Die tyd van die jaar waarin ons ons nou bevind, is ‘n snaakse, ongewone tyd. Baie mense is met vakansie; families kom bymekaar en hou groot familie saamtrekke; kettingwinkels is gepak met mense; restaurante is vol bespreek en selfs by die kleiner “coffee shops” is dit soms moeilik om ‘n oop tafel te kry; verkeer op die snelweë en in die nabyheid van gewilde toeriste attraksies is ‘n nagmerrie en parkering, in die algemeen, ‘n groot kopseer. Die gevoel wat ‘n mens kry as jy jou hierdie tyd van die jaar met jou motor op enige openbare pad in die Skiereiland begewe, is dat daar skielik net baie meer mense rondom jou is, as gewoonlik. En waar mense saam kloek en in kleiner of groter groepe dinge saam doen, saam op die pad is, saam eet, saam langs die see gaan stap, as gesinne en families en vriendekringe saam verkeer, is dit onvermydelik dat daar baie gepraat word. Ek dink dis veilig om te sê dat daar hierdie tyd van die jaar méér gepraat word as enige tyd van die jaar. En in die Suid-Afrikaanse konteks is dit net so veilig om te sê dat baie van hierdie gesprekke op een of ander manier die tema van geloof sal insluit.
Vir sommige mense is die 31 ste Desember ‘n baie belangrike dag. Vir baie sal hierdie dag ‘n sekere nostalgie inhou, omdat dit as die “laaste dag van die jaar” beskou word. Die “ou jaar” moet op ‘n behoorlike manier afgesluit word, so voel baie. En die “nuwe jaar” moet op ‘n behoorlike manier ingegaan word, wat ook al onder die term “behoorlik” verstaan word. Vir sommiges is dit om ‘n partytjie te hê waarop jy op “behoorlike” manier van al jou sorge kan vergeet. Vir andere is dit om die middernagdiens by te woon wat sommige kerke nog aanbied – ‘n diens wat so kwart oor 11 die aand begin en presies om middernag klaarmaak. Ek onthou nog die tyd toe daar met hierdie oujaarsdiens die gebruik was om die name af te lees van almal wat daardie betrokke jaar oorlede is – natuurlik met die gepaste dramatiese effek en die gepaardgaande snikke uit die gehoor. Oujaar, nuwejaar, selfs tweede nuwejaar het eenvoudig ‘n ingeburgerde betekenis in die gemoedere en harte van baie mense, wat nie sommer sal verdwyn nie. Bitter min mense in ons land sal jou ernstig opneem as jy vir hulle sê dat, volgens die Skepper se tydsbepaling, Desember nie die laaste maand van die jaar is nie en die 31 ste ook nie die laaste dag van hierdie maand nie. Volgens die Skepper se kalender is dit vandag (bloot) … die vyfde dag van die tiende maand!
Is daar enige spesiale betekenis aan die vyfde dag van die tiende maand? Nie meer as aan enige ander dag nie, maar daar is ‘n verwysing in die Skrif na die vyfde dag van die tiende maand wat vir ons ‘n tydige boodskap inhou – juis gedurende hierdie snaakse, ongewone tyd waarin ons ons op die oomblik bevind. Hierdie verwysing kom voor in Yegeskel (Esegiël) 33:21 “En in die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand op die vyfde van die maand, het ‘n vlugteling uit Yerushalayiem na my gekom met die woorde: Die stad is ingeneem!” Dit klink ‘n bietjie na iets wat ons, hier in die Kaap, ook vir mekaar sou wou sê – juis gedurende hierdie tyd van die jaar: “Die stad is ingeneem! Ons stilte is versteur! Ons strate en ons strande word oorstroom!” Maar dis natuurlik nie wat die vlugteling in Eseg. 33 bedoel het nie. Hy het nie verwys na iets wat net vir ‘n paar weke lank duur en dan verbywaai nie. Hy het verwys na ‘n strafmaatreël van Yahweh oor die mense van Yerushalayiem, wat gelyktydig met die ballingskap in Babilonië plaasgevind het. Wat ons vandag moet hoor, is nie die woorde van die vlugteling, “die stad is ingeneem” nie, maar die woorde van die profeet wat in daardie selfde konteks uitgespreek is en wat vir ons vandag besonder relevant is.
Wat opvallend is in hierdie hele gedeelte van Yegeskel 33:17-33, is die gepraat van mense wanneer hulle die uitsonderlike gebeure rondom hulle bespreek. ‘n Mens kry die idee dat die mense van Yerushalayiem hulleself uit die moeilikheid probeer praat het. Maar soos ‘n mens verder lees, besef jy dis die gepraat van desperate mense – mense wat besef dat hulle lewenstyl en lewenswandel nie reg is in die oë van Yahweh nie, maar nogtans probeer hulle elke tegniek en elke truuk in die boek om hulle eie optrede te regverdig of die aandag van hulle eie dade weg te lei. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:
Eze 33:17 “Maar die kinders van jou volk sê: Die weg van die Meester is nie reg nie, terwyl tog hulle eie weg nie reg is nie.” Ons kan seker wees dat in al die gesprekke wat hierdie tyd van die jaar rondom die etenstafel of op die strande of langs die swembaddens plaasvind, daar een of ander tyd gepraat sal word oor die nodigheid, al dan nie, om dinge te doen wat Yahweh in sy Woord vir ons beveel het om te doen. Is dit nie ontstellend nie: Dat gelowige mense met mekaar praat oor die nodigheid, al dan nie, om dinge te doen wat Yahweh gesê het Hy verwag van die mens om te doen! So het Hy gesê: Hou die Shabbat, elke sewende dag van die week, maar vir eeue lank hou mense hulle besig daarmee om redes uit te dink waarom hulle nie die Shabbat hoef te hou nie, of waarom hulle dit maar op ‘n ander manier of ‘n ander dag kan hou. Dit is dieselfde as om soos die mense in Yegeskel se tyd te sê: Die weg van Yahweh is nie reg nie – terwyl dit al die tyd ons eie weë is wat nie reg is nie!
Eze 33:24 “Seun van Adam, die bewoners van daardie puinhope in die land van Yiesraél praat en sê: Avraham was ‘n eenling, en tog het hy die land as besitting ontvang; maar ons is baie; aan ons is die land as besitting gegee!” Nog ‘n voorbeeld van die gepraat van desperate mense. Weereens word geïmpliseer dat Yahweh se weë nie regverdig is nie. As Hy aan Avraham (wat net een persoon is) die land as besitting gegee het, hoeveel te meer moet Hy dit dan aan húlle gee, wat sy nasate is en tog baie meer as net een is. Die argument maak glad nie sin nie en verloor die feit uit die oog dat daar ‘n duidelike voorwaarde gekoppel is aan die belofte wat Yahweh aan Avraham gemaak het nie – hy en sy nageslag moes in die weë van Yahweh bly wandel. Hoe lief is mense nie vandag nog om ‘n belofte van Yahweh uit konteks uit te haal en dit vir hulleself toe te eien, sonder om die voorwaardes van die belofte in ag te neem nie. Miskien dink sommiges dat as hulle ‘n sekere halwe waarheid net lank en aanhoudend genoeg in hulle desperate gesprekke herhaal en selfs boeke en proefskrifte daaroor skryf, en kerklike besluite daaroor neem, dan sal daardie halwe waarheid later in ‘n volle waarheid verander! In die lig van die Skrif het ek slegte nuus vir diesulkes: Dit sal nooit gebeur nie!
Eze 33:30-31 “En jy, seun van Adam, die kinders van jou volk wat oor jou gesels langs die mure en in die deure van die huise – hulle praat die een met die ander, elkeen met sy broer, en sê: Kom tog en hoor wat die woord is wat van Yahweh uitgaan. En hulle kom na jou toe soos ‘n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan.” Is hierdie woorde nie besonder van toepassing in die Suid-Afrikaanse konteks nie? Hoe dikwels stroom die mense van ons land nie ook saam na ‘n saamtrek of ‘n kerk byeenkoms of ‘n gewilde spreker nie? Hoe maklik sê ons mense nie vir mekaar “Kom ons gaan luister na die Woord van Yahweh” nie? Hoeveel liefdesverklaringe en toewydingsgebede en “commitments” en nuwejaarsvoornemens word daar nie jaar na jaar uitgespreek nie? Maar hoeveel daarvan realiseer uiteindelik? Hoeveel van die gepraat oor geloof bly uiteindelik net maar by ‘n gepraat nie? Niks meer as ‘n groot geraas nie. Niks meer as leë woorde nie.
‘n Prediker moet net kan indruk maak in Suid-Afrika. Hy moet sy woord goed kan bring en mense aan sy lippe kan laat hang. Daar word dikwels ge-oe en ge-a oor die wonderlike predikers en oor die fynste besonderhede van hulle boodskappe en oor die “magic moments” van hulle byeenkomste. Maar te midde van dit alles gaan die Woord van Yahweh meeste van die tyd by die predikers, sowel as hulle gehore, verby. Dit is soos die profeet Yegeskel destyds gesê het: (Eze 33:32) “En kyk, jy is vir hulle soos ‘n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie.” En dit bring die waarheid na vore van wat Shaúl 600 jaar later aan Timoteus geskryf het: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim 4:3-4). Een van die kosbaarste ontdekkings wat ‘n mens moet maak as jy ernstig is oor geloof, is dat ‘n mens jou nie moet laat bekoor deur die skynbaar strelende en welluidende gepraat van mense nie. Hierdie “liefdesverklaringe met die mond” (soos wat die profeet dit noem), is dikwels net ‘n dekmantel wat mense gebruik omdat hulle nie kans sien om die pad van gehoorsaamheid te loop nie. Dit mag mense dalk beïndruk, maar op die lange duur ontneem dit jou van iets baie groter en baie kosbaarder: die guns en die gemeenskap en die glimlag van die Almagtige!
Views: 32