NUWE GESTALTES VAN ANTISEMITISME

alternate textIn ‘n epos wat ek die afgelope week uit Jerusalem ontvang het, word berig dat ‘n gerespekteerde Arabiese skrywer onlangs ‘n artikel in ‘n Londense koerant gepubliseer het waarin hy die volgende bewering maak: “The Jews invented a religion to steal a land from its owners”. In die artikel word verder gesê dat lesers sal moet leer om te onderskei tussen die ware profete van die Koran en die valse profete van die Joodse Torah. Dit is maar een van baie gevalle in die jongste tyd waar anti-semitisme (d.w.s. openlike haat en verset teen, en ‘n verdraaide voorstelling van die Jode en dit waarvoor hulle staan) duidelik en onbeskaamd na vore gebring word.

Diegene wat om geloofsredes nie van die Harry Potter reeks hou nie, sal dit ironies vind dat ‘n Iranse TV kanaal die bewering gemaak het dat die Harry Potter boeke en films deel van ‘n “Zionist plot” is om Joodse propaganda (“poison”) te versprei. Volgens hulle is die Harry Potter reeks ‘n fyn strategie “to spread the dark and evil essence of Zionism and its goals”. Die TV kanaal teken openlik beswaar aan teen die temas wat in Harry Potter gebruik word, soos “the use of magic and the struggle against the Dark Lord”. Met temas soos hierdie, sê hulle, probeer die Joods geïnspireerde skeppers van Harry Potter “to influence innocent Christians and Muslims to worship the devil, as the Jews do.”

Enkele weke gelede het ‘n bekende Grieks Ortodokse biskop in die openbaar ‘n verklaring gemaak dat Griekeland se finansiële probleme, wat daardie land verlede jaar in ‘n ongekende wurggreep gehad het, te wyte is aan ‘n komplot van Joodse bankiers. In dieselfde asem het hy toe sommer bygevoeg dat die Holocaust deur “Zionists” (d.w.s. Jode) aangevuur is en dat Hitler bloot ‘n instrument van invloedryke Jode was om te verseker dat Jode uit alle dele van Europa na Israel sou terugkeer sodat ‘n Joodse staat tot stand gebring kan word. Toe die biskop later oor hierdie uitspraak van hom gekonfronteer is, het hy gesê hy is nie ‘n anti-semitis nie, maar dat hy nie anders kan as om Sionisme met Satanisme gelyk te stel nie.

Suid Afrika en veral sy leiers en invloedryke organisasies maak al hoe meer anti-semitiese geluide. Verlede jaar is daar sterk druk uitgeoefen op die Suid-Afrikaanse ministerie van Toerisme om nie ‘n Internasionale Toerisme Konferensie wat deur Israel as gasheerland aangebied sou word, by te woon nie. Toe daar uiteindelik besluit is dat Suid Afrika gaan onttrek, kon Cosato nie sy vreugde verberg nie en het bevestig dat Cosato Israel as ‘n apartheid staat beskou en daarom sal voortgaan om alle vorme van boikot teen Israel te steun. Drie maande gelede het ‘n maatskappy in Johannesburg wat toer- en reisprodukte bemark, ‘n groot bestelling ontvangvan die Suid-Afrikaanse Sioniste Federasie. Hulle het egter die hele transaksie gekanselleer deur bloot die volgende op die bestelvorm te skryf: “Order cancelled by management! Pleasedon’t pay! Don’t contaminate our account with your blood money.”

Antisemitisme is natuurlik nie ‘n nuwe verskynsel nie. Van die vroegste tye was daar nog altyd ‘n vreemde, byna onbeskryflike verwerping van, en antagonisme teenoor die Jode en dit waarvoor hulle staan. Die geskiedenis van die wêreld is letterlik besaai met voorbeelde van Jode wat uit lande verban of gedeporteer is; gedwing is om hulle eie geloof te verwerp of ‘n ander geloof aan te neem; op brandstapels verbrand is; op ander maniere tereggestel is vir “misdade” wat hulle sou gepleeg het; valslik beskuldig is – dikwels van dinge wat teen hulle eie oortuigings indruis; onbillik en onregverdig gebrandmerk is en aan die ontvangkant gestaan het van allerlei diskriminerende optrede; ensovoorts. In die volksmond word dikwels neerhalend van Jode gepraat en uitsprake soos “Jode is oneerlik” of “Jode is geldgierig” of “Jode is manipulerend” (hulle “beheer” die pers en sommige regerings), is aan die orde van die dag.

Dis eintlik onverklaarbaar dat daar wêreldwyd soveel weerstand en onguns teen die Joodse volk bestaan. Deesdae is hierdie weerstand en onguns veral afkomstig vanuit die Islam gesinde gedeeltes van die wêreld. ‘n Mens wonder of hulle vergeet het dat hulle “profete” hulle inspirasie in dieselfde geskrifte gekry het as waarin die Jode (en ook ons) vandag nog ons inspirasie kry. ‘n Mens wonder verder hoe dit gebeur het dat ‘n nasie wat oor geslagte heen soveel positiewe en opbouende bydraes op alle terreine van die samelewing gelewer het, so ongewild in die oë van veral die Moslem wêreld geword het. Iemand het ‘n lysie gemaak van die Nobel pryswenners (in alle kategorieë) sedert die totstandkoming van hierdie toekenning, en tot die volgende onthulling gekom:

Daar is wêreldwyd 1.2 biljoen mense wat as Moslems bestempel kan word. Dit is sowat 20% van die wêreld se totale bevolking. Uit Moslem geledere het nog net sowat 10 persone ooit ‘n Nobelprys ontvang in enige van die Nobelprys kategorieë. Hierteenoor is daar wêreldwyd sowat 14 miljoen Jode, d.w.s. ongeveer 0.02% van die wêreld se bevolking. Maar uit die gelede van die Joodse deel van die wêreldbevolking het daar sedert die instelling van die Nobelprys, nie minder nie as 181 persone ‘n Nobelprys ontvang, in elkeen van die kategorieë, nl. literatuur, vrede, wetenskap, ekonomie en medisyne. ‘n Mens kan nie anders as om te dink dat die grootste deel van die wêreld iets baie belangriks uit die oog verloor wanneer daar na die Jode gekyk word en ‘n oordeel oor hulle uitgespreek word nie.

Kom ons probeer by die kern van die saak uitkom. Waarom is daar so ‘n aanslag teen die Jode en dit waarvoor hulle staan? Is dit nie omdat Yahweh se hand van die vroegste tye op hierdie volkie was en Hy nog steeds nie sy bemoeienis met hulle opgegee het nie? Is dit nie omdat daar ‘n onsigbare mag aan die werk is in hierdie wêreld wat alles moontlik sal doen om die werke en die eindtyd plan van Yahweh te weerstaan en in die proses ‘n wolk van suspisie en van bedreiging te laat hang oor dié mense wat ten nouste by hierdie plan van die Almagtige betrokke is nie? Is dit nie omdat daar in die Skrif geprofeteer word dat daar van alle oorde af ‘n groot aanslag teen die volk van Yahweh sal wees en teen hulle wat hulle met hierdie volk identifiseer nie? ‘n Mens dink in hierdie verband aan die woorde van 1 Kefa (1 Petrus) 4:12 “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie.”

Maar hoe bring ‘n mens dit alles uit by ons wat hier saam is en ander wat dieselfde glo as ons? Ons is immers nie Jode nie en verskil in sommige opsigte taamlik radikaal van die Jode en die manier hoe hulle die Skrif uitlê en uitleef. Ons is nie Jode nie – dit is waar. Ons het egter soos ZegarYah 8 dit stel die simboliese slip van die Yehudiese nasie aangegryp en gesê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat Elohiem met julle is.” Nogal ironies, nè: “Ons het gehoor dat Elohiem met julle is, maar daagliks sien ons met ons eie oë dat die wêreld teen julle is!” Ons is soos die Korneliusse en die Rutte wat wat voorheen niks gehad het wat ons Joods gemaak het nie, maar op die ou end gesien het dat die Jode se Elohiem die ware Elohiem is en dat niks méér sin maak as om by Hom en sy mense aan te sluit nie. Ons het die Jood, Y’shua van Natsaret, erken as die Messias wat as gawe aan die Jode beloof is en die uitnodiging aanvaar om deur geloof in Hom, deel van Yahweh se ware volk te word.

Yahweh het ons oë oopgemaak vir die leuen wat opgesluit lê in ‘n stelling soos “The Jews invented a religion to steal a land from its owners”. Die waarheid is: “The world invented a religion to estrange a people from its Owner.” Ons sal egter ons oë nog meer moet oopmaak vir Satan se blatante pogings om Yahweh se volk (ook hulle wat van buite af by sy ware volk aangesluit het) van Hom te vervreem. Een van die maniere waarop dit in die laaste tyd veral gebeur, is deurdat daar uit alle oorde toenemend vraagtekens oor die Skrif en oor die waarheid van die Skrif geplaas word. Wat het dit met antisemitisme te doen? Dit het ALLES daarmee te doen. As die Skrif eers sy geloofwaardigheid verloor en daar genoeg twyfel in die wêreld gesaai kan word oor die betroubaarheid daarvan, is daar mos nie meer rede om te glo dat die Jode so besonders is nie! Dan is die Joodse nasie niks meer as ‘n spul leuenaars en kansvatters wat oor eeue heen aansprake gemaak het wat glad nie op die waarheid gegrond is nie. En dan is almal wat hulle met die Jode identifiseer of selfs net hulle geskrifte ernstig opneem, besig om hulle tyd te mors en vir hulleself en vir ander ‘n rat voor die oë te draai!

Ons kan soos Ralph W. Emerson sê: “All I have seen teaches me to trust the Creator for all I have not seen” en soos Shaúl in 1 Kor 2:9 “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, (dit het) Elohiem berei vir die wat Hom liefhet.”

Views: 28

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *