Ek wonder hoeveel mense wat meen dat hulle die Skrif ken, sal dadelik weet wáár in die Skrif, en in watter konteks, daar van “die huis van die kaalvoet” gepraat word (Engels: “the house of the man who had his shoe removed”). Anders as wat ‘n mens sou dink, kom dit in ‘n konteks voor waar dit nie oor kleredrag, of oor armoede, of oor diefstal gaan nie. Dit vorm deel van die Torah lesing van hierdie week en is een van daardie gedeeltes van die Torah wat mens vandag beswaarlik letterlik net so kan nakom soos wat dit in Mosheh se tyd toegepas is. Maar, soos met elke ander deel van die Torah, bring dit ‘n beginsel na vore waarvan ons deeglik behoort kennis te neem en ook in hierdie moderne eeu behoort te eerbiedig.
Ek het op ‘n interessante stukkie statistiek afgekom wat wys watter rol godsdiens en geloof oor die afgelope 50 jaar in die gemiddelde Amerikaner se lewe gespeel het. Die volgende vraag is gestel: “Do you believe that religion can answer all or most of today’s problems, or (do you believe) that religion is largely old-fashioned and out of date?” Aan die een kant is dit uiters insiggewend dat daar tot so onlangs as verlede jaar nog steeds 58% van Amerika se bevolking was wat gemeen het dat godsdiens ‘n antwoord op meeste van ons dag se probleme kan bied en dat net 28% gemeen het godsdiens “old fashioned and out of date” is.

Daar is egter ‘n ander kant van die muntstuk wat ook in hierdie statistiek na vore kom en dit is die feit dat mense oor die afgelope 50 jaar al hoe meer begin voel dat godsdiens (en by implikasie, ook die Skrif en geloof) ouderwets en uitgedien is en nie juis ‘n mens se lewe affekteer nie. Die feit dat hierdie opname in Amerika gedoen is, is selfs nog meer insiggewend. Net ‘n paar maande gelede is daar ‘n ander opname in Amerika gedoen waarin die vraag gevra is: “Do you believe in God or a universal spirit?” en op hierdie vraag het meer as 90% Amerikaners positief geantwoord. Wat beteken baie in Amerika glo daar is ‘n magtige wese, maar baie minder glo dat geloof of godsdiens enige verskil aan hulle probleme sal maak.
Hierdie tendens dat baie mense nie eintlik meer die Skrif ernstig opneem en as ‘n werklike oplossing vir mense se probleme beskou nie, kan beslis ook in Suid-Afrika gesien word. Daar is seker baie redes hiervoor, maar een van die belangrikste redes is juis die feit dat mense nie weet wat om te maak met gedeeltes soos die een waarin daar van “die huis van die kaalvoet” gepraat word nie. Baie mense wil graag nog glo, maar diep in hulle harte sit hulle met ‘n verleentheid oor hierdie boek wat ons as kinders as die “Bybel” leer ken het. Dis dié dat sommiges die gerieflike uitweg kies en sê Y’shua het die Torah vervul en ons hoef dit nie eers te lees nie. En as jy dit dan wíl lees, moet jy dit net nie te ernstig opneem nie. Dis dié dat daar selfs nuwe vertalings in die mark verskyn waarin gedeeltes wat vir mense aanstootlik is, doodeenvoudig weggelaat word of op ‘n ander manier vertaal word.
Die verwysing na “die huis van die kaalvoet” kom binne die konteks voor waar daar oor die sogenaamde “swaershuwelik” gepraat word. As ‘n getroude man te sterwe kom, het sy broer wat by hom gewoon het, die verantwoordelikheid om met die vrou van die oorledene te trou en sodoende toe te sien dat sy nie die huis van haar broer hoef te verlaat en ‘n vreemde man se vrou hoef te word nie. As die broer weier om met sy skoonsuster te trou, moet sy die oudstes gaan raadpleeg sodat hulle die saak kan ondersoek. Die hele proses word in Devariem (Deut) 25 beskryf waar daar onder meer bepaal word: “Dan moet sy skoonsuster voor die oë van die oudstes na hom toe nader kom en sy skoen van sy voet aftrek en in sy gesig spuug, en sy moet verklaar en sê: So moet met die man gedoen word wat die huis van sy broer nie wil bou nie. En sy naam moet in Yiesraél genoem word: Die huis van die kaalvoet” (vers 9-10).
Kan jy vir jou die reperkussies voorstel wat dit sal meebring as vandag se weduwees dieselfde met hulle oorlede mans se broers sou doen? As mens ‘n gedeelte soos hierdie lees, kry jy selfs so ‘n bietjie begrip vir diegene wat nie meer die Skrif ernstig wil opvat nie. Maar dink ‘n bietjie mooi: Hoe kan ons ‘n oordeel uitspreek oor ‘n sekere prosedure wat 3400 jaar gelede voorgeskryf is, in ‘n wêreld en in ‘n tydvak wat onberekenbaar baie van ons moderne wêreld verskil het? Maar beteken dit nou die Skrif, en die beginsel wat agter hierdie spesifieke prosedure gelê het, is irrelevant en ouderwets en uitgedien? Nee, want die Een wat daardie beginsel neergelê het, is onveranderlik en soewerein en regverdig. Sy idee van wat reg en verkeerd is, het nie verander, soos wat die tye verander het nie. Sy integriteit en betroubaarheid kan nie in die gedrang kom elke keer as ons nie saamstem met sekere dinge wat in die Skrif staan nie. Om dít te doen, is om jouself op gelyke voet met die Almagtige te stel – om in jou verwaandheid te dink dat jy gekwalifiseer is om sy werke en sy woorde en sy oordele te bevraagteken en te beoordeel.
Kom ons neem net hierdie een voorbeeld van “die huis van die kaalvoet” wat seker as een van die mees buitengewone voorskrifte in die hele Skrif beskou kan word. Is dit werklik so moeilik om die beginsel hieragter raak te sien en in ons dag toe te pas? Ek dink nie so nie. ‘n Sleutel aspek in die verstaan van hierdie gedeelte, is die laaste deel van vers 9: “So moet met die man gedoen word wat die huis van sy broer nie wil bou nie.” Dit gaan met ander woorde hier oor die belangrikheid in die oë van Yahweh, van die huis en die huisgesin en ook die breër familie. Die begrip “huis” (Heb. “bayiet”) is van uiterste belang regdeur die Skrif. Om aan jou huis te bou (Heb. “banah”) – op elke denkbare manier – is een van die belangrikste take wat aan enige mens hier op aarde opgedra word. Daarom word jou seun “ben” genoem (afgelei van “banah”) en jou dogter “bat” (ook afgelei van “banah”). Jou seun en jou dogter en jou familielid is nie net daar vir die versiering nie. Jy het ‘n dure verantwoordelikheid om hulle wat die naaste aan jou is, op te bou en ook waarde en betekenis IN te bou in hulle lewens. Anders is jou huis niks beter as ‘n huis van die kaalvoet nie. Om kaalvoet te loop, in die Hebreeuse idioom, is om met skaamte vervul te wees en deur die samelewing verwerp te wees. Om in iemand se gesig, of op die grond te spuug, in die Hebreeuse idioom, is om uitdrukking te gee daaraan dat iemand op ‘n veragtelike manier opgetree het wat op geen manier goedgepraat kan word nie. Daarom dat Shaúl geskryf het dat iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ‘n ongelowige (1 Tim 5:8).
Die resultaat van om “aan jou huis te bou” is dat jou huis gaandeweg “groter” word en méér mense insluit. Nie net skoonfamilie, soos wat reeds met die benaming “huis van die kaalvoet” aangedui word nie, maar ook familie in die Messias. Het ons nie as medegelowiges in die Messias ook die dure verantwoordelikheid om ons eie huise in orde te kry en, as uitvloeisel hiervan, aan die huise van ons broers en ons susters te help bou nie? Het ons nie die dure verantwoordelikheid om na mekaar om te sien en mekaar se laste te dra nie? Word ons nie herhaaldelik deur Die Skrif opgeroep om om te sien na die weduwees en die wese, om sorg te dra vir die wat in nood is, om betrokke te raak by hulle seergekry het en terneergedruk is en op te staan vir die saak van die swakkes en die hulpeloses nie? Laat dit nooit van ons gesê word dat ons nie aan die huis van ons broers en ons susters wil help bou nie. Kom ons neem vandag ‘n besluit om ons posisie binne die groter huishouding van Yahweh weer ‘n slaggie in oënskou te neem en nooit ons verantwoordelikheid as mede-bouers van die Messias uit die oog te verloor nie. “Laat julle soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis … om geestelike offers te bring wat aan Elohiem welgevallig is deur Y’shua die Messias” (1 Kefa 2:5).
Views: 113