Reg oor die wêreld word daar tans Chanukah gevier – die fees van agt dae wat gehou word ter herinnering aan ‘n baie besonderse stukkie geskiedenis wat ongeveer 160 jaar voor die geboorte van die Messias in Jerusalem, wat destyds onder Griekse beheer was, afgespeel het. Daar is meer as een weergawes van die verhaal en historici is nie so seker oor al die detail nie, maar die feite is dat ‘n Joodse familie, bekend as die Makkabeërs, die Jode gehelp het om hulleself vir ‘n rukkie los te wikkel uit die wurggreep van die Grieke, wat alle vorme van die praktiese beoefening van Judaïsme verbied het. Hierdie oorwinning van die Makkabeërs oor die oormag van die Grieke, op sigself, word tot vandag toe as een van die vele merkwaardige oorwinnings beskou wat Israel oor die eeue heen oor sy vyande behaal het. Daar is toe besluit om die tempel te reinig – ‘n proses wat agt dae moes duur – en die oorlewering is dat daar net genoeg olie was om die menorah in die tempel vir een dag aan die brand te hou. Op wonderbaarlike wyse het die menorah egter vir die volle periode van agt dae bly brand.
Die Jode het talle verhale en tradisies wat rondom die fees van Chanukah verweef is. Een daarvan is die “dreidel” speletjie wat met ‘n spin-blokkie gespeel word, soortgelyk aan die prentjie hier langsaan.
Die verhaal word vertel dat die Jode destyds dikwels in grotte geskuil het terwyl hulle die Torah bestudeer het. Die bestudering van die Torah was egter een van die dinge wat die Grieke uitdruklik verbied het en daarom het die Jode mense aangestel om “wag te staan” en alarm te maak wanneer die Grieke naby een van hierdie grotte gekom het. Dan het hulle die Torah-rolle weggesteek en hulle dreidel spin-blokkies uitgehaal en ‘n speletjie gespeel wat vir die Grieke soos ‘n dobbel-speletjie gelyk het. Die spin-blokkie het die vier letters nun (נ), gimel (ג), hey (ה) en shin (שׁ) op elkeen van die vier kante van die blokkie bevat. Hierdie vier letters het tot vandag toe groot betekenis vir die Jode want dit verteenwoordig die eerste letters van die woorde “Nes gadol hayah sham” wat beteken: “’n Groot wonderwerk het daar gebeur!” Die niksvermoedende Grieke het nie besef dat die Jode onder hulle neuse besig was om die klinkende oorwinning van die Makkabeërs oor die trots van hulle eie militêre mag te vier nie!
As ek na die mentaliteit van die moderne mens kyk, ook diegene wat hulleself as gelowiges beskou, kan ek nie help om te dink dat ons ons kapasiteit om ‘n wonderwerk te waardeer en te onthou, verloor het nie. Hoeveel wonderwerke het elkeen van ons nie al in ons lewe aanskou nie? Hoeveel keer het ons nie al in ons diepste nood na Yahweh uitgeroep en wonderbaarlike uitkoms uit sy hand ontvang nie? Selfs méér en groter as wat ons voor gevra het! Ek mag verkeerd wees, maar dit wil voorkom of die Skrif hierdie soort mentaliteit in verband bring met die gees van rebelsheid. Dit is wat onder meer deur die woorde van Tehielliem (Psalm) 106:7 gesuggereer word: “Ons vaders in Mietsrayiem het nie ag geslaan op u wonders, hulle het nie gedink aan die oorvloed van u gunsbewyse nie, maar was rebels by die see, by die Rietsee.”
As ons nie ag slaan op die wonderwerke wat Yahweh in ons lewens gedoen het nie en nie geleenthede skep om spesifiek te dink aan die oorvloed van sy gunsbewyse nie, sodat ons en ons kinders dit nooit kan vergeet nie, bevind ons ons op die gevaarlike terrein van rebelsheid en dra ons ‘n boodskap uit dat ons en ons kinders sonder die ingryping van Yahweh, net so goed oor die weg sou kom. Dit is in wese nie veel anders as die houding van ongeloof en ateïsme, waaroor ons die afgelope twee weke besin het nie. Daar is ‘n ernstige waarskuwing hieroor in Tehielliem 28:5 wat ons nie durf verontagsaam nie: “Omdat hulle nie let op die dade van Yahweh of op die werk van sy hande nie, sal Hy hulle afbreek en hulle nie bou nie.” Kom ons kyk in hierdie verband na ‘n aantal gedeeltes uit die Psalms wat die belangrikheid van ag slaan op, en moeite doen met, en melding maak van Yahweh se wonderwerke beklemtoon.
Ps 77:11 Ek dink aan die dade van Yah; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd.
Ps 103:2 Loof Yahweh, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
Ps 105:5 Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond.
Ps 107:43 Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag slaan, en laat hulle let op die gunsbewyse van Yahweh.
Ps 111:2 Die werke van Yahweh is groot; nagespeur word hulle deur almal wat daar ‘n welbehae in het.
Geloftedag 2011 het gekom en gegaan. Dit was vir my vanjaar opvallend hoe min daar op hierdie dag melding gemaak is, of oor die nuus gehoor is, van die wonderbaarlike oorwinning wat Yahweh op 16 Desember 1838 besorg het aan Andries Pretorius en die sowat 500 mense in sy kamp oor die meer as 10000 Zoeloe-krygers wat hulle aangeval het. In die nuwe Suid-Afrika het dit mos ‘n taboe geword om oor daardie deel van die geskiedenis te praat. En in die proses word ons en ons kinders gekondisioneer met die idee dat dit nie nodig is om ‘n groot ophef van wonderbaarlike gebedsverhoring te maak of vir die opvolgende geslagte van Yahweh se groot dade te vertel nie. Die ironie is dat Andries Pretorius en sy mense vooraf spesifiek ‘n gelofte teenoor Yahweh gemaak het wat daarop neerkom dat hulle en hulle nageslag aan Yahweh die eer sou gee as Hy aan hulle die oorwinning sou besorg. Die laaste sin van die gelofte het gelui: “Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”
Dit gaan nie vir my oor die vraag of dit reg was dat Andries Pretorius mense wat nog nie eers gebore was, by die gelofte ingetrek het nie. Dit gaan nie oor die vraag of Andries Pretorius en die Groot Trek binne die volmaakte wil van Yahweh was nie. Dit gaan ook nie vir my oor die oorwinning van een bevolkingsgroep oor ‘n ander nie. Die groep wat teen Dingaan se magte geveg het, het in elk geval uit wittes, swartes en bruinmense bestaan. Dit gaan oor die vraag of ons Yahweh se Naam grootmaak deur die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee. Ek meen dat ons nie moet afskaal of moet afwater wanneer dit kom by erkenning gee aan wat Yahweh in die verlede gedoen het nie. En dan die skuld voor die deur van politiek of Apartheid of rassehaat gaan lê nie. Vir my is daar geen rede om te twyfel dat daar ‘n wonderwerk by Bloedrivier plaasgevind het nie. En, soos by elke ander wonderwerk, het Yahweh nie eers gekyk na die meriete of na die verdienstelikheid van die gebedsversoek en die bidders nie. Nee, téén alle verwagting in, het Hy die gebed verhoor. Al wat vir ons oorbly, is om die wonderwerk te erken en te waardeer vir wat dit is, en aan Hom die eer toe te bring.
Dit geld natuurlik vir elke ander terrein en vir elke periode van ons lewe. Was daar kere die afgelope jaar toe jy in jou wanhoop na Yahweh uitgeroep het en Hy jou gebed verhoor het, dalk téén jou eie verwagting in? Gee dan eer waar die eer toekom. Was daar dalk kere toe jy self dit nie kon regkry om te glo nie en andere namens jou by Yahweh ingetree het en Hy daardie gebede verhoor het? Gee dan eer waar die eer toekom. Was daar dalk kere toe jy só deur jou morbiede omstandighede beïnvloed is, dat jy nie gedink het dat uitkoms enigsins moontlik is nie, en daar uiteindelik tog uitkoms gekom het? Gee dan eer waar die eer toekom en bely voor Yahweh jou onvermoë om Hom volkome te vertrou. Was daar dalk kere die afgelope jaar toe jy so deur die dinge van jou besige bestaan verswelg en oorheers was, dat jy eenvoudig nie kon raaksien hoeveel kleiner wonderwerke daar juis in daardie tyd in jou lewe plaasgevind het nie? Gee dan eer waar die eer toekom en bid dat Yahweh jou oë opnuut weer vir sy groot werke in jou lewe sal oopmaak. En laat ons leer om gereeld vir mekaar te sê: “Nes gadol hayah sham” – ‘N GROOT WONDERWERK HET DAAR GEBEUR – of “Nes gadol hayah poh” – ‘N GROOT WONDERWERK HET HIER GEBEUR!! Yahweh is waarlik groot!
Views: 42