AS DIE LEEU BRUL

alternate textBy ‘n vorige geleentheid het ons oor die uitdaging van geloof gepraat en oor die sterk aanhang wat die ateïstiese verstaan van ons wêreld deesdae onder baie mense het. Daar is ook geen twyfel daaroor nie dat die persentasie mense in ons samelewing wat die ateïstiese standpunt aanhang, by die dag toeneem. Nadat ons ‘n week gelede oor hierdie onderwerp gepraat het, het honderde duisende mense die afgelope week (twee dae gelede, om presies te wees) met skok en hartseer verneem dat een van die bekendste ateïste van die moderne tyd, Christopher Hitchens, op 62 jarige ouderdom in Texas, Amerika gesterf het. Hitchens is in Engeland gebore en het later ‘n Amerikaanse burger geword en het veral bekendheid verwerf met sy omstrede boek, “God is not great” wat in 2007 die lig gesien het. Hitchens was ‘n uiters begaafde skrywer, joernalis en spreker en het ongeveer ‘n jaar gelede (in November 2010) in ‘n openbare debat oor godsdiens met die voormalige Britse Eerste Minister, Tony Blair, betrokke geraak. Blair het die standpunt verdedig dat “religion a force for the good” is, terwyl Hitchens daartéén gepraat het. ‘n Opname ná die tyd het aangetoon dat Hitchens ‘n klinkende oorwinning van 68% teenoor 32% oor Blair in hierdie debat behaal het.

‘n Interessante nadraai van hierdie debat, is dat Tony Blair se (tweede) opvolger en huidige Eerste Minister van Engeland, David Cameron, (toevallig?) ook die afgelope week in die openbaar ‘n uitspraak oor die rol van godsdiens in ons samelewing gemaak het. Sy woorde was min of meer: “Christian leaders, and those from other faiths, have a vital role in restoring values of responsibility, hard work, charity and compassion to British society.” Wat hierdie uitspraak nogal verrassend maak is dat Cameron voorheen nie gehuiwer het om te erken dat geloof nie juis ‘n groot rol in sy eie lewe speel nie. Hy het onder meer ‘n flouerige grap daaroor gemaak en gesê dat sy eie ervaring met die christelike geloof vergelyk kan word met “the signal on a faulty radio … it sort of comes and goes”.

Daar is ‘n tendens – byna ‘n soort dubbelsinnigheid – wat ‘n mens deesdae baie duidelik kan raaksien. Aan die een kant is daar die koor van stemme (wat deesdae baie sterk, byna oorverdowend, is) wat met groot bravade die boodskap probeer uitbasuin dat geloof en godsdiens uit ons samelewing verwyder moet word – omdat dit glo nie in pas met die resultate van die wetenskap is nie en ook nie die menslike intellek na behore respekteer nie. Die geskrifte waarop die geloof van miljoene mense in hierdie wêreld gebaseer is, só sê hierdie hedendaagse teenstanders van geloof, is besaai met elemente soos mites, fabels, vergrype teen menseregte, outydse en uitgediende gebruike, onwetenskaplike en onakkurate stellings en morele waardes wat om verskeie redes nie meer in ons dag aanvaar kan word nie.

Maar dan, aan die ander kant, is daar sommiges – selfs onder diegene wat as leiers in die wêreld gereken word – wat tog besef (al is dit soms uit desperaatheid) dat ‘n samelewing sonder geloof soos ‘n mens sonder ‘n gewete is. Selfs diegene wat self nie bereid is om die keuse van geloof te maak nie, moet dikwels teësinnig erken dat geloof ‘n kwaliteit en ‘n dimensie bevat waarsonder geen samelewing kan funksioneer nie. Wat ‘n mens maar net weer opnuut laat besef dat geloof ‘n groot porsie guns uit Yahweh se hand is, ‘n onontbeerlike gawe wat as die hartklop van hierdie wêreld beskou kan word – al is daar sovele wat dit nie erken nie en al is daar sovele wat nie hierdie wonderlike geskenk uit die Skepper se hand vir hulleself wil toe-eien nie. Maar wanneer hierdie geloof vir iemand ‘n persoonlike werklikheid word, en so ‘n mens ontdek dat geloof in ‘n persoonlike Elohiem binne sy of haar bereik is, dan word dit met albei hande aangegryp en bring dit groot blydskap en vervulling in mense se lewens.

Die Torah lesing van hierdie week sluit die gedeelte van Bereshiet (Genesis) 37 in waar Josef se broers hom in ‘n put gegooi het en vir sy pa Yakov gesê het dat ‘n wilde dier hom verskeur het. Die gedeelte uit die profete wat in die leesrooster saam met hierdie gedeelte voorkom, is onder meer Amos 3:4-8, waar ons hierdie woorde lees: “Sal ‘n leeu brul in die woud as hy geen prooi het nie? Sal ‘n jong leeu sy stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie? Sal ‘n voël in ‘n net val op die grond as daar vir hom geen strik gestel is nie? Sal ‘n wip van die grond af opspring as dit glad nie gevang het nie? Sal die ramshoring in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n ellende in die stad voorval as Yahweh dit nie bewerk het nie? Want die Meester Yahweh doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Meester Yahweh het gepraat, wie sal nie profeteer nie?”

David Cameron, ‘n self-erkende nie-gelowige, het na die situasie in sy land gekyk – die onluste, die swak werk-etiek, die verval in morele waardes, die apatiese houding van mense, die toename in misdaad – en toe die ongehoorde ding gedoen om daarop te sinspeel dat geloof weer sy regmatige plek in Brittanje moet inneem. David Cameron is nie ‘n profeet nie. As hy ‘n profeet was, sou hy dalk gesê het: Die leeu het in Brittanje gebrul en wee die mense van Brittanje as hulle hulle nie aan hierdie gebrul steur nie! Die punt is egter: Die tekens is só duidelik, dit is nie nodig vir ‘n profeet om op te staan en dit te sê nie. Almal kan die gebrul van die leeu hoor. Almal kan die dawerende geluid van die ramshoring hoor. Almal kan die ellende in die stede sien – nie net die stede van Engeland nie, ook die stede van Suid-Afrika. Ook nie net in die stede nie, maar regoor die hele spektrum van ons moderne samelewing. Die vraag is net: Is ons oë daarvoor oop om hierdie duidelike tekens rondom ons raak te sien? Hoe het dit gebeur dat mense vandag so maklik deur denkers soos Christopher Hitchens beïnvloed word en sommer so op hoorsê bereid is om van geloof af te sien? Hitchens sal onthou word vir uitsprake soos: “Of all the supposed virtues, faith must be the most overrated” en “belief is for those who wish to remain a stupid, poorly-evolved mammalian species”. Maar hy sal nie onthou word as iemand wat die gebrul van die leeu gehoor het en besef het dat die wêreld waarin ons woon, ‘n prooi geword het van Satan en dat daar iets drasties moet gebeur om ons samelewing en sy mense te red nie.

Dis nou al baie lank dat elkeen van ons die gebrul van die leeu in ons eie land en in ons eie omgewing kan hoor. Ons sien die onreg wat links en regs gepleeg word. Ons hoor van korrupsie en geldwassery en die misbruik van mag en posisie. Baie van ons was self al slagoffers van bedrog of die een of ander vorm van misdaad. Daar is so baie verslae van geweld en aanranding en doodslag wat elke dag na ons kant toe kom, dat ‘n mens geneig is om te dink dis maar hoe dit moet wees, of dis maar hoe dit nog altyd was. Maar as ons fyn luister, sal ons die leeu hoor brul en die ramshoring hoor blaas. Satan is volstoom besig met sy strategie om Yahweh en sy Woord uit ons samelewing uit te skuif en duisende mense is niksvermoedend besig om mee te werk aan hierdie strategie – en dan doen hulle dit nogal onder die dekmantel van “ons weet van beter” en “ons oë het oopgegaan”. Geen wonder Satan staan ook bekend as “Lucifer” nie – “the Enlightened One”. In Amos 3:10 spreek die profeet hierdie tydige woord – tydig, omdat dit vandag net so waar is soos in Amos se tyd: “Hulle (d.w.s. diegene wat so wêreldwys is en dink hulle weet alles) weet nie om reg te doen nie, sê Yahweh – hulle wat geweld en verdrukking opstapel in hulle paleise.”

Christopher Hitchens het by geleentheid gesê dat om vir mense die belofte van ‘n ewige lewe voor te hou, ‘n onreg is. “I think that it’s the height of immorality to lie to people like that”, het hy gesê. Ek wonder of hy ooit daaraan gedink het dat die grootste enkele rede waarom die wêreld lyk soos dit vandag lyk, dalk juis is omdat meeste mense nie meer ‘n ewige lewe het om na uit te sien nie. Hulle het nie meer ‘n hoop om aan vas te hou nie. Daar is nie meer iets wat uitstyg bokant hierdie gebroke wêreld wat vir hulle perspektief en sin in hulle bestaan gee nie en wat hulle motiveer om reg en geregtigheid na te streef nie. Daarom het baie mense hulle oorgegee aan ‘n lewensfilosofie van: “Elke mens kan maar net probeer om die maksimum voordeel vir homself uit hierdie lewe te haal – maak nie saak wat dit kos om hierdie doel te bereik nie.” Ek is bevrees dat mense soos Hitchens se vertroue op die mens en sy eie intellek het en sy eie oordeel, eenvoudig nie klop met wat in werklikheid gebeur het toe die mense Yahweh uit hulle lewens begin uitsluit het nie. Kom ons slaan vandag ag op die leeu se gebrul en verbind onsself om alles wat in ons vermoë is te doen om Yahweh weer deel van ons samelewing te maak – beginnende by onsself en ons eie huise.

Views: 50

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *