhet en Y’shua van Natsaret as die Messias aanvaar, is GELOOF van uiterste belang. Geloof is nie net die eienskap wat ons aan die kant van die Messias plaas (en ons onderskei van ander wat Hom nie aanvaar) nie – dis ook die eienskap waarsonder ons nie kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2Tim 4:7 ). Dit help niks dat ons die Vader se Naam ken, die Shabbat en die feeste hou en die Torah tot sy regmatige posisie herstel, as ons nie daagliks wandel deur geloof en die geloof behou tot aan die einde van ons lewe nie. Dit help nie ‘n mens sê jy’s ‘n gelowige, maar geloof speel nie juis ‘n noemenswaardige rol in jou lewe nie. Kom ons kyk na wat daar oor geloof geleer word in een van die bekendste briewe van die apostel Shaúl: die boek Romeine.

1. Geloof is die fondament in die lewe van elke gelowige en die Skrif laat geen twyfel daaroor nie dat die regverdige deur die geloof sal lewe.

Rom 1:17 Want die geregtigheid van Elohiem word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskryf is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

2. Geloof is dit wat maak dat Y’shua se dood en die bloed wat Hy gestort het, gesien kan word as versoening en die (vreemde) geregtigheid van Elohiem.

Rom 3:25 Hom het Elohiem voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van Elohiem

3. Geloof weet wat dit beteken om nie deur uiterlike omstandighede van stryk gebring te word nie.

Rom 4:19 En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.

4. Geloof is om nie aan die beloftes van Elohiem te twyfel nie en aan Hom eer te gee – selfs vir dit wat jy nog nie kan sien nie. 

Rom 4: En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van Elohiem getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan Elohiem die eer gegee

5. Geloof is dit waarsonder die Torah van geregtigheid nooit suksesvol nagejaag kan word nie.

Rom 9:31-32 Terwyl Yiesraél, wat die Torah van die geregtigheid nagejaag het, die Torah van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar asof dit uit die werke was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot.

6. Geloof verwag nie van jou om berge te versit nie; dit vra dat jy jou oë sal oopmaak vir dit wat absoluut binne jou bereik is.

Rom 10:6-8 Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om die Messias af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om die Messias uit die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart (vgl. Devariem 30:11-14).

7. Geloof gaan hand aan hand met ‘n belydenis van die mond en ‘n oortuiging van die hart, wat beide met die Messias te make het.

Rom 10:8-9 Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Meester Y’shua bely en met jou hart glo dat Elohiem Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.

8. Geloof word afgebreek deur hoogmoed, maar opgebou en versterk deur die vrees van Yahweh.

Rom 11:20 Goed! Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.

9. Geloof is wat maak dat ons by die olyfboom ingeënt kan word, maar selfs dít gebeur deur die kragtige hand van Elohiem.

Rom 11:23 Maar ook hulle sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeënt word; want Elohiem is magtig om hulle weer in te ent.

10. Geloof bring blydskap en vrede as bykomende bonus en maak dat ons oorvloedig kan wees in die hoop.

Rom 15:13 En mag die Elohiem van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Afgesonderde Gees!

Views: 31

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *