WANNEER GODSDIENS GEVAARLIK WORD

alternate textSo ‘n ruk gelede het iemand ‘n brief in een van die Afrikaanse dagblaaie geskryf na aanleiding van die debat wat daartoe gelei het dat Multichoice van sy besluit afgesien het om ‘n pornografiese kanaal op DStv in te bring.   In die brief skryf die persoon:  “Dankie vir al julle dekking oor die hele DStv pornografie gebeurtenis.  Ek wil dit onder julle aandag bring dat daar ‘n petisie geloods is om DStv verder veilig te maak vir kinders deur te versoek dat godsdienstige uitsendings ook gestop word.  Godsdiens is onder andere verantwoordelik vir die hoë hoeveelheid selfmoord bom aanvalle wat tans in die Midde-Ooste plaasvind. Dit is die oorsprong van menigte oorloë. Haat teenoor mense gebaseer op hulle persoonlike leefstyl en oriëntasie is ook ‘n direkte resultaat van godsdiens …”

Soos ‘n mens kan verwag, het hierdie brief hewige reaksie uitgelok en meer as 150 mense het tot dusver daarop gereageer – baie meer as wat normaalweg op die briewe in dié koerant reageer.  “WORD WAKKER JOU VAAKVIS!!!!” was die eerste reaksie – kort en bondig, van iemand wat duidelik nie saamgestem het nie.  “Ons lewe in die 21ste eeu, ons moet ons kinders wetenskaplike feite leer, daar is nie plek vir middel-eeuse sprokies in die nuwe tyd nie!” het iemand geskryf wat weer volmondig saamgestem het met die idee dat godsdienstige uitsendings gestop moet word.  Nog iemand wat ook gehou het van die idee, het geskryf:  “Ek wens die vromes wil ophou om hul ‘waardes’ in ons kele af te druk” en sommer ook bygevoeg: “Die Bybel moet actually ‘n ouderdomsbeperking hê. Bloed, bloedskande, die sodomisering van minderjariges ens. Ek het NOU nog nagmerries.”

‘n Groot persentasie van die lesers wat op hierdie brief gereageer het, het nie met die oorspronklike skrywer saamgestem nie.  Hier is ‘n paar voorbeelde (met my eie kommentaar in hakies):

“Godsdiens is alreeds uit skole geneem en kinders het nie ‘n idee oor reg en verkeerd nie” (Is dit in die eerste plek die skole se verantwoordelikheid om kinders oor reg en verkeerd te leer, of die ouers s’n?).

“Wanneer gaan julle besef dat dit agv GODELOOSHEID is dat hierdie land en wêreld met die gemors sit wat ons mee sit?” (Hierdie betekenisvolle spelfout laat mens besef : Ons land en sy mense sal beter af wees met GODELOOS-HEID – dis omdat ons sonder Yahweh probeer lewe, dat daar soveel wanorde is).

“Ek sien geen Christene wat mekaar opblaas met bomme nie” (Maar ek sien ‘n hele klomp wat hulleself en hulle kinders “opblaas” met valse godsdienstige idees en kerklike leerstellinge wat mense van die waarheid beroof).

Persoonlik stem ek nie noodwendig saam met die oorspronklike skrywer nie en ek het geen begeerte om die petisie te onderteken waarvan hy gepraat het nie.  Daar is méér dinge op Dstv (en alle ander TV kanale) wat skadelik is vir ‘n mens, as net die godsdienstige programme.  Maar in my diepste wese is ek oortuig dat “godsdiens” (Engels: “religion”) nie vir ons die antwoord inhou nie en, in baie gevalle, uiters skadelik vir ‘n mens kan wees.  Die definisies wat normaalweg in woordeboeke gegee word as ‘n mens die betekenis van die woord “religion” naslaan, dek ‘n wye verskeidenheid van betekenisse, maar sluit onder meer die volgende in:

“A personal or institutionalized system grounded in the belief in a supernatural power or powers …”

“The life or condition of a person in a religious order …”

“A set of beliefs, values, and practices based on the teachings of a spiritual leader …”

“A cause, principle, or activity pursued with zeal or conscientious devotion …”

‘n Mens kan maklik sien dat al vier die definisies hierbo deurtrek is met skuiwergate (“loopholes”) wat van religie of godsdiens ‘n ruimte maak waar mense binne ‘n beskermende ruimte oortuigings kan huldig en dade kan pleeg wat niks te make het met beginsels soos geregtigheid, liefde en respek nie.  Presies dít het oor eeue heen, telkens in die geskiedenis van die mensdom gebeur en dit gebeur nog steeds.  Wanpraktyke word goedgepraat, opregte mense word vervolg en selfs vermoor, skandelike dade word gepleeg, valshede word verkondig en die waarheid word onderdruk – alles in die naam van “religie” of met beroep op ‘n sekere godsdienstige orde, of in navolging van ‘n sekere godsdienstige leier, of uit fanatiese  gehoorsaamheid aan ‘n sekere godsdienstige beginsel of selfs kerklike leerstelling.  Een van die mense wat op die artikel hierbo gereageer het, het ‘n waar woord gespreek:  “Satan is na alles ‘n ‘godsdienstige’ gees en daarom is hy ‘n meester om godsdiens vir sy selfsugtige doeleindes in te span.”

Daar is ‘n aspek wat na vore kom in die definisies van “religion” hierbo, wat ons moet raaksien.  Baie mense se persepsie van “religie” of “godsdiens” is dat dit jou vrystel van die verpligting om verantwoordelikheid vir jou eie  optrede en jou eie oortuigings te neem.  Daardie verantwoordelikheid rus nou op jou godsdienstige orde of leiers of die leerstellinge van die godsdienstige instelling waaraan jy behoort.  Miskien is dit een van die vernaamste redes waarom religie of godsdiens vir baie mense so aanloklik is en waarom die groot wêreldgodsdienste oor baie eeue so ‘n wesenlike impak op die verloop van die geskiedenis van die mensdom gehad het.  Toe Adam in die tuin van Eden die skuld op Gawah (Eva) gepak het en gesê het, “Dis die vrou se skuld … die een wat U my gegee het om by my te wees …” het hy gewys dat die mens van die begin hierdie hunkering in hom gehad het om ‘n ander mens of ‘n godsdienstige stelsel te hê op wie hy die skuld kan pak as iets verkeerd loop.

Dis egter nie hoe Yahweh die mens in die eerste plek geskape het nie.  Dit was nie sy idee dat mense ‘n godsdienstige stelsel moes hê waarop hulle hulle vertroue plaas nie.  Hy wou hê dat mense oop en bloot – voor sy aangesig – moes wandel, Hóm moes ken, Hom moes aanroep en na Hóm moes luister.  Die godsdienstige stelsel wat in die tuin van Eden begin vorm aanneem het, het soos alle ander godsdienstige stelsels die woorde van Yahweh verdraai en verduister.  En die een wat daaragter gesit het, was Satan.  Hy is die een wat die duidelike verbod van “as jy van die boom eet, sal jy sekerlik sterwe” subtiel verander het na “as jy van die boom eet sal jy soos Yahweh wees en goed en kwaad kan onderskei”.

Dit is waarom ons almal moet terugkeer na Yahweh toe.  Ons is deur die godsdienstige stelsels van hierdie wêreld meegesleur en subtiel mislei om dinge te glo en volgens ‘n patroon te lewe wat net nie meer is soos Yahweh aan die begin in sy Woord bekend gemaak het nie.  En die gevolg is dat ons Hom nie meer ken nie, byna soos wanneer ‘n mens iemand nie in die oë kan kyk nie, omdat daar iets gebeur het wat vervreemding en verwydering gebring het.

Jes 44:22 Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.

Jer 3:22 Keer terug, o afvallige kinders; Ek sal julle afvallighede genees.  Hier is ons, ons kom na U toe, want U is Yahweh onse Elohiem.

Hos 5:4 Hulle dade laat hulle nie toe om terug te keer tot hulle Elohiem nie, want daar is ‘n gees van hoerery in hulle binneste, en hulle ken Yahweh nie.

Sag 1:3-4 So moet jy dan aan hulle sê: So sê Yahweh van die leërskare: Keer terug na My, sê Yahweh van die leërskare, en Ek sal na julle terugkeer, sê Yahweh van die leërskare.  Moenie soos julle vaders wees nie …

Views: 100

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *