DIE UITDAGING VAN GELOOF

alternate textOp die webblad van News24 het iemand ‘n paar dae gelede ‘n artikel gepubliseer met die titel “Ask an Atheist”. Binne ‘n kwessie van 5 of 6 dae was daar byna 20 000 mense wat hierdie artikel gelees het en meer as 850 bydraes wat in reaksie van regoor die land ingestroom het. Talle lesers het probeer om hulle eie geloof, veral die Christelike geloof, te verdedig en te promoveer. Maar selfs nog meer – ontstellend baie – het positief op die artikel gereageer en geskryf waarom hulle hulleself nie met enige vorm van geloof kan identifiseer nie en waarom hulle meen dat die ateïstiese standpunt die beste akkordeer met die feite wat tot ons beskikking is. Een leser het sommer die Kersfeestema ook nader gesleep en ewe polities korrek bygevoeg: “My Christmas wish is that, no matter what our belief, we all respect each others beliefs, no matter how misguided we might think they are. Diversity is a good thing, because it provides the checks and balances in our society.”

‘n Paar dinge het vir my uitgestaan in hierdie debat, wat my net weer opnuut laat besef het dat ons as gelowiges voor ‘n geweldige uitdaging staan. Hierdie uitdaging is meer as net ‘n interessante opsie of ‘n vrywillige keuse of ‘n spontane reaksie ná die lees van ‘n insiggewende artikel op die internet. Dit is ‘n dure verantwoordelikheid waaruit ons as gelowiges ons nie moet probeer los-wurm nie. Dis ‘n roeping en ‘n lewenstaak wat onlosmaaklik verbind is aan die keuse wat ons gemaak het om Yahweh as ons Elohiem te erken en in sy Seun, Y’shua as die Messias te glo. In ‘n neutedop gaan hierdie roeping daaroor dat ons in die Naam van Yahweh moet opstaan teen die gees van ons tyd en méér van die waarheid moet getuig as ooit tevore!

Die eerste aspek wat uitgestaan het toe ek hierdie artikel en die kommentaar daarop gelees het, is dat geloof wat op die Skrif gebaseer is, toenemend voorgestel word as iets wat totaal uit die mode geraak het en glad nie inpas by die manier van dink en die manier van doen van die moderne mens nie. Baie mense sal hierop reageer en sê: “Ja, maar die Skrif is tydloos en verkondig ‘n boodskap wat gaan oor die ewigheid.” Die probleem is egter dat die moderne mens al hoe meer gekondisioneer word om enige kommoditeit of instrument of konsep wat enigsins uit pas uit is met die moderne tegnologie en die hedendaagse wetenskaplike beskouing, eenvoudig eenkant toe te skuif en met iets anders te vervang, wat meer aanvaarbaar is en makliker versoenbaar met die wêreld waarin ons leef. Vroeër het dit nog subtiel gebeur, deesdae doen mense dit sonder om ‘n oog te knip of selfs ‘n oomblik te huiwer.

Om hierdie tendens van ons moderne samelewing te illustreer, kan ‘n mens maar net jou oë oopmaak vir die verstommende pas waarteen produkte wat onlangs nog as revolusionêr en hoogs tegnologies bestempel is, nóú as outyds en uitgedien beskou word. Op die internet is daar talle artikels wat gereeld geskryf word, wat die volgende algemene strekking het: “Twenty things that became obsolete this decade”. Dan word die items genoem wat die moderne mens met al die moderne katoeters (Afr. vir “gadgets”) tot sy beskikking, al hoe minder gebruik en, in baie gevalle, glad nie meer gebruik nie. Meeste van ons sal kan raai watter items daar gewoonlik by hierdie lysies van oudmodiese artikels ingesluit word: Videomasjiene, Padkaarte, Landlyn Telefone, die Geel Bladsye, Ensiklopedieë, CD’s, Film Kameras, Faksmasjiene, Geskrewe Briewe, en selfs Horlosies en Boeke met papier bladsye. Wat het dit alles met die Skrif te maak? Of ons dit nou wil weet of nie: In hierdie tyd waarin ons nou lewe, is dit vir mense baie makliker en baie meer aanvaarbaar om die Skrif en geloof eenvoudig eenkant toe te skuif en ‘n standpunt in te neem wat beter inpas by die gees van ons dag. As ons nie daarop bedag is en bereid is om daarteen op te staan nie, kan ons baie maklik deur hierdie stroomversnelling meegesleur word.

‘n Tweede aspek wat vir my in hierdie debat uitgestaan het, is dat die moderne mens dit al hoe meer regkry om ‘n sekere “iets” wat Yahweh as Skepper self in die mens ingebou het, te onderdruk en dit met ‘n plaasvervanger te vervang. Wat is hierdie “iets”? Dit is dít waarvan Hand 17:26-27 praat: “Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle Yahweh kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie.” Dieselfde gedagte kom in Hand 15:16-17 ook voor: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawied weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense Yahweh kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is.” Die moderne mens het ‘n baie kragtige plan beraam om hierdie ingebore hunkering te onderdruk. In plaas van om Yahweh te soek en sý eer en sý geregtigheid en sý koninkryk, werk dit net baie beter vir die moderne mens om te soek na daardie dinge wat die MENS vereer en bevoordeel en verhoog. Ons lewe in ‘n demokratiese wêreld, in die ware sin van die woord – ‘n wêreld waarin doodgewone mense (Grieks: “demos”) die heerskappy voer (Grieks: “kratos”) en selfs die Almagtige nie meer ‘n sê het nie.

‘n Derde aspek wat na vore gekom het is dat diegene wat wél nog glo en bereid is om aan so ‘n debat deel te neem, dikwels ‘n lat vir hulleself sny en skietgoed in die hande van hulle opponente gee. Met ‘n debat soos hierdie een maak gelowiges dikwels die fout om te dink dat ateïste die “bad guys” is en christene die “good guys”. Die feite is dat mense wat ruiterlik erken dat hulle ateïste is en nie die Skrif aanvaar nie, dikwels ‘n beter voorbeeld stel en hoër morele waardes handhaaf as diegene wat sogenaamd gelowig is. Sommiges wat aan die gesprek deelgeneem het, het dit duidelik nie besef nie en dinge kwytgeraak wat eenvoudig nie korrek is nie, soos dat die Rooms Katolieke (wat histories baie flaters begaan het en onreg gepleeg het) eintlik nie Christene is – dit terwyl húlle (histories) die eintlike Christene is! Een van die nie-gelowiges wat aan die debat deelgeneem het, het só op hierdie siening gereageer: “So now the roman catholics aren’t christians. Let me guess – Hitler wasn’t a christian as well? Do you only claim the good ones?”

Kom ons vergeet die hele “goeie christen – slegste christen” toutrekkery. Meeste van ons het in elk geval lankal reeds besef dat ons ons in baie opsigte nie by die Christene en die Christendom kan skaar nie. Wat nie beteken dat ons die geloof in die Messias wil prysgee of dit wil afwater nie. Allesbehalwe. Dis juis die punt: Ons gaan niks bereik en niemand oortuig as ons op die geykte argumente van kerke en sinodesittings staatmaak nie. Ons gaan niks vir die koninkryk bereik as ons doktrines probeer verdedig of die wetenskap probeer beveg of groeperings van mense probeer swartsmeer of selfs (na die ander kant toe oorhel deur) menseregte probeer verdedig nie. Maar ons kan dalk iets bereik as ons bereid is om op te staan vir die waarheid van Yahweh, eerder as om bonuspunte in te samel vir die mens en die natuur. Ons het iets om oor te getuig en in hierdie dag waarin ons leef, durf ons nie daaroor stil te bly nie. Daar is ‘n sekere patroon wat ‘n mens kan raaksien, elke keer wanneer daar in die Skrif oor die roeping om te getuig, gepraat word:

Mat 10:19 Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal praat nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet praat;

Luk 10:19 Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.

Luk 21:15 Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.

Hand 1:8 Julle sal krag ontvang wanneer die Afgesonderde Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Yerushalayiem sowel as in die hele Yehudah en Shomeron en tot aan die uiterste van die aarde.

Opb 11:3-6 En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle … 1260 dae lank sal profeteer … Hulle het mag om die hemel te sluit … en oor die waters … en oor die aarde.

Laat ons verrys met hierdie mag wat Yahweh in ons hande gegee het en laat ons onverpoos van sy groot werke en reddingsplan getuig. Sommiges sal nie ons getuienis aanvaar nie, maar diegene wat deur die Gees van Yahweh voorberei is, sal die woord met albei hande en met groot blydskap aangryp – selfs in hierdie gesofistikeerde wêreld waarin ons vandag leef.

Views: 25

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *